Lewe + Liefdes

Byna 24 jaar oorsee, maar steeds Suid-Afrikaners in murg en been

Wie is julle?
Ons is 24 jaar getroud en het 4 kinders: Mia (20), Danielle (17), Francois (14) en Estelle (11). Ek en Pieter het as studente op Tukkies ontmoet. Mia is tans ‘n tweedejaarstudent in B.Sc. menslike lewenswetenskappe op Stellenbosch. Danielle, Francois en Estelle het pas “Year 12”, “Year 9” en “Year 7” voltooi in ‘n internasionale skool met ‘n Britse kurrikulum hier in Al Ain.

Waar het julle voorheen gewoon?
Ons was pasgetroud toe gaan woon ons vir 2 jaar in die VSA, want Pieter het nagraads daar by ‘n universiteit studeer. Ons het teruggetrek SA toe, maar het daarna weer die geleentheid gekry om in die VSA te gaan werk. Ons was altesame 11 jaar daar in onderskeidelik Virginië, Texas en Ohio.

So tussendeur werk en kinders grootmaak, het ons die hele Amerika platgery en soveel as moontlik gesien en beleef. Ons het al die groot stede van Amerika besoek en was ‘n hele paar keer in Walt Disney World in Orlando en ook in Disneyland in Los Angeles. Ons was twee keer by die Grand Canyon, het ‘n paar keer op die Mississippi gevaar, was by rodeo’s in Texas, het al die state in die “Old South” besoek, was by die Niagara-valle, die Statue of Liberty en Ellis Island, en het al die besienswaardighede in Washington DC ‘n paar keer besoek.

Ons het deur Hollywood en Los Angeles gery en op Route 66 gery. Ons het sneeustorms, hittegolwe en tornado’s beleef en ‘n paar keer erg verdwaal in die groot stede. Ons het ook al die verskillende state se kos en aksente beleef.

Ek en Pieter was ook in Hawaiï en in die Bahamas en het net geëet en geswem.

Waar is Al Ain en hoe is dit daar?
Dis in die woestyn ongeveer een en ’n half uur se ry suidoos van Doebai en 2 uur oos van Aboe Dhabi, op die grens tussen die VAE en Oman. Al Ain beteken “die bron”, want hier is ‘n groot oase in die middel van die dorp. Die dorp is letterlik in die woestyn en is omring met sandduine.

Die oorspronklike waterbron is lankal nie meer voldoende vir die mense se behoeftes nie en water word met pype aangelê vanaf Aboe Dhabi.

Hier is baie expats, ‘n paar kerke en voldoende inkopiesentrums, hospitale en skole. Mense bly in baie groot huise met lugversorgers en ry met viertrekvoertuie. Daar is ook baie internasionale kosse om uit te kies omdat hier so baie expats is, en ons eet gereeld Indiese of Arabiese kos.

Is dit moeilik om so op verskillende plekke aan te pas?
Die aanpassing op nuwe plekke word moeiliker hoe ouer die kinders word. Wanneer die kinders klein is, draai hul behoeftes rondom die gesin en pappa en mamma. Maar hoe groter hulle word, hoe belangriker word die skool, sport en vriende. Dis nie altyd maklik vir ‘n tiener om ontwrig te word en weer aan te pas by nuwe skole en vriende nie. Die aanpassing duur elke keer ‘n paar maande. Die tweede keer toe ons Amerika toe is, was Mia 3 jaar en Danielle ‘n babatjie. Francois is in 1999 in Cleveland, Ohio, gebore. Toe ons die derde keer Amerika toe is, was Mia 10 jaar, Danielle 7, Francois 3 en Estelle 18 maande. Die moeilikste skuif was van Amerika na die Midde-Ooste toe die kinders heelwat ouer was.

Die lekkerste van waar julle nou woon?
Ons woon in ‘n baie veilige dorp. Die misdaadsyfer is baie laag in die hele land en hier’s byvoorbeeld geen diefwering of alarms by huise nie. Dis veilig om in die aande tot laat op straat te wees en hier is die minimum diefstal en inbrake. Sedert ons hier woon, het ons ook meer van Europa, Asië en die naburige lande gesien. Ons geniet die diversiteit van die gemeenskap ook baie, want dit verbreed ‘n mens se uitkyk op die lewe. Ons kinders se maats kom van oor die hele wêreld en hulle leer baie van mekaar se taal en kultuur.

Die eienaardigste ding wat julle daar beleef het?
Hieroor kan ek regtig ‘n boek skryf! Al Ain is in baie opsigte heeltemal modern, maar baie meer konserwatief as byvoorbeeld Doebai of Aboe Dhabi. Ons hoef nie ‘n abaja of ‘n kopbedekking te dra as ons uitgaan nie, maar ons arms en bene tot by die knieë moet bedek wees. 

Baie mense kan nie Engels praat of selfs verstaan nie. Die algemene spreektaal is Arabies en mense praat ook Oerdoe, Farsi, Filippyns, Hindi en ‘n paar Europese tale. ‘n Mens sukkel dikwels om te kommunikeer en dit lei tot heelwat misverstande. Die eienaars van kleiner restaurante en winkels sukkel met die direkte vertaling van hul taal na Engels en mens sien partykeer die snaaksste name.

Die Emirati-mans mag tot 4 vroue hê en hulle het ook vreeslik baie kinders by elk van die vroue. Daar’s  baie Arabiere wat met hul niggies en neefs trou om die familie-bloedlyn “suiwer” te hou. Ons moes ook al ‘n paar keer verduidelik dat ons nie daarin belangstel om ons dogters te verkoop nie.

In Al Ain sien ‘n mens elke nou en dan ‘n kameel wat losgebreek het van die trop en per ongeluk in die straat beland het. Al die motors stop dan en wag dat die kameel veilig uit die pad is. Hier is kos en restaurante van reg oor die wêreld om uit te kies. Party goed lyk nie asof mens dit kan eet nie, want dit lyk asof dit kan terugpraat of weghardloop!

Voel julle nog julle is Suid-Afrikaners of is julle wêreldburgers?
Ons beskou onsself nog altyd as Suid-Afrikaners. Die kinders was nooit eintlik in Suid-Afrika in die skool nie, maar praat, lees en skryf vlot Afrikaans. Ons seun speel rugby. Ons braai so veel as moontlik vleis – wel in die winter, want dan is dit koel genoeg. Ons koop biltong, droëwors en Ouma Beskuit by die internasionale winkel. Mia studeer op Stellenbosch en as Danielle klaar is met matriek, wil sy ook ‘n Matiestudent word.

Sal julle terugkeer na Suid-Afrika?
Ons wil baie graag eendag terugkeer. Ons mis die pragtige natuurskoon, die lekker weer en kos en ons mense baie.