bakkes_c_2006_emsie_bakkes3
Boeke

5 Boekminute met Christiaan Bakkes

Miskien is Stoffel meer bekend as sy skepper, Christiaan Bakkes, al is hy Bakkes se alter ego en vertel hy eintlik maar Bakkes se avonture! Stoffel in Afrika (Human & Rousseau, R165) is sy vyfde bundel. Bakkes hoort in die veld. Dit besef jy as jy die verhale lees. Sy liefde en passie vir die veld kan jy voel in hoe hy oor sy doen en late skryf. Nee, beslis sou hy nie lank in die stad kon woon nie. Dié omgewing sou net te klein en versmorend wees.

Bowendien, daar waar hy nou is, ry hy en sy hond, Tier, saam agter leeus aan om hulle te vang, sodat hulle na ‘n ander gebied geskuif kan word. Verder loop die woelige en kordate hondjie oral saam waar Stoffel gaan en het al vir baie drama gesorg. Maar die verhale is nie net oor Stoffel se Afrika-avonture nie, hy vertel ook van dinge wat hy sien en hoor wanneer hy in Suid-Afrika kom kuier. Sy perspektief is verfrissend anders, want hy kyk anders na sake, soms effe lakonies, maar op so ‘n wyse dat dit jou oor stedelinge en hul lewens laat wonder. Al wat ek kan sê oor Stoffel se lewe is, “it’s a charmed life”, maar weliswaar een met sy eie uitdagings. Die voorreg wat hy het om sy passie uit te leef, is fantasties en dis nog ‘n groter voorreg dat hy daardie lewe met lesers kan deel Ek het per e-pos met Bakkes gesels oor die veld, skryf en sommer net sy plesiere in die veld.

Waar woon jy en jou vrou, Emsie, deesdae, en is daar darem ‘n paar geriewe?
Ek en Emsie bly in ‘n tent-huis in die Etendeka-lawavelde van Noordwes-Damaraland. Dit is ‘n gerieflike tent met ‘n houtvloer en ‘n warm stort. Dit word omring deur mopaniebome wat beskutting bring teen die ooswind.

Is jy meer van ‘n bosmens as ‘n seemens?
Woestynmens.

Is jy ‘n dagboek-skrywer, of skryf jy elke boek uit die vuis?
Uit die vuis.

Doen jy baie navorsing vir jou stories?
Al my stories is op ware gebeure of eerstehandse kennis gegrond. Navorsing moet soms gedoen word om my van tegniese detail te vergewis. Ek stel ook meer en meer belang in geskiedkundige verhale. Dit verg meer noukeurige navorsing.

Watter plek in Afrika is jou absolute gunsteling en waarom?
Die Etendeka-lawavelde. Die Skedelkus en die Kaokoveld. Kom kyk maar self!

Die storie oor “My pa se nuwe bakkie” – is die bakkie steeds in die land van die lewendes? Waarom is jy so geheg daaraan?
Die bakkie is nog springlewendig. Dis die beste bakkie wat ek ken.

Hoe gaan dit met jou hond, Tier?
Tier help al heel week om swartrenosters te vang. Hy het gisteraand ‘n hiëna uit die wildvangkamp gejaag. Dit gaan goed met hom – hy leer nie.

So baie mense wil gorillas gaan kyk. Hoe uitputtend is dit vir jou om toeriste daarheen te begelei? Is die ervaring elke keer vir jou persoonlik die moeite werd?
Dit is so ‘n besonderse ervaring dat dit elke keer die moeite werd is. Moeilike kliënte kan uitputtend wees, maar dit is my werk om hulle oë vir Afrika se natuurwonders te laat oopgaan.

Jy skryf oor die gevlekte vleikuiken wat jy nog nooit gesien het nie. Is jy steeds op die uitkyk om een te sien?
Elke keer as ek in ‘n Ugandese woud loop, soek ek hom. Afrika het nog nie al sy geheime prysgegee nie.

Is daar ‘n spesifieke dier wat vir jou uitsonderlike plesier gee wanneer jy dit in die bos raakloop?
As ek ‘n Hartmann-bergsebra sien, weet ek ek is tuis. En dit is altyd goed om op ‘n swartrenoster of woestynolifant se spoor te loop.

Het jy regrets oor jou arm wat jy verloor het? Hoe het dit jou lewe verander?
Geen berou. Dit het my na die ware Wildernis gebring. Dit het my by Emsie uitgebring.

Het jy ‘n gunsteling-boek/skrywer?
Heart of Darkness – Joseph Conrad. En Patrick o’Brian se seevaart-romans.