Sarah Theron, Zanne Stapelberg en Andriëtte Norman in 2013

Eie stories

Vrouemaand-inspirasie: Andriëtte Norman

“Ek kon ’n helse bord kos opeet. En dan het ek gewonder hoekom ek vet word. Ek het later besef dis omdat jy ’n bees opeet, Andriëtte!”

Andriëtte kon regkry wat min van ons kan. Nie net het sy meer as 10 kg verloor nie, sy handhaaf haar doelgewig al langer as ’n jaar.

Nadat sy in 2007 aan Idols deelgeneem het, het sy vanaf die Kaap na Johannesburg verhuis. “Ek het toe baie gewig aangesit en was maklik 14 kg oorgewig. Ek het weens emosionele redes geëet. Ek was ongelukkig omdat ek so ver van my ouers af was.”

Sy het ’n jaar later terug getrek Kaap toe en stelselmatig 4 kg verloor. Toe wend sy in 2010 ’n daadwerklike poging aan om nog gewig af te skud.

“Ek het eers net begin oefen. Ek het gestap en naderhand gedraf. Ek het ook gim toe gegaan. Maar ek het net 2 kg verloor, al het ek al hoe meer geoefen.”

Toe vra ’n tydskrif haar ’n paar maande later of sy aan hul dieetprogram wil deelneem. Andriëtte het ingestem en vir ’n maand lank ’n eetplan gevolg wat ’n dieetkundige vir haar saamgestel het. Sy het ook begin met kataboks-klasse.

“Dit was ’n maklike eetplan. Ek moes ses maaltye op ’n dag eet en kon byvoorbeeld vir ontbyt ’n stysel en ’n vrug eet. Daar was ’n hele paar opsies waaruit ek kon kies.”

Sy moes ook kleiner porsies eet. “Ek dink porsiegrootte is ’n probleem vir baie mense wat uit ’n boerehuis kom. Ons word grootgemaak om te veel te eet en nie op te hou voordat al jou kos klaar is nie. Ek kon ’n helse bord kos opeet!”

In die maand wat sy die eetplan gevolg het, het sy 3 kg verloor. “Toe was ek gemotiveerd. Ek het aangehou om te boks en nog 2 kg verloor.”

Sy het lateraan drie keer per week saam met ’n persoonlike afrigter geoefen. “Die laaste 3 kg het ek só verloor.”

Andriëtte glo sy hou haar gewig af omdat sy ’n leefstyl- verandering gemaak het. “Dit gebeur nie oornag nie. Ek het gevind dit vat langer as ’n jaar om nuwe eetgewoontes aan te leer, so gee jouself tyd.”

Verlede winter het sy so 2 1/2 kg aangesit. “Maar ek bekommer my nie te veel daaroor nie. Ek weet ek kan dit weer maklik afskud. Omdat ek die gewig wat ek verloor het al vir ’n hele ruk afhou, het ek nou begin ontspan daaroor. Ek het ’n volhoubare verandering gemaak. Om gesond te eet is nou ’n gewoonte.”

Sy oefen nog gereeld. “Ek gaan gim toe wanneer ek tyd kry. En ek gaan stap gereeld. As jy oefen, is dit soveel makliker om gesond te eet.”

Andriëtte is nou baie gelukkig met haar lyf. “Ek is trots op hoe ek lyk. Ek is nie brandmaer nie. Ek sal nooit wees nie, want my lyf is nie gebou om brandmaer te wees nie. ’n Vrou moenie soos ’n stok lyk nie.”

[box:full:red:both]

Andriëtte se wenke

Ek hou my yskas vol gesonde kos en bêre nie lekkergoed in my koskaste nie.

Om gewig te verloor is nie maklik nie. Vir baie vroue is dit ’n helse berg. Maar begin net, al oefen jy net een keer per week.

Ek beleef nog baie terugslae en eet te veel of peusel aan die verkeerde goed. Ek gaan oefen dan net ’n halfuur langer die volgende dag.

Ek sny in die aand stysel uit en eet groente en slaai. Jy gebruik die meeste energie deur die dag. Die suiker wat jy in die aand uit stysel kry, sit net in vet om.

[/box]

Lees nóg inspirerende verhale hier: