troukoek_maak_nie_vet_nie
Lewe + Liefdes

Boeke vir die langnaweek

Daar gaan genoeg tyd wees om jouself in ‘n boek te verdiep, sonder dat jy jou neus by die deur uit hoef te steek om werk toe te gaan. Of hopelik hoef jy nie! My plan vir hierdie naweek is, genoeg peuselhappies, ‘n lekker warm kombers, ‘n hoop boeke en die rusbank in my kuierkamer. Daar gaan ek my tuis maak en probeer om alles en almal rondom my die koue skouer te gee terwyl ek ewe selfsugtig lees. Helaas, soos dit in my huishouding gaan, sal die hond, katte en ander huisgenote almal aanspraak wil maak op my tyd. En glo my, nie een van hulle aanvaar ‘n koue skouer nie! Hierdie week het ek ‘n hopie ligter boeke uitgekies vir lekker vinnig lees. Geniet jou naweek.

Onthou om ons elektroniese winkel op kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

Troukoek maak nie vet nie, Kristel Loots (Tafelberg, R169)

’n Jong vrou, hartgebroke en sinies oor die huwelik, ’n pragtige supermodel, ’n aantreklike man uit die verlede en ’n tydelike werk as troubeplanner. Wat kan nou moontlik verkeerd gaan?

Dié scenario kan Dixie se splinternuwe lewe heeltemal omver gooi. Ná haar verloofde besluit hy wil nie meer trou nie, trek sy Kaapstad toe om ’n lewe te bou waar sy van nuttelose, selfsugtige mans kan vergeet.

Sy werk by haar sussie se troubeplanner-onderneming en beplan die supermodel, Vicky Vermaak, se spesiale dag. Vicky kry die troue van Dixie se drome, boonop met die bruidegom van albei se drome. . .

Kristel Loots vertel die storie van ’n gebreekte hart se pad ná herstel met genoeg humor om jou te laat skater. Saam met Dixie kan jy jou gebreekte hart weer heel eet aan ’n stuk troukoek – of  twee, of drie. Dit maak immers nie vet nie.  – Elmari de Vos

Klein land van die liefde   

Klein land van die liefde, Margaret Bakkes (Human & Rousseau, R150)
Heuningpoort is ‘n baie klein dorpie.  Wouter Basson, dominee op die dorp, het daar grootgeword. Hy staan op troue met Karolien de Villiers, ‘n arbeidsterapeut wat eers vir ‘n jaar in die stad gaan werk het. Dié jaar weg het egter ‘n saadjie van twyfel in haar geplant.

Dirk en Karen, goeie stadsvriende van haar, trek Holland toe sodat Dirk daar kan studeer en promofeer.  Karen pas nie aan in die koue nie. Haar gesondheid gaan agteruit en hulle laat kom Karolien om te au pair vir Leon en Laura, hul kinders. Die egpaar gaan op vakansie sodat Karen kan herstel.

Wouter is nie baie gelukkig dat Karolien oorsee is nie. Sy  ontmoet Paul van Gelderen, ‘n Hollander, en hulle is onmiddellik  aangetrokke tot mekaar. Dinge verander baie vinnig.  Karen sterf terwyl sy en Dirk  met vakansie is. Dirk vertrek ná Suid-Afrika om Karen se oorskot huis toe te neem.  Sy vliegtuig word afgeskiet oor Midde-Afrika en die kinders word totaal wees gelaat.  Wouter daag op in Holland om met Karolien te trou en dan sommer wittebrood daar te hou.  Karolien moet kies tussen Paul en Wouter.  Wie gaan sy kies, want sy moet nou die twee kinders se toekoms ook in ag neem? ‘n Heerlike liefdesverhaal. – Jenny du Toit

 Skadu's van gister  Skadu’s van gister, Marzanne Leroux-Van der Boon (Tafelberg, R210)

’n Heruitgawe van twee aangrypende romans oor geloof, verlies, vrees vir verwerping, tragiese en mislukte verhoudings. Nederlandse en Afrikaanse kultuur en leefwyse word naas mekaar gestel.

Klaprose teen die wind is ’n roman oor seksuele ambivalensie en vigs. Marc, ’n Suid-Afrikaanse uitgewekene, trek in by gay Jurgen in Amsterdam. Marc ontmoet Anneliese en besef terselfdertyd dat hy Jurgen liefkry. Marc en Jurgen reis in Engeland, waar die klaprose welig groei. Verlies en vrees reis mee.

Soos honde van die hemel fokus ook op wankelende verhoudings en tragiese verledes in die oorgangstyd na die nuwe regering in Suid-Afrika. Geweld en vrees vier hoogty.  Ruud, van gemengde bloed, keer uit Nederland ná sy geboorteland terug. Hy en Anne klim ’n steil pad ná geluk. – Malene Breytenbach

 My favourite wife  

My Favourite Wife, Tony Parsons  (Harper Collins, R189,95)
Bill, Becca en Holly Holden verhuis van Londen na Sjanghai met hoë verwagtinge en sterre in hul oë.  Bill hoop met dié groot skuif om ‘n vennoot te word by die prokureursfirma waar hy werk.
Alles is egter nie so rooskleurig soos hulle gehoop het nie.  Hulle deel hul woonstelblok met meisies soos Jin-Jin Li, minaresse van welgestelde getroude besigheidsmanne.
Becca en Holly keer terug ná Londen om haar siek pa te gaan versorg.   Dis ‘n resep vir moeilikheid. Die eensame Bill wat agterbly en die verwaarloosde rykmansminnares, Jin-Jin Li eindig op in mekaar se arms. Daar volg baie teleurstellings.  Becca en Holly keer terug en Becca maak ‘n baie moeilike en onverwagse besluit.  Hulle leer dat liefde en familie ‘n baie hegte band vorm.  – Jenny du Toit

 A Half Forgotten Song  

A Half-Forgotten Song,  Katherine Webb (Orion, R205)
Hierdie verhaal begin op die Engelse platteland in die tydperk net voor die Tweede Wêreld-Oorlog en word vyf en sewentig jaar later hervat.
As die veertienjarige dogter van ‘n sigeunervrou (en deeltydse prostituut) word Mitzi verwerp deur die res van die dorpenaars. Sy is verras wanneer ‘n skilder, Charles Aubrey, en sy familie vir die somervakansie ‘n huis huur in die omgewing en met haar maats maak. Sy begin vir Charles poseer en raak halsoorkop verlief op hom. Vir die volgende drie somers is hierdie die patroon van Mitzi se lewe, maar dit word onderbreek wanneer Charles in die oorlog sneuwel.
Vyf en sewentig jaar later begin ‘n jong kunshandelaar navorsing doen vir ‘n boek oor Charles Aubrey se lewe en werk. Hy spoor vir Mitzi op om meer inligting by haar te probeer kry oor Charles Aubrey. Wat hy daar uitvind oortref sy wildste verwagtinge.  – Retha Burger

 Ada's Rules  

Ada’s Rules, Alice Randall (Bloomsbury, R145)
Ada Howard is die vrou van die prediker Lucius in Nashville (Tennesee, VSA) se  Full Love Baptist Tabernacle. Dié Afro-Amerikane van die Suide het ’n ryke koskultuur en bewonder lywige vroue. Ada werk te hard vir die gemeente, vir die dagsorg, vir haar man en twee dogters, en haar boheemse siek ouers. Sy is te besig om vir haarself te sorg en vermoed haar man het ’n skelmpie. Wanneer sy deur ’n ou minnaar ingelig word dat hy haar oor twaalf maande by hulle 25-jaar-kollegereünie sal sien, is dit tyd om aan haarself, en haar groot gewig, te begin werk. Sy droom van ’n verhouding en stel 53 reëls op om gewig te verloor en kleiner te word. Amerikaanse humor en omstandighede, maar heerlik en inspirerend om te lees. – Malene Breytenbach

 Just a dead man  

Just A Dead Man, Margaret von Klemperer (Jacana, R156)

Laura is ’n geskeide, middeljarige skilderes wat klas gee aan die plaaslike hoërskool. Daniel, ’n medekunstenaar, verras haar met ’n besoek en kom op ’n lyk in die bosse af terwyl hy met haar hond gaan stap. Later blyk dit egter dat Daniel in telefoniese kontak met die vermoorde was en omdat hy dié feit van die ondersoekbeamptes weerhou het, word hy in hegtenis geneem. Laura is oortuig van Daniel se onskuld en besluit om amateur speurder te speel. Adam, die sjarmante inspekteur, waarsku Laura om haar neus uit polisiesake te hou. Maar sy vermaning val op dowe ore, en gou krap sy ’n miernes oop wat haar en haar gesin se lewens direk in gevaar stel.

Danksy die afwesigheid van eksplisiete geweld en breedvoerige beskrywings van gepaardgaande grusaamhede, is hierdie verhaal ligte leesvermaak; lesers met ’n voorliefde vir goeie, oudtydse speurverhale in die trant van Agatha Christie sal Von Klemperer se debuutroman terdeë geniet. –Emsie Viljoen

 Could it be I'm falling in love?  

Could it be I’m  Falling in love,  Eleanor Prescott (Quercus, R134)
Amusante chicklit, moderne Britse humor, oppervlakkige mense. Foxy Roxy Squires, gewese TV-aanbieder, aweregs en met heelwat waagmoed, se loopbaan is verby, maar sy bly byderwets met die hoop om weer werk te kry. Sy gaan na ‘hot’ klubs en hoop die paparazzi sien haar raak. In vaal Lavender Heath vind sy uit dat Woody “the Woodeniser”, voormalige en steeds begeerlike popster, nou daar vensters was.  Hy trek haar in by ’n groep gefrustreerde has-beens. Hy wil egter self nie meer beroemd wees nie. Roxy maak dit haar taak om almal van hulle te ‘help’. In die proses leer sy baie en gebeur die verwagte tussen haar en Woody. Die verrassing aan die einde is geforseer en die boek is te lank, maar baie lesers sal dit geniet. – Malene Breytenbach

 Year of the gherkin  

Year of the gherkin, John Dobson (Penguin Books, R170)
Hierdie soms skreeusnaakse verhaal is geskryf in ‘cool’ moderne idioom. Die aweregse hoofkarakter is Jason Bryden (alias die Jasonator) wat ’n Facebook-blad en Twitter handle het en inligting daarop sit wat liewer kon gebly het. Hy werk teensinnig by 2Dye4paints en elke keer as dit betaaldag is, juig hy.  Hy is ‘rad’ en die ‘average dude’ maar ’n ‘chop’ wat hard drink en kuier saam met die ‘boyches’ en ewig soek na kontak met meisies (‘chicks’ wat ‘hot’ is).  Sy base stuur dreigende e-posse, want hy oortree heeltyd die reëls en is nie suksesvol of ywerig nie.  Hy is ook uiters gesteld op ‘brand’-klere en sy beeld. Sy lewe gaan egter net in een rigting, en dis afdraand. – Malene Breytenbach

 Labels  

Labels, HC Carlton (Orion, R180)
Hierdie is ‘n heruitgawe van ‘n boek wat aanvanklik in 1988 verskyn het en toe ‘n blitsverkoper was. Dit is tipies van die epiese verhale van die 1980s. Drie sterk vrouekarakters wat almal ‘n groot rol in die modebedryf in die VSA speel is in ‘n stryd met mekaar gewikkel. Mia Stanton is ‘n pragtige en talentvolle mode-ontwerper maar sy het geen selfvertroue nie. Die rede hiervoor is haar ma, Carol Stanton, die redakteur van ‘n top modetydskrif en gewetenloos waar dit kom by haar eie sin kry. Dan is daar Mackenzie Gold, gebore aan die verkeerde kant van die spoor, maar ambisieus, onkonvensioneel en uiters talentvol.

Die skrywer ken die modebedryf  baie goed, maar mens kan nie help om te wonder of dinge in die modebedryf  vandag nog dieselfde gedoen word. Die hele aanslag voel verouderd, soos ‘n boek wat mens by ‘n tweedehandse boekwinkel koop tydens vakansie.  – Retha Burger