Boeke

5 Boek-minute met Steve Hofmeyr

Dis in essensie waaroor Steve Hofmeyr se jongste boek, Die Verste Uur (Zebra Press, R150) gaan. Jamie Llewellyn van der Merwe is ‘n student en soos enige student het hy ‘n geldtekort. Hy antwoord op ‘n advertensie vir loswerk teen R50 per uur en so kom hy in aanraking met die verlore professor Arnold du Plessis se vrou. Al wat sy wil hê, is dat hy haar verlore man se studeerkamer moet opruim.

So begin Jamie se reis, eers in die professor se joernaal wat hy lees en dan sy tydreis waar hy terugverplaas word na die tyd van die Anglo-Boereoorlog. Hy leef in sy oupagrootjie se lyf vir ‘n ruk met ernstige gevolge vir die toekoms. Wanneer hy terug is in die hede (in 2011) is dit of hy in ‘n paralelle wêreld leef, waar die politiek en die ekonomie van die land baie anders lyk as dié waarmee ons in werklikheid leef. 

Nou ja, dis seker ‘n hoogs onwaarskynlike gebeurtenis. Maar dis hoogs vermaaklik en ten spyte daarvan dat die verhaal eksperimenteel geskryf is, lees dit maklik.

Dit word plek-plek in drie dele geskryf (die bladsy word in drie verdeel en vertel Jamie se verhaal, die professor se essay oor Rameau (die Franse komponis waarmee hy ‘n obsessie het) en dan nog die professor se joernaalinskrywing aan sy vrou). Mens voel nogal soos ‘n voyeur wanneer jy die boek lees, omdat jy ‘n klomp persoonlike goed oor die karakters gelyk ontdek. Verder is daar ook nog die geskiedenis, veral die “wat as…” wat jou verder laat reis. Dan is daar ook nog die karakters se liefdesreise.

En uiteindelik kry Jamie dit reg om sy geskiedenisveranderings ongedaan te maak en als keer terug na normaal. Dis ‘n boek wat mens lees, plek-plek tong in die kies en ook vir die vermaaklikheidswaarde wat die verhaal het. Dis tog mos uiteindelik waarom mens lees!

Ek het  Steve Hofmeyr  ‘n paar vrae per e-pos gevra oor sy boek, skryf en lees.

Op bl. 1 skryf jy:  Poësie is die basis van verdraagsaamheid – glo jy ook so?

Ek doen tog. Vir dieselfde redes as wat ou tannie van der Merwe doen. Dat ‘n saak altyd van meer as een kant benader of beskryf kan word.

Het jy bietjie afgekyk by J.M. Coetzee se Diary of a Bad Year vir die formaat van die boek?

Beslis. Maar ook Philip Roth en selfs Shakespeare en Tarrantino, wat die afloop van hul stories met verskillende drade saamtrek.

Dink jy dis nog nuut om so eksperimenteel te skryf?

Nee, toe die postmoderne tydvak nog jonk was, het skrywers heeltemal mal geword met formate ens. Vra Joan Hambidge. Dis eintlik effe passé, maar Afrikaans kan doen met ‘n paar eksperimente.

Skryf jy altyd so bietjie van jou eie geskiedenis in jou verhale in?

Soos enige skrywer maar, selfs  by nie-fiksie, ontwyk die objektiwiteit mens soms. Met fiksie kan mens natuurlik lekker speel met wat basies jou eie ervarings is. Erfenis en musiek, in hierdie geval.

Hoe het jy aan Rameau gekom, en om sy verhaal deel van jou boek te maak?

Dit was belangrik dat hy instrumenteel was by die teorie van musiek en die bou van klaviere soos ons hulle vandag ken en natuurlik hoe daardie nuwe instrument se klawerborde ingestem word, anders kon ek nie by die vreemde akkoord uitkom wat ’n magiese effek sou hê op die hoorder daarvan nie. Toe raak ek sommer self verlief op die ou stamperige barok en raserige tamboeryne. Rameau was ook effens blond soos hy sy musiekwerke verloor en versit het!

Waarom juis die Boereoorlog koppel aan ‘n Franse komponis?

Wel, eintlik koppel hulle glad nie. Of sou mens die vreemde Europees-Afrika-volk tog uiteindelik moet terugtrek deur Europa, ongeag jou liefde vir hierdie kontinent. Daar is veel meer om te sê hieroor (’n slim vraag), maar vir my storie was dit nie so relevant nie.

Skryf jy elke dag?

Nee. Ek wens. Ek draai nie die muse se arm nie. Ek kry soms ’n bars-inspirasie-oomblik wat dae lank duur, dan droog ek op. Dan gaan ek aan met ander dinge.

Wat is jou gunsteling-vorm van skryf?

Twitter. Kort, ekonomies sonder die luukse van etiket. Boeke skryf is moeiliker as liedjies, maar meer tydsaam.

Jou gunsteling-boek/skrywer en waarom? (Dis nie noodwendig altyd dieselfde nie.)

Jy’s reg. My gunsteling-skrywers is maar Roth, Coetzee, North Patterson, Van Wyk Louw. My gunsteling boeke is Atlas Shrugged en Fountainhead en van Kundera se werke. En Salomo se romantiese woorde. Osho se wysheid. Plaaslik lees ek ook Winterbach, Deon Meyer en Dana Snyman en baie poësie. Ek was veral bevoorreg dat Meyer en Snyman die eerste lesers was van Verste Uur en dat hulle dit gunstig bevind het.

Wat is jou leesfilosofie?

Ek lees aanvullend by my aktuele maand (kultureel, politiek, Afrikaans) en gebruik fiksie slegs as breather. Ek MOET altyd lees en meer as een boek op ’n slag. Ek het ’n manie.

Wat lees jy nou?

Ek lees regter Albie Sachs se Alchemy of Love and Law en Jarod Diamond se Guns, Germs and Steel. Lyk my almal het dit al gelees behalwe ek.

Hoe kies jy wat jy wil lees? Wanneer iemand ‘n boek aanbeveel, of wanneer jy iets daaroor sien in die media?

So bietjie van alles. Ek volg Twitter en Kindle inligting amper uurliks. Maar ek kamp uit in boekwinkels. Niks wat nuut is ontglip my valkoog nie. Ek koop miskien meer as wat ek ooit sal kan lees. My biblioteek is my pensioen. Ek en twintig bokse vol boeke sal op Jacobsbaai wees.

Wat is die een boek wat jy saam sal vat as jy op ‘n eiland gestrand gaan wees en waarom?

Vir al my skeptisisme sal dit seker steeds die Bybel wees. Of iets genaamd: Moenie Dat Jou Eiland Jou Onder Kry Nie – Jacob Zuma. Of Kortpad na die Vasteland – Jan Van Riebeeck.

Is jy besig met ‘n nuwe boek?

Ja, sy naam is Kapabel. ’n Sosiale misoes uit Krugersdorp se wêreld erf 20 miljoen rand. Iets tussen Faust, Dorian Gray en My Fair Lady. ‘n Boere-Pygmalion.

Waar kry jy tyd om alles in jou lewe in te pas: aktivis, sanger, skrywer, filmster, blogger, tweeter?

Dis niks, ek doen dit alles nog gelyktydig ook! Hehe. Ek stop tog om ratte te wissel. Ek het ’n diep massale bron van inspirasie, omdat ek ’n kind is wat die wêreld bewonder en amper elke 60 sekondes verras word. Niks bo kan eintlik geskei word nie.

Hoe belangrik is sosiale media soos Facebook en Twitter vir jou?

Ek sien dis belangriker vir ons ou tragiese celebs wat smag na gewone geselskap. Ek doen en geniet my Facebook-kring en Twitter-gemeenskap vreeslik. Omdat dit taamlik anoniem is, weeg die boodskap swaarder.

Gestroopte realiteit, effe koud, maar meesal gesond. As FB en Twitter regimes in Noord-Afrika op sy knieë kon bring, kan dit seker nie onderskat word as rallying-tool nie. So, ek misbruik dit ook graag.

Lees jy resensies oor jou boeke en hoe hanteer jy die kritiek daaroor? Jy is nie altyd bekend as ‘n koelkop nie, en kan soms ‘n vinnige humeur hê!

Vreemd genoeg, net vir die man speel, nie die bal nie. Dit gebeur oral. As Idols- beoordelaar weet jy niks van musiek af, as iets of iemand vir jou k@k is nie. K@k is nie ’n musikale term nie. Jy MOET resensies en kritiek kan begrond en daarvoor moet gekwalifiseerde mense aangestel word.

As jy die X-faktor kan dekonstrueer, is jy ’n kenner. Ek het kritiek op my werk die afgelope dekades gedwee aanvaar, bietjie teruggepraat, maar dis die ander irrelevante en persoonlike opmerkinge waarin ek my “koelkop” verloor.

Klaarblyklik doen ek beter met boeke skryf as musiek!

  • Erica

    Steve jy kan skryf net wat jy wil .. ek sal dit lees!! Musiek of boeke! Jy maak partykeer sin in baie dinge wat ander mense nie eers besef nie. Soos ‘n swart dame wat saam met my werk altyd sê jy is "ryk" want jy het breins…

  • Francis Herselman

    STEVE,elke ding,skryf,dig,sing,en en, wat uit jou kom,sal ek vat,maak nie saak,wens ek was eerste in elke ry,jy mag maar,net wat jy wil.wens jou net nog vele voorspoed toe

  • iwtrvfoh

    21M3By lhroudfjysnj, [url=http://dohzshagtbwd.com/]dohzshagtbwd[/url], [link=http://zmubmbekwnip.com/]zmubmbekwnip[/link], http://yubgftlspcxv.com/