jodi_picoultcopy
Boeke

5 Boekminute met Jodi Picoult

Die wêreld van Jacob, die hoofkarakter in House Rules (Hodder & Stoughton, R185) is ‘n vreemde een. Hy boots moordtonele na vir sy ma, Emma, om te probeer oplos. Verder wyk hy glad nie af van sy roetine nie, klokslag 16h30 moet hy na CrimeBusters, ‘n TV-program oor moorde, kyk. Enigiets wat afwyk van sy roetine kan veroorsaak dat hy ‘n ineenstorting het – Jacob ly aan Asperger-sindroom, ‘n soort outisme. Op die oog af is hy hoogs funksioneel en hoogs intelligent, maar die geringste dingetjie kan hom ontstel en sy emosionele vordering ongedaan maak. Emma, sy broer, Theo, en sy sosiale vaardighede-mentor, Jess, vorm die spil van sy bestaan. Jess word dood aangetref onder raaiselagtige omstandighede en Jacob word van die moord aangekla. So kom die ondersoekbeampte, Rich, in die prentjie. Dan kom Oliver (Jacob se regsverteenwoordiger) ook nog by. Jacob se roetine word omvergewerp en so ontstaan ‘n baie interessante verhaal met vele sosiale verwikkelinge. Ek het met Jodi gesels oor hierdie boeiende verhaal.

In ‘n neutedop, wie is Jody Picoult?
Ek is ‘n ma met drie kinders en ‘n wonderlike man. Ek is ook ‘n skrywer met sewentien boeke onder my belt. Ons woon op ‘n kleinhoewe in New Hampshire, Amerika (dis noord van Boston, maar suid van Kanada). Ek staan elke dag op om te skryf!

Wanneer het jy begin skryf en wat maak dat jy aanhou skryf?
Ek het as ‘n kind begin skryf. As ek nie skryf nie, dan word ek knorrig. Dis so ‘n bietjie van ‘n kompulsiewe ding vir my. Ek het professioneel begin skryf toe ek vyf en twintig jaar oud was. Maar dit het nie maklik gekom nie. Ek het in die begin seker meer as ‘n honderd afkeurbriefies van agente en uitgewers gekry. Eendag het ‘n nuwe agent, wat haar eie besigheid wou begin, my genader en gevra of sy my kan verteenwoordig. Sy het my eerste boek verkoop. En van toe af gaan dit voor die wind.

Het jy ‘n roetine wanneer jy skryf en hoe lank neem dit vir jou om ‘n boek te voltooi?
Geen roetine nie. Ek staan net op en kom aan die gang. In die begin van my loopbaan het ek ‘n pasgebore baba gehad en ek het letterlik my skrywery ingepas in elke moontlike gaatjie wat daar was. Ek het geleer om in sulke tien-minute-sessies te werk – enige plek, enige tyd. Later, as ek vir die kinders in die kar moes wag, het ek vinnig geskryf. Nou nog gebruik ek elke spaar oomblik wat daar is om te skryf. Dit vat my gewoonlik nege maande om die navorsing, die eerste weergawe en die finale weergawe van ‘n boek te doen. Die ander drie maande van die jaar wy ek aan skrywerstoere en boekbekendstellings. My verhale word in veertig tale wêreldwyd vertaal, maar my hoogste verkope is steeds in die VSA, gevolg deur Brittanje. My lesers kom van oral. Die jongste is tien jaar en die oudste 102! En interessant genoeg is sowat 49 persent van my lesers mans. Dis wonderlik, want dit sê vir my dat verskillende mense verskillende goed in my boeke vind.

Jou boek House Rules … waarom ‘n verhaal met Asperger-sindroom as ‘n tema?
In die VSA word die sukses van die regstelsel bepaal deur effektiewe kommunikasie in die howe en tot hoe ‘n mate kommunikasie in die howe verbrokkel. As dit erg verbrokkel, gaan jy nie ‘n regverdige verhoor hê nie. Dit het my laat wonder oor mense met gebreke en hoe hul gebreke hulle sou affekteer sou hulle betrokke wees in ‘n hofsaak waar ‘n jurie ‘n beslissing moet maak. Dit het outisme, en spesifiek Aspergers (AS), in my kop laat opkom, want AS is ‘n gebrek waar iemand voorkom asof hy hoogs funksioneel is. Maar al die simptome (wat as lyftaal gelees word) soos om iemand nie in die oë te kyk nie, die fladderende hande ensovoorts kan gesien word as tekens van skuldgevoelens. Jacob se karakter het ontstaan juis om hierdie tipe dilemma in die hof te ondersoek.

Hoe het jy die navorsing gedoen?
Ek het onderhoude met vyftig tieners gedoen wat aan AS ly. Alles wat Jacob het, is iets wat een van hierdie kinders gemanifesteer het. Ses van die onderhoude het ek van aangesig tot aangesig gedoen en die ander almal per e-pos. Ek wou sien wat ‘n karakter soos Rich sou sien as hy vir Jacob die eerste keer ontmoet en hoe hy hom waarneem in die daaropvolgende ontmoetings. Die e-pos-onderhoude was ongelooflik, want hierdie tieners kommunikeer baie makliker aanlyn en ek het honderde bladsye se inligting so versamel.

Jy raak in jou boek aan die debat rondom immunisasie as ‘n oorsaak vir outisme. Hoe relevant is hierdie debat nog?
Uiters relevant. In die VSA moet ‘n kind 38 inentings teen 15 siektes kry voor die ouderdom van ses. Vyftien jaar gelede was dit 11 inentings teen 8 siektes. Mense sê daar is nie ‘n verwantskap tussen immunisasie en outisme nie, omdat daar geen geldige wetenskaplike studie hieroor gedoen is nie. 95% van alle kinders het geen newe-effekte van inentings nie, maar ek het ‘n hele klomp tuisvideo’s gesien wat ouers aan my gewys het waar hulle tweejarige kindjie heel normaal en gelukkig lyk en dan gaan hulle vir inentings en dan wys die tuisvideo’s ‘n heel ander prentjie. Dan is dit beelde van kindertjies wat al die tekens van outisme toon en heeltemal in hulleself gekeer is. Dis ‘n baie omstrede kwessie en baie kan hieroor gesê word. Ouers het gelukkig deesdae meer inligting tot hulle beskikking, sodat hulle hul kinders se immunisasieplan beter kan saamstel om die newe-effekte te minimaliseer.

Jacob het ‘n obsessiewe belangstelling in forensiese ondersoeke. In die meeste van jou boeke is daar hofsake en ook tegniese aspekte van sulke forensiese ondersoeke. Hoeveel navorsing doen jy om hierdie aspekte lewensgetrou weer te gee?
Ek doen baie navorsing om al die detail korrek te kry. Ek shadow ‘n ondersoekbeampte op ‘n werklike misdaadtoneel om te sien presies hoe sy ondersoek verloop. Jacob se optrede en sy misdaadtonele wat hy opstel, moet geloofwaardig wees. Ek verduidelik altyd vir die ondersoekbeampte ek is ‘n moroon en hy moet alles in terme verduidelik wat ek sal verstaan. Eers as ek alles verstaan, asook hoe die saak opgelos kan word, kan ek sinvol en op so manier daaroor skryf dat dit ‘n ware weergawe van gebeure is en dat lesers dit ook sal verstaan.

Die gesinsdinamika tussen Emma, Jacob en Theo is gekompliseerd en nie wat mens in ‘n “normale” gesin sal kry nie. Hulle hunker elkeen na ‘n normale gesinslewe. Hoe het jy besluit op hoe elkeen van hulle hierdie hunkering gaan hanteer?
Uit wat ek geleer het deur met die kinders en hul ouers te gesels tydens my navorsing. In die meeste families is die ma die een wat die hele tyd haar kind met outisme bystaan, tot so ‘n mate dat sy haar eie sin vir identiteit uiteindelik verloor. En dis presies wat met Emma gebeur, sy is so toegewikkel in wat met Jacob gebeur dat sy eintlik soms vergeet van haar tweede seun, Theo. Die kind met AS is ontsettend ingestel op homself en fokus net op homself en sy eie behoeftes en dit is wat Jacob ook doen. Die ander broers en susters – ouers het gewoonlik nie genoeg tyd of krag om aandag aan hulle te gee nie en hierdie kinders is altyd die verloorders in so ‘n gesin. Net soos Theo voel hy kry nie die aandag wat hy moet kry nie, want Emma is alewig gefokus op Jacob se behoeftes. Meer as 50% van die huwelike waar daar ‘n AS kind is, eindig in die skeihof, want die pa kan gewoonlik nie die situasie hanteer nie.

Een van die reëls is Emma se huis is: “Look after your brother.” Is dit die spilpunt waarom jy die verhaal gebou het?
Nee, ek het die verhaal rondom reëls in die algemeen gebou. Regime, reëls en roetine is aan die orde van die dag vir AS kinders. Dit maak perfekte sin dat Emma reëls het om die familie se lewe in orde te probeer hou. Sulke gesinne staan in die algemeen nogal bymekaar. Party wil ekstra ondersteuning hê en sluit aan by hulporganisasies. Maar ander sal dinge weer op hul eie probeer hanteer, nes Emma. Vir my is die aandoenlikste dele in die verhaal die gedeelte waar Theo praat van hoe hy eendag na sy broer, Jacob, sal moet omsien. Dis nie dat hy dit nie wil doen nie, maar hy sou graag darem gevra gewees het en dat dit nie bloot as vanselfsprekend aanvaar word dat hy geen keuse in die aangeleentheid het nie.


Waarom het jy regte misdade tussen die stemme van Emma en die ander karakters gebruik?

Omdat Jacob sou en ook om hom in staat te stel om sy misdaadtoneel op te stel soos wat hy gedoen het met die laaste saak.


Hoe moeilik was dit om Jacob ‘n unieke stem te gee en uit sy AS-perspektief te praat?

Ek kon dit net doen deur na genoeg kinders met AS te luister in my navorsing. Daar was hierdie een kind, Jess – sy het 200 bladsye se antwoorde op my 50 vrae gestuur. Terwyl ek die boek geskryf het en skielik gewonder het hoe Jacob sou optree onder bepaalde omstandighede, het ek haar gou ge-e-pos en gevra of dit iets is wat hy sou doen. Sy was ‘n uitstekende feite-kontroleerder vir my oor Jacob se optrede en sy het gehelp om Jacob se stem outentiek te kry.


Terwyl ek die boek gelees het, het ek die indruk gekry dat Rich en Emma eintlik in ‘n verhouding moes betrokke raak, maar dit gebeur nooit. Het jy oorspronklik ‘n konneksie tussen hulle beplan
?
Ek het ja, maar dit het net nie so uitgewerk nie. Ek het ook gedink hulle sou ‘n verhouding begin, maar Oliver het uit die bloute in die prentjie ingestap. En hy was net so sweet en opreg teenoor Emma en sy het so iemand verdien. So Rich is nie ‘n slegte karakter nie, maar dit het net nie reg uitgewerk nie. Interessant genoeg, as jy na Emma se eks kyk (wat tydens die hofsaak opduik), dan manifesteer hy eintlik baie van Jacob se uiterlike tekens van AS. Dis nogal ironies dat baie van die vroue met wie ek gepraat het, hul ekse as AS gediagnoseer het as hulle terugkyk op hul verbrokkelde verhoudings.

Is daar ‘n volgende boek op pad?
Sing you home sal volgende jaar Mei op die rakke wees in Suid-Afrika. Dis ‘n baie interessante storie van ‘n egpaar, Zoe en Max Baxter, wat sukkel met infertiliteit. Hul huweliksbootjie beland op die rotse en hulle skei. Max word ‘n alkolis, raak gerehabiliteer en raak betrokke by ‘n fanatiese godsdienstige groep. Zoe begin werk met tieners en deur hierdie werk kom sy in aanraking met ‘n vrou op wie sy verlief raak. Hulle wil ‘n gesin begin en Zoe moet Max noodwendig betrek by hierdie keuse. So begin ‘n hele drama rondom huwelike tussen dieselfde geslag, die regte van hierdie mense en infertiliteit en etiese kwessies daarom.

  • Anneri Human

    Jodi is ‘n uitstekende skrywer! Ek is absoluut versot op haar boeke! Daar is altyd iets wat jou uit die veld slaan en wat jy glad nie verwag het nie. As ek eers met een van haar boeke begin het, kan ek dit net eenvoudig nie neer sit nie!
    My persoonlike gunsteling is 19 Minutes!

  • boekwurm

    Ek geniet haar boeke baie – my gunsteling is beslis My sister’s keeper. Ek was egter baie teleurgesteld in Picture perfect, dit was ‘n baie voorspelbare storie.

  • http://oipwbwoqijfh.com/ wxzviyf

    p7KITz ejsbbjjxxgrl, [url=http://ncxpjdhrpdbj.com/]ncxpjdhrpdbj[/url], [link=http://qkpceqpkvvya.com/]qkpceqpkvvya[/link], http://vwcunbrfveua.com/