Boeke

5-Boekminute met Mika le Killian

Die boek Duiwelsklip, Vroualleen tussen delwers en diamante (Tafelberg) vertel die verhaal van so ‘n brawe vrou. Linda Louw se man dobbel hul huis onder hulle uit en dis die laaste strooi vir haar. Sy vat haar twee kinders en gaan woon op ‘n plaas in die Wes-Transvaal naby die dorp Klipheuwel. Dis ‘n diamantgemeenskap wat nie geneë is om vreemdelinge maklik te aanvaar nie. Linda sorteer bantoms (die afvalgruis) wat van haar broers se delwery af kom en hoop om uit die verkope van haar stene genoeg te maak om van te lewe. Dis ‘n moeilike lewe, want dis nie maklik om dag ná dag in die wind en weer te staan en bantoms te sorteer nie. Boonop bejeën die mense mekaar met agterdog en dan is daar ook nog toenemende plaasgeweld. Verder plaas Linda haar vertroue in verkeerde mense, wat in plaas van haar help, haar bedrieg sodat sy haar hardverdiende geld en diamante verloor. Om alles te kroon raak een van haar broers betrokke by ‘n vrou (ook ‘n buitestander) wat die familielede teen mekaar afspeel en uiteindelik veroorsaak dat die familie skeur. Linda moet later besluit om die delwery te verlaat en weer ‘n lewe in die stad te gaan begin.

Die boeiende verhaal is vol kinkels en gee ‘n mens goeie insig van hoe moeilik dit vir ‘n buitestander is om suksesvol by die diamantbedryf betrokke te raak. Daar is ook baie feite oor die diamantbedryf in Suid-Afrika wat agtergrond verskaf.

Ek het met Mika le Killian uitgevra oor Linda Louw se verhaal.

Waarom skryf jy die boek onder ‘n skuilnaam?
Ek het gevoel ek het afstand gedoen van die diamantbedryf. Ek wou nie nou weer daarmee geassosieer word nie. Die bedryf sal seker ook nie te lief wees vir my oor ek dit so pertinent stel dat diamante volop is en eintlik nie skaars is nie, hoewel dit lankal nie meer ‘n geheim is nie. Ek dink baie keer mense weet dit nie of hulle wil dit nie weet nie, want hoekom betaal hulle nog duisende rande vir diamante as diamante dan so volop is en nie eintlik veel werd is nie. Ek dink die bedryf wil ook nie hê ‘n mens moet te veel klem lê daarop nie.

Hoeveel van hierdie verhaal is biografies? Is daar ‘n groot deel van jou in Linda Louw se karakter?
Ja, daar is ‘n groot deel. Om die misterie te behou wil ek nie vir jou sê presies hoeveel nie. ’n Groot deel van die verhaal is fiksie.

Een van die redes waarom Linda na die delwerye gaan het, is omdat sy uit ‘n stormagtige huwelik wou stap. Hoe moeilik was dit vir Linda om uit haar huwelik in ‘n onsekere toekoms in te stap?
Dit was baie moeilik soos vir enige vrou wat besluit sy moet nou ‘n ander pad loop.

Sy loop uit die huwelik omdat haar man die huis weggedobbel het. Sy het baie dinge verwerk, maar waarom het hierdie aksie van hom haar genoop om die huwelik te verlaat?
Ek dink dis maar wat daarmee saam gegaan het, die dobbelgedeelte en die besef dat dit nie gaan ophou nie en sy wou haar kinders beskerm.

Linda was ‘n joernalis. Hoekom verlaat sy die joernalistiek vir ‘n bedryf waarvan sy geen of baie min kennis het?
Die feit dat dit so ‘n onsekere tyd was vir haar en dat sy haar kinders by haar sou hê, was ‘n groot oorweging. Sy hoef nie die kinders by ‘n dagmoeder te laat nie. By die media het sy lang ure gewerk en sy het verseker daaraan gedink.

Maar Linda moes braaf wees om sonder enige ondersteuning vrou-alleen so ‘n onsekere toekoms in te gaan?
Sy het die keuse gemaak en sy moes gaan ter wille van haar kinders. Sy het maar by die diepkant ingespring en geswem.

Was dit vir Linda ‘n skok om in so afgeleë plaashuis in te trek?
Dit was ‘n groot aanpassing. Veral die nagte was vir haar skrikwekkend. Sy was alleen en daar was nie eens diefwering nie. Sy het bitter min geslaap en met ‘n rewolwer by die venster gesit. Gelukkig het sy op ‘n familieplaas grootgeword, so die plaas as sulks was nie die probleem nie. Dit was die alleenheid. Daar was nie meer ‘n man nie. Dan was daar die veiligheidsaspek daardie tyd op die plase.

Die boek speel juis af in die tyd toe plaasmoorde so toegeneem het.
‘n Mens het gelees en gehoor daarvan. So, dit was die hele tyd in Linda se agterkop soos toe haar buurman aangeval is en die plaasmoord so twee plase van haar af. Dit was vir Linda ‘n groot skuif, want sy was toe alleen verantwoordelik vir haar twee kinders.

Het Linda darem ‘n bietjie spaargeld gehad wat haar die eerste paar maande kon deursien?
Sy het staat gemaak op die bantoms, want sy het nie geld gehad nie.

‘n Diamantgemeenskap is ‘n baie geslote een. Hoe het Linda daar aangepas?
Dit was nie so maklik nie. Miskien is die gemeenskap so geslote, omdat hulle nie wou hê nog iemand moet by die bedryf betrokke raak nie. Maar miskien moet ‘n mens nie veralgemeen nie, miskien was dit net een of twee mense wat so was en nie die hele gemeenskap nie.

Afgesien van die geslote gemeenskap het selfs Linda se familie in ‘n stadium teen haar begin draai. Dit moes moeilik wees vir haar?
Sy het daardie sprong gemaak en sy moes maar die beste van die saak maak. Sy het darem ‘n bietjie geld verdien uit haar bantoms wat haar ‘n bietjie meer sekuriteit gegee het, en sy het maar net aangegaan. Sy het alles probeer verwerk. In die begin het sy gedink sy verbeel haar maar die dinge. Dit kom ook terug na die gemeenskap en sy as ‘n buitestander was nie ingelaat nie. Sy het besluit om net aan te hou, sy het nie ‘n keuse gehad nie.

Die familiedrama in die verhaal is nogal erg, want uiteindelik skeur die familie, juis as gevolg van nog ‘n buitestander wat in die groter familie ingekom het. Was dit as gevolg van die diamante of was dit menslike kwessies?
Ek dink die verband wat ek daar wou uitwys, is diamante en geld wat dan terugwerkend na die menslike swakhede is. Dis hoe Linda gevoel het. Die diamante en geld wat skielik in die familie was, het ‘n invloed gehad. Ek glo sulke dinge gebeur gereeld in die werklike lewe en daar is gewoonlik meer as een kant in so ‘n situasie. Linda het nie iemand gehad om na toe te draai nie.

Hoe het Linda geleer wat goeie diamante is?
Sy het geleer soos sy aangegaan het en gesorteer het. Haar broers het natuurlik ook verduidelik wat ‘n spesifieke steen werd is, na gelang van die grootte. Hulle het dat sy kyk na die kleur en na die onsuiwerhede in die stene. So het sy maar geleer. Daar is geen plek waar jy kan gaan navorsing doen nie. Soos wat ‘n mens diamante in die hand het, so leer jy maar. Die bedryf is so geslote. Daar was geen boeke wat sê hoeveel ‘n diamant werd is nie.

Het diamante voor haar lewe op die delwerye enigsins vir Linda ‘n aantrekkingskrag gehad?
Nee, glad nie. Sy het nie eers daaraan gedink nie.

Linda loop ‘n paar keer bloutjies met mense wat sy vertrou en wat haar dan verneuk. Hoe so?
Sy was bietjie naïef. Sy het nie besef in die diamantbedryf is daar sulke gure karakters nie en dat sy baie versigtiger moet wees as in die normale lewe. Sy het elke keer tweede gekom. Ek glo teen die einde het Linda, toe sy probeer het om diamante onsuksesvol te smokkel, darem besef tot hier toe en nie verder nie.

Wat motiveer mense in die diamantbedryf?
Dis die optimisme van: “Ons gaan daardie groot steen kry”. Hulle gee nooit moed op nie. Jy kan in die grootste armoede delf en leef, dis net altyd daai gevoel. En dit gebeur dat mense se lewens oornag verander. Ek dink in geen ander besigheid is dit moontlik nie. Mense kan bitter arm wees en dan kry die delwer ‘n groot diamant – dan is hy oornag ‘n miljoenêr. Dis seker op ‘n manier soos dobbel. Alles draai om diamante.

Hoeveel navorsing moes jy doen met die skryf van die boek?
Die feitelike dele tussenin het nogal lank geneem. Ek moes boeke van oorsee bestel en die internet is darem ook wonderlik. Ek het probeer om ‘n opsomming te maak van ons plaaslike diamantbedryf om mense meer te leer.