dmm_voorblad_300dpi
Boeke

5 Boekminute met Erwin en Nicoleen Niemand

As jong seuntjie in standerd vier was hy bevoorreg om die vryheid te hê om tyd in die veld deur te bring in die Lichtenburg-omgewing waar sy gesin gewoon het. Sy ma het hom maklik veld toe gestuur met genoeg water en kos om hom heeldag in die veld besig te hou.

In daardie tyd het Erwin ook begin belangstel in die ontwikkeling van swart-en-wit film en het hy vir raad en bystand gaan aanklop by die apteker op die dorp. Weer het sy ma hom aangemoedig om sy kreatiwiteit uit te leef en het hy sy eerste kamera, ‘n Yashica twin reflex-model, by haar present gekry. As mens vandag deur sy en Nicoleen, sy lewensmaat, se boeke blaai, kan jy sien Erwin leef sy passie ten volle uit.

Hy en Nicoleen verewig die prag van ons mooi land in glanskoffietafelboeke wat hulle self uitgee. Hulle tweede boek, Drakensberg, Magnificent Mountain (Oshana Publishing, R360) het pas verskyn en is ‘n visuele fees. Al die verskillende fasette van die Drakensberg word in foto’s vasgevang – in sonskyn, in digte mis en in reën- en donderweer.
Wat hierdie boek besonders maak, is nie net die foto’s nie, maar ook die toeligtende teks wat deur Edmund Salomons geskryf is. Dis bondig, maar met genoeg inligting om ‘n goeie oorsig oor die Drakensberg te gee. Wanneer mens deur die boek blaai, besef jy net weer hoe mooi die natuur in ons land is. En vir dié van ons wat nie so aktief stap om self hierdie tonele te sien nie, is hierdie boek ‘n manier om die Drakensberg aan ons bekend te stel en die mooi te deel.
Hulle eerste boek was, Kalahari, Magnificent Desert. Die boeke kan bestel word by www.oshana.co.za, erwin@oshana.co.za en dit kos R360 + posgeld.

Ek het met Erwin en Nicoleen gesels oor hulle nuwe boek.

Hoe lank het dit geneem om die boek te maak?
Nicoleen: Ons het in Okt 2007 begin. Dit was ‘n proses. Die weer is mos baie anders in die Drakensberge as in die Kalahari. Erwin was die meeste daar.
Erwin: Dit was my grootste ontnugtering. Ek kom nou net uit die Kalahari, ‘n droë omgewing, waar ek amper twee jaar was. Nou is ek in die berge. Dis groen. Dit reën. Dis nat. En ek staan verstom – ek weet nie waar ek moet begin nie. Dis alles wat die Kalahari nié is nie. Ek het in die eerste 2 weke van die projek net drie foto’s geneem.
Nicoleen: Erwin het my gebel en gesê hy is depressed en ons moet ‘n ander projek soek. Dan motiveer ek maar. Dit was omtrent ‘n ontnugtering. Dit het ‘n rukkie gevat om gewoond te raak aan die omgewing.

Hoekom juis ‘n boek oor die Drakensberg?
Erwin: Ek is ‘n ou stapper en ek hou van die Drakensberg. Ek het dikwels daar geklim en ek wou graag teruggaan en iets doen oor die berg. Dit was die dryfveer. Mens dink jy ken die berge as jy so baie daar was deur jou lewe. Gelukkig het die Kalahari ons die les geleer om nie in ‘n plek in te kom en sommer weg te val nie, omdat jy dink jy ken die plek nie. Ek het eers vir ‘n tyd Berg toe gegaan en gaan kyk hoe lyk die omgewing. Ons wou dit nie aanpak soos ‘n vyf-dag-stap nie. So my strategie was, gaan verken eers die plek en praat met stappers en mense wat in die omgewing woon. Daarna het ons die gebied wat ons wou dek, afgebaken. Dis ‘n 200 km-strook van die Amfiteater af, net duskant Golden Gate tot by die Sani-pas – dis die gedeelte wat die meeste mense ook ken as die Drakensberg.

Wat is jou mooiste plekke op die berg?
Die Amfiteater en Mnweni. Die Amfiteater is eintlik ‘n cliché, almal gaan soontoe. Dis ‘n bekende bestemming vir toeriste. Ek wou ook by ander plekke uitkom wat die gewone mense nie ken nie. Maar toe ek eers tyd begin spandeer by die Amfiteater het ek dit beleef onder alle omstandighede – van sneeu, reën en donderstorms en dubbele reënboë. So die Amfiteater het ‘n baie sagte plekkie in my hart. Maar Mnweni het ‘n spesiale aantrekking vir my. Dit is die mees ongerepte deel van die Berg. Dis wat rotsformasie, pieke en passe betref die mooiste gedeelte. Ek kan dit nie beskryf nie, mens moet dit sien. Die res van die berg is oop, jy kan van ver af die mooi sien. Met die Mnweni moet jy daar ingaan en die mooi ontdek. Ek sal graag ‘n boek net oor daardie deel wil doen. Dis ‘n moeilike instap.

Was dit fisieke inspanning om die boek te doen?
Meeste foto’s is met bloed en sweet gedoen. Ek kan dit verduidelik aan die hand van ‘n voorbeeld. Om ‘n ordentlike foto te kry van die sonsopkoms oor die Mponjwanegrotte, jy stap vir 2 dae om daar te kom. Jy is selfonderhoudend en moet twee nagte oorslaap. Jy moet dus 4 nagte se kos saamvat en jy het koue klere en warm klere nodig. Jy moet beplan en veiligheid ook nog in jou agterkop hou. Ek moet my kameratoerusting (2 kameras, die makro-, 70-200 mm – en 300 mm lense en my driepoot) – dit weeg alles saam net so onder 12 kg, saamdra. Ek het my normale pak wat sowat 25 kg weeg plus hierdie ekstra gewig van my toerusting. Dit het deursettingsvermoë en durf gevat om meeste foto’s te kry.

So jy moes fiks wees?
Om dit lekker en gemaklik te doen moet jy fiks wees. Ek was nie, met die gevolg ek kon nie die berg uithardloop soos in die ou dae nie. Ek moes my tyd vat en sorg dat ek bo kom sonder om ‘n hartaanval te kry. Dit was effort om bo te kom.

Hoe beplan jy vir die weer?
Die weer op die berg is onvoorspelbaar. Jy moenie dink as jy wegtrek onder, jy sal bo dieselfde weer kry nie. Dit het gebeur dat tyd my gedwing het om in die reën en koue te begin stap en dan kom ek bo en dan is dit pragtig en warm. Dis of die een kant toe of die ander kant toe. Dis die groot rede waarom die boek so lank gevat het, amper drie jaar.

Was daar vir jou verrassings in die berg?
Ja, bloot die feit dat ek tyd kon spandeer om meer te ervaar. In die verlede het ons vir ‘n naweek gegaan. Nou was ek vir drie, vier weke per keer daae. Ek kon dinge beleef wat ek nie sou nie en het op dinge afgekom wat ek in die verlede gemis het. Ek kon wag vir goeie weer of ek kon daar sit en natreën of nat gesneeu word vir die volgende drie dae. As mens langer bly, kry jy meer geleenthede. Die berg verander nie, dis nie een dag mooi en die volgende dag lelik nie, dis die weer wat die prentjie maak.

Het jy alleen gestap of het jy ‘n metgesel gehad?
Ek het ‘n paar kort stappies alleen gedoen, maar dis beter om saam met iemand te stap. Veral in die hoë berg juis vir veiligheid. Oom Sarel van Rensburg van Kemptonpark was my metgesel. Ek het hom by ‘n back packers-winkel ontmoet. Ons het heerlik gesels en ek het gesê ek soek na iemand wat saam met my Berg toe kan gaan, en of hy iemand ken wat die Berg goed ken. Hy bied toe aan, want hy stap al in die berge van 1940 af. Nicoleen het ook vir korter stappies saam gegaan.

Was jy nie benoud oor oom Sarel se ouderdom nie?
Op 76 is hy sterk en fiks al is sy rugsak groter as hy. Hy ken die Berg soos die palm van sy hand, hy weet waar elke grot is. Hy weet as die wind van ‘n spesifieke kant af kom, dan moet ons kamp opslaan. En natuurlik, oom Sarel het lekker kos gemaak. Ek kon nie ‘n beter metgesel gekry het nie. Hy het verstaan wanneer ek tyd op ‘n plek wou spandeer om foto’s te neem.

Jy en Nicoleen werk mos gewoonlik saam aan julle boeke. Het jy saam gegaan?
Nicoleen: Ek het klein stappies saam met Erwin gedoen en ek het een keer saam met Erwin opgegaan hoë berge toe. Maar ek is pateties met ‘n ding op my rug. Erwin moes maar alles dra. Ek was byna dood en ek het net ‘n ou klein pakkie gedra. Dit was in die somer en dit was woes warm en soos ons hoër klim het die weer versleg en ons het begin natreën. Dit was uitputtend.

Hoe lank was die langste dat jy per keer weg was?
Erwin: So drie weke per keer en ek was nooit korter as ‘n week weg nie. Soms as ek daar kom en die weer is sleg, het ek vir twee dae of so niks gedoen nie. Dit was aan die begin frustrerend, maar ek het later in slegte weer van my beste foto’s geneem. Die tonele is gewoonlik baie meer dramaties.

Was daar ‘n trippie wat jy gedink het jy gaan dit nie maak nie?
Mnweni se Rockeries Towers, ek het aanmekaar gebid vir pouse. Dit was rof. Ek was nie baie fiks nie en ons het beplan om vir minstens vier dae bo te bly. Ons moes 7 dae se kos saamdra en alles ekstra wat moes saamgaan en die toerusting ook nog. As gevolg van die fotografie het die stap van die pas wat gewoonlik so 4 en ‘n half ure duur, amper 16 ure geduur om bo te kom – omdat ek stop en foto’s neem en wag vir die mis om op te klaar. Dit was in die winter en dit was droog en daar was nie water nie. Ons moes ‘n hengse klomp water saamdra. Dit was koud bo, – 4 grade Celsius. Ek moes op my tande byt met die een.

Hoeveel foto’s het jy geneem?
Vir my is dit min, want in die Kalahari het ons amper 16 000 foto’s geneem en ons was nie eers so lank daar nie. In die Drakensberg het ek nie meer as 2 300 tot 2 500 foto’s geneem nie. Die omgewing en omstandighede in die berg het bepaal dat ek minder geneem het. Daar was baie minder aksie. In die Kalahari was daar baie aksie.

Hoe kies jy die foto’s vir die boek?
Ek gaan deur alles en ek gooi alles wat sleg en uit fokus is weg. Daarna gaan kyk ek watter van die foto’s is vir my die mooistes en dan gaan soek ek die beste uit elke groepering. Dan vra ek die tekskrywer, Ed Salomons en ook Nicoleen om te kyk, want hulle kyk ook anders. Ek het die foto’s ook vir ander mense gewys. Mens kry ‘n idee watter foto’s almal van hou. Dit het my ‘n goeie aanduiding gegee waarvan die gewone ou daarbuite sal hou. Die boek is vir gewone mense en dis vir hulle wat ek die foto’s geneem het.

Gunsteling-foto in die boek?
Die foto wat gebruik is vir die titelblad. Daar is mooier foto’s in die boek, maar hierdie foto het ‘n storie. Ek en oom Sarel was op ‘n trip en ek het gesê ek kort ‘n foto van die Duiwel se Tand wat ek op ‘n spesifieke blad wou gebruik. Hy het my toe na ‘n plek gevat waar ons 6 kilometer weg aan die oorkant van die Duiwel se Tand was. Ons sit daar en wag vir die son om onder te gaan. Ek skiet toe met my 600 mm-lens ‘n klompie foto’s en ek sien daar is sulke wit mis wat agter die Duiwel se Tand opkom. Daai wolke weet ek sou my foto bederf. Oom Sarel skree toe vir my dis die maan en ek moes toe onmiddellik ‘n korter lens opsit, want ek wou toe ‘n foto hê van die maan wat net wegbreek van die Berg, dit was letterlik sekondes voor die maan agter die berg uit was. Die foto is een van drie foto’s wat ek kon neem.

Hoe het julle die lugfoto’s geneem?
Saam met 17 Eskader van Swartkops-lugmagbasis. Die bevelvoerder, Stefan King, het ons saam laat gaan as hulle vir oefenvlugte in die berg gegaan het. Dit was fantasties. Gelukkig was hy ‘n kamera- en fotografie-entoesias en dit het ons tot voordeel gestrek. Ons sou van die foto’s nie kon doen as dit nie vir hulle was nie, want party plekke was daar nie ‘n vaste punt vanwaar jy die foto kon neem nie.

Volgende projek?
Daar moet nog drie boeke gedoen word in hierdie reeks, maar dis in die toekoms. Ek doen nou ‘n portfolio foto’s vir ‘n kliënt in die Klein-Karoo.

  • Milda Pieters

    Dit is ongelooflik mooi!! Dit voel asof ek sopas op vakansie was so vars en vol passie is hierdie foto’s. Dit voel asof ek die stilte kan hoor en die sagte koel wind kan voel!! Dis regtig BESONDERS!

  • qusezgzut

    hnU64v ltklkdwecadm, [url=http://ndvjxlgmdkve.com/]ndvjxlgmdkve[/url], [link=http://kqypvilmkham.com/]kqypvilmkham[/link], http://pkgipwbwkzcz.com/