Boeke

5 boek-minute met Nataniël

Waarom net 25 stories?
Ek beplan nie regtig dinge se lengte of volume nie, ook nie met shows nie. Ek kyk na wat ek het en kies die beste of kies stories wat saam ‘n interessante of vermaaklike versameling vorm.

Is die boek ‘n goeie verteenwoordiging van jou werk oor die afgelope 20 jaar?
Ek dink so, die Engelse stories het later gekom en ook met ‘n ritme en styl van hulle eie. Dis nie soos my Afrikaanse goed nie. Dis ook nie vertalings nie. Ek dink in Engels wanneer ek dit skryf en skep ‘n ander omgewing as in my Afrikaanse vertellings.

Jy skryf in die meeste gevalle Engels, en jou vertonings is ook in Engels, maar Afrikaanse mense uit alle agtergronde is gek oor jou. Hoekom dink jy raak jy hulle almal en is jy gewild by so ’n wye gehoor?
Ek wil nooit eksklusief in een taal werk nie, jy skakel die grootste deel van die mark of ‘n moontlike gehoor uit. Dis vir my maklik om in Engels of in Afrikaans te werk. My lewenservaringe was meestal in Afrikaans en my invloede meestal in Engels. Ek dink mense vind aanklank omdat ek skryf oor goed wat almal raak, maar nie aandag kry nie omdat dit nie sosiaal of polities as belangrik of korrek beskou word nie. Ek het vrede met dinge soos politiek, sport of kulturele groepe, vir my gaan alles oor die individu.

Jou stories het ‘n komiese inslag, maar daar is altyd ‘n dieper lewensles. Is dit gegrond op eie ervaring?
Die lewe is hard, moeilik, wreed, uitputtend, kort en dikwels hartseer. Ek het van kleins af geleer om alles te oorleef met humor. My familie vind altyd iets om oor te lag. Dus sal albei elemente altyd teenwoordig wees in my werk.

Kos is vir jou belangrik en dit duik telkemale op in jou stories. Wat maak kos so belangrik (behalwe dat ons moet eet om te lewe)?
Kos is deur die eeue een van die sterkste bande tussen mense. Dit gaan net soveel oor die situasie, die samesyn en die feestelikheid as die kos self. Nasies word geïdentifiseer aan hulle kos en tradisies. Dit is ook die primêre konneksie met die aarde waarop ons leef. Mense wat kos verstaan en geniet, waardeer ook ander eenvoudige, alledaagse, wonderbaarlike dinge.

Het jy ‘n gunsteling-storie in die bundel?
‘Profession’, dit gaan oor hoe moeilik dit was in die vroeë tye om konvensies te bring of jou eie ideale te volg.

Waaraan werk jy tans?
Ek berei voor aan Coronåtion, my nuwe produksie by Emperors Palace, en skryf ‘n kookboek wat Kersfees 2009 gereed sal wees.

Wat lees jy vir ontspanning? Gunsteling-boek?
Ek lees geskiedenis, romans en kinderboeke. En ek versamel skaars pop up-boeke en antieke boeke oor juweliersontwerp. Gunsteling op die oomblik: What I Was deur Meg Rosoff, ek het dit ontdek nadat ek When I Was uitgegee het!

  • Sharon Ogilvie

    Dit is amazing hoe Nataniël dit regkry om homself altyd te vernuwe maar steeds die basiese behou; goeie maniere, humorsin, styl, selfkritiek en introspeksie. Verder erken hy altyd sy gesin in die openbaar. In die nuutste "Kaalkop" praat hy van (ander) mense van staal en sy versugting is dat hy wens hy kon ook ‘n mens van staal wees. Eintlik is jy die original man van staal, Nataniël.

  • Anel van der Walt

    Die boek is briljant, inspirerend en die humor laat jou huil van die lag. Ek het beluit om twee te koop: `n ‘working copy’ (sommer vir handsak om te lees as ek `n vaal dag beleef en dan `n ‘master copy’ om te bêre vir die kinders… Dankie tog Nataniël ‘is’.

  • Linda Opperman

    Ek het When I was Nataniel verskriklik geniet, soos al sy vorige boeke! Jammer ek het te laat sy boeke begin versamel!

  • Vanessa van der Merwe

    Pragtig, Nataniel. Jy stel ons nooit teleur nie. Jy is ‘n regte ikoon en al is ons in Australia, ons lees jou boeke en maak jou resepte.

  • Ita Smith

    Mal oor Nataniel. Hy het ‘n manier om dinge so eerlik uit te druk dat al gaan le dit soms so ‘n bietjie swaar hier diep in my bors – laat dit my tog meste van die tyd hardop lag!

  • http://www.sarie.co.za Rozanne van Zyl

    Hallo Nataniel, ek is ‘n vryskut skrywer en wil graag eendag ‘n boek van my eie op die rak plaas. Verskeie mense het al my werk gelees en talent raak gesien. Ek lees altyd jou artikels in die Sarie en vind inspirasie daarin. Kan jy my asb se watter aspekte mens nodig het om jou boek so suksesvol te maak dat jy hom kan publiseer en kan jy my asb riglyne gee. Dankie Nataniel, jy is ‘n wonderlike skrywer!!

  • KARIN

    Ons (ek en my man) geniet die boek geweldig baie. Kan dit regtig aanbeveel vir iemand wat van sy humor hou en skryfstyl hou!
    Ons het ook onlangs ‘n show van hom bygewoon, dankie vir dit wat hy vir kinderregte doen – dit wys dat hy ‘n hart het ook!

  • http://urpppbbfgvnb.com/ eenqxadpqbz

    5KLUXv pcuixxmqshcu, [url=http://gqutdnjajoer.com/]gqutdnjajoer[/url], [link=http://vonrxpvtofax.com/]vonrxpvtofax[/link], http://deayqeqhniiv.com/