michael_green_2
Boeke

5 Boek-minute met Michael Green

Ek kan dit amper vergelyk met ‘n rit op ‘n rollercoaster – jy weet nie of jy moet gil van plesier en of jy moet gil van afwagting vir wat volgende gaan gebeur nie. Op die omslag word jy gewaarsku Hondsdol (LAPA, R120) is nie vir sensitiewe lesers nie. En so is dit ook – daar is rassisme, geweld, baie bloed en moord. Tog is dit ‘n boeiende verhaal wat jy nie kan neersit nie.

Jy word voorgestel aan ‘n gesin wat nie eintlik in die boksie van normaal pas nie. Gracie, die ma, wat die hele wêreld se sorge wil regmaak, Ben, die pa, wat ‘n fiksasie het met Bruce Lee en Henry, die avontuurlustige seuntjie, wat alles doen wat sy pa doen. Jy kan skaars hulle vreemdheid verteer, dan maak jy kennis met buurvrou Tan Lien. Sy vra Ben om haar te help om op haar huurders, sogenaamde Nigeriese dwelmsmouse, te spioeneer om bewyse te vind sodat sy hulle kan uitsit. Vir Tan Lien het jy ‘n geharde sisteem nodig. Wanneer Ben en Tan Lien in die verhuurde woonstel is, is dit nou net waar al die aksie begin. Hier klim jy op daai rollercoaster en jaag jy van toneel na toneel, vasgevang in die aksie en dramatiese gebeure.

Ben word ingesleep in ‘n onderwêreld van dwelms, misdaad, polisie-korrupsie en geweld. Sal Ben oorleef en sy gesin red en sal die misdadigers aan die kaak gestel word? Ten spyte van al die geweld is daar emosionele oomblikke waar die karakters hulle siele ontbloot – hul vrese, hul hoop en hul liefde. Dit maak hulle mens in die ware sin van die woord en maak ook dat jy as leser nie verswelg word deur die rollercoaster rit van geweld nie.

Dis ‘n hoogs vermaaklike verhaal wat tot Suid-Afrikaners sal spreek. Dis net in hierdie land waar sulke mal dinge gebeur en mense dink dis maar soos dit is.

Ek en ‘n paar ander mense het per e-pos ‘n paar vrae aan Michael Green gevra.

 

Hoekom het dit so lank geneem voor jy nog ‘n boek gepubliseer het?

Dit het so lank geneem om ‘n paar redes. Een is omdat verskeie uitgewers twee van my vorige werke wat ek vir publikasie voorgelê het, afgekeur het (‘n roman en ‘n kortverhaalbundel). So, dis nie asof ek nie geprobeer het om gepubliseer te word nie. Dan het ek agt jaar gelede van Pretoria na Port Elizabeth toe getrek en met ‘n ander werk begin. Dit was ‘n groot aanpassing. Derdens is dit nie altyd ewe maklik om lus te wees om nog te skryf as skryf jou werk is nie (ek werk vir Die Burger as sportskrywer).

Wat maak dat jy skryf?

Dis vir my lekker om te skryf. Dis dit. Ek hou dit eenvoudig, want ek is bang as ek te veel oor my geskryf dink, sal ek dit nie meer kan doen nie.

 

Het jy ‘n roetine wanneer jy skryf?

Nee, ek het nie ‘n roetine nie. Die storie vorm grootliks in my onderbewussyn en dan skryf ek maar wanneer ek ‘n tydjie het en lus is daarvoor. Partykeer sal ek ver gaan stap of draf as ek vashaak en dan kry ek die storie weer aan die gang op dié manier.

Hoe moeilik is dit om oor te skakel van sportjoernalistiek na fiksie skryf?

Dit is geen probleem nie. Dis al wat ek kan sê.

Waar kom die storie van Hondsdol vandaan, wat het jou ge-kick start om dié storie te vertel?

 ‘n Ou tannie wat naby my gewoon het (sy is intussen dood), het my inderdaad gevra om haar te help met ‘n soortgelyke probleem. Maar ons het nie die verhaal beleef nie. Dit het in die werklike lewe anders uitgespeel. Daaroor brei ek eerder nie uit nie. Ek kan dan eintlik so half sê hierdie storie (Hondsdol) is dalk iets wat kon gebeur het as ek en die tannie wel malkoppie ingestorm het.

Waarom ‘n storie met ‘n Bruce Lee-element en in PE van alle plekke?

Hei, Bruce Lee is steeds ‘n groot deel van baie mense se lewens. Hy het self in die storie ingespring. Dalk omdat ek nou self Jeet Kune Du – ‘n gevegstyl wat Lee beoefen het – beproef. Ek sukkel bietjie omdat ek nie so ‘n soepel outjie is nie. Ek kan nog nie teen mure ophardloop of agteroor-salto’s maak nie. Maar die basiese elemente begin nou insink en as ‘n dronk outjie my skielik bestorm, behoort ek hom lekker te laat skrik deur soos Bruce in ‘n skril stemmetjie te skree en my oë op alien-agtige wyse te rol.

Op wie baseer jy die karakters? Is hulle totaal fiktief?

Natuurlik is hulle almal fiktief!

Dis nogal ‘n bloederige verhaal, met ‘n swetterjoel mense wat sterf. Hoekom soveel geweld in die verhaal?

Dis maar hoe die storie in my kop afgespeel het. Dis ‘n gewelddadige situasie. Tog dink ek die geweld word deur humoristiese oomblikke versag. Dit sal jammer wees as lesers deur kritiek oor die geweld afgeskrik word omdat dit eintlik ‘n storie oor liefde is.

Jy raak nogal aan ‘n klomp goed, soos dwelmhandel, polisie-korrupsie, rassisme, ens. Dis ingeweef in die storielyn en is die beginpunt van sommige karakters se optrede.  Voel jy sterk oor issues?

Ek voel baie sterk oor issues, maar op die einde gaan dit vir my oor die klein wêreld waarin ek en my gesin lewe. Ek sal byvoorbeeld gaan march om die politici te kry om iets daadwerkliks teen aardverwarming te doen, maar die buurman wat sy vuilgoed oor my muur gooi of die zonk in die woonstel oorkant die straat wat sy musiek drieuur in die oggend nog steeds op die hardste speel, maak my kwater, want ek voel dit en dit het ‘n onmiddellike invloed.

Wanneer mens die boek lees, kan jy nogal die tonele sien afspeel. Miskien met ‘n rolprent in gedagte?

Ek sal daarvan hou as daar van Hondsdol ‘n fliek gemaak word. Ek dink dit kan werk. Maar elke boek of storie kom op sy eie manier na my toe.

 

Jy het ‘n etiket as ‘n sogenaamde alternatiewe skrywer onder die naam R R Ryger. Skryf jy nou enigsins anders en dink jy jy is gereed vir hoofstroom?

Wat is ‘n alternatiewe skrywer? Dit klink soos ‘n siekte. En oor die hoofstroom-gedeelte, ek sal maar altyd skryf soos ek skryf. Ek kan mos nie nou skielik soos iemand anders begin skryf nie. Ek dink ook nie ‘n mens moet die leserspubliek onderskat nie. Jy kry wel lesers wat byvoorbeeld net cowboyboeke lees, maar daar is baie – soos ek self – wat hou van ‘n wye verskeidenheid. Die probleem is die lesers kry nie altyd daardie wye verskeidenheid om van te kies in Afrikaans nie.

Iemand het oor een van jou boeke geskryf: “Die vraag bly: is ek die slagoffer van my omstandighede, of kan ek iets daaromtrent doen?” Hoe voel jy oor die stelling?

Wel, ek dink dis baie gepas vir hierdie boek. Die gesinnetjie dop nie om met traantjies in hul ogies en dink iemand gaan hulle jammer kry nie. Hulle spartel om aan die lewe te bly.

Dineke Volschenk (senior uitgewer: fiksie by LAPA) wil weet: Een van die lesse vir skrywers is: Skryf oor goed wat jy weet/ken. Is dit in jou geval so, Michael?

Ek sou sê dis ‘n goeie “voorstel”, eerder as ‘n les. Ek dink as jy aan skrywers te veel “lesse” gee, sal hulle dalk later almal dieselfde skryf. Maar ja, ek dink as jy bubbles hap sal die leser dit gou agterkom.

Kerneels Breytenbach: Hoeveel het jou styl verander in die tyd wat ons nie van jou gehoor het nie? Het die joernalistiek enigsins ingewerk op die manier waarop jy jou skryfwerk nou benader?

Hoe ek my skryfwerk nou benader teenoor hoe ek my skryfwerk in die begin van my skryfloopbaan – as kind het ek reeds geweet ek wil ‘n skrywer word – benader, is nog steeds dieselfde. Ek doen dit net. Natuurlik leer ‘n ou deur die jare allerhande truuks en moet jy soms koud-krities oor jou eie werk wees anders gaan jy dalk in jou eie woorde verdwaal. Joernalistiek is ‘n goeie leerskool vir party aspirant-skrywers en ‘n begraafplaas vir ander. Dit sal nie vir almal help nie, as gevolg van byvoorbeeld verskillende personas. Dit het my gehelp tot op ‘n punt in die sin dat ek in ‘n groot mate gedissiplineerd moes leer dink. Ek dink nie my styl het regtig verander in die tyd wat ek soort van die toneel af was nie. Ek is nie heeltemal seker nie. Ek sal seker deur my vorige boeke moet blaai om dit te kan agterkom.

Toast Coetzer van Weg vra of jy soms dink aan ‘n toneel vir ‘n storie soos Hondsdol en dan dink, “Nee, dis te hectic”. Of is geen scene te hectic vir jou nie?

Ek dink die groot ding is om die toneel te skryf en dan te kyk of dit werk. Baie tonele was al te hectic vir my. As ek oor ander skrywers kan praat, Poppy Z. Brite se Exuisite Corpse was byvoorbeeld te hectic vir my. Thomas Harris se Red Dragon en The Silence of the Lambs was hard, baie hard, maar ek kon dit verwerk omdat dit so goed geskryf was. Toe skryf Harris Hannibal en ek dink, nee dis te hectic. Ek meen, daar sit die kannibaal en eet die ander ou se brein .  .  . dis die manier hoe dit geskryf is wat dit nie vir my laat werk het nie.

Dana Snyman vra wanneer skryf jy vir ons ‘n propperse rugbyroman. Ek dink jy is die een ou in Afrikaans wat dit beter as enigeen sal kan doen.

Dis weird dat jy vra, want daar is in my volgende boek juis ‘n element van rugby in. Dis egter nie die hooftema nie, een van die karakters is net ‘n rugby-afrigter. Maar ek dink jy is verkeerd as jy sê ek is die een ou wat so ‘n boek kan skryf – jy wat Dana is behoort dit baie goed te kan doen!

  • Samuel Loots

    Dankie Phyllis. Mooi so Michael, gaan hom beslis lees.

  • JaX

    Wat ‘n fantastiese boek! Ek het dit verskriklik geniet. Dit lees maklik, voel amper eerder of mens sit en luister na iemand wat die storie oorvertel. So bly daar is Afrikaanse boeke wat geskryf word vir net lekker lees. Geluk Michael!