Boeke

Herschelle Gibbs oor sy outobiografie: “Ek sal maar die houe moet vat”

Hier waar ons in Melville, Johannesburg, by ‘n straatkafee sit en gesels oor sy omstrede outobiografie, To The Point, The No-Holds-Barred Autobiography, Herschelle Gibbs met Steve Smith (Zebra Press, R200) lyk hy verbasend ontspanne. Hy besef hy gaan heel moontlik ‘n klompie vriende verloor, maar dis dan maar so. Hy glo hy het sy verhaal vertel, oop en eerlik en spontaan, soos hy is en dat dit die enigste manier was hoe hy dit kon doen.

Hy wil nie iets hê om te drink nie, want hy is ‘n bietjie moeg vir al die mineraalwater. Boonop het hy vanoggend opgestaan met so ‘n effe van ‘n verkoue. Geklee in ‘n denim en ‘n trendy T-hemp en ‘n psigedeliese koraalkleur sonbril sit hy en wag vir die eerste vraag om geboul te word. Toe boul ek.

Hoekom wou jy juis nou ‘n outobiografie skryf?
Die idee was nie myne nie. Ná rehab het Steve Smith ‘n onderhoud met my gedoen vir GQ en ons het baie goeie reaksie op die artikel gekry. Een van Steve se vriende het hom gevra hoekom doen hy nie ‘n boek nie. Steve het met die voorstel na my gekom en ek het nie regtig ‘n keuse gehad oor die tydsfaktor nie. Ek het die ondervinding in rehab geniet, want mens moet oopkop en eerlik wees en die issues wat jy in rehab ingevat het openlik in die gesig staar, en toe dink ek maar hoekom nie ‘n boek nie? Ek het geweet toe ek nie by die span ingesluit is nie, was die tekens daar dat ek nie langer deel van die span se planne is nie. Ek het 20 baie interessante jare in krieket gehad en ek vertel my lewe soos dit is.

En die kritiek wat rondom jou boek losgebars het?
Dis te verwagte. Party van die spelers wat in Dubai speel, is bietjie ontsteld, maar hulle het nog nie die boek nie en tot tyd en wyl hulle die boek onder oë kry, sal hulle agterkom dis nie so erg soos wat dit gemaak word nie. Mark Boucher het die boek gesien en hy sê dis nie so erg soos die koerante dit maak nie. Ek is nie verras deur hulle reaksie nie. Ek kan verstaan dat van die spelers teleurgesteld en seergemaak voel, maar ek sal eers wag tot hulle die boek gelees het en dan sal ons dit maar van daar af vat.

Jy het op 16 reeds provinsiale krieket begin speel. Is jy spyt dat jy so vroeg begin het en dink jy jy was gereed om alles te hanteer wat saam met provinsiale krieket gekom het?
Wat krieket self aanbetref, dit was seker so ‘n bietjie te vroeg vir my. Dit het my 4 jaar gevat voor ek my eerste 100 vir WP in die A-seksie aangeteken het. Omdat ek so jonk was en die meeste ouens was 7 of 8 jaar ouer as ek, moes ek vinnig die aanpassing maak van skoolkind af na ‘n grootmenswêreld. Ek sê nie ek het enige regrets daaroor nie, ek is te spontaan en te instinktief om spyt te wees oor enigiets wat toe gebeur het. Ek lewe my lewe so vol ek kan en ek sal niemand anders terughou om dieselfde te doen nie. Daar is een of twee goed waaroor ek baie skaam is, maar ek het my punishment gevat op die ken en ek het aangegaan. Hier is ek vandag. Ons almal maak foute, party meer as ander, maar dis die lewe. Niemand is perfek nie, selfs Tiger Woods is nie.

Maar wat van die emosionele aanpassing?
Om met die verwagtinge saam te leef was nie altyd maklik nie. Ek was op ‘n jong ouderdom blootgestel aan baie. Almal het gedink ek is die next best thing. Krieket was nie my eerste liefde nie, sokker was, maar dit was my nie bestem nie. So ek het vir 14 jaar opgegroei met die idee dat ek nie ‘n krieketspeler gaan wees nie en toe ek uiteindelik een word – ek dink nie ek het so sleg gevaar nie. Ek het myself nooit ingeperk om nie my lewe te lei nie al het ek krieket gespeel. Om my lewe te lei was vir my net so belangrik as om krieket te speel.

Jy praat in jou boek dat jy in rehabilitasie eintlik vir die eerste keer oopgemaak het oor jouself en dat jy voor dit nooit regtig openlik met mense oor jou gevoelens gepraat het nie. Waarom?
Selfs in rehab was dit moeilik in die begin om oop te maak. Jy is tussen ‘n klomp vreemde mense en nou moet jy hulle vertrou om met anonimiteit te deal met jou diepste, donker geheime. Dit was ‘n interessante evaring. Dit is waarom ek dit so baie geniet het. Om vir 20 jaar op die pad te leef, om deur al hierdie issues te gaan – my familie was nooit so close nie en ek het ook nie so ‘n oop verhouding met my pa gehad nie. Ons het nie oor diep goed gesels nie. My pa was instrumenteel in my grootwordproses en hy het sy alie afgewerk om ons in die skole te kry waarin ons was. Maar omdat my lewe die heeltyd op die pad was, was kommunikasie maar moeilik.

Kon jy enigsins ‘n verhouding aan die gang hou?
Dit werk vir party en vir party nie. Maar die boek en rehab was ‘n selfbevredigende ding vir my.

En die boek, watter rol speel dit in die afronding van jou rehab?
Aan die einde van rehab moet jy jou lewensverhaal voor almal vertel. Ek was OK om oor almal in my lewe te praat en ek het eers ineengestort toe ek oor myself moes praat. Ek vind dit nogal bisar, want dis ‘n teken dat ek myself en my familie teleurgestel het. Dit het eers aan die einde van rehab by my geregistreer dat ek my familie saam met my aftrek. Na daardie proses het ek soos ‘n nuwe mens gevoel en daarom het ek nie besware gehad dat ek my lewensverhaal in ‘n boek vertel nie. Ek weet nie of ander spelers wat later hul lewensverhale gaan skryf so eerlik sal wees nie. Maar ek was nog altyd uitgesproke en ek het dit as ‘n geleentheid gesien om die verhaal eerlik te vertel soos dit die afgelope twintig jaar was. Ek hou van die gesegde: “I’d rather be disliked for the person I am, than liked for the person I am not.” Mens kan nie almal gelukkig maak nie en ek het geweet ek sal kritiek kry oor die boek, maar ek moet dit maar op die ken vat. As ek ‘n paar mense uit my lewe verloor, dan is dit maar so, maar ek wil eerder hê dié wat bly, moet my respekteer vir my eerlikheid.

Hoe het jy die verwagtinge en die druk op jou hanteer deur jou loopbaan?
Hopelik as die mense my boek lees, sal hulle besef ek wou nooit regtig ‘n krieketspeler wees nie. Maar toe ek eers vir SA gespeel het, toe was dit vir my ‘n eer. Ek wou altyd die beste lewer vir my Nuweland-fêns, maar ongelukkig het ek my beste krieket weg van Nuweland af gespeel, by die Wanderers en Kingspark. Miskien het ek te hard probeer elke keer as ek op die veld gestap het by Nuweland. Dit was elke keer vir my so groot thrill as ek die omgewing, die berge gesien het en die fêns gehoor het. By die ander stadions was dit net hierdie betonmassa en jy kon eintlik aan niks anders dink as net krieket nie. Dit op ‘n manier sê baie van hoe ek my krieket gespeel het op Nuweland. Daar is meer in die lewe as net krieket en dis hoe ek my lewe lei. Vir my gaan dit oor meer as net krieket.

Hoe hou dit verband met alkohol en die misbruik van alkohol?
Miskien toe ek as sestienjarige begin speel het. Toe ek net begin speel het, het ek en Eric Simons altyd melkskommels gedrink. Maar daar was ander ouens wat nie van melkskommels gehou het nie en dit is maar waar dit begin het. Dit was soos olie op die vuur en ek het van die smaak van alkohol gehou. Sommige jare was daar meer drank as ander. Maar waar ek vandag is, ek is net so verveeld daarmee om dronk te wees en die volgende dag nie te onthou wat die vorige aand gebeur het nie. Ek geniet dit nie meer soos ek dit geniet het nie. Dis lekker om te onthou wat die vorige aand gebeur het.

En nou? Jou verhouding met alkohol?
Ek het nooit wyn by die huis aangehou nie dis nie asof ek op my eie drink nie. Ek is ‘n sosiale drinker wat saam met ander mense ‘n drankie maak. Ek hou nie meer van die hectic tye nie, ek het dit ontgroei. Alhoewel ek nou en dan dit steeds bietjie verloor. Die rehab-ding was ‘n ultimatum wat aan my gestel was en daarom moes ek dit doen, as ek enigsins weer vir die Proteas wou speel. Maar dit was highly beneficial.

Kan ons praat oor getrouheid en sportmanne?
Dit was een spesifieke toer. Ek weet nie waarom dit gebeur het in ‘98 nie. Dis nie asof dit op elke ander toer gebeur het nie, maar dit het gebeur. En dis nie te sê dit gebeur vandag nog nie. Ek wou nie name noem nie en die storie gaan eintlik oor my. En daar wás twee wingmen op die toer, maar dit was ‘n lang tyd gelede en dis nie asof dit nou is nie. Party mense kan die temptations hanteer en ander nie.
Dit kan eensaam wees op toer. Later het ons het nie meer kamermaats gehad op toer nie. Deesdae kan girlfriends en vrouens nou meer gereeld saam met die ouens op toer gaan. Daar is ouens wat dit kan hanteer, maar ander nie. Australië was anders, daar het die meisies in die aande by die hotel vir ons gewag en ek was maar 24 jaar oud daardie tyd en hoekom sou ek nee sê vir iets wat vir my op ‘n skinkbord aangebied word?

En jou egskeiding?
Dit was nie moeilik om die besluit te maak om te skei nie, want ek het geweet ek doen die regte ding. Die media het gemaak asof dit Teneille was wat wou skei, maar dit was ek. Sy wou nie. Ek het my bedenkinge al gehad oor getroud wees toe ek voor die kansel gestaan het en die troubelofte afgelê het. Ek het haar ontmoet in 2003 en ons het eers in 2005 bymekaar uitgekom. Ek was so mal oor haar en daarom het ek haar in 2005 gevra om Wes-Indië toe te kom. Die fout lê by my. Ek was so lank op die pad. Miskien sal ek eers regtig kan werk aan ‘n verhouding as ek lank genoeg by die huis is om te kan verstaan wat ‘n verhouding regtig verg.
Vroue wat met sportsterre trou, weet ook waarvoor hulle hulself inlaat. Ek het geweet ek het die regte meisie, maar ek was net nie gereed nie. Ek dink ek is steeds nie regtig gereed vir ‘n vaste verhouding nie. Ek dink aan die einde van my krieketloopbaan sal ek ‘n vaste verhouding heroorweeg.

Hoe belangrik is spangees en wat beteken dit vir jou?
Dis baie belangrik Dit gaan oor spandinamika. Jy kan nie ‘n suksesvolle span hê as almal nie inkoop in die beginsels wat die span daarstel nie. Die span is oor die jare deur verskillende kapteins en afrigters en dit het ‘n invloed op spangees. Vir my gaan spangees daaroor dat mens tyd vir mekaar moet maak. Ek het nooit te na aan een persoon in die span gekom nie, maar ek het tyd vir almal gemaak. Ek is ‘n gemaklike mens en ek kan met enigeen gesels, maak nie saak of dit ‘n senior speler of ‘n nuweling in die span is nie. In 1999 was daar nie baie juniors nie, dit was ‘n span wat baie gesettle was wat lank saam gespeel het en dit het dit lekker gemaak.

Jou gunsteling-kaptein en hoekom?
Hansie. Hy het die respek van almal gehad en in die 14 jaar wat ek speel, kon ek al die kapteins vergelyk. Hansie was ‘n baie gewilde kaptein by spelers en die publiek. Almal was in awe van hom en hy het ‘n groot invloed op almal gehad. Omdat ons opgekyk het na hom was dit moeilik om vir hom nee te sê. En ek was so jonk – ek kon nie altyd uitfigure of hy ernstig was en of hy gespeel het nie. Mens wou altyd in sy goeie boekies wees. Baie mense was teleurgesteld toe die hele debakel van match fixing uitgekom het.

Hang dit nog soos ‘n swaard oor jou kop?
Dit sal altyd oor my kop hang. Dit was die grootste skandaal wat krieket ooit getref het. Dis maar deel van die geskiedenis en ek moet maar daarmee saamleef. Daar sal altyd iemand wees wat my daaraan sal herinner. Tiger Woods het ook maar dieselfde – omdat hy so groot was, sal mense sy skandes ook altyd onthou. Dis maar deel van die lewe.

Het jy ‘n krieketmentor?
Toe ek begin open het vir SA, het ek saam met Gary Kirsten gespeel. Ek het lank saam hom gespeel by WP en het van die begin af ‘n liking in hom gehad, want hy was jonk van gees en so. Ons het ons band van jongs af gebou en hy was intrumenteel in my sukses as openingskolwer in die jare toe ek consistent was. Ons het dit nie moeilik of gekompliseerd gemaak vir mekaar nie. Ek het altyd van sy geselskap gehou. Die dag toe hy uitgetree het, ek kon nie ophou huil nie. Al die emosie van die jonger dae af en so het toe tot ‘n einde gekom. Ek sien hom nie dikwels nie, maar wanneer ek hom sien, dan is die band steeds daar.
En natuurlik Vincent Barnes. Hy het opgehou speel kort na ek begin speel het en hy was my kamermaat. Vinnie was daar deur my hele loopbaan en hy het die mantel by Gary oorgeneem. As ons wou chat, het hy ‘n pot tee bestel (Vinnie drink nie) en dan het ons die lewe en alles wat daarmee saamgaan bespreek. Hy is amper soos ‘n pa vir my.

Gunsteling-formaat van die spel?
Toetskrieket is steeds die ultimate toets van jou vaardighede en potensiaal.

Jou pad vorentoe?
Daar is spanne in die wêreld wat my wil teken vir 20/20. Ek sal dalk soos ‘n Kieran Pollard word en net in die formaat van die spel speel. Ek het nie toetskrieket gespeel van 2008 af nie en ek glo nie my kontrak sal weer hernu word nie. Die eendagspan is baie gesettle en ek kan nie sien dat hulle dit sommer sal verander nie. Daar is baie talentvolle jong spelers wat nou in die game is.

Watter boulers teen wie jy gespeel het, het jou die meeste uitgedaag?
Glenn McGrath, Shane Warne en Shoaib Akhtar oor die verskillende maniere wat hulle mens challenge. Akhtar het ‘n baie lang aanloop voor hy die bal boul en daar gaan baie deur jou kop terwyl jy wag vir die bal. Warne met al sy streke en chirps – hy was net lekker om teen te speel. McGrath weer was so ernstig.

Jy skryf in die boek oor jou voorliefde vir mooi klere. Vertel bietjie meer van jou styl.
My dress sense kan ek op my ma plaas. Sy het altyd van kleins af vir my gesê ek moet ordentlik en op my beste lyk. Ek dink ek is so bietjie van ‘n trendsetter as dit by krieketspelers en aantrek kom. Maar deesdae lyk dit my die spelers begin meer stylvol aantrek. Ek hoop dis my invloed wat bietjie afgegee het daar, (hahaha). Ek hou van mooi goed en as mens soos ek is, dan wys dit aan jou klere. Ek wil modieus en trendy wees. Ek hou van Dolce & Gabbana se mansreeks – dis die mees consistent. Ek is ook mal oor Flavio Briatore se Billionaire Italian Couture. Maar dit kan ek net bekostig as daar ‘n 70%-af uitverkoping is. Ek het drie pare Dolce & Gabbane-skoene drie jaar gelede gekoop en ek kon net nog nie weer sulke skoene kry waaroor ek so mal is nie. Ek het dit in swart, burgundy en blou. Ek moes dit net hê.

Voor ek en Herchelle finaal groet het hy vir oulaas ‘n laaste woordjie oor vroue, met so skalkse laggie.
Ek vind die Afrikaanse vroue in Pretoria en Bloemfontein is baie well shaped en atleties en baie goed versorg.

5 Dinge wat jy nie van Herschelle Gibbs weet nie:

  • Ek dra Nivea Moisturiser.
  • Ek het nog nooit my beenhare of borshare afgeskeer nie.
  • Ek is mal oor KFC.
  • Ek wil graag ‘n Engelse skaaphond as ‘n troeteldier hê.
  • Ek het nie stokperdjies nie, ek brei nie, ek hekel ook nie en ek lees ook nie.
  • Susan

    Dat hy nie lees nie is voor die hand liggend. Dit daar gelaat.

  • Gustav

    Hy bly n hero!!!!

  • lourens

    hy bly die baas .die ander is net jaloers omdat hy al die girls kry.

  • Dave

    You are only human being. You will stay a nice guy in my books.

  • Pulani

    Huh, hoe bedoel Susan nou?? Niemand kan stry dat hy ‘n uitstekende krieketspeler is/was nie..

  • Martin

    ou gibsy, jy bly n legende, sal nooit jou knock vergeet teen die ausies toe hulle daai 400+ lopies gemoker het nie. Jy het die game altyd lewe gegee en jy sal onthou word daarvoor.

  • beni

    Herscelle is maar net n doring in baie se vlees, min sal kan vermag wat hy vermag het nie veral nie ses sesse in n boulbeurt nie

  • 1AVAz2 voylvooirvxf, [url=http://viipeywbgeym.com/]viipeywbgeym[/url], [link=http://vwbyirbpulbx.com/]vwbyirbpulbx[/link], http://tbebiuuaneuu.com/

  • qglxjwwvw

    baMGXC lxldjtnapvuj, [url=http://grmjykonhnlc.com/]grmjykonhnlc[/url], [link=http://yjnnbjhdtehh.com/]yjnnbjhdtehh[/link], http://aytbfjjjbagk.com/

  • cgduhvvqbi

    gZZ2nm bbctqfnfrwsb, [url=http://xwkqgejpmpte.com/]xwkqgejpmpte[/url], [link=http://csdlfqcyhgqq.com/]csdlfqcyhgqq[/link], http://cjzokptrzodm.com/