reinette_le_roux_en_annemarie_viegas
Lewe + Liefdes

Annemarie Viegas vertel meer van haar lewe in Dubai.

Dubai is ‘n interressante plek met sy mengelmoes van tale en kulture, weelderige hotelle, vele inkopiesentrums, mooi, skoon strande, groot parke, min werkloosheid, lae misdaadsyfers en geen inkomstebelasting nie.

Die bevolking bestaan omtrent 80% uit ander nasionaliteite en 20% Emiraties. Die grootste hoeveelheid “ander nasionaliteite” is Indiërs, Pakistani’s, en Fillipyne. Verder is daar ‘n klomp Britte, Suid-Afrikaners, Duitsers, Italianers, Turke, Keniane, Sudanese en Chinese.

Genadiglik is Engels die algemene spreektaal. Die verskillende aksente maak dit soms moeilik om jouself verstaanbaar te maak. As mens bv. vra vir “milk” moet dit liewer uitgespreek word as “mielk”. As ‘n Fillipyn sê: “I will pix it”  beteken dit “I will fix it.”

Die Fillipyne is pragtige klein mensies – baie netjies op hul voorkoms, hardwerkend, altyd hoflik en vriendelik, maar tog baie selfhandhawend.

Baie van die Indiërs en Pakistani’s is konstruksiewerkers en taxi-bestuurders, maar dan is daar ook baie van hulle in besigheidsbedrywe. 

Meeste Emiraties werk tans nog in staatsdiensorganisasies soos Binnelandse Sake, paspoortbeheer,  verkeersdepartemente en die polisie. Die jonger garde praat veral goed Engels en baie van hulle word Engeland en Amerika toe gestuur om te studeer. Die Emiraties het ‘n baie duidelike nasietrots. Op hul nasionale dag word hul motors versier met landsvlae en daar word kompetisies gehou om die mooiste versierde motor te bekroon. Hulle hou van weelde, ruimte en privaatheid.

‘n Emiratie sal nooit ‘n hospitaalkamer met iemand anders deel nie. Hulle dring ook gewoonlik aan op ‘n groot kamer. Daar word dan ‘n mat op die vloer gegooi, die mooiste houers met vrugte en eetgoed word aangedra en so kuier die familie om die siekbed. Die pasiënt word nie sommer alleen gelaat nie – daar is altyd ‘n familielid of ‘n huishulp wat by die pasiënt bly. Iets soos ouetehuise bestaan nie hier nie, want families beskou dit as hulle plig om vir ou mense te sorg.

Natuurlik is die mans se hooftooisels en lang wit rokke en die vrouens se swart gewade aanvanklik vreemd vir ‘n Westerling, maar hoe langer mens hier bly, hoe mooier raak dit.

Wat vermaak betref, is hier oorgenoeg in Dubai te sien en te doen – natuurlik teen ‘n prys. Daar is dansvertonings, simfoniekonserte, toneelopvoerings, baie kunsgallerye en  woestyn-safaries.

Die woestyn bly steeds vir my ‘n wonderlike ervaring – die verskillende kleure sand, die groot duine, die riffels op die sand soos die wind waai en dan die kamele, en wonderbaarlik genoeg ook die groenigheid op sommige plekke in die woestyn.

Rugby, tennis en golftoernooie word hier aangebied. Daar is ‘n pragtige perderesiesbaan, en ‘n kameelresiesbaan.

Soveel mense, soveel kerke en gelukkig word dit toegelaat. Vrydag en Saterdag is die amptelike naweek in die VAE. Groot byeenkomste vind dan ook by die moskees plaas en by die meeste ander kerke.

Daar is woongebiede buite die gewoel van die stad – groot villas met pragtige tuine, maar dan ook baie woonstelgeboue wat gewoonlik ‘n gym, swembad en speelplek vir kinders het. In elke woongebied is ‘n park – baie van hulle met ‘n tartanbaan, wat natuurlik heerlik is om op te stap, en ‘n fietspad.

Weens die hitte is die lewenswyse hier heelwat anders as in SA. Baie winkels sluit tussen 13:00 en 16 :00 en bly tot 23:00 oop. Eintlik kry die plek eers behoorlik lewe na 19:00 saans. Dan lyk die eenvoudigste winkeltjie selfs mooi net omdat dit met ligte versier is. Wanneer ‘n Emiratie-huwelik plaasvind, word die hele huis ook buite met liggies versier – baie feestelik! Boomstamme by hotelle word ook so versier.

Die paaie in Dubai is baie goed – sommige tot sewe bane breed. Die tolhekstelsel  is ook baie gevorderd. Daar word ‘n plakker op die voorruit geplak en wanneer jy deur ‘n tolhek ry, word tolgeld outomaties van jou rekening verhaal. Wanneer die rekeningbalans laag is, word die eienaar in kennis gestel, sodat die tolhek-rekening herlaai kan word.  Geen oponthoud by ‘n hek of ‘n gesukkel met kleingeld nie en ook geen personeel nodig om die hek te beman nie.

Dubai is ‘n belewenis en dis ‘n voorreg om hier te wees en deel te wees van ‘n immerontwikkelende stad, maar my mense bly my mense, my land bly my land en my huis bly my huis . . .

  • Rene

    Watter soort werkgeleenhede is daar – skoolhou soos in Qatar. Ander moontlikhede.