Boeke

5 Boek-minute met Jenny Hobbs

Ja, die karakters is aan die eenkant so onwaarskynlik en die gebeure, veral die begrafnis, so bisar, dat die verhaal net in ons land kan afspeel. Die ironie is hoe verder ek lees, hoe meer sien ek die tonele voor my afspeel. Ek hét al sulke mense ontmoet en ek wás al by sulke bisarre begrafnisse. (Ek werk al jare in die media, so dis onvermydelik.)

Die verhaal gaan oor die lewe van John Joseph Kitching, oftewel Kitchen Boy. Die leser word letterlik aan hom voorgestel waar hy op sterwe lê ná ‘n baie lang lewe. Dan ontvou die verhaal van sy lewe deur die woorde van sy familie en vriende en kennisse.

En wat ‘n lewe was dit – as jong man moes hy gaan veg in die Tweede Wêreldoorlog. Ná die oorlog word hy gekies vir die Springbok-rugbyspan en word summier ‘n werk aangebied deur ‘n brouery. Joseph is maar te bly om sy studies op te skop en die wêreld van rugby en die brouery te betree, aangesien studies hom verveel het.

Verhoudings tussen hom en sy gesinslede word met satire, empatie en soms wrangheid uitgebeeld. Hy was nie ‘n maklike mens nie en daar was maar taamlik vuurwerk in party verhoudings en ander was patriargaal. Die een teer verhouding is die tussen hom en sy kleinseun, want in sy oupa se stories vind Sam sin vir sy kinderlewe.

Die prentjie van die oorlog wat geskets word, is ook ‘n donker een – daar is geen wenners ná so ‘n stryd nie.

Kitchen Boy se begrafnis is so bisar dat dit jou soms laat skater van die lag. En dan net weer in die volgende asem word jy gevul met ‘n ootmoed oor hoe kompleks die mens en sy verhoudings is. En dit is by uitstek waaroor hierdie verhaal gaan, verhoudings tussen mense en hoe hulle mekaar beïnvloed.

Ek het per e-pos ‘n paar vrae aan Jenny Hobbs gevra.

Wanneer het jy begin skryf en het jy ‘n ritueel?
My skryfspier was goed geoefen toe ek begin verhale neerpen het. Ek het eers begin skryf ná ongeveer 20 jaar as ‘n vryskut-joernalis, boekresensent en satirikus. (Ek het die eerste gereelde rubriek in Engels in Suid-Afrika, Blossom, in die tydskrif Darling geskryf.) Van 1978 tot 1982 as artikel-redakteur van ‘n nuwe tydskrif vir swart vroue, Thandi, het ek baie waardevolle ondervinding opgedoen en insig gekry in die lewe van baie buitengewone vroue wat ek ontmoet het. En nee, ek het nie ‘n spesifieke ritueel wanneer ek skryf nie. Ek lees die oggendkoerant saam met ontbyt en drink ‘n koppie suurlemoentee met heuning voordat ek by my lessenaar gaan sit en skryf. Ek doen dit elke dag.

Wat dryf jou om te skryf?
Ek wil Suid-Afrikaanse verhale vertel.

Is hierdie boek se formaat baie anders as jou voriges?
Elke boek is anders.

Waarom ‘n rugbyspeler as hoofkarakter in Kitchen Boy en is hy gegrond op iemand wat jy ken?
Al my karakters is blote fiksie. In hierdie boek wou ek skryf oor ‘n jong oorlogsheld en dit het bloot natuurlik gevoel om hom ‘n Springbok ná die oorlog te maak. In die woorde van die boek “. . . he found the study of grasses and pastures and agricultural economics soothing, but dull. For a bit of excitement and to revive the brotherhood of war, he joined the Survivors B team and invested his continuing rage in rugby.”

Ken jy rugby en is jy ‘n bewonderaar?
Ek ken rugby en geniet dit vandat ek my kêrel – wat my man geword het vir 42 jaar – sien uitdraf het vir ons universiteitspan. Ons het baie Springbok-wedstryde oor die jare gekyk en ek bly steeds ‘n bewonderaar, al is my man ongelukkig al oorlede. Een van die plesiere van Kitchen Boy was om Springbok-rugby ná die oorlog na te vors.

Uit die bibliografie is dit duidelik dat jy deeglike navorsing gedoen het. Was dit tydrowend en hoe lank het dit geneem om die boek te skryf?
Ja, navorsing is altyd tydrowend, maar dis ‘n noodsaaklike proses om die verhaal ‘n outentieke agtergrond te gee. Ek was gelukkig om ‘n uitmuntende bron te kry in kolonel Graham du Toit, ‘n afgetrede lid van die Suid-Afrikaanse Lugmag, wat antwoorde kon gee op enige vraag oor Suid-Afrikaanse vlieëniers en hul vliegtuie tydens die Tweede Wêreldoorlog. Dit het my ‘n hele paar jaar geneem om die boek te skryf omdat baie van my tyd in beslag geneem word deur die Franschhoek Literêre Fees.

Was dit ‘n moeilike verhaal om te skryf, veral met al die lede van die familie en Kitchen Boy se vriende?

Ek sien nie die skryf van ‘n boek as moeilik nie, ek geniet dit. My filosofie is om by my skootrekenaar te gaan sit met ‘n idee en ‘n paar karakters. Dan werk ek so lank as wat dit neem, en die storie ontwikkel maar soos ek aangaan. Dis soos die vorming van ‘n pêrel: die aanvanklike prikkel [die sandkorrel, die idee] ontwikkel lagie vir lagie in die oester [ek]. As die proses vrugbaar is, word die karakters regte mense en ‘n pêrel van ‘n verhaal word gevorm. Natuurlik maak jy soms oneffe pêrels ook. Alle skrywers het hoofstukke en manuskripte wat nie gewerk het nie en wat nou ‘n plekkie gevind het weggesteek tussen ander lêers.

Het jy ‘n gunsteling-karakter in die boek?
Nee, ek het nie ‘n gunsteling nie, maar ek onthou party met geneentheid.

Was daar ‘n karakter wat onthutsend was?
Onthutsend is nie ‘n woord wat ek sou gebruik nie. Soms werk ‘n karakter net glad nie en dan moet jy hom maar dump (siestog). As hulle lewe kry, maak hulle hul eie stories.

Waarom aanhalings aan die begin van net sommige hoofstukke?
Die aanhalings is net aan die begin van hoofstukke oor die verlede, en ek het dit gebruik om ‘n geur van daardie tyd te skep.

Werk jy aan ‘n nuwe boek?
Ek werk altyd aan ‘n nuwe boek, of twee.

Wat is jou betrokkenheid by die Franschhoek Literêre Fees?
Dit het alles met ‘n toevallige ontmoeting gebeur ses jaar gelede, en om deel te wees van ‘n klein groep vrywilligers wat die fees van die grond af gekry het, was ‘n enorme plesier en ‘n klomp harde werk. Nou, as direkteur, neem my betrokkenheid baie meer tyd in beslag, maar die skrywersvriende wat ons almal gemaak het – en ons doel van ‘n nuwe gemeenskapsbiblioteek wat binnekort ‘n werklikheid gaan wees – maak dit een van die mees lonende ervarings van my lewe. Ek moet byvoeg, ek is van ‘n geslag wat eerste ons kinders gehad het en toe ons beroep. Ek is ryklik geseën met vier spesiale dogters en nege kleinkinders.

  • kdenruuqdm

    iPEa57 hmxetmjfiusj, [url=http://fsrrufxoozdf.com/]fsrrufxoozdf[/url], [link=http://ravyzioduzsd.com/]ravyzioduzsd[/link], http://myabyphzuagx.com/