elma_met_bril_hr_500kgrp
Boeke

5 Boekminute met Elma Potgieter

Sy was natuurlik ook vir ‘n tyd die Wielie Walie-tannie. Dan is sy ‘n bekende stem op radio en het ook baie stemwerk vir televisie gedoen. Min mense weet dat sy ook ‘n skrywer is. Haar nuutste boek, Slagveld, is ‘n speurroman wat in die wêreld van koerante, joernaliste, fotograwe en misdadigers afspeel.

Dis ‘n lekker verhaal vol aksie, maar met ‘n goeie skoot romanse om die hoofkarakter, Mira Malan, se lewe interessant te hou. Haar werk as misdaadverslaggewer by ‘n dagblad bring haar in aanraking met die skadukant van die lewe en skets ook ‘n realistiese prentjie van wat dit van so ‘n joernalis verg om dié tipe werk te doen. Potgieter se karakters is geloofwaardig en ‘n mens word meegesleur deur die werking van ‘n koerantkantoor, van hoe ‘n storie gejaag word tot die eindproduk wat ‘n leser in die koerant sien. Dis ‘n verhaal wat boei tot aan die verrassende einde.

Potgieter het die boek self gepubliseer en Slagveld kan bestel word by www.crink.co.za en kos R184,67.

Is dit jou eerste gepubliseerde boek?
Nee, my eerste roman, ‘n Tweede Begin, is in 2007 uitgegee. Dis die storie van ‘n tydskrifjoernalis wat haar man in die bed betrap by ‘n ander man. Skok op skok. Nie net is die ‘ander vrou’ ‘n man nie, maar Andreana loop boonop gevaar om vigs op te doen. Sê nou sy toets MIV-positief? Die verhaal gaan oor die emosionele herstel en oorlewing van my hoofkarakter ná ‘n reeks traumatiese gebeure. Sy vind selfs weer liefde!

Die skryf van dié roman is sedert 2002 voorafgegaan deur die publikasie van ‘n hele aantal kortverhale in Huisgenoot.

Ek het nie doelbewus begin skryf nie. Speelwerk in Afrikaans het drasties begin afneem, veral omdat oorklanking vir televisie uit Engels en Europese tale ná 1993 uitgefaseer is. Terwyl die SAUK oorgeklank het, kon ek vir oorklanking vertaal (uit Engels, Duits, Frans en Nederlands), oorklankingsregie doen en speel. Toe dié skeppingsmoontlikheid en redelik gereelde inkomste in die niet verdwyn, moes ek en die meeste ander vryskutakteurs (Afrikaans-, Nguni- en Sothosprekers) ander uitweë soek. Daarom dig ek my skryfwerk toe aan skeppingsdruk wat ‘n nuwe uitlaatklep moes kry.

Hoe sal jy hierdie boek van jou beskryf?
As ‘n speurverhaal waarin die liefde ‘n groot rol speel – daarom ‘n speurroman. ‘n Mens kan nie sonder liefde oorleef nie en deel van die opwinding van die lewe is die manier waarop jy jou liefde(s) by jou werk en daaglikse bestaan moet inpas. Die verhaal van my misdaadjoernalis-heldin, Mira Malan, is nie my verhaal nie, maar haar pas en passie het seker ‘n oorsprong in my psige. Die skrywer, Izak de Vries (‘n artikel in Rapport-Boeke op 6 Nov. 2010), haal die spanningsverhaalskrywer Val McDermid aan wat sê: ‘Vroue skryf van binne, mans skryf van buite.’ Ek stem daarmee saam. Hoe dit presies gebeur, weet ek nie, maar ek aanvaar dit is hoe dit werk.

Jou boek is opgedra aan jou pa, ‘n oud-polisieman, en jy het jou loopbaan by ‘n koerant begin as joernalis. Het dit ‘n rol gespeel in die tema van jou boek?
Ek is seker dié twee feite in my lewe het aanleiding gegee tot die tema van die boek, al is dit onbewustelik. Waarom ek so sê: Ek het nie die boek beplan nie. Die karakters het verskyn, situasies het ontstaan en ek het saam geloop. Dalk het die feit dat ek en my familie soos die meeste Johannesburgers ook al goed deurgeloop het onder misdaad, bygedra tot die ontstaan van die roman.

Dit het ook die titel Slagveld tot gevolg gehad. Die omvang van die misdaad suggereer ‘n onkonvensionele oorlog. Daarom kan Mira se nuusredakteur, Giel van Zyl, agter haar aan gil: “Wees versigtig! Dis ‘n bliksemse slagveld! Misdaadverslaggewers in Johannesburg hou gemiddeld so twee, drie jaar … Jy’s daar!”

Om terug te kom by die invloed van my pa. Dis seker die frustrasie van baie mense dat jy, terwyl jy ‘n kind in die huis is, nie noodwendig jou pa en ma as mense goed leer ken nie. ‘n Mens is dalk te betrokke by jou eie grootword.
En tog bly steek die dinge wat jou ouers sê en doen – al was my pa toe ek gebore is nie meer in die polisie nie.
Hy het uit die polisie getree omdat die moontlikheid van bevordering hom ontneem is nadat hy geweier het om destyds die sogenaamde Rooi Eed te onderteken en daarom was hy nie toegelaat om eksamen te skryf nie. My pa het nie juis respek vir enige owerheid gehad nie. Kyk na die man, nie die titel nie, was sy lewensmotto. Ek het jare later eers uitgevind dat hy ook as polisieduiker opgetree het, lank nadat hy nie meer in die polisie was nie. Sy sertifikaat vir lewensredding wat hy in 1934 by The Royal Life Saving Society gekry het, hang in my sitkamer.

Vars uit universiteit, het ek by Die Transvaler gaan werk soek. Die eerste maand het ek geproeflees, onder in die kelderverdieping saam met die koerantsetters – ‘n klomp voortreflike mense. My opvoeding as koerantjoernalis en werker is definitief deur ‘n hele klomp mense beïnvloed en ek skat die opwinding, sowel as die roetine het in my onderbewussyn gaan vassteek.

Ek onthou die dolle gejaag in ‘n Volksie op pad na die ongelukstoneel van die Meyertonse busramp asof dit verlede week was. Terug by die koerant die aand, die trane wat horisontaal op die papier spat terwyl ek die storie tik van Mevrou Lotter wie se dogtertjies al drie deur die dood gegryp is. Dr. Carel Nöffke, destyds hoofredakteur, wat vir ons tee aandra terwyl ons almal op ‘n afgryslike soort adrenalien-vaart is.

Hoe het jy die navorsing gedoen vir jou verhaal?
Ek het my opgeskerp wat betref ‘n oggendkoerant, nou in die elektroniese eeu.
Wat die blanke prostitute betref: In die tagtigs moes ek ‘n sogenaamde ‘madam’ speel in ‘n episode van ‘n misdaadreeks vir televisie. Daar was ‘n blanke bordeel in Bokstraat in Doornfontein in Johannesburg en ek het ‘n oggend by die vroue gekuier en gesels. In Londen in die vroeë sewentigs het ek met ‘n prostituut in ‘n hotelsitkamer begin gesels. Sy was drie en twintig en met ‘n ‘hangogie’ wat sy oorgehou het ná ‘n beroerte-aanval. Ek het nooit weer bewustelik aan haar gedink nie, maar sy het skielik in Slagveld opgeduik as Norma.
By die Transvaler het ek nou saamgewerk met ‘n baie befoeterde, maar hoogsbegaafde fotograaf, Abel Jones. Die idee van ‘n ‘stake-out’, ‘n ‘voorlê’ het sy ontstaan gehad in Abel se benadering tot die kry van ‘n storie. Hy het ook altyd van ‘kiekies’ gepraat pleks van foto’s.

Hoekom juis ‘n vrou as hoofkarakter?
Want ek is ‘n vrou en ek beleef die lewe vanuit ‘n vrou se oogpunt. My psigologiese verwysingsraamwerk is dié van ‘n vrou en ek skat my manskarakters word gevorm uit ‘n samestelling van mans wat ek geken, ontmoet, geïdealiseer of afgeskryf het.
Ek bespiegel, want ek weet nie presies nie.
Of ek ‘n feminis is? Ek pes meeste -ismes. ‘n Vrou moet ideaal gesproke ‘n vol, ryk, bevredigende lewe kan lei. As sy wil werk, moet sy kan werk. As sy wil kinders hê, moet sy kan kinders hê. As sy wil trou, moet sy kan trou, of nie. Ek wil nie oor ‘n man baasspeel nie, oor niemand nie, maar dieselfde moet geld vir hom. Ek wil vry voel om enige karakter te skep op papier of as aktrise op die doek – solank die karakter ‘n volgelaaide psige het.

Waarom ‘n speur- en liefdesverhaal in een?
Die lewe is ook ‘n speurtog. Die Sweedse skryfster Marianne Frederiksson, wie se eerste roman, Anna, Hanna och Johanna (Hannah’s Daughters), ek al herhaaldelik gelees het, is nie ‘n speurverhaalskrywer nie, maar die reis saam met haar karakters is telkens ‘n soort speurtog.
Oorlede Eleanor Baker is ook so ‘n skrywer. Haar romans, Verbeelde Werklikheid, Die Nes, Dossier van ‘n Gyseling, selfs Weerkaatsings, is ‘n speurtog, ‘n boeiende reis êrens heen.

Waarom ‘n speur- en liefdesverhaal in een? My hoofkarakter is ‘n vrou. Die vroue wat ek deur my lewe taamlik goed leer ken het, het altyd die liefde ook nagejaag. Jy wil graag ‘n loopbaan én ‘n man in jou lewe hê, ‘n man wat jy kan liefhê en wat jou liefhet. Ek as mens moet en wil ek ‘n man, dié man, in my lewe hê en daarom dink ek, sal my romankarakters ook altyd ‘n man in hulle lewe wil hê.

Het jy van jou karakters gebaseer op mense wat jy ken uit jou tyd as joernalis?
Ek gee erkenning aan verskeie mense wat ek by Die Transvaler en Huisgenoot leer ken het, maar ek is ernstig dat die boek ‘n produk van my verbeelding is en dat ek nie een van die karakters op iemand spesifiek gebaseer het nie.

Die nuusredakteur, Giel van Zyl, is moontlik die som van ‘n kombinasie van karakters – heel waarskynlik ‘n geïdealiseerde karakter wat ontstaan het as gevolg van die feit dat ‘n mens ‘n sterk, objektiewe persoonlikheid aan die stuur van sake by ‘n koerant wil hê. Sy ‘befoeterdgeit’ maak van hom ‘n mens.
Abel Jones, was ‘n besonder goeie fotograaf. Eksentriek, roekeloos, vol draadwerk en uiters professioneel. Nogtans is die fotograaf in my roman ‘n produk van my verbeelding. Die invloed wat mense op ander mense het, gaan altyd deur ‘n soort ‘verwerkingsproses’ wat seker bepaal word deur die psige en lewensuitkyk van die skrywer. Maar ek bespiegel terugskouend. Ek weet nie verseker nie.

Lees jy self speurverhale en het jy ‘n gunstelingskrywer in die genre?
Ja, ek lees self speurverhale – op voorwaarde dat die karakters my boei. Die eerste speurder wat ek begin bewonder het, is Maigret, die dierbare, eksentrieke, beskaafde speurder uit Georges Simenon se pen. My pa het die boeke, eers in Engels, later in Frans, vir my aangedra om my te help met Frans op universiteit.

Dis vir my soms moeilik om te bepaal of dit die sielkundige aspek van die karakters of die situasie is wat my wegvoer. Maar dan kan die een ook nie eintlik sonder die ander nie.

Ter plaatse is my gunstelingskrywer in dié genre Deon Meyer. Wie anders? Van die eerste speurroman, Feniks, wat ek van hom gelees het, tot die huidige een, Spoor, sleur hy my as leser mee met die onmiddellikheid van sy woordgebruik. Dit pluk jou in die kop van sy karakter en maak jou so deel van die situasie.

Eleanor Baker het as Alex Muller ‘n paar speurverhale geskryf waarvan ek veral die eerste een, Die Vyf Susters, geniet het. Dossier van ‘n Gyseling, wat sy onder haar eie naam gepubliseer het, reken ek ook in die spanningsverhaal genre. Die sielkundige aspek van daardie verhaal bly my vandag nog by. Ek is ‘n bewonderaar van dié skrywer se uitmuntende taalgebruik en vreemdsoortige terughoudendheid terwyl sy dit tóg regkry om haar leser mee te sleur. Haar dood was vir my ‘n persoonlike verlies.

Stieg Larsson, die Sweedse skrywer met sy Millennium-trilogie, is my gunsteling buitelandse speurromanskrywer. Hy was ook joernalis net soos Deon Meyer. Interessant. Wat Stieg Larsson betref, voel ek ook gekul ná sy dood.

Karin Alvtegen, is nóg ‘n Sweedse spanningsverhaalskrywer wie se werk ek boeiend vind. Haar eerste publikasie wat vertaal is met die Engelse titel Missing is ‘n meesleurende sielkundige studie van ‘n buitestander (Sibylla) wat as gevolg van haar persoonlikheid ‘skuldig’ word en daarom meedoënloos deur die gereg (en ander) gejag word.

Is jy besig met ‘n nuwe boek?
Daar lê ‘n boek by ‘n uitgewer oor ‘n mishandelde vrou wat haar man onder vreemde omstandighede vermoor en dan in die tronk beland. ‘n Strafregadvokaat in Pretoria het my manuskrip gelees en opgewonde gereageer.

Nog ‘n roman oor ‘n balletkunstenaar wat borskanker ontwikkel, is by ‘n ander uitgewer vir oorweging. Iemand wat die manuskrip vir my gelees het, het onder die indruk gekom van die gewelddadige uitwerking wat ‘n potensieel dodelike siekte op die liggaam en psige van ‘n mens kan hê.

Gaan ons jou binnekort weer op die verhoog sien?
Ek hoop so – in ‘n eenpersoonsvertoning, Madelief se Memoires. Dis waarmee ek my die afgelope paar maande (tussenin) besig gehou het – die skryf en instudering van die stuk. Madelief is ‘n joernalis in Johannesburg wat deur haar man verneuk word. Die benadering is ‘lig’ – uiteraard galgehumor, want Madelief voel nie vergewensgesind nie, inteendeel, soos haar amper naamgenoot van lank gelede, Daisy de Melker, sou Madelief graag ‘n ‘Daisy’ op haar pragtige Adonis van ‘n man, Stefan ‘Sespak’ Malherbe wou voltrek!

Dis veral die banaliteit van die verneuk-storie wat vir Madelief irriteer. Sy wonder wanneer ‘die mooi, slim, romantiese man van haar verander het in ‘n sot wat van clichés aanmekaar gesit is.’

Madelief simpatiseer ook met ander vroue wat deur hulle mans verneuk is … Griet in Marita van der Vyver se Griet-sprokie, wat haarself wil vergas in ‘n oond en wie se aandag dan afgetrek word deur ‘n blessitse dooie kakkerlak.

‘Griet se lewe word as ‘t ware gered deur die simbool van bedreiging van die reinigingsproses waarmee meeste vroue lewenslank geterroriseer word.’