woutrine_foto_2_jpg
Lewe + Liefdes

5-Boekminute met Woutrine Theron

In haar nuwe boek speel Karolien die hoofrol. Sy reis na Stilbaai om afskeid te gaan neem van haar ma, Carolina, wat terminaal siek is met kanker. Sy ontdek per toeval ‘n lyk en wanneer die ondersoek na die moord begin, ontmoet Karolien die ander rolspelers op die dorp. Almal het ‘n lang en historiese verbintenis met die ineengestrengelde gebeure. Karolien se ontdekking van die lyk is die begin van die ontrafeling van ‘n boeiende verhaal waarin mense wat sy dink sy ken, nie die mense is wat hulle voorgee hulle is nie. Nou ja, daar is ‘n gekonkel uit ‘n ander wêreld en nog ‘n ou vergete liefde wat weer sy opwagting maak. Dan is daar ook die vreemde kom en gaan van skimme in die nag. Saam met Karolien maak jy ‘n verrassende ontdekking reg aan die einde van die verhaal. Ek het per e-pos met Woutrine gesels oor Karolien se storie. Dans met die rooi rok word deur LAPA uitgegee.

Waar woon jy nou en waarmee hou jy jou besig as jy nie skryf nie?
Ons woon op die oomblik verspreid oor die land. Ons het ‘n boshuisie in ‘n natuurreservaat naby Hoedspruit, en daar vertoef ons die wintermaande. Somers migreer ons in die rigting van Stilbaai na ons seehuis. Dan het ek ‘n woonstel in Pretoria, vir die tye as ons besigheid moet doen, of soos ouer mense maar maak, dokters moet besoek, oё laat toets en sommer net ‘n slag wil gaan fliek.

Waarom het jy begin skryf?
Ek het altyd gehou van skryf. Die uitgewer Charles Fryer het my destyds aangepor om te skryf. Ná ek my meestersgraad in 1982 voltooi het, was daar skielik ‘n leemte in my lewe. Jy raak mos gewoond aan ‘n sekere roetine in jou lewe. Dit is hoe my eerste boek, “Gist’raand Gousblom”, die lig gesien het.

Jou eerste boek, ‘n roman, het in 1983 verskyn. Die nuwe een het taamlik lank daarna verskyn. Waarom so ’n lang gaping, en hoekom dié keer ‘n spanningsverhaal aanpak?
Ek het ‘n voltydse werk, drie kinders en ‘n man gehad. Daar was nie genoeg ure in my dag nie. En omdat ek ‘n drama-lektrise was, waar jy voordurend kreatief met jou werk moes omgaan, was daar ook nie die nodige stimulus vir ander geestelike uitinge nie.
Ek is ‘n obsessiewe leser, moet elke aand voor ek gaan slaap lees, al is dit net ‘n paar bladsye. Dit help my om te ontspan en die dag se gebeure uit my brein te tap. In die 30 jaar wat ek gewerk het, was daar nie krag vir diep intellektuele boeke nie, ek het vir suiwer ontsnapping gelees. En die beste boeke daarvoor was spannings- en speurromans. Die terapeutiese waarde daarvan kan seker vergelyk word met blokkiesraaisels.

Waar het die storie vir jou begin?
Ek het ‘n groot behoefte gehad om te skryf oor my ma se kankerdood, en oor die feit dat ek nie by haar was toe sy dood is nie. Nie dat die persoonlikheid van Carolina, die ma van Karolien, die hoofkarakter, ooreenstem met my s’n ma nie. Ek wou oor Stilbaai skryf omdat dit so ‘n belangrike deel van my lewe oor die jare gevorm het, en ek wou dit via ‘n spanningsverhaal doen.

Moes jy heelwat navorsing vir die verhaal doen?
Oor sekere aspekte het ek navorsing gedoen. Maar ek is gelukkig. My oudste seun, Stefan, is ‘n dierkundige, daarom kon ek baie van die inligting by hom kry en kon ek sekere bewerings wat ek maak, met hom verifieer.

Die verhaal speel op ‘n klein kusdorpie af. Het jy ervaring van klein dorpies, want die gebeure en intriges is so oortuigend?
Ek het op Laingsburg grootgeword. Stilbaai, waar ons vakansies deurgebring het, was ons naaste strandoord. My jeugjare was omgewe met kleindorpse atmosfeer. En ek is baie dankbaar vir die rykdom van mensekennis wat dit aan my besorg het.

Karolien is ‘n onwaarskynlike hoofkarakter, want sy is nie direk betrokke by die moord nie, maar raak betrokke. Waarom?
Nou vra jy my vas. Ek is nie ‘n metodiese skrywer nie. Dalk sal ek in die toekoms meer professioneel raak. Deon Meyer het in ‘n praatjie wat ek bygewoon het, gesê dat die moord, of die lyk, in die eerste paar bladsye van ’n spanningsverhaal moet voorkom. So daar was die lyk. Ek het soos Karolien ook maar deur die verloop van die verhaal agtergekom hoe alles inmekaar steek.

Hoe moeilik was dit om die spanningslyn te bou sonder om in die middel van die verhaal te veel weg te gee oor wie aan die einde die skuldiges is? Het dit nogal kophou geverg?
Dit was die moeilikste van die hele skryfervaring. Ek moes kort-kort terug na die vorige bladsye, nie net om seker te maak dat ek te veel weggee nie, maar ook om aanvaarbare leidrade te plant. As gewone leser word ek baie kwaad as die skrywer my nie saam met hom/haar op die spoor hou nie.

Karolien is ‘n komplekse karakter. Jy gee haar nogal baie dinge om te hanteer – haar emosionele trauma oor haar verlore liefde; haar verwydering van haar ma; die moord, en dan ook nog die intrige om haar pa.
Ek pleit skuldig. Maar ek dink die kompleksiteit is juis deur die verhouding tussen haar pa en ma geskep. Haar pa staan sentraal in haar lewe. Soos ‘n seintoring het die impulse wat hy uitgestuur het, haar hele lewe verwring. Vir haar, om te kan aanbeweeg, moes sy die verlede verstaan en perspektief verkry.

Sy is die konneksie tussen haar pa se dood en die moord op Jan. Hoe het jy die verband getrek?
Ek is bang as ek hierdie antwoord, gee ek van my storielyn weg.

Jy beeld jou karakters nogal visueel uit, soos die twee De Swardt-susters. Is dit jou teater-agtergrond wat hier na vore tree?
Absoluut. My opleiding en die grootste deel van my werkende lewe het in die toneelwêreld plaasgevind. Dit verskaf die invalshoek vir al my waarnemings. As akteur of regisseur werk jy met prentjies. Ek is nie in staat om ‘n karakter te skep wat ek nie driedimensioneel ervaar nie.

Bie noem Karolien opsetlik die verkeerde naam, waarom?
Ek weet nie. Miskien uit eie ervaring? My naam word ook baie keer verdraai. In Bie se geval is dit moontlik in die begin onoplettendheid, maar later dalk deel van ‘n magspel?

Werk jy aan ‘n nuwe boek?
Ek het ‘n idee, maar hierdie een het meer navorsing nodig. So ek karring so stadig aan.