Lewe + Liefdes

Afrikaans leef voort op die Kanadese platteland

Erika Roets, oorspronklik van Namakwaland, vertel van hul lewe daar.

Waar woon julle?
Op ’n klein dorpie, Moosomin, in die suidoostelike hoek van die provinsie Saskatchewan. Dis so 2 uur se ry van vier groterige stede, nl. Minot, Brandon, Yorkton en Regina. Die provinsies Alberta, Saskatchewan en die westelike deel van Manitoba maak die prêries uit. Die wêreld is taamlik plat hier. In die winter is dit ’n sneeu-woestyn en in die somer is die vlaktes beplant met graan en kanola.

Wie is julle en wat doen julle?
Ons is ses SA gesinne en saam met al die kinders is ons ’n groep van 22. Die meeste van die kinders is in Kanada gebore, twee is in Engeland gebore en ons twee het uit SA saamgekom.

Ettiene en Josande Crouse is onderskeidelik dokter en rekenmeester, en hulle kinders is Edrich (17) en Mckayla (15). Hulle was die eerste SA gesin hier en is reeds van 1995 af hier. In 1996 het Ross en Lynne Kerkhoff en hul kroos, Matt (18), Ally (16) en Tom (14), gekom. Ross is een van die mediese praktisyns en Lynne doen binnehuisversiering en behartig ’n kwekery en bloemiste. In 1998 was dit Schalk en Henriette van der Merwe, mediese dokter en tuisteskepper, se beurt. Hulle het twee kinders, Heinrich (13) en Monica (10). Mercia van Jaarsveld, die ander dokter, is getroud met beesboer Johan Jacobs. Hulle het twee seuns, Zane (4) en John (2). Hulle het in 2005 hierheen verhuis. Ek en my man, Wessel, is dokters en het in 2007 met ons twee kinders, Anli (16) en Rudolph (11), Kanada toe gekom. Tannie Ina van der Merwe, Schalk se ma, het in 2006 saam met haar man hierheen gekom. Hy is intussen oorlede en nou is sy die apteek-assistent en almal se ouma.

Daar is heelwat boere wat met die plaashervestigingsprogram hierheen gekom het. Bekende vanne soos Visser, Van Zyl, Luttig, Pretorius, Jooste en Hoffmann boer in dié geweste met gesaaides of beeste.

Waarom is julle Kanada toe?
Om die wêreld te verken en om vir ons kinders meer toekomsgeleenthede te bied. Werksgeleenthede is volop in Kanada. Op die platteland is die misdaadsyfer baie laag. Opvoeding is vir die Kanadese belangrik en baie geld word op skole, kolleges en universiteite spandeer.

Hoe lyk dit daar?
In die somer lyk die prêries nogal soos die Karoo, net so plat, maar met geen berge in die vertes nie. Die gesaaides soos graan en kanola staan dan orals en die wêreld is baie groen, want dis ’n somerreënvalgebied. Ons almal geniet die buitelug. Watersport op die talle mere in die omgewing is gewild, en hier is ook volop kampeerterreine.

In die winter is dit spierwit en bedek met sneeu. Dit kan baie koud raak op die vlaktes, met temperature tot so laag as -45 grade as jy die windafkoelingsfaktor byreken. Dis maar moeilik vir die boere in die winter, maar hulle implemente en toerusting is aangepas vir die koue en sneeu. Motor bestuur op die ysige paaie en deur sneeubanke is nogals ’n kuns om te bemeester.

Grootste aanpassing?
Waarskynlik die weer en taal. En natuurlik dat familie en vriende letterlik aan die anderkant van die wêreld is. Danksy die rekenaar gesels ons weekliks van aangesig tot aangesig en die telefoon, briewe en e-posse help ons om kontak te behou. Ons skrik nie meer vir die sneeu of koue nie. Ons kuier soveel ons kan bymekaar sodat ons in Afrikaans kan lag en huil, en stories uitruil. Die meeste van ons praat Afrikaans aan huis en ons kinders praat ook nog Afrikaans. Ons geniet die vryheid en die veiligheid baie. Die mense hier is baie rustig, glad nie snobisties nie en het ons maklik aanvaar. Daar is ’n hegte band tussen die Suid-Afrikaners en almal spring in om mekaar te help. Of dit nou ’n trekker is wat vasval of ’n kind wat seerkry, almal help om die krisisse die hoof te bied. Ons vroue hier op Moosomin probeer om een maal ’n maand saam tee te drink.

Was dit die moeite werd om julle daar te vestig?
Ek dink almal hier dink dit was die moeite werd, want ons is ná al die jare steeds hier. Ons werk lekker saam as ’n span, ons kinders is gelukkig in die skole, en soos Tannie Ina sê, om hierheen te verhuis was vir haar soos om ’n aftreepolis uit te neem.

Ons sal almal na SA gaan om te kuier. Of ons weer daar sal kan werk, is moeilik om te sê. Sommiges wat al baie jare hier bly, sê dadelik nee. Hulle is gevestig hier, hulle kinders is hier gebore en sal nooit in SA kan aanpas nie. Wie weet, net die Here weet wat die toekoms vir iedereen inhou.

  • Tjaart Herbst

    Lekker om jou artikel te kon lees. Ek het self vriende wat Kanada toe verhuis het wat ook nie sal teruggaan SA toe nie. Maar soos jy se : Wie weet, behalwe die Here wat die toekoms ken, en wat dit vir ons almal inhou!

  • Ria van Reenen Christiana. My eggenoot Lourie van Reenen

    Het al so lank uitgesien na hierdie artikel. Ek dink julle is ‘n wonderlike voorbeeld van Afrikaners se kan, sal en wil. Uithouvermoe, deursettingsvermoe en ek weet julle is baie geliefd onder die Kanadese. Ons het vriende in Winnipeg en hulle se ons dokters is van die beste in die wereld.

    Dit lyk so lekker die saam kuier selfs in die sneeu. Weet dat ons in Suid-Afrika julle baie mis, maar ons verstaan dat julle vir julle ‘n nuwe toekoms gevind het en julle moet dit geniet. Een van ,my dogters en haar gesin woon in Australie en ek ondervind ook die rustigheid daar as ek gaan kuier.

    Schalk van der Merwe, is my man se kleinneef en ek ken die gesin en vir Ina. So bly dat sy daar vir almal die ouma kan wees wat nie daar kan wees nie.

    Dankie dat julle dit met ons gedeel het.

    Noordwesgroete!

  • Nicolaas

    Ja dit is hartverskeurend om so vêr van jou kinders en kleinkinders te wees.

    Ons nasie is nou maar eenmaal uit ‘n groep mense saamgestel wat nie sal skroom om die vreemde aan te pak en ‘n toekoms oop te kalwe vir hul nageslagte nie.Van julle is nou al die 9de tot 10de geslag wat soos ons voorvaders en moeders op die 3de en 4de geslag in Suid Afrika die onbekende wildernis aanpak ter wille van hul oortuigings en geloof. Jul widernis is anders maar was ook onbekend maar ek glo jul geloof en deursettings vermoë sal julle deurdra en julle nageslag sal die vrugte daarvan pluk.

    Sterkte vir julle, julle is altyd in ons gedagtes. Met die hulp van bo poog altyd om die aarde ‘n beter blyplek vir die mens te maak.

    Groete.

  • Carol du Plessis van Warrenton

    Sjoe, wat ‘n golf van heimwee en verlange tref my toe ek hierdie artikel lees! Kanada is beslis ‘n land wat onder mens se vel kan inkruip as jy eers eenmaal daar was en die mense daar is so opreg en warm. Ek kan my dus indink dat as mens eers eenmaal daar gewoon en gewerk het, terugkom ondenkbaar lyk met al die bykomende voordele wat ‘n eerstewereld ekonomie inhou. Weet dus dat ons klompie hier aan die onderpunt van Afrika dit vir julle gun, dat ons bly is julle is sulke goeie vriende en selfs ‘familie’ vir mekaar, maar weet maar ook net…ons verlang ons disnis!!!

  • Rienie Grobler

    Rienie Grobler /Port Elizabeth.
    dankie vir die artikel. Ja Kanada is ver maar ons dink nie in terme van myle nie maar in terme van tyd. Die wereld het klein geword met al die tegnologie ens. Ons is bly dat hulle gevestig is en wens julle die seen van die HERE toe ons weet dat hy vir sy kinders sorg. Groete.