Lewe + Liefdes

Avontuur en kultuur in die buiteland vir Louette Kotze

Wanneer is jy oorsee, en waarom is jy die eerste keer oorsee?
In Oktober 2001, nadat ek dieselfde week my Suid-Afrikaanse bestuurderslisensie en visum vir oorsee gekry het en vir die heel eerste keer op ‘n vliegtuig geklim het! Ek was op soek na iets heeltemal anders. ‘n Vriendin het toevallig genoem sy gaan Holland toe om as au pair  te werk. Hoekom dan nie: ‘n ander taal, ‘n nuwe kultuur, ‘n ander land . . .  Ek het my inligting ingestuur en die eienaar van die agentskap in Holland het my as hul familie se au pair gekies! Ek was veertien maande by hulle in Den Haag.   

Waar het jy jou man ontmoet?
Ná my ondervinding in Holland was ek nog nie gereed om terug te kom SA toe nie. Ek wou eers die destydse twee-jaar-working holiday-visum vir Engeland probeer. Ek het in Januarie 2003 in Londen aangekom en in Februarie my man, Leon, ontmoet. Dit was ‘n week voor Valentynsdag en ‘n vriendin was op soek na blyplek. Sy het ‘n advertensie vir ‘n kamer gesien en ek en nog ‘n vriendin het saam met haar daarna gaan kyk. Dis Leon wat die kamer wou verhuur, en hy nooi ons toe om saam met hom en nog ‘n paar vriende Valentynsdag te vier. Die res is geskiedenis. Maar my vriendin het toe nooit die kamer by hom gehuur nie!

Wat het julle daar gedoen?

Vir die eerste ses maande was ek ‘n “nanny” by ‘n familie in Blackheath, net buite die stad. Daarna  was ek ‘n administrateur vir ‘n huisverhuringsagentskap. Leon het in daardie tyd vir ‘n prokureursfirma gewerk as ‘n “Business Analyst & Information Architect”.

Hoe was dit daar, en waarom is julle daarna Spanje toe?
Londen is wonderlik! Soveel verskillende kulture saam in een stad. En regtig baie om te ontdek: van kosmarkte tot tweedehandsmarkte, kunsmuseums, teaters, natuurlik wonderlike klerewinkels, snuisterywinkels, knus eetplekkies, dansplekke, ens. Ons het die tyd baie geniet, maar die weer kry jou onder. ‘n Ou werkskennis van Leon in Barcelona het hom vertel van ‘n geleentheid daar. En ná ‘n paar onderhoude was die werk syne! Ons eerste seun, Max, was maar twee jaar en 5 maande toe ons getrek het. Dit was ideaal, want hy was nog nie in die skool nie. Ons tweede seun, Jack, is sewe maande later hier in Barcelona gebore.

Waar woon julle in Spanje en wat doen julle?
Ons woon ‘n paar dorpies van die stad af, in Castelldefels. Jy kom nie juis agter dis ‘n aparte dorp nie, want Barcelona se voorstede loop aaneen. Ons huis is drie blokke van die see af en ’n paar blokke van ons middedorp en stasie af. Alles is binne loop-afstand en die openbare vervoer is wonderlik. Leon werk vir ‘n Amerikaanse maatskappy as “Technology Governance Manager”.  Ek is ‘n “cama de casa” (huisvrou), wat ons lewenstyl goed pas. Max (6) en Jack (3) is in ‘n openbare Katalaanse skool. Buiten die Afrikaans wat ek met hulle praat en die Engels wat Leon met hul praat, is hul lesse in Katalaans. Die meeste maats is Spaans. Die skole het middae ‘n “siesta”, so die kinders is soggens in die skool, kom smiddae huistoe vir ‘n paar uur en gaan daarna weer terug vir nog ‘n sessie.    

Wat is die lekkerste daar?
Al die verskillende tradisies. In Oktober vier almal Castanyada.  “Castanyas” is die Spaans vir kastaiings (chestnuts in Engels) en dit word in die oond of oor die braaikole gerooster. Ons maak ook “panellets”, ‘n tradisionele koekie met ‘n basis van aartappel, amandel en suiker. Natuurlik mag die grootmense hierdie nagereg geniet met ‘n bietjie “mascatel” (soetwyn) of “cava” (vonkelwyn). 

Teen ongeveer Maart is “calçots” in seisoen en dit word voor braaivleis geniet. Jy braai dit sommer in hope op ‘n vuurwarm vuur en brand die buitekant. Daarna draai jy dit in koerant papier toe.  Almal om die tafel haal ‘n “calçot” uit, skil die gebrande velle af en druk die ui in ‘n sous van knoffel en tamatie.  Kan morsig raak, maar heerlik!

Met Kerstyd het elke huishouding ‘n “caga tio”. Dis ‘n stuk stomp met ‘n geverfde gesiggie aan die een kant en twee houtbene voor, en ‘n houtneus. Hy kry gewoonlik ‘n rooi mus op. “Caga tio”  is heelmaand ‘n familielid en die kinders moet hom onder ‘n kombersie warm hou en kos gee (sy gunsteling is nartjieskille!). Oukersaand word die tio “lewend” en die kinders moet hom met stokke piets terwyl hulle ‘n liedjie sing:  “Caga tio, caga turron …” wat basies vir die tio vra dat hy vir die kinders ‘n ietsie moet uit prrrrrt!  As hulle die kombers oplig is daar tradisionele Kersfeeskoekies en sjokolades en deesdae ook ‘n klein speelding.

Die Drie Konings is ook ‘n groot tradisie in Januarie en verwys na die Bybel se drie wyse manne.  Die oggend van die 5de arriveer die konings met ‘n skip in ‘n naby geleë hawe, dieselfde aand hou hulle ‘n groot optog deur die dorp se strate en gooi lekkers vir die toeskouers. Dieselfde aand sit elke huishouding koekies, melk en water uit vir die konings en hul kamele. Die volgende oggend is daar vir die kinders geskenke onder die Kersboom. 

Maar andersins is die somer wonderlik met die laat aande se lig, dit raak eers ná 9 nm. donker.  

Enige interessante ervarings?
In die eerste jaar het ons ons heel eerste braai gekoop, net mooi groot genoeg vir ‘n gesin van vier.  Die vuur het nog so lekker gebrand, toe lui ons voordeurklokkie en wie staan daar? Die Spaanse polisie!  Ons het in ons gebroke Spaans verstaan ons mag glad nie braai nie, maar het later uitgevind dit was ‘n droë jaar en ons vlamme was seker te groot (of een van ons buurmanne was jaloers oor die lekker geure, pleks hul kom saambraai!).  Nou maak ons maar gebruik van kuns-kole.

Sal julle terugkom na SA?
Ek wil graag sê ja, maar die lewenstyl hier is baie rustig, veral vir die kinders. Kinders in dié land word  soos prinse en prinsesse behandel. En ons woon in Europa.  Van hier kan ons kinders makliker ‘n toekoms vir hulself vind, veral met die vier tale daarby. Natuurlik is dit nie altyd maanskyn en rose nie!  Die meeste van ons familie woon in Suid-Afrika.  Elke dag het nog uitdagings, maar vir tyd en wyl is ons gelukkig hier.

  • Wilma

    Baie oulik, sjoe wat ‘n belewenis, min het jy geweet hoe jou lewe sou draai toe jy op daardie vliegtuig geklim het ne! Lekker, ek is so bly vir jou! Dis lekker om te sien hoe julle leef, en so baie tradisies het om te geniet. Baie anders as Suid Afrika! Geniet elke oomblik!

  • Lynette

    Ag dit was nou lekker om te lees van n jare lange terug skool vriendin! Jou gesin is pragtig! Xxx

  • petro Molnar

    Met ‘n knop in my keel lees ek hierdie storie geskryf deur my eie niggie! So ‘n lekker lees storie Louette! Mis julle baie! Xx

  • Louette Kotze

    Baie dankie almal, so bly jul geniet dit net so baie soos ek! Ek het nie verwag so baie kenisse, vriende en familie sou dit lees nie – baie dankie dat jul geinteresseerd is in onse ou lewentjies. Hier is tot die volgende 11 jaar se avonture – waar ook al ons onselwers mag bevind! xx

  • frances van der Westhuizen

    ons geniet dit werklik om van jul lewe in die vreemde te lees, gelukkig hoef ons nie bang te wees dat die Spaanse Polisie ons sal kom waarsku om ons braaivuur dood te maak nie. geniet jul lewe en laat weet ons meer van al jul doen en late.

  • Lizette

    Dit is so lekker om te sien hoe julle paatjie die afgelope jare geloop het. Dankie dat jy dit met ons gedeel het. Ons mis julle baie aan hierdie kant en hoop om gou ‘n kuiertjie van julle af te verwag. Liefde

  • Johanna van Dyk

    Dit is besonders as jongmense n nuwe begin maak in die buiteland, Baie geluk met julle vasbyt en deursettingsvermoe. Julle kinders kry n unieke geleentheid. Xx

  • Tjaart Herbst

    Wat ‘n lewenservaring! Lekker om jul verhaal te kon lees