Boeke

5 Boekminute met Lee-Ann Steenkamp

Lallie is ‘n labrador en sy woon op die plaas Arbeidsvrugt in die Douvallei. Dié bekkige, dapper hondjie woon by haar basie, Loekie. Hy is ‘n laerskool-seuntjie en ook Lallie se beste maat in die wêreld. Wanneer Loekie skool toe gaan, gaan sy op ‘n avontuur op die plaas. Natuurlik ontmoet sy elke dag ‘n hele klomp nuwe vriende. En soos dit ‘n tipiese meisie betaam, klets sy land en sand aanmekaar. In hierdie avontuur ontdek sy ‘n seekoei. En dit lei tot ‘n dilemma, want moet sy vir Loekie vertel of moet sy nie.

Lallie se memwhaars, die Zeekoei (R49 + posgeld) is die eerste boekie in ‘n reeks “memwhaars” van Lallie. Dis ‘n heerlike storietjie met ‘n lessie om voor te lees, maar ouer kinders kan ook self lees. Bestel by www.lallie.co.za, waar kinders ook kan aansluit by die Lallie-klub vir speletjies en ander projekte. Dis Lee-Ann Steenkamp se eerste boek. Ek het haar per e-pos uitgevra oor waar die karaktertjie ontstaan het.

Dis jou eerste boek. Wou jy nog altyd skryf?
Ja, die begeerte om spesifiek kinderboeke te skryf kom al van my kinderdae af. Ek dink dit was ‘n natuurlike uitvloeisel van ‘n totale boekwurm wees – ek kon voorskool al lees en my liefdesverhouding (obsessie?) met boeke groei net elke jaar.

Hoekom juis ‘n kinderboek?
Daar is net iets magic aan die fantasiewêreld waarin kinders leef. Ek dink ek probeer daai kinderlike gevoel van “enigiets kan gebeur” weer vasvang. Ek glo kinderboeke moet jou op ‘n avontuur neem en jou verbeelding stimuleer. Kinders moet self die karakters visualiseer en hulsel inlééf in die verhaal!

Kom jy uit ‘n kreatiewe familie?
Ek dink elke persoon het iets kreatiefs in hom/haar. Toe ek my ma half paniekerig genader het om met die sketse te help, het sy ‘n lank sluimerende talent vir teken ontdek! My ouma was baie kreatief; ek onthou sy het belangrike dokumente vir mense in sierskrif oorgeskryf. Ongelukkig het nie een van ons ooit formele opleiding ontvang nie. Behalwe vir my rekeningkunde-graad – wat nou nie juis kreatief is nie!

Het jy self die boek geïllustreer?
Ja, met baie gebed en opgefrommelde papier! My ma het sommige van die karakters (die zeekoei en Meester Mol) in potlood geskets en ek het dit in waterverf oorgedoen. Ek het ‘n magdom foto’s van baba-labradors gebruik om Lallie te skets. Die skryf kom natuurlik, maar ai, die teken is ‘n ander saak. En Lallie wil nooit lank genoeg stil sit nie.

Hoekom het jy besluit op ‘n hondjie as die hoofkarakter in jou reeks boekies?
My man, André, het vir my ‘n speelgoed-labrador gegee om my te troos nadat ons my ma se een kat moes laat uitsit. Die uitdrukking op haar gevreetjie is kostelik en jy kan sommer sien sy brand om iets te sê. Ons het rondgegrap en hy het met haar verspotte sê-goed vorendag gekom. Hy het haar moves met haar “têzzie” ook uitgedink. En wie hou NIE van ‘n labradorhondjie nie? Ek dink die meeste kinders voel van nature veilig by ‘n labrador – en die babahondjies is te oulik!

Waar kry jy jou inspirasie vir Lallie se avonture?
Ons kuier gereeld by my ma in Piketberg en by André se ouers in Heidelberg. So die idee van ‘n plaas op ‘n berg het my nog altyd ge-tickle. Ek voel geborge as ek omring word deur berge en ek wou dieselfde gevoel in my boek skep. Wat die storielyne betref, dit kan net van die Here af kom, want g’n mens kan met sulke koddige karakters vorendag kom nie! My idee met die boek is dat kinders ‘n waardevolle lessie saam met Lallie leer, sonder dat dit prekerig klink.

Ek sien Lallie het haar eie webwerf en klub. Vertel meer.
Ja, Lallie het daarop aangedring! Die webwerf is sodat voornemende lesers vooraf ‘n bietjie meer oor Lallie kan uitvind voor hul die boekie koop. Daar is gratis speletjies en skooltake om leerders aan te moedig om (in hul moedertaal) nuwe goed op ‘n prettige wyse te leer. Die klub se lidmaatskap is gratis en help Lallie om haar fans op hoogte te hou van haar doen en late.

Wat doen jy as jy nie skryf nie?
Lees! Skryf resensies vir SARIE. En baklei met die SAID (Suid-Afrikaanse Inkomstediens) oor belastingopgawes!

Lees jy kinderboeke? En het jy ‘n gunsteling-soort kinderboek?
Ek verslind hulle! Ná ‘n lang dag van wette ontsyfer en berekeninge doen, is kinderboeke ontspannend en ‘n groter ontvlugting as grootmensboeke. Ek is versot op Winnie-the-Pooh-boeke. Volwassenes kan hulself gerus die guns doen en dit lees, want die humor daarin is absoluut op ons gerig. Dan is ek ook lief vir Beatrix Potter se boeke, die Anne of Green Gables-reeks, The Secret Garden, Black Beauty, Maasdorp en Saartjie!

Wanneer kan lesers die volgende aflewering van Lallie se “memwhaars” verwag?
Die tweede boekie is klaar geskryf en ek en my ma wil aan die illustrasies werk tydens die Desember-vakansie. As finansies dit toelaat (want ek gee dit self uit), sal die boek volgende jaar vanaf September (dalk al vroeër) op die webwerf beskikbaar weees. Ek werk reeds aan die derde boek se storielyn. Ek weet al: Lallie wip baie vinnig haar têzzie as ek nie gou genoeg haar memwhaars skryf nie!