Boeke

5 Boekminute met Franz Kemp

Vir die joernalis Franz Kemp was 60 dae in die Suid-Soedan by tye onuithoudbaar lank en by ander tye het die tyd gevlieg. Afhangende van waarmee hy besig was! Kemp is ‘n ou bekende in joernalistieke kringe wat net voor sy aftrede die Johannesburgse burohoof van Huisgenoot was. Ek moes in my loopbaan as fotograaf ‘n hele paar stories vir sy tydskrif doen. Ek het ‘n hele paar keer opdragte van hom ontvang vir foto’s. En Franz is nie iemand wat ‘n storie half aanpak of laat aanpak nie. Van geduld was daar nie altyd baie nie en van stilsit nog minder. En toe tree hy af. . . soos hy self sê: “In my geval was dit nie ‘n ligte mistykie om af te tree nie, maar ‘n moerske een.”

Wat nou? Sy dae omsit by die huis en sy duime rol. Nee, nie Kemp nie. Toe hy die aanbod kry om te help om die nuusdiens van ‘n TV-stasie in Juba, Suid-Soedan, van die grond af te kry, het hy dit nie laat verbyglip nie. Al was hy eers onder ‘n wanindruk dat hy ja gesê het vir ‘n joppie in Djedda in Saoedi-Arabië! Maar as jy Kemp ken, sy woord is sy woord en so vertrek hy Juba toe, wat deur ‘n medereisiger beskryf word as “the shit hole of the world”. Hierdie boek, 60 Dae in Suid-Soedan (Tafelberg (R180), is sy reisdagboek van sy tyd daar. Al is jy nie ‘n joernalis nie en stel jy nie belang in die binnewerking van hoe nuus versamel en aangebied word nie, moet jy die boek lees. Al is dit net vir Kemp se boeiende skryfstyl en die manier waarop hy sy storie vertel. Verder is die boek propvol interessante inligting oor die land waarin hy hom bevind, met interessante beskrywings en perspektiewe van die mense. Ek het per e-pos met Kemp gesels oor sy boek en sy insigte ná sy ervaring van die Suid-Soedan.

Sou jy jouself as ‘n workaholic beskryf, aangesien dit so ‘n ligte “mistykie” was om af te tree?
Ek is op my gelukkigste as ek kan woel en werskaf. Kan nie stilsit nie. As ek nie skryf nie, bonsai ek elke boom in die tuin. Jip, ek sou sê ek is die opperste werkolis – en daarvan getuig my tyd in die Suid-Soedan waar ek sewe dae per week gewerk het.

Jy skryf in jou boek ook dat daar beslis in die buitewêreld ‘n groter waardering en erkenning is vir ervaring. Wat is die invloed daarvan op die standaard van joernalistiek in SA? En in die algemeen vir die land?
In Suid-Afrika kry mens die indruk dat jy op die agterste weiveld gesit word wanneer jy 50 bereik. Dan is jy oortollig en jou ervaring en kennis beteken niks nie. Waarom is daar in die VSA, Brittanje en Europa soveel meer benutting van gryskrag? Ek is opgewonde oor die moderne, elektroniese era, net so geesdriftig oor die geleenthede wat vandag se jongmense kry en die insette wat hul lewer, maar beteken 50 werklik “oor die muur”?

Is jy ‘n gereelde dagboekskrywer wanneer jy reis? Of hou jy net notas wanneer jy aan ‘n storie werk?
Wanneer ons reis, is Reinet, my vrou, die een wat elke aand inskrywings in haar dagboek maak. Dis ‘n gewoonte wat sy weer by haar ma, Truida Pohl, aangeleer het. Reinet neem ook heeltyd foto’s en dus het ons lekker verslae van ons vakansies en reise. Mexiko bly steeds nommer een. Nie alleenlik wanneer ek aan ‘n artikel werk nie, maar ook sommer deur die loop van die dag maak ek kant-aantekeninge van dinge wat my opval, dinge wat ek onthou, dinge wat ek nie wil vergeet nie. Miskien alles deel van oud word?

Ek lees raak jy is nie mal oor vlieg nie – maar jy is mal oor reis. Hoe berei jy jouself vir ‘n vlug voor?
In my jong dae het ek nooit op ‘n vliegtuig geklim as ek nie ‘n stewige dop of twee agter die blad het nie. Deesdae sit ek altyd, maar altyd aan die voorpunt van die vliegtuig, altyd langs die paadjie en ek vra die Oubaas dat ons net veilig moet wees. Dit werk.

“En ek dink ek gaan ‘n beter en gesonder mens anderkant uitkom” (bl. 22). Met al die ongerief van Afrika en die omstandighede waaronder jy moes werk in Suid-Soedan, het jy beter daarna uitgekom?
Die Suid-Soedan het my meer van my medemens geleer as enige ander ervaring. Ek is vandag rustiger, meer verdraagsaam en ek reik uit en help graag waar ek kan. Deesdae is ‘n bydrae tot die gemeenskap waarin ek my bevind van groter belang. Ek het geleer: Gee en jou seëninge is soveel groter.

Hoe lei jy mense op as jy ‘n kantoor vol mense het wat nie Engels magtig is nie? En boonop was TV ‘n nuwe medium vir jou?
Ek het tolke gehad. Veral een, Mustapha, was onontbeerklik aan my sy. En tussenin leer jy om met gebaretaal oor die weg te kom. Soms ook skreeu en gil. Televisie was nie heeltemal ‘n nuwe medium vir my nie – ek was lank betrokke by Huisgenoot se weeklikse TV-program “Voorblad”. En dis ‘n feit soos ‘n koei: nuus bly nuus bly nuus – ongeag die medium.

Watter rol speel geduld in hoe mens in Afrika moet aanpas? Het jy gesukkel daarmee? (Moet bieg ek onthou jou nie as die geduldigste mens nie!)
Al die jare was ek in vyfde rat en in Juba moes ek gou aanleer dat geduld my baie verder gaan bring. Dit was ‘n aanpassing, ja, maar vandag is dit ‘n blywende deel van my lewe. Ek is van Afrika, ek is in Afrika – en uiteindelik is ek nou ‘n volbloed Afrikaan. More is nog ‘n dag.

Jy skryf op bl 46: “Hier is tyd om jouself onder die vergrootglas te sit en jou binneste te soek. Hier is tyd vir jouself.” Het jy baie introspeksie gedoen en dinge van jouself ontdek?
Ek was al beskryf as “hardekwas”, ‘n moeilike man. Wanneer jy afgesny is van die indringende invloed van televisie en koerante, vind jy meer tyd vir jouself. Om te lees, om net te sit, om te peins en jou eie lewe in oënskou te neem. Ek glo werklik ek is vandag ‘n aangenamer en meer akkommoderende persoon as voordat ek die Suid-Soedan ingevaar het. Ek hou van die nuwe Kemp.

Op die volgende blad skryf jy dat jy dikwels gewonder het waarom jy ‘n joernalis is en jou besig gehou het met ‘n sekere tipe joernalistiek. Is jy bietjie ontgogel oor van die werk wat jy in jou loopbaan gedoen het? Is dit alles ‘n gejaag na wind, soos jy later opmerk?
Dit was en is steeds vir my ‘n genoeglike ervaring om joernaliste op te lei. Ek deel graag my kennis van meer as vyftig jaar en juis daarom was my Juba-episode verrykend – omdat ek vir die eerste keer gevoel het dat ek as joernalis ‘n bydrae lewer. Dit was ‘n opheffende bydrae waarop ek trots is. My jare as nuushond was bevredigend en ek betreur nie ‘n aks daarvan nie. Dit is alles deel van wie ek vandag is. Ek het vrede in my gemoed.

‘n Hele paar plekke in jou boek noem jy rassisme in SA in vergelyking met in Suid-Soedan waar die inwoners relatief kleurblind is. Waarom dink jy is ons situasie so kompleks en intens?
Die antwoord is voor die hand liggend: “Apartheid” en al die onmenslikheid wat daarmee gepaardgegaan het. Ons het hier ‘n kultuur van aggressie geskep en dit gaan nog baie dekades duur voordat dit uit die weg geruim is. Apartheid is nog nie dood nie.

Toe jy weggaan uit die Suid-Soedan het die joernaliste na jou gekom en gesê hoe baie hulle jou gaan mis, veral Garang. Jy skryf daar: “As ‘n mens nie veel selfvertroue het nie (ja, wel) en jy hoor sulke opregte openbaring van waardering, sny dit tot op die been.” Ek kan my jou nie voorstel as iemand met ‘n gebrek aan selfvertroue nie. Het jy min selfvertroue en hoe het jy gesorg dat dit nooit jou loopbaan as joernalis beïnvloed nie?
Het ons nie maar almal een of ander fasade nie? Myne is ongelukkig ‘n gebrek aan selfvertroue. Ek het byvoorbeeld glad nie die durf om in die openbaar op te tree nie – ek het ‘n ontsettende vrees om ‘n toespraak te lewer, selfs ‘n mening te lug. Ek kan een-tot-een hanteer, maar ek is menssku en bly weg van groot groepe. My oplossing as joernalis was maklik: Wees net aanvallend, indringend en vat nooit “nee” as ‘n antwoord nie.

Voel jy jy het ‘n verskil aan hul lewens gemaak? Veral Garang en Aliandro.
Ja, en ja. Ek het vir heelwat van die joernaliste inspirasie en rigting gegee, hul lewens aangeraak en hulle streef vandag na sukses ondanks die opdraande stryd in die Suid-Soedan. Ek glo daar is sommige van hulle wat nog groot hoogtes kan bereik. Die gereelde e-pos wat ek uit Juba kry, getuig van hul ywer en deursettingsvermoë – hulle wil en hulle kan.

Al die hulp-organisasies, en ek sluit ook baie van die expats wat in Afrika gaan werk hierby in, is seker tot ‘n mate maar ‘n uitbuiting van Afrika. Hoeveel van hierdie mense doen dit regtig vir die ontwikkeling van Afrika en nie maar net vir hul eie gewin nie? En sal die verarming in Afrika gestop kan word?
Laat ons nie doekies omdraai nie: Daar is groot, baie groot geld in die ontwikkelende lande en daar is beslis hope expats wat net daar is om die room te skep. Maar daar is ook baie wat werklik met toewyding die hand uitsteek om te help. ‘n Veel groter gevaar, volgens my mening, is die openlike oorlog om Afrika se skatte, olie en minerale te bekom. Hou maar China se ontstellende teenwoordigheid dop.

Wat is jou standpunt oor hulp in Afrika?
Die Weste moet eenvoudig uitreik en help, maar met strenger finansiële beheer. Op die oomblik is dit geld wat in ‘n bodemlose put gestort word en dis die politici wat skarrel om hul hande daarop te lê. Dit doen hulle ook met groot sukses en in die proses groei hul bankrekenings met miljarde. Vir die gewone man op straat verander niks nie. Soos in Suid-Afrika, is werkloosheid en ellende oral aan die orde van die dag – en daar kom geen verbetering nie.

Wat is die enkele ding wat jou bybly oor jou tydjie in Soedan?
Vreedsaamheid en mensliewendheid. En die Nyl vloei vir ewig verby.

  • Renée Rautenbach

    Geluk aan Franz Kemp met hierdie heerlike boek wat ek ook pas gelees het. Hy word nie verniet as ‘n veteraanjoernalis gereken nie, min mense kan ‘n ding so sekuur beskryf soos hy.
    Lekker onderhoud ook.

  • Marna Grobbelaar

    Op ‘n stadium nou saam met Franz gewerk en daarom kon ek hom in aksie sien in Suid-Soedan! Die boek baie geniet en veels geluk aan hom!

  • Albe Grobbelaar

    Wonderlik, Kemp! Jou ster! Ek was bevoorreg om destyds ‘n paar e-posse uit die Suid-Soedan te kry, en het toe al lippe afgelek vir ‘n boek, ‘n Kemp-boek soos net Kemp kan.

  • julia viljoen

    Soos jy bid vir die Oubaas dat die vliegtuig in die lug sal bly, so bid ek vir die Oubaas vir nog net soveel miere in my gat soos Kemp wanneer ek die dag sy oesjaar tref. Wat my laat wonder: Waarheen is die volgende avontuur?

  • AAOzrG xurilrmrvdpt, [url=http://cwkvntpxbslj.com/]cwkvntpxbslj[/url], [link=http://mfqybltpemuf.com/]mfqybltpemuf[/link], http://jcldgokmkwlh.com/