rondomtalie
Boeke

5 Boekminute met Marinda Engelbrecht, Rosalind Stockhall, Nataniël, John-Henry Opperman en Jak de Priester

Ek het vir lang tye ontsnap aan die gejaag en geraas van my lewe elke keer wanneer ek die bundel se blaaie oopslaan. Ek gaan nie vertel waaroor al die stories gaan nie, want ek wil hê jy moet die bundel vir jou kind voorlees. Nou ja, as jy soos ek nie ‘n kind het nie, dan lees jy dit vir jouself of vir jou nefies (al sê hulle hulle is al te groot vir kinderstories!). Hardop, sodat jy die storie kan hoor, want dis hoe jy ‘n kinderstorie moet lees.

Ek was gelukkig genoeg om die bekendstelling van die boek by te woon by die Tina Skukan Galery in Pretoria. Die oorspronklike illustrasies deur kunstenaar Rosalind Stockhall is uitgestal. Marinda Engelbrecht, wat die boek saamgestel het (met hulp van Francois Bloemhof), het gesels oor die projek en boonop het drie van die skrywers hul eie storie voorgelees. Ek het gesels met Marinda, Rosalind en Nataniël, Jak de Priester en John-Henry Opperman, wat almal deel was van die genotvolle kuier.

Vir Marinda Engelbrecht het ek gevra hoe sy besluit het wie stories moet skryf.
Dit was moeilik om te besluit wie almal stories moes skryf en ek het begin deur vriende te vra. Ek is al lankal besig met drama vir kinders en ken gelukkig baie van die kunstenaars. Ek moet bieg ek was elke keer verlig as ‘n storie by my aangekom het. Maar ek moes ‘n hele paar kunstenaars kort-kort vermaan om te probeer om by die spertyd te hou.
Waarom ‘n kinderboek?
Ek lees net resepteboeke en kinderboeke. Die een voed die liggaam en die ander die siel. In vandag se gejaagde lewe gee kinderboeke jou tyd saam met jou kind. En dit is nog beter as dit in jou eie taal is. Mens kry nie swak kinderboeke nie, net vervelige stories. ‘n Kinderboek moet jou vat na ‘n fantasiewêreld waar jy heerlik kan ontsnap aan die realiteit.
Hoe het dit gevoel toe jy die finale produk in jou hande hou?
Toe ek die boek in my hande gehou het, die eerste keer – dit was net my kinders se geboortes wat vir my meer emosioneel was! Dit was omtrent soos ‘n geboorteproses. Die projek het in 2006 begin en het nou eers vrugte afgewerp.

Rondomtalie Titelblad

Rosalind Stockhall het die stories op haar unieke manier geïllustreer en het bietjie meer vertel van haar bydrae tot die bundel.
My Afrikaans is nie so goed nie, maar dit is darem goed genoeg sodat ek kinderstories kan lees. Ek was baie opgewonde om by die projek betrokke te raak. Ek het die hele manuskrip gelees en dan het ek in elke storie iets gesoek wat my geïnspireer het. Dit was die beginpunt van elke storie se uitbeelding.
Het jy ‘n gunsteling-storie?
Die mierleeu en ek het dié storie se illustrasies eerste gedoen.
Eintlik is dit nie illustrasies nie, verduidelik hoe jy werk?
Ek doen collage. Ek begin met die karakters en dan gaan ek terug na die storie toe en voeg dan die agtergrond by. Ek bou letterlik die prentjie op. Selfs die kleinste detail soos ‘n ogie of ‘n snorbaardjie is uitgeknip uit papier en laag op laag geplak om die finale prentjie te skep. Ek werk met teksture en kleure om lewe aan elke toneeltjie te gee. Dit het my ‘n volle jaar geneem om die kunswerkies te maak. Ek het heel eerste vir elke storie ‘n karakter geskep en dan die storie met meer prentjies geïllustreer.
Hoe voel jy as jy jou kunswerke in die boek sien?
Ek is baie gelukkig met hoe alles lyk en hoe die boek uiteindelik bymekaar gekom het. Dit is regtig wonderlik.

Melina sing &aposn noot

Nataniël oor sy storie, ”Melina sing ‘n noot”.
Is dit jou eerste kinderverhaal?

Ek het lank terug ‘n hele reeks verhale geskryf vir ‘n boek. Ek wil dit vreeslik graag self illustreer, maar het nog nooit die tyd gekry nie.
Het jy die verhaal met ‘n spesifieke kind in gedagte gehad?
Nee, maar ek het baie geleer by my peetkinders, ek weet waarvan hou hulle of waarmee behou jy hulle aandag. Dis baie meer kompleks om vir kinders te skryf as vir grootmense.
Hoe het jy op die idee vir jou storie besluit?
Ek het eerste besluit op ‘n karakter wat visueel en emosioneel interessant sal wees. En dit moes ‘n vrouekarakter wees, want hulle trek meer opwindend aan!
Is dit moeilik om ‘n kinderverhaal te skryf?
Jy moet weet vir watter ouderdom jy skryf. En wat hulle interesseer. Deesdae is dit moeiliker, dink ek, want kinders is aan soveel meer blootgestel as voorheen. Hulle verkies PlayStation bo lees. Dis maar soos teater, jy moet hard werk om te kompeteer teen moderne tegnologie en foefies.
Lees jy kinderboeke?
Baie. Ek is mal oor tydlose en klassieke kinderverhale soos dié van Astrid Lindgren en Verna Vels, ook die lang Europese tradisie van sprokies. Ek versamel ook al vir jare pop-up boeke.

Karel die verkeersliggie

John-Henry Opperman van Klopjag oor sy storie, ”Karel die verkeersliggie”.
Is dit jou eerste kinderverhaal?

Ja, en dit was ‘n vreesaanjaende ervaring. Kinders sien maklik deur mense.
Het jy die verhaal met ‘n spesifieke kind in gedagte geskryf?
Ten tyde van die skryfwerk was my broer se dogtertjie amper 18 maande oud en ek het myself verbeel ek vertel vir haar, Anneke, die storie.
Ek het ook een van die karakters in die storie na haar genoem.
Hoe het jy op die idee vir jou storie besluit?
My storie gaan oor ‘n verkeerslig genaamd Karel wat verveeld raak met die dag tot dag bestaan van verkeerslig-wees.
Ek onthou dat ek een aand laat gewerk het in Johannesburg en oor die stad uitgekyk het. Ek het orals verkeersligte gesien wat onverpoos van kleur verander het.
Ek het gedink: “Hel, ek is bly ek is nie ‘n verkeerslig nie …” En siedaar.
Is dit moeilik om ‘n kinderverhaal te skryf?
Ja, dit is. Ek het nuutgevonde respek vir skrywers van kinderverhale. Dit moet boei, ‘n les leer, kleurryk wees, verras, magies wees, relevant wees, snaaks wees, bang maak en dít alles in minder as 2 000 woorde!
Lees jy kinderboeke?
Ek lees nie soseer kinderboeke nie, maar daar is ‘n paar crossover boeke wat van my gunsteling-boeke ooit is The Curious incident of the dog in the night time deur Mark Haddon, The Hobbit deur J.R.R Tolkien, Catcher in the Rye deur J.D. Salinger en The Little Prince deur daai Franse mens wie se naam g’n mens kan onthou of spel nie.

Marnu en die skoenlapper

Jak de Priester oor sy storie, ”Marnu en die skoenlapper”.
Is dit jou eerste kinderverhaal?

Ja, of my eerste een wat gepubliseer is. Ek is egter nou baie geïnspireerd om nog stories te skryf. Veral noudat ek ‘n klein seuntjie het vir wie ek dit skryf.
Het jy die verhaal met jou seun in gedagte geskryf?
Dit is my suster se seuntjie. Hy is 2 jaar oud.
Hoe het jy op die idee vir jou storie besluit?
Ek wou ‘n storie met ‘n bietjie magic in hê en ook die verbeeldingswêreld van ‘n kind betree, die meeste kinders het imaginary friends en in hierdie storie word die skoenlapper die denkbeeldige vriend. Of hy regtig kan praat of nie, moet die leser maar self besluit.
Is dit moeilik om ‘n kinderverhaal te skryf?
Ja . . . Mens moet jouself herinner die leser is veronderstel om ‘n kind te wees en ek is gewoond om vir ‘n volwasse mark te skryf en te sing waar jy simbole vrylik kan gebruik en hulle dit meestal verstaan. Ek dink met kinderliteratuur is beskrywing ‘n uiters belangrike aspek.
Lees jy kinderboeke?
Vandat Jamie, my seuntjie, gebore is, het die wêreld van kinderliteratuur vir my oopgegaan.