anchien_troskie
Boeke

5 Boekminute met skrywer Anchien Troskie

Vir voltyds skryf is daar nie tyd nie, maar sy maak darem tyd. Anchien se nuwe boek, Die Besoeker (Kwela Boeke, R175), het onlangs verskyn. Daarin vertel sy die verhaal van Emmie, ‘n jong vrou wat haar laat verlei deur die aantrekkingskrag van geld.

Sy wil ‘n gemaklike lewe lei, deel wees van die “in”-groep en mooi klere dra. Sy raak betrokke by dwelmverkope om haar inkomste aan te vul en kry te doene met ‘n paar ongenaakbare karakters wat haar lewe versuur – veral wanneer sy nie na hul pype dans en bly dwelms verkoop nie. Haar dubbele lewe haal haar in en sy moet weggaan om te probeer uitsorteer wat sy moet doen en hoe sy haar lewe vorentoe moet lei.

Terwyl sy op hierdie soektog van haar is, kry sy ‘n besoeker. In die vorm van die engel Migael. Hy help haar om haar lewe in oënskou te neem en besluite te neem wat haar lewe radikaal gaan verander.

Voor in Anchien se boek staan: “Die dorpie, gebeure en karakters in die verhaal is fiktief – maar ek wens Migael was nie!” Ek het per e-pos met haar gesels oor skryf, gekwelde vroue en engele.

Skryf jy voltyds?
Definieer voltyds?! Stephen King het gesê dat ‘n skrywer net moet lees en skryf. Gemeet aan sy standaarde skiet ek ver te kort! Ek het nie ‘n beroep wat my van my skryfwerk weghou nie, nee. Maar as huisvrou en ma het ek nie veel tyd om voltyds te skryf nie. Ek sou graag wou!

Het jy ‘n ritueel wanneer jy skryf of moet jy op ‘n spesifieke plek skryf?
Nee. Solank dit ordelik om my is, daar koffie naby my is en ek seker is niemand kan my steur nie, kan ek skryf. Ek het ‘n “kantoor”, uitsluitlik ingerig vir skryf, maar vind dat ek oral in die huis notaboekies aanhou. In die kombuis, langs my bed, selfs in my badkamer!

Is jy ‘n dagboekskrywer?
Ek was vir jare ‘n ywerige dagboekskrywer, maar deesdae nie meer so gereeld nie.

Hierdie is jou derde boek. Jou boeke is baie uiteenlopend. Is dit ook jou leessmaak om oor uiteenlopende onderwerpe te lees?
Absoluut! Variety is the spice of life! Ek dink dit moet baie vervelig wees om net oor dieselfde goed te lees en te skryf.

Die Besoeker: Waarom ‘n boek oor dwelmmisbruik?
Dwelmmisbruik is, soos alkoholmisbruik, molestering en soveel ander vergrype, iets waaraan ons steeds dink net met “ander” mense gebeur. Die feit is dat hierdie vergrype nie onderskeid tref tussen geslag, ras en finansiële status nie. Dwelms diskrimineer nie. Toe my kinders in Graad 8 met ‘n polisie-klopjag by die skool gekonfronteer word, het ek dit weer besef.

Hoe het jy die navorsing gedoen vir die verhaal?
Die internet is ‘n goeie bron van inligting. Ek het ook met gerehabiliteerde dwelmverslaafdes gepraat. En my verbeelding gebruik!

In jou vorige boek was die vrouekarakters almal verwikkel in verhoudings waarin hulle probleme ondervind het. Emmie se persoonlike verhouding is ook nie juis ideaal nie. Waarom altyd sulke moeilike verhoudings skep vir jou karakters?
Ek kan nie al die blaam dra vir my karakters se moeilike verhoudings nie – soms skep hulle dit self! Dalk is dit net hoe my kop werk – vroue in moeilike verhoudings is juis dié wat soveel sterker anderkant kan uitkom.

Hoekom het jy ‘n engel in Emmie se lewe gebring?
Omdat die boek ook handel oor vergifnis.

Wanneer jy ‘n boek begin skryf, het jy ‘n goeie idee waarheen jy met die storie gaan, of kry die storie en karakters ‘n lewe van hul eie?
Ek is altyd vol vertroue dat ek beslis weet waarheen my storie gaan. Dat ek presies weet hoe my karakters in sekere situasies gaan reageer. Dit is, tot ek begin skryf. Dan neem my karakters eenvoudig oor en dikteer meeste van die tyd die verloop van die verhaal.

Is daar ‘n karakter in Die Besoeker waarmee jy geworstel het?
Emmie. Ai, tog. Sy is alles waaraan ek ‘n afsku het. Selfbehep, geldgierig. Ek het, in die begin, bitter min simpatie vir haar gehad, maar tog teen die einde ‘n jammerte vir haar gevoel.

Wat wil jy hê moet by lesers agterbly nadat hulle Die Besoeker gelees het?
Dat dwelmafhanklikheid niemand ontsien nie. Dat God jou alles kan en wil vergewe. Dat daar regtig iets soos engele om ons is.

Is jy besig met ‘n nuwe boek?
Ek is.

Hoe ontspan jy?
Ek lees!

  • Denise Mcloughlin

    Ek het nog nie een van jou boeke gelees nie- maar sien uit om te begin- ek lees wyd en baie en skryf ook graag joernaal,poësie en kort stories. Maar wat my regtig prikkel is om te hoor of ons dalk verlangs familie kan wees, aangesien my geliefde ouma Johanna Catharina Troskie was en my Oupa Troskie hulle was ses broers- ek het ‘n foto van hulle ! Hoop ons kan uitvind !?
    Groete uit die Kaap
    Denise Mcloughlin
    e-pos: deane.mcl@gmail.com

  • Jacqueline Kotze

    Anchien Troskie ek moet eerlik waar se dat ek Die Besoeker ontsettend geniet het. Dit was ongelukkig net so gou klaar want, ek kon dit nie neer sit nie. Ek sal graag die name van jou ander boeke wil he sodat ek hul kan aankoop. Jou manier van skryf is so interesant en nooit vervelig nie.

    Jy sal moet skryf want ons wag vir nog baie boeke.
    Dankie nogmals vir jou teenwoordigheid in my huis, want as ek lees voel dit of jy by my is.

    Groete Colleen Kotze
    Vredenburg
    Weskaap

  • Elize Opperman

    Ek wil graag met Anchien kontak maak.
    Nadat ek "Ek is Anna" gelees het, weet ek dat Anchien my lewens verhaal op haar unike manier kan oordra.
    Ek is nie n skrywer nie, maar weet dat my verhaal ander kan help. Hierdie dringende begeerte om my verhaal te deel met ander kinders en ouers het my telkens opgeval wanneer ek tydens my stiltetye besef dat God wil hê dat ek dit moet blootlê. Dit is nie n pakslae of verwyt verhaal nie maar eerder n verhaal van uithou vermoë, breinkrag, genade en musiek.

    Dit is n verhaal van baie swaarkry as kind en gesin, en ek wat aan depressie gely het maar dit nooit geweet het nie, en dit eers later in my lewe besef het. Ek het musiek in alles gevind, van n miskoek tot n glas en deur musiek in alles te hoor het ek myself uit die diepste donkerte gehelp om ontlae te raak van die swart wolf.

    Ek het nog nooit enige middels gedrink om depressie te oorkom nie, want ek kry dit reg met wilkrag, musiek en God se genade.

  • Ronelle van Heerden

    Ek sou vreeslik graag kontak wou maak met Anchien. Ek is ‘n onderwyser by ‘n skool en sou graag, Dis ek Anna, as tienertoneel wou gebruik. Ek kon die boek ook nie neersit nie – ek glo dat dit baie kinders se lewens sou kon verander en voel sterk daaroor om die boodskap so by hulle te kry. Sou waardeer as Anchien my kontak hieroor.