line_hadsbjerg
Boeke

5 Boekminute met Line Hadsbjerg

Haar boek, Remarkable South Africans (Fonart Publishing, R475), bewys dit. Hierin, tesame met die fotograaf Pep Bonet, word 27 gewone Suid-Afrikaners se verhale vertel. En hoe hulle in hulle gemeenskap ‘n verskil maak. Maak nie saak hoe klein daardie verskil is nie, dis ‘n verskil ten goede van hulle gemeenskap en dit help weer die land. Baie van hierdie mense is arm. Tog gee hulle van hulself en probeer om op ‘n beskeie wyse ‘n beter lewe vir almal te skep.

Die Ngcece-gesin van Dweshula in Kwazulu-Natal woon in die arm landelike gebied waar geen lopende water of elektrisiteit is nie. Dis ‘n strawwe lewe, want armoede hier is aan die orde van die dag. Hulle glo hulle moet strewe na ‘n beter lewe en hulle moet die mense rondom hulle ook help om saam te strewe na ‘n beter lewe. 

Elkeen wie se verhaal hier vertel word, is inspirerend. Die foto’s is uitsonderlik en wys baie duidelik ook die uiteenlopendheid van die land en sy mense.

Hierdie boek is die begin van ‘n projek waar elkeen van ons ‘n beskeie begin kan maak. Die boek is beskikbaar by Kalahari.net, Exclusive Books en Amazon.co.uk. Die skrywer en die fotograaf is werklik merkwaardige mense!

Ek het per e-pos met Line Hadsbjerg gesels oor die projek.

Vertel my bietjie meer van jouself.
Ek is in ‘n nomadiese leefstyl gebore. Hoewel ek oorspronklik Deens is, het ek as kind in Kenia gewoon, waarna ons na Suid-Afrika verhuis het. Ek het my skoolloopbaan in SA voltooi. Ek het met ‘n voet in elke kontinent geleef: Europa en Afrika, en dit doen ek steeds!
Nadat ek my BA graad in Antropologie en Engels aan die Universiteit van Kaapstad voltooi het, is ek Engeland toe om my Meestersgraad in International Development Studies daar te behaal. Hierna is ek na Brussel – ‘n wêreld van politiek, Europese aangeleenthede en wandelgangpolitici. Maar die onbekende horisonne het my altyd geroep en ek en (later) my man het oor die Atlantiese Oseaan geseil en uiteindelik anker gegooi by die eiland Majorka aan die kus van Spanje.

Hier het ons ‘n reisagentskap begin en het tailormade reise aangebied na Oos- en Suidelike Afrika. Ek wou egter terugkeer na my passie – ontwikkeling – en in 2006 was ek ‘n medestigter van ‘n aanlynplatform, betterplace.org – waar mense maklik en eenvoudig kan gee vir verdienstelike projekte.
In 2008 het ek aan my boek, “Remarkable South Africans”, begin werk. Dis in 2010 gepubliseer.
Hierdie projekte en die feit dat ek die ma is van twee dogtertjies hou my baie besig!

Hoe het die idee vir jou boek ontstaan?
Deur betterplace.org is ek blootgestel aan ‘n paar baie inspirerende projekte en ek wou die mense agter die inisiatiewe leer ken – baie van die projekte was regtig afgeleë en op voetsoolvlak. So het ek besluit om my begeerte om te skryf te kombineer met my passie vir positiewe verandering en ontwikkeling in ‘n land wat ek liefhet. Dit het gelei tot die boek.

In plaas van om op die projekte te konsentreer, wou ek op die mense fokus – en nie net op bekende glansmense nie, maar ook op die “everyday giants” van ons nasie – individue wat ten spyte van hulle beperkte bronne, steeds van hulself gee, meer as wat hulle kan bekostig en bydra tot die welstand van die mensdom.

Hoeveel mense het jy ontmoet op jou reise op soek na hierdie mense?
Dis onmoontlik om ‘n syfer te gee. Elke ontmoeting het tot meer gelei. Elke inspirerende individu het oor hulle eie helde gepraat. Daar is so baie mense wat ons kon insluit in die boek, daar is soveel stories wat nog vertel kan word.

Soos ons gereis het, het ek al hoe meer besef elkeen van ons het ‘n storie, ons het almal die kapasiteit om ‘n uitsonderlike Suid-Afrikaner te wees. En in ‘n land soos Suid-Afrika is daar meer as genoeg geleentheid om uit te reik na dié in nood.

Hoe het jy die 27 mense gekies wat in die boek beskryf word?
Ek het myself nie tot ‘n sterk kriterium beperk nie, om die waarheid te sê, baie is gekies op gut feeling. Ek probeer so veel moontlik dat die stories na my toe kom. Mense kon via my webwerf www.remarkableworld.org mense benoem, mense wat hulle gevoel het merkwaardige Suid-Afrikaners is. Baie van die mense wat in die boek is, het só by my geland – deur individue wat persoonlike verhale vertel het oor mense wat hulle inspireer.

Natuurlik is daar ‘n klompie bekende name soos Aartsbiskop Desmond Tutu, Minister Trevor Manuel of Johnny Clegg – maar ek wou doelbewus stories insluit van totale onbekendes wat uit hulle pad gegaan het om hulle gemeenskappe te bevoordeel, en sodoende ook die nasie.

Hoe het jy en Pep Bonet, die fotograaf, by mekaar uitgekom?
Soos met vele goeie idees, oor ‘n glas rooiwyn! Ek was by ‘n wynproe by ‘n wynkelder op Majorka, waar ‘n uitstalling van Pep se werk was. Ek is daar vort met een van sy boeke onder my arm en ‘n baie sterk voorgevoel dat ek dié man moet ontmoet. Toe het ek nog nie eens aan my boek gedink nie. Ses maande later het ons uiteindelik ontmoet en ek het toe my idee vir Remarkable South Africans aan hom voorgelê en hy het ingestem om saam met my daaraan te werk.

Ek wou nie net ‘n boek met ‘n kragtige boodskap skryf nie, maar wou ook hê dit moet esteties mooi wees, met inspirerende portrette wat die gees van ons nasie vasvang.
Ek het die navorsing en ‘n hele paar veldwerktoere gedoen om voor te berei vir die boek. Daarna het Pep, sy assistent, Joan Roig, en ekself vir twee maande kruis en dwars oor Suid-Afrika gereis, (ons het meer as 13 000 km gery) en die onderhoude gedoen en die foto’s geneem in ons soeke om die beste van die menslike moed vas te vang.

Pep Bonet is een van die wêreld se top-fotograwe en dit was ‘n voorreg en plesier om saam met hom te werk.

Vertel my van die webwerf, www.remarkableworld.org.
Die hele “Remarkable South Africans”-inisiatief is ‘n nie-winsgewende onderneming. Opbrengste uit die boek se verkope word gebruik om die projekte wat die kopers benoem het te ondersteun. Deur bloot ‘n boek te koop, maak jy klaar ‘n verskil.

“Remarkable World Philantrophy” is ‘n public beneficiary waardeur die boekverkope hanteer word en die webwerf is my blog waarop ek konstant nuwe inligting oor die inisiatief verskaf en ook relevante kwessies aanraak.

Die boek is bekendgestel saam met ‘n uitstalling van Pep Bonet se werk uit die reeks Remarkable South Africans-portrette by die Konstitusionele Hof in Johannesburg (‘n historiese en simboliese terrein). Dié uitstalling vorm nou deel van die permanente uitstalling en is oop vir die publiek.

Die uiteindelike doel van hierdie onderneming is dat dit almal in SA verteenwoordig en dat dit aan alle Suid-Afrikaners behoort. Dis óns lewens en óns stories – óns kapasiteit om merkwaardig te wees en ons land ten goede te verander.

Die boek en uitstalling, die hele projek is om almal in Suid-Afrika te inspireer, op alle vlakke van ons saamgestelde gemeenskap – dra die boodskap: Maak ‘n verskil, wees merkwaardig!