Lewe + Liefdes

Avontuur vir drie jaar in Tasjkent, Oesbekistan

Waar woon julle?

In Tasjkent, die grootste stad in Oesbekistan. Oesbekistan is suid van Rusland en Kazachstan en noord van Afganistan en Toerkmenistan. Japie werk vir ‘n Suid-Afrikaanse maatskappy wat ‘n aanleg beplan in samewerking met onder meer die regering van Oesbekistan. Ons volwasse kinders woon steeds in SA en sal moet spaar om by ons te kom kuier. Dié geïsoleerde land in sentraal-Asië het baie onderstrominge en korrupsie is een van die grootste remskoene hier.

Is daar baie Suid-Afrikaners?

Ons is 22 volwassenes en 12 kinders van SA wat in Tasjkent woon. Hier is nie ‘n Suid-Afrikaanse ambassade wat ons beskerm nie en ons is uitgelewer aan die plaaslike inwoners se interpretasie van reg en verkeerd. Elke ou probeer om sy karige salaris aan te vul met onregverdige boetes en maak jy jou skuldig aan ‘n verkeersoortreding, kan jy in die tronk beland. Daarom mag die maatskappy se werknemers nie self bestuur nie en ons het drywers. Dis ‘n groot aanpassing om gestroop te word van jou onafhanklikheid.

Vertel meer van die mense van Oesbekistan.

Die bevolking bestaan uit sowat 80% Oesbeke en 5,5% Russe, wat ná die onttrekking van die gewese USSR oorgebly het. Die res bestaan uit Tadjiks, Karakalpaks, Tatare en Koreane. Vroeër was Russies ‘n verpligte taal, maar ná onafhanklikwording het ‘n sterk gevoel van nasionalisme ontstaan en die gebruik van Oesbekies word meer algemeen. My buurman, Farid, is ‘n Tataar wat net Tataars praat. Die mense hier verstaan hom, want dis seker verwant soos Afrikaans en Nederlands. Vir my bly dit Grieks! Ek praat Afrikaans en hy verstaan my net so min soos ek vir hom. Saam maak ons tuin, sit op die trap, drink koeldrank en klets. So in “Tartiaans” vertel ek hom van my mooi land en my verlange en (ek dink) hy vertel my van sy kwaai vrou wie se appelkooskonfyt hy steel om vir my te gee. Ons verstaan mekaar se hartstaal wat spruit uit ‘n liefde vir tuinwerk en die grond. Hy plant vir my dahlias en rissies en ek beloon hom met’n glimlag en ‘n been vir sy hond, want vleis is duur. Ek is bevoorreg om Sasha, ‘n Rus, as drywer te hê, en Nafisa, ‘n Oesbekiese meisie, help my in die huis.

Hoe is die leefstyl daar?

Die plaaslike bevolking se huise is oor die algemeen nie groot nie. Woonstelle wat uit die Russiese era spruit, is bitter klein en baie duur. Die leefstyl word grotendeels bepaal deur die Moslem-geloofsoortuigings wat ‘n geweldige kulturele inslag het. Die Russe is meer Westers, maar beide die Russe en die Oesbeke is groot gesinsmense en hul liefde vir hul kinders word weerspieël in hoeveel tyd hulle saam met hul gesinne bestee. Gereëlde troues is steeds aan die orde van die dag en vroue word nie juis hoog geag nie. Tersiêre opleiding raak meer algemeen onder vroue en daarmee saam styg hul status effens, maar daar is steeds baie diskriminasie.

Moeilikste daar?

My grootste kultuurskok was toe ek die eerste keer alleen in ‘n kruidenierswinkel was. Oorbluf en paniekerig het ek net die herkenbaarste goed soos eiers en kaas gegryp en toe maar by die mark gestop vir groente en vrugte. Die konfrontasie met ‘n oorvloed woorde en simbole waarvan jy geen begrip het nie, is oorweldigend. Sasha praat nie vlot Engels nie. Tog kan hy homself goed genoeg verstaanbaar maak. Belangrikste is dat hy my verstaan (soms). Hy help my baie in die winkel. Dis moeilik as jy sout moet koop en alles op die boksies lyk soos hiërogliewe en daar is reeds strooisuiker en meel op jou rak in soortgelyke boksies.

My onvermoë om die taal te praat is die grootste struikelblok.

Hier word alle vakmanne masters genoem. Toe ons ‘n probleem met ons elektrisiteit gehad het, het die Oesbekiese landlord, die master en Sasha gekom. Die master sê vir die landlord in Oesbekies wat fout is. Die landlord vertaal vir Sasha in Russies en dan vertel Sasha vir Japie in geradbraakte Engels wat die probleem is. Niemand weet eintlik waarvan die master praat nie en vertel sy vereenvoudigde weergawe. Uiteindelik kom dit neer op: sit hierdie skakelaar aan en daardie een af! Maar dis ná ‘n uur se praat, beduie en baie frustrasie en drie dae se kouewaterstorte of verhitte vloere – terwyl dit 45 °C buite is.

Die kos?

Hier is van die geurigste vrugte en jy eet wat in seisoen is – kersies, bessies, appelkose, heerlike vye, appels en druiwe asof van Kanaän. Als is organies. Vleis is taai en jy moet mooi kies anders kry jy ‘n bokboud en nie ‘n skaapboud op die tafel nie. Gelukkig hou hierdie mense van benevleis, so buitelanders gryp die beeshaas, want dit kos dieselfde as al die ander vleissnitte. Hier is nie iets soos wors nie, tensy jy dit self maak. Word die lus vir wors te groot word, kan jy altyd perdewors koop – ‘n baie duur lekkerny!

Bekende handelsname is ook baie duur: R80 vir ‘n buis Colgate-tandepasta tot R180 vir ‘n bottel Jacobs-koffie. Tee is ‘n groot deel van die Oesbeke se dieet. Flou swart tee word bedien by elke ete saam met brood (lapoiska), sulke ronde brode wat jy op elke straathoek kan koop – altyd vars en warm! Hulle karwei die brode toegedraai in komberse in outydse kinderwaentjies. Regte “prams”. Voor ‘n Oesbekiese ete breek die gasvrou vir elke gas ‘n stuk brood af en sit dit voor jou bord. As jy die brood opeet, kry jy nog ’n stuk. As jy dit los, kry jy dieselfde stuk môre weer!

Hoe ontspan julle?

Ons braai en kuier vir ‘n vale. Ons het braaivleis en sonskyn, maar die rugby bly agterweë. Indiese dekodeerders verseker dat ons krieket kan kyk, maar alle plaaslike programme is in Russies of Oesbekies. Ons word eintlik gedwing om sosiaal te wees. Ons het ‘n vroue-Bybelstudiegroep en ook ‘n Tashkent Womens’ International Group (TWIG) wat weeklikse byeenkomste reël, soos kosdemonstrasies, kultuurdae, modeparades en soms net lekker kuier. Dis ‘n voorreg om soveel mense van ander lande te ontmoet sonder om eers in die vliegtuig te klim.

Reis julle baie?

Reis is nie so maklik soos ‘n mens sou dink nie. Met Uzbekistan Airways se monopolie betaal ons hemelhoë pryse vir vlugte in en uit Tasjkent. Plaaslike vlugte is nie so duur nie, en met die paaie wat nie te waffers is nie, is dit beter om plekke soos Samerkand, Gieva en Bughara per lug te besoek. Oesbekistan lê op die syroete en het ‘n ryke geskiedenis. Die romantiek van harems en oorloë, paleise en moskees maak deel uit van die lekkerte om hierdie land te koester en te geniet. Ongelukkig is dit duur, maar omdat dit so anders as enige Westerse land is, is dit baie interessant.

Enige ongemaklike oomblikke daar?

Ons is deur ‘n Oesbeekse gesin genooi om egte Oesbekiese gasvryheid te beleef soos dit van enige goeie Moslem vereis word. Met die intrapslag het ek elke sosiale reël verbreek deur nie my skoene by die deur uit te trek nie. Rooi gebloos nadat hulle my daarop gewys het, moes ek probeer om my nr. 8-voete in die nr. 4-sandaaltjies te kry wat hulle my gegee het om in die huis te dra. Tot hul ontsteltenis moes ek kaalvoet loop.

Toilette is meestal ‘n gat in die grond. Dis klaarblyklik vir niemand ‘n probleem om selfs op gevorderede ouderdom nog steeds al hurkend die natuur se roep te gehoorsaam nie.

Kom julle terug na SA?

As hierdie 3-jaar-kontrak verby is, sal ek met ‘n swaar gemoed teruggaan huis toe. Hier het ek, ten spyte van die swaarkry, weer geleer wat dit is om jouself in die oë te kyk en te sê … jy kan! ‘n Mens kan enigiets geniet as jy dit oopkop en positief aanpak. Beleef hoe wonderlik God voorsien in alles wat jy nodig het … ondersteuning, vriendskap en liefde. Hier het ek beleef jy het nie ‘n gebou nodig om van jou ‘n Christen te maak nie – jy het Jesus nodig. Dis met groot dankbaarheid dat ek na Suid-Afrika verlang en besef ons bly in ‘n wonderlike land van melk en heuning. In Suid-Afrika kla ons met ‘n witbrood onder die arm oor die land, want hier het ek gesien wat armoede en korrupsie werklik beteken.

  • Jennifer D’Ambrosi

    Hi Selma

    Your perception of the country is so good; I do not have to visit anymore, as I have seen it through your eyes. Being artistic you view certain aspects differently to others which is a bonus.

    The most education tool in the world is to travel and meet different peoples and learn their cultures, it sometimes makes us grateful for what we have (irrelevant of all the corruption, pot holes etc.) I am very happy to hear you are now starting to enjoy Uzbek, I know in the beginning you found it tough. With your support Japie will also cope.

    Some of the pictures above remind me of the remote villages in Italy where they also live in a different time zone and the people are very humble and extremely accommodating.

    Take care, love to both you and Japie
    Jennifer

  • Petro Kock

    Kiefste Selma, weet darem so n bietjie van om in n vreemde land te bly, dit klink vir my baie soos die paar maande wat ons in Saudi-Arabia gebly het.
    Moet se ek het ook daar tot die ontdekking gekom dat ons n wonderlike God dien, omdat ons nie vrylik ons geloof kon uitleef soos in ons wonderlike land SA nie.
    Jy kan n boek skryf vriendin, ek het veral die storie van die koeldrank op die trappe geniet. Elke land het sy eie bekoring ne. Ons het die ook in daardie woestyn land belewe.
    Ek sien daar is darem n handjievol SA mense wat dit seker darem uithoudbaar maak as die verskriklike verlange dae kom.
    Een ding van ons afrikaners… ons kan vasbyt… ne vriendin. Die Here seen jou daar, hoop jy kry die taal vinnig onder die knie… glo jy sal dit ook regkry, dan kan jy n bybelstudie groep vir die Oesbeekse begin.

    Sterkte en liefde vir jou en Japie.

  • Freda le Roux

    Liewe vriendin, ja die dag toe ons gehoor het julle moet julle tasse pak was vir ons almal ‘n swaar dag. Ons Bybelstudie Leidster en groot vriendin trek na ‘n ander land. Dankie tog vir tegnologie….jou stories oor al julle belewenisse daar is skreeusnaaks. Partykeer ook weemoedig en vol lessies wat mens nogal laat dink. Ek het al so baie geleer van die lewe in Oesbekistan, net deur jou vertellings….dit voel of ek vir Sasha en Nafisa persoonlik ken. Ons is baie bly dat julle so goed aanpas en die lewe vir julself so prettig en gemaklik moontlik maak. Ek wonder hoeveel mense derms in S.A. sal koop en dit al die pad Oesbek toe vlieg om hulle eie wors te gaan maak. Dalk is dit ‘n eerste? Maar watwou, as die lus vir ‘n stuk boerewors jou pak, dan eet jy boerewors. Julle moet die res van die tyd geniet, ons sien uit dat julle terugkom. Baie liefde.

  • Willie Nieuwoudt

    Wonderlik! So tipies Selma en Japie, maar ons mis julle werklik in Suid Afrika! Dit is net julle wat iets kan maak werk, ‘n ongemaklike situasie in ‘n smile omskep.
    Sterkte vir julle.

  • Leonie van der Westhuizen

    Liewe vriendin jy vertel so kleurryk van ‘n land wat baie min van ons beskore is om ooit te kan besoek! Ek sien sommer hoe daai brode stoom uit die babawaentjie en sien jou kaalvoet in die gaste se huis rondloop. Ek kan nie wag vir nog stories van jou af nie!

  • Tjaart Herbst

    Sjoe, ek het jou vertelling vreeslik geniet. Waarlik ‘n reis wat ek graag sou wou beleef, maar wat ek nou deur jou oe kon beleef. Dankie