gewildste_afr_gedigte_boomomslag
Lewe + Liefdes

5 Digbundels vir kieskeurige lesers

Jy onthou daardie woorde vir die res van jou lewe, al onthou jy nie die hele gedig nie. En gewoonlik is die deel wat jy onthou ook die kerngedagte van so gedig. Vir sommige mense tower die woord,  “gedig” ‘n nagmerrie-prentjie op van skooldae en voordra voor die hele klas. Ek moet bieg, selfs vir my was daardie ‘n ongemaklike ervaring: eerstens omdat ek soms die gedig nie lekker verstaan het nie en tweedens was dit nie so maklik om voor klasmaats ‘n gedig op te sê nie. Klasmaats kon soms maar naar wees! Gelukkig het hierdie ervaring my nie verhoed om aan te hou gedigte lees nie en kan lesers van Afrikaanse digkuns deesdae kies uit ‘n verskeidenheid digters se werke.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die bundels aanlyn teen afslagpryse te bestel.

Die gewildste Afrikaanse gedigte, saamgestel deur Leserskring (Human en Rousseau,  R170  en CD-formaat R199)
Met die eerste oogopslag (oor die inhoudsopgawe) en die lees van die voorwoord sal die liefhebber van Afrikaanse poësie saamstem hierdie sal ʼn besonderse toevoeging wees tot ʼn versameling van poësie. Die samestellers, Leserskring in samewerking met BY en RSG,  het ʼn ope uitnodiging aan lesers gerig om hul gunsteling Afrikaanse gedigte te nomineer. Uit die 1 300 wat genomineer is, is die gewildste 100 gekies om in die bundel te verskyn. Nie net weerspieël dit die lesers van poësie se voorkeure wat hoogs waarskynlik gebaseer is op hul ervaring van poësie tydens hul skooljare (byna al die gedigte was en is voorgeskrewe werke) nie, maar ook ʼn gebrek aan hierdie lesers se kennis van kontemporêre Afrikaanse poësie. Waar is die werke van Henning Pieterse, Joan Hambidge, Johann Lodewyk Marais, Andries Bezuidenhout, Carina Stander, Loftus Marais en Danie Marais om enkeles te noem? Die elektroniese en gelyknamige weergawe is op 3 cd’s opgeneem met voorlesings deur ʼn verskeidenheid van bekende stemme soos Nic de Jager en Anna-Mart van der Merwe met wonderlike kontekstualiserende inleiding deur RSG-aanbieder van Vers en Klank Margot Luyt. Hierdie bloemlesing, hetsy die harde kopie of die oudio-weergawe, is ten spyte van die een enkele tekortkoming steeds ʼn waardevolle aanwins vir lesers en liefhebbers van poësie. – Linette van der Merwe
* Die boek is eksklusief beskikbaar by Leserskring tot September en sal ná September by ander boekwinkels beskikbaar wees.

Kry my by die gewone plek 

Kry my by die gewone plek aguur – Kaapstadse gedigte,  Loftus Marais (Tafelberg, R137)
Die tweede bundel van Loftus Marais is nie net ʼn waardige opvolger van sy debuutbundel Staan in die algemeen nader aan vensters nie (2008), maar ʼn waardevolle bydrae tot die genre stadsliteratuur. Soos die subtitel aandui handel die meerderheid van die gedigte oor Kaapstad en bekende bakens, onder andere soos De Waal Drive, Thibaultplein en Clifton.  Die digter se besonderse waarnemingsvermoë en ook die vermoë om hierdie beelde aan die leser oor te dra gee aan die versameling ʼn tipe menslikheid, amper ʼn bekendheid. Temas van reis, tyd, homoseksualiteit en ʼn transvestietkarakter, ene Fabulisha de la Quellerie sal lesers vermaak, ontstem en met baie stof tot nadenke laat. ʼn Besliste moet vir lesers van kontemporêre Afrikaanse poësie. – Linette van der Merwe

 Oogensiklopedie

Oogensiklopedie,  Gilbert Gibson (Tafelberg, R130)
Selfs gesoute digters en kritici vind dié een ’n harde been om te kou. Dis ingewikkelder as ’n oftalmologie-teksboek. Daar is wel leidrade tot begrip, maar dan moet jou oog fyn kan kyk. Die tematiek van sien – sig, die visioenêre, die onsienbare, foto’s – word breedvoerig ontgin. Gedigte is alfabeties gerangskik, met kantaantekeninge en ’n verklarende woordelys agterin, wat aansluit by die idee van ’n ensiklopedie. Taal is ’n manier van kyk wat die wêreld kan verwring en vice versa (“ataraksie”). Minder obskure gedigte is daar ook, oor liefde, die goddelike, kindwees en die mooi “hoe ’n motorfiets snags verby” wat aan Cussons se gedig herinner. Mens hoop dat herlees helderte sal bring “nes ’n voortdurende gedig/die beste vir later verberg”. – Ilse van Staden

 Vaarwel, my effens bevlekte held.

Vaarwel, my effens bevlekte held, Johann de Lange (Human & Rousseau, R150)
Lees die bundel een maal deur en jy kry ’n gevoel van gedigte wat netjies gerubriseer is volgens temas tipies aan De Lange – taal, die natuur, liefde, erotiek, bekende figure, selfs religie. Lees dit weer en die verweefdheid val op, soos dit ’n goeie digter betaam, temas wat oorvleuel en inmekaarweef, liefde wat natuur is of natuur wat woord is. Daar is die fyn oplettendheid en metafore van gedigte oor diere en landskappe, dié wat tragedies soos Hirosjima, Golgota en Auschwitz betrek, of die liefde wat jy kwispelend “soos ’n akkedis se stert” kwytraak. ’n Aantal eksplisiete erotiese verse mag wel skok- Ilse van Staden

 Watermerke

Watermerke, Lucie Möller (Protea Boekhuis, R140)
Name alleen kan al poësie wees (dink maar aan “Afrikaanse Abecedarium“ van Antjie Krog of die “Hot Gates”-liedjie). In hierdie debuutbundel is die poësie nie net in die klank van Lekkerlê Leegte of Voëlvlei se Vloer of Beenderebaai nie, maar dieper in die wese van daardie merke op ’n kaart. Die spreker “word die plek” van bos en krans en dier, en dit is die ander deurlopende tema waarmee die bundel op reis gaan – die natuur. Die beste gedigte gebeur waar vorm en inhoud, metrum en metafoor, presies in mekaar in legkaart, soos in “Dermsnaardans” (amper so mooi soos Eugène Marais se “Dans van die reën”).  –Ilse van Staden