jeffrey_archer
Boeke

5 Boekminute met Jeffrey Archer

Dit verklaar waarom miljoene mense sy boeke koop, want hy is van nature ‘n storieverteller.Hy is tans in Suid-Afrika om The Sins of the Father (Macmillan, R275) bekend te stel. Dis die tweede in ‘n reeks van 5 boeke oor die Clifton- en Barrington-families.

Die eerste een, Only Time Will Tell, begin in 1919 en speel grootliks in Engeland af. Dit vertel Harry Clifton se verhaal van geboorte tot 1940, wanneer hy Emma Barrington voor die kansel laat staan, sonder om die huwelik deur te voer. Die groot vlieg in die salf is Emma se pa, Hugo, want is hy of is hy nie ook Harry se pa  nie. . .

Die tweede boek speel af in Amerika, waar Harry eindig wanneer die skip waarop hy Engeland verlaat het deur die Duitsers gesink word. Hy beland in die tronk, omdat hy ‘n ander man se identiteit aangeneem het om te ontvlug van alles wat hy in Engeland agtergelaat het. Emma weier om van Harry af te sien en volg sy spoor na Amerika totdat sy hom uiteindelik opspoor en hulle wel tot trou kom. Al Harry se wedervaringe en van die goed wat met hom gebeur, kon netsowel deel van lord Jeffrey Archer se eie lewe gewees het.

Hy skroom nie om oor sy kleurryke verlede te praat nie, van hoe hy amper bankrot was en uit desperaatheid begin skryf het, van hoe hy in die tronk beland het en selfs dié ervaring in geld omskep het in sy boeke oor sy tyd in die tronk. Hy laat jou baie goed verstaan dat alles wat hy bereik het deur sy harde werk en toewyding is. Vandag is daar geen tekort aan geld nie en sy kinders sal heel goed kan leef wanneer hy die dag sterf. Maar, sê hy vinnig, hy gaan baie van sy rykdom (wat in kuns belê is) weggee, want hy kan dit tog nie saamneem na die hiernamaals nie. Nie dat hy al gereed voel vir daardie paadjie nie.

Ek is ná ons ontmoeting ‘n slaaf van hom en kan nie wag vir die volgende aflewering in Harry Clifton se saga nie. Sy eie storie het my gevang – hook, line and sinker!

Daar is al meer as 700 miljoen eksemplare van jou boeke verkoop. Raak jy steeds senuweeagtig wanneer ‘n nuwe boek gepubliseer word?

Ek is ‘n senuweebol. In teenstelling met toe ek begin skryf het, weet my uitgewers nou vooraf hoeveel boeke reeds bestel is nog voor die boek die mark tref. Met hierdie boek het 27 000 mense dit reeds voor publikasie bestel. Ek wil mense nie teleurstel nie, daarom maak dit my soms ‘n bietjie bang. Erger vir my is wanneer ek die volgende boek voltooi het en ek die manuskrip aan my agent, ‘n dierbare vriend wat baie kwaai is, gee. Ek weet boek twee moet beter wees as boek een, en boek drie weer beter as boek twee, want boek twee se verkope het met 127% gestyg. As dié reeks wegspring, gaan dit ‘n warrelwind wees teen die tyd dat ek by boek vyf kom. Dit gaan buite beheer wees; dis wat ek wil hê. Tog maak dit my senuweeagtig, want ek wonder elke keer of ek dit weer kan doen.

Waarom in hierdie gevorderde stadium van jou lewe ‘n reeks van vyf boeke aanpak?

Omdat ek ‘n dwaas is. Toe ek 70 geword het, het ek vir myself gesê ek gaan ‘n reeks van vyf boeke in vyf jaar skryf – om myself te dryf en te fokus op ‘n doelwit. Ek het nie besef wat ek aangepak het nie. Sou die eerste boek misluk het en die tweede een het nog minder verkoop, sou die uitgewers dink dis ‘n dilemma, want daar is nog drie op pad. Dank die hemel dit het anders gebeur. Dit inspireer my en maak my nog meer vasberade.

Oud word? Ek is nou 72. Ek kan môre sterf. Ek het ‘n persoonlike afrigter. Ek hardloop drie keer ‘n week en oefen ook drie keer ‘n week. Ek hou my dieet dop. Ek het steeds die energie. Miskien moes ek toe ek die besluit geneem het, myself afgevra het of ek dit sal kan volhou. Maar ek het nie. Ek glo ek kan dit doen. Die derde boek is basies al geskryf en ek is seker ek kan nog twee skryf.

Gaan daar verrassings wees in die derde boek?

Dis die storie van die derde generasie, Harry en Emma se seun, Sebastian, en alles wat in sy lewe gebeur, ook al die bagasie wat hy saamsleep. En dan is daar die dogtertjie in die mandjie . . .

Wat het die reeks vir jou afgeskop?

Ek het net gedink ek kan met die lewe wat ek gelei het en met die kennis wat ek het so ‘n reeks aanpak. Dis ‘n groot onderneming. As ek geweet het hoe groot, sou ek twee keer gedink het, maar ek het oudergewoonte met my oorvloed geesdrif ingestorm en aangegaan. Ek is gelukkig, want ek kon skryf oor die plek waar ek gebore is en grootgeword het en oor die mense van my generasie. Dit was baie natuurlik. Ek weet nie aldag waar die kinkels vandaan gaan kom nie, maar dit kom! Partykeer duik daar ook ‘n karakter op wat daarop aandring om in die storie te bly. In die eerste boek was ou Jack so ‘n karakter. Hy is gebaseer op die soldaat aan wie ek die tweede boek opgedra het. In die tweede boek het die eksentrieke Aunt Phyllis bloot geweier om vinnig pad te gee uit die storie en sy maak weer haar verskyning in die derde boek.

So hoe ver vooruit beplan jy die verhaal?

Drie bladsye. Ek het geen idee wat voorlê nie. Ek weet nou al wat in die derde boek gebeur, want ek het al agt keer die manuskrip herskryf. Maar as jy vra wat in boek vier en vyf gaan gebeur, kan ek jou nie antwoord nie. Ek weet nie. Ek moet net fokus op boek drie, want ek weet al die lesers wag daarvoor en ek wil hulle nie teleurstel nie.

Is jy ‘n gedissiplineerde skrywer?

Ek is van nature geweldig gedissiplineerd. My vrou, Mary, ook. Dit pas my nie om eens drie minute laat te wees nie. Ek hou daarvan om sesuur soggens te begin. Ek breek my dag op in segmente van twee uur elk. As ek vyf minute laat begin, dan pla dit my. Ek hou daarvan as alles volgens ‘n patroon verloop, want dan kan ek net op die boek konsentreer. Ek het vriende wat saans sit en whisky drink en dan ‘n paar reëls neerpen. Maar dis nie ek nie.

Jy het ‘n kleurryke lewe, jou amper-bankrotskap en jou tronkstraf in 2001. Dit lyk altyd asof jy al die terugslae met gemak oorkom. Hoe moeilik was dit om jou reputasie te herstel?

Dit sou onmoontlik gewees het sonder die lojaliteit van my vriende. Nadat ek uit die tronk gekom het, het ek my gebruiklike Kersparty gehou en 96% van die mense wat ek genooi het, het opgedaag. Die koerant het selfs ‘n spotprent daaroor geteken, want hulle het voorspel niemand sou opdaag nie. Hulle was verkeerd. My vriende het by my gestaan. En die publiek – hulle het my dadelik weer die nommer 1-posisie laat inneem. Ek is ‘n optimis en glo ‘n mens kyk nie terug nie, maar vorentoe.

Hoe het die tronk jou uitkyk op die lewe en jou werk verander?

Ek het besef hoe bevoorreg ek was en hoe gelukkig. My een enkele eenvoudige geskenk van God is om stories te kan vertel. Ek is ‘n storieverteller, nie ‘n skrywer nie. Dis soos om ‘n ballerina, skilder of pianis te wees en as jy jou piek bereik, is jy gelukkig. Jy moet hard werk, maar as jy nie die gawe het nie, mors jy eintlik jou tyd. Nadine Gordimer het verlede week 253 boeke verkoop en sy het die Nobelprys gewen. Niemand twyfel dat sy ‘n briljante skrywer is nie. Maar 253 boeke? Ek sal dit nie doen nie. Om twee jaar aan ‘n boek te spandeer en dis hoe dit verkoop . . . Ek het ook geleer van mense wat nie voorregte het nie. Ek tel elke dag my seëninge. My boeke is in byna elke boekwinkel in die wêreld, boonop nommer 1 in elke land in die wêreld. Ek is baie, baie gelukkig.

Jy praat heeltyd oor jou geluk. Is jy gelukkig om ‘n baie lojale vrou te hê wat deur dik en dun by jou gestaan het?

Sy het. En ek het by haar gestaan. Mense kry dit soms agterstevoor. Dis ‘n tweerigting-ding. Mary is ‘n merkwaardige vrou. Sy is voorsitter van een van die voorste hospitale in Europa, Cambridge Universiteit, met 3 000 verpleegsters en ‘n 1 000 dokters, van wie drie Nobelpryse gewen het. Dit wil gedoen wees. Sy is steeds een van die mooiste vroue wat ek ken. En sy jaag mans die skrik op die lyf. Ek is net bang vir haar. Ander mans is verskrik.

Stel sy belang in jou boeke en lees sy dit?

Nie van nature nie. Sy lees dit omdat sy my vrou is. Sy is nie een van my bewonderaars nie. Sy sal nie uitgaan en ‘n Freddy Forsythe, ‘n John Grisham of ‘n Jeffrey Archer koop nie. Dis nie haar wêreld nie. Sy is nou opgesaal met ‘n man wie se boeke 700 miljoen eksemplare verkoop het. So sy lees dit. Ek dink dit amuseer haar ligweg dat ek onder die twee topverkopers in die wêreld is. Sy verstaan dit nie. Sy is ‘n akademikus en woon in ‘n akademiese omgewing met baie slim mense wat waarskynlik effens minagtend is oor die populêre. En ek is ‘n populis.

Jy moes al baie veranderings in jou lewe hanteer, so ook die tendens van sosiale media. Is jy deel daarvan?

Ek is ‘n koning. Ek blog, ek is op Facebook en ek twiet. Ek toer nie meer nie. Dis baie uitsonderlik as ek dit doen. As jy ordentlik blog en jou Facebookblad en Twitter reg bestuur, dan verkoop die boeke hulself. Ons leef in ‘n nuwe wêreld en ek omarm dit. Ek het by die jong mense geleer hoe om die nuwe sosiale media in te span. Ek skryf egter steeds alles met die hand en dan tik my sekretaresse dit.

Politiek speel ‘n groot rol in jou boeke. Stel jy steeds aktief in die politiek belang?

Beslis. Ek het baie vriende in die Britse laer- en hoërhuis. Ek is steeds ‘n lid van laasgenoemde, maar ek is nie aktief nie. Ek praat wel dikwels met hulle en bly op hoogte. Ek is nie meer ‘n politikus nie, maar fokus op my skryfwerk en kan met gesag oor die politiek skryf in my verhale.

Het jy nog kontak met jou voormalige politieke kollegas lady Thatcher en John Major?

Ja, ek is lief vir hulle. Hulle is baie lojaal. Ek het ook nie die rolprent oor lady Thatcher se lewe gaan kyk nie. Ons is reeds 30 jaar lank vriende – van voor sy premier was, tydens en daarna. Ek het baie te doene gehad met haar biografie, om haar in kontak te bring met my agent en my uitgewer. So het ons vriendskap hegter geword. Ek kan nie na die film gaan kyk nie.

In hierdie reeks boeke vorm die klasseverskil deel van die storie. Was daar ‘n merkwaardige verskil hieroor in die moderne samelewing?

In my leeftyd het dit verander. Toe ek ‘n kind was, het jy die hoër klas, die hoër middelklas, die lae klas en die arbeidersklas gekry. En nou is daar nie meer so iets nie. Dis ‘n nuwe wêreld. Tog is daar steeds geweldige snobisme in Engeland. Daar is steeds tweederangse mense wat aan die verlede vasklou, want dis al wat hulle het. Maar hulle is in die minderheid.

Watter een van jou boeke het jou lewe verander?

Kane and Abel. ‘n Miljoen eksemplare het binne die eerste week verkoop. Dit was op die topverkoperlys vir 57 weke. Dis nie my gunsteling-boek wat ek geskryf het nie. Ek is baie trots op Paths of Glory. Dis soveel anders as alles wat ek al geskryf het. Maar as ek die reeks oor die Cliftons regkry, sal dit my grafskrif wees.

 

  • Alida Vos

    Lekker onderhoud, ek kan nie wag om die boeke te lees.