adriaan_basson
Boeke

5 Boekminute met Adriaan Basson

Dis die karakters waarmee jy te doene kry in Basson se boek, Finish & Klaar, Selebi’s fall from Interpol to the underworld (Tafelberg, R180). Nee, dis nie fiksie nie. Dis ongelukkig die waarheid waarmee Suid-Afrika gekonfronteer is toe sy nasionale polisiehoof aangekla is van korrupsie en nog so paar ander goed. Die man in blou, wat veronderstel was om Mr Squeaky Clean te wees, was dit allermins.

Inteendeel, sy hande was vuil – van kaarte skommel om sy kaartehuis aanmekaar te hou. Die web van leuens, en mense wat betrokke was by sy kaartehuis is verstommend. Hoofverleier en korrupteerder se rol word gespeel deur Glenn Agliotti, ‘n sjarmante kroek wat ander kroeks en belangrike mense by mekaar uitbring om onheilige besigheidsalliansies te vorm. Dan is daar Paul O’Sullivan, die fanatiese fluitjieblaser wat Selebi se ondergang help bewerkstellig het met sy ondersoeke en die inligting wat hy aan die Skerpioene beskikbaar gestel het.

In die middel van die verhoog staan ‘n president met oogklappe aan. Die spreekwoord sê mos, niemand is so blind soos hy wat nie wil sien nie. Thabo Mbeki wou nie sien nie – dit was geriefliker om met rook en spesiale effekte ‘n ander hoofrolspeler uit die toneelstuk te laat skryf. Konkel so dat hy geen keuse gelaat word as om te bedank nie. Maar steeds is daar geen keer aan die korrupsie en wandade nie. Ja, mense, en so gaan die toneelstuk aan en aan. . . Die verhaal van Jackie Selebi se verval lees vreemder as fiksie. ‘n Mens wens dit wás fiksie …

Ek het telefonies gesels met Adriaan Basson oor die klomp karakters, sy boek en ‘n paar ander goed.

Hoekom het jy ‘n joernalis geword?
My een oupa was ‘n dominee en die ander een ‘n polisieman. En ek dink ‘n joernalis is so tussen daardie twee beroepe. Ek kom uit ‘n familie met ‘n baie sterk sosiale bewussyn en ek dink dit kom maar van kleins af by my – die soeke na regverdigheid. Ek dink ondersoekende joernalistiek gee mens die geleentheid om ‘n verskil te kan maak, om onregverdighede aan die kaak te stel en hopelik die lot van die benadeeldes te verbeter.

Jy is jonk, maar het vinnig gevorder tot assistent-redakteur in jou loopbaan.
Ek is nou dertig. Ek is assistent-redakteur by City Press, waar ek aktief betrokke is om ‘n kultuur van ondersoekende joernalistiek onder joernaliste te bevorder. Dis baie belangrik, want met die toemaak van die Skerpioene is die onus op joernaliste en die publiek om korrupsie aan die kaak te stel. Die rol van koerante is besig om te verander. Hulle kan weer langer krap waar dit jeuk om stories oop te vlek oor dinge wat saak maak. Dis nou weer cool om ‘n ondersoekende joernalis te wees.

Ek het die hofsake rondom Jackie Selebi en Glenn Agliotti gevolg, en ook alles oor die Skerpioene gelees, maar kon nie al die drade altyd bymekaar trek nie. Met jou boek het baie van die drade vir my duidelik geword. Wat maak die Selebi-sage vir jou so uitsonderlik dat jy ‘n boek daaroor geskryf het?
Ek dink dit was juis daarom. Baie mense het gedeeltelik die sake gevolg en het nie alles gelees en gesien wat daaroor gepubliseer en uitgesaai is nie. Dis ‘n epiese stuk geskiedenis in ons land se geskiedenis. Die feit dat die kommissaris van polisie van die land aangekla is van korrupsie – dis ongehoord. Sulke dinge behoort nie in ‘n demokratiese bestel te gebeur nie en tog het dit. Die ding waarmee ek geworstel het was: “Hoe het ons as ‘n land dit survive?” Ek dink nie so nie. Ons onskuld is weg – vir ewig. Dis erg as die leiers van die struggle waarna jy al die jare opgekyk het en verwagtinge van gehad het ewe skielik voete van klei het. Mense was geskok toe die beweringe gemaak is.

Jy het die hofsaak volledig bygewoon. Was daar iemand (buiten die hoofrolspelers) wat jy kan uitsonder?
Paul O’Sullivan, die voormalige hoof van sekuriteit by OR Tambo-lughawe. Hy was Selebi se nemesis. Hy het die Skerpioene baie gehelp met hulle saak met die ondersoeke wat hy self gedoen het.

Joernaliste kan nogal soms blasé wees oor goed wat gebeur. Was dit die geval met die Selebi-hofsaak?
In die hof was baie joernaliste. Selfs die joernaliste was geskok toe Jackie Selebi getuig het, oor hoe hy getuienis gefabriseer het en hoe hy gevou het onder kruisverhoor. Dalk het ek naïef grootgeword, maar ek het altyd geglo die SAPD is daar om jou te beskerm. Dis hectic om ontgogel te word – hier staan die hoof van die SAPD en Interpol hy word aangekla van korrupsie. My grootste vrees is dat die publiek ook hulle geloof in die polisie gaan verloor en waar laat dit ons?

Het mense se houding teenoor Selebi verander soos wat die hofsaak gevorder het?
Van die begin af was daar min ondersteuners in die hof. Dit was meesal sy vrou en familielede. Omdat hy nie ‘n politikus was nie, het hy nie die politieke steun gehad soos Zuma, Yengeni en kie. nie. Aan die einde van die hofsaak was hy ‘n patetiese figuur. Dis wat korrupsie aan ‘n mens doen – dis ‘n verterende kanker. Ek hoop iets goeds sal hieruit kom, ter wille van ons demokrasie.

As dit nie vir die deursettingsvermoë van die Skerpioene was nie, sou Selebi dalk nooit formeel in die hof verskyn het op aanklagte van korrupsie nie. En nou bestaan die eenheid nie meer nie.
Mense het na die verhoor dikwels gesê die saak was ‘n oorwinning vir die onafhanklikheid van die regbank. Ons kon die hoof van die polisie aankla van korrupsie en hy moes in die hof kom antwoord op die aanklagte om sy onskuld te probeer bewys. Maar die verliese . . . Die Skerpioene wat ‘n suksessyfer van oor die 90% gehad het met die bylê van sake waar mense en instansies betrokke was by korrupsie. Die eenheid is tot niet. Dit was die eerste verlies. Ek kry die indruk die Valke is nie so gefokus op die bestryding van korrupsie nie. Hulle fokus op ander sake. Die Skerpioene was die slagoffers van die aanslag van die kombinasie van Zuma en Selebi. Selebi kon dit nie hanteer dat daar polisiemanne was wat nie aan hom direk rapporteer nie. Hy wou al die mag hê. As dit nie vir hulle was nie, was die saak nooit oopgevlek nie. Mens moet wonder oor die toekoms. Wie gaan nou die waghond wees?

Hoe het jy Agliotti ervaar?
Agliotti is nogals ‘n glibberige kalant. Hy is nie iemand om te vertrou nie. Hy is immers ‘n selferkende dwelmhandelaar. Al is hy onskuldig bevind op die moord op Brett Kebble, moet mense hulle nie blind staar daarteen nie. Mense word verlei deur sy sjarme. Ek dink Selebi is verlei deur sy sjarme en sy leefstyl – om te kan gaan shop by Grays en Fubu in Sandton City. Dis ‘n leefstyl wat staatsamptenare nie kan bekostig nie. Selebi het as kommissaris van polisie maar R30 000 per maand verdien. Mense moet versigtig wees om nie deur hierdie versoekings van glibberige mense verlei te word nie.

Die aanklaer, advokaat Gerrie Nel – hoe was sy aanslag in die hof?
Hy is ‘n tipiese aanklaer. Hy is ‘n kort mannetjie, hardnekkig en irriterend tot hy die antwoord kry wat hy wil hê. Hy was indrukwekkend. Agliotti het gesê hy dink nie baie mense hou van Nel nie en dis baie waar.

Na die lees van jou boek, kan ek nie anders as om jammer te voel vir Vusi Pikoli nie. Hy is deur Thabo Mbeki gedwing om te bedank as “national director of public prosecutions” in ‘n poging om Selebi te beskerm.
Dis die tweede verlies in hierdie saak. Vusi Pikoli is een van die hardwerkendste en eerlikste ouens wat die land gesien het, en dat hy gedwing is om uit sy pos te bedank, is ‘n skande. Hy kom ook uit die struggle (nes Selebi) en die hele affêre was vir hom erg emosioneel. Wat hom die meeste ontstel het, was die aantygings wat Selebi teen hom en sy vrou gemaak het. Dis ‘n moerse tragedie. Hy was sterk en ‘n toegewyde bevegter van misdaad.

Die boek lees soos fiksie, veral die politiekery rondom die hele saak. Wat dink jy daarvan?
Ek neem Thabo Mbeki kwalik. Hy was nie korrup nie, maar hy wou nie aanvaar sy vriend Jackie Selebi is skuldig nie. Na hy geweet het van die beskuldigings teen Selebi het hy toegesien dat Selebi vir nog drie jaar aangebly het in sy pos as kommissaris van polisie. Ek glo ‘n vis vrot van die kop af. Hoe kan jy verwag die gewone lede van die mag moet hulle werk doen, sonder korrupsie, as jy ‘n polisiehoof het wat meer as korrup is. Ek hoop net dat hierdie saak die inleiding is tot iets beters in die toekoms, dat ons iets kan regstel.

Hoe lank het dit geneem om die boek te skryf?
Baie vinnig. Ek het in Mei vanjaar begin skryf en die boek was Oktober op die rak. Dit was vir my belangrik om die boek so gou as moontlik uit te kry na die skuldigbevinding van Selebi. Ek wou altyd ‘n boek oor die Zuma/Shaik-saak skryf, maar het te lank gewag en dit was te laat. Ek wou nie hê dit moes weer gebeur nie. Die boek is nóú relevant.

Wat lees jy vir ontspanning?
Ek het Deon Meyer nou eers aktief begin lees. Dis lekker. En dan hou ek daarvan om die joernaliste, Hunter S. Thompson en Michael Moore se werk te lees, want dis so off beat.

Hoe ontspan jy?
Ek kuier.

Twee dinge wat mense nie van jou weet nie?
Ek speel trekklavier en het drie liedjies saam met Neels van Jaarsveld opgeneem.
Ek is ‘n baie getroue Stormers-ondersteuner.