FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

So aan die einde van die eerste maand van die jaar

So aan die einde van die eerste maand van die jaar moet ek sê, ek voel nou weer meer optimisties.

Die jaar het onstuimig begin en dit het my nogal pessimisties gemaak. Gelukkig het daar reën uitgesak oor ’n groot deel van die land. Dit maak my bly. Sommer baie bly! Maar dit kan regtig maar nog reën. Hoe meer ek na wêreldnuus kyk, hoe meer besef ek ons land is nie die enigste een wat hom in ’n nare ekonomiese situasie bevind nie. Oral lyk dit maar beroerd en is die vooruitsigte vir die wêreld se ekonomie ook maar nie te optimisties nie. Ek sal maar net beter moet begroot, minder mors en sorg dat ek verantwoordelik werk met my geld. My voorneme aan die einde van die eerste maand van die jaar is om nie toe te laat dat my gemoed beïnvloed word deur die negatiewe gebeure in die wêreld nie!


The Little Paris Bookshop, Nina George (Little, Brown, R290)
Jean Perdu besit ’n boot op die Seine, ’n boekwinkel wat hy soos ’n soort literêre apteek bedryf. Hy glo vir elke kwint en kwaal wat die lewe jou toedien, is daar ’n boek wat sal help om jou beter te laat word. Vir twintig jaar lewe hy sonder verbintenisse met mense, want die groot liefde van sy lewe het hom twintig jaar gelede versaak. Sy eie vertroosting het gekom uit die geheimsinnige skrywer, Sanary, se enigste boek, Southern Lights, wat gaan oor die waarde van die lewe. Toe ’n vrou in sy woonstelgebou intrek, ontwaak Perdu opeens uit sy waas van afsondering, en besluit om op ’n soektog na sy verlore liefde te gaan. Op die reis word hy begelei deur die jong skrywer, Maximilian Jordan, wat ná sy treffer-debuut skrywersblok in die ergste graad het. Langs die pad kry hulle nog ’n reisgenoot by, die Italianer Salvotore Cuneo. Vir hulle is dit ’n sielsontdekkingsreis waarop hulle weer leer om in die liefde te vertrou, “Because a few days could contain a lifetime.” Een van die roerendste boeke wat ek in ’n lang tyd gelees het. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

From a distance, Raffaella Barker (Bloomsbury, R287)
Toe Michael in 1946 terugkeer van die oorlog af is hy so getraumatiseer dat hy nie kans sien om terug te gaan na sy ouerhuis en sy verloofde nie. Sonder om twee keer te dink, spring hy op ’n trein na Cornwallis. Min weet hy hoe hierdie besluit sy hele lewe gaan verander.

Die verhaal hervat 50 jaar later wanneer Kit in Norfolk aankom om te kom kyk hoe die ligtoring lyk wat hy van sy ma geërf het – ’n ligtoring waarvan hy salig onbewus was, maar wat hy vinnig wil kom verkoop. Die eerste dag al ontmoet hy vir Luisa, ’n getroude ma van drie kinders, en hy sukkel om die aantrekkingskrag tussen hulle te verstaan. Intussen leer Kit ook hoe dit gekom het dat sy ma ’n ligtoring aan die ander kant van die land besit.

Die verhaal is interessant, maar party van die gebeure maak net nie sin nie. – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Moestas, Deborah Steinmair (Human & Rousseau, R210)
Claude ontvang ’n Facebookboodskap waarin ’n predikant hom om verskoning vra dat hy hom molesteer het as kind. Stasi besluit dat ’n blote brief nie die man vryskeld nie en dat hierdie charlatan-predikant met sy tentkerkdienste sal moet boet vir sy sonde. Ter wille van Claude, neem Stasi die situasie in haar eie hande en sluit met bybedoelings by dié tentkerk aan. Dinge begin skeefloop en Stasi besef dat sy die hulp van haar vriende, Aga en Jesse, nodig het.

Dit is Deborah Steinmar se derde raaiselroman en die leser maak weer kennis met al die vorige interessante karakters. Die verhaal met ’n unieke storielyn lees vinnig en maklik. Aanhangers van Steinmair sal hierdie een ook geniet. – Danica Gouws

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Stippellyn, Erika Murray-Theron (Tafelberg, R210)
Toe Lana se bejaarde pasiënt in die nasorgeenheid van ’n ouetehuis sterf, begin haar verbintenis met Therese, sy weduwee. Konrad, hul seun met wie Lana lank gelede ’n verhouding gehad het, daag onverwags uit Londen op en vra Lana om Therese na sy vervreemde suster in Clanwilliam te vergesel.
Die reis na Clanwilliam word ’n reis deur die verlede. Therese vertel hoe sy haar dogter, Hadwig, in die Oos-Europese oorlog alleen moes grootmaak. Dit was baie swaar en vreeslike gruweldade het plaasgevind.
Murray-Theron beskryf hoe die oorlog selfs ’n invloed op die afwesige nageslag gehad het, vandaar die gekompliseerde familiekwessie.
Dis hoofsaaklik die verhaal van ma’s en dogters en ingewikkelde menslike verhoudings wat misluk.
Lana dink ook aan haar eie verlede, die verhouding met haar vorige man, die kind wat hulle verloor het, en bowenal die invloed van Konrad op haar lewe. Miskien kom Lana en Konrad in die toekoms tog weer bymekaar uit….   – Linda Volschenk

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Survival Training for lonely hearts, Elana Bregin (Macmillan, R166)
Die boek begin met een van Kate se drome. Die droom is baie duidelik, baie beskrywend en ook baie verbeeldingryk. Sy word wakker en kan nie veel onthou van die vorige aand nie. Sy het vinnig en baie gedrink; dit volg amper dieselfde patroon as dié van haar alkoholis pa. Kate hou glad nie hiervan nie. Op 43 was Kate nog nooit getroud nie. As redakteur en werkolis was daar net nooit tyd of energie vir ’n ernstige verhouding nie. Nou begin sy alleen voel en sluit aan by ’n afspraak-webtuiste. Sy ontmoet baie vreemde karakters in die proses. Uiteindelik ontmoet sy tog iemand wat haar voete onder haar uitslaan en heel toevallig is dit haar hond se veearts.  Hy is ook lid van die webtuiste. Maar met sy baie bagasie is dit heeltyd ’n geval van ”touch and go” met hom.  Jake, die veearts, bly ietwat afsydig en is onseker of hy werklik sy hart aan Kate kan gee. Kate en haar hond, Jezebel, loop ook ’n sukkelende pad saam. Sy was ’n geskenk en het ’n ongeneeslike mediese toestand.  Dis juis hoe hulle Jake Daniels die eerste keer ontmoet het, nog voor die afspraak via die webtuiste. Kate moet later afskeid neem van Jezebel. Sy is baie hartseer, maar besef dat die hond haar so baie dinge oor haarself geleer het. Tussendeur is daar dan ook nog Kate se baas, Alistair, met wie sy kop moet hou. Weens sy alkoholisme is hy vol grille, ’n tiran die een oomblik en ’n lammetjie die volgende.  Jake maak weer sy opwagting in Kate se lewe en hy het ’n besluit gemaak. – Jenny du Toit

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Chicken Thief, Fiona Leonard (Penguin, R202)
Alois is ’n skrander jong man met ’n effens vreemde werk: hy steel elke nag hoenders om te verkoop. Hy is ’n baie suksesvolle hoenderdief, want hy het die vermoë om die hoenders aan die slaap te maak en dan druk hy hulle sommer maklik in ’n sak in. Een nag loop dinge skeef en Alois word gevang. Heel onverwags is Jim Coultard wat hom gevang het heel vriendelik en sê dat hy ’n werkie vir Alois het: hy moet vir hom ’n brief gaan optel iewers buite die stad. Alois sal ’n duisend dollar betaal word en Jim sal ook ’n motor voorsien vir hom om te gebruik. Hierdie aanbod klink te goed om waar te wees, en dit is toe ook so.

Hierdie verhaal speel iewers in suidelike Afrika af en werp ’n lighartige, dog ernstige blik op magsbehep en politieke korrupsie in Afrika. – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Little Old Lady Who Struck It Lucky Again, Catharina Ingelman-Sundberg (PanMacmillan, R304)
Wanneer jy op 79 besef dat die lewe kosbaar is en gevaarlik kort word, is dit verseker ’n misdaad om te sit en niks doen nie. Ontmoet Martha Anderson, ’n pensioenaris van Swede, wat die nie-so-gemaklike-kussing van haar leunstoel in ’n mismoedige ouetehuis verruil vir ’n lewe waarin sy Robin Hood laat lyk soos ’n heilige. Sy en haar “bende” – die Liga van Pensioenarisse – is op hul tweede verregaande avontuur, hierdie keer te midde van die helder ligte van Las Vegas. En hul missie is steeds – beroof die rykes en gee aan die armes.

Met 400 jaar plus se ondervinding voer hierdie speelse groep pensioenarisse hul misdade uit met behulp van kieries, looprame en rolstoele. Wees voorbereid om hardop te lag vir hierdie soms vergeetagtige groep vriende wat hulself net so berug maak in Las Vegas as in Stockholm. ’n “Ocean’s Eleven” met tagtigjariges! – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The twins, Saskia Sarginson (Piatkus, R202)
Die innige band wat ’n tweeling aan mekaar verbind, word ontgin in ’n donker verhaal oor verhoudings, lojaliteit en familiebande. Viola kwyn in haar hospitaalbed terwyl haar suster, Isolte, haarself in haar werk by ’n tydskrif begrawe. Albei susters probeer om hul verlede te vergeet, veral die geheim wat hulle met die tweeling John en Michael in Suffolk deel.

Viola se gebrek aan belangstelling in die hier en nou frustreer Isolte oneindig en sy probeer haar suster oorreed om te veg teen die eetversteuring voordat dit haar lewe eis.

Die skrywer herskep die donker, eteriese gevoel wat in die woud heers suksesvol wanneer sy die tragiese gebeure in hul verlede beskryf. Viola en Isolte ding mee om die aandag van die broers, terwyl hulle smag na aandag. Die skrywer se ontleding van die twee susters se wegdeins van mekaar, wat sy stel teenoor hulle behoefte aan mekaar se teenwoordigheid, is oortuigend. – Mariette Postma

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Thursday’s Children, Nicci French (Penquin Group, R379)
Egpaar Nicci Gerrard en Sean French skryf onder die skuilnaam Nicci French en het reeds naam gemaak op die gebied van alleenstaande misdaadromans. In breë trekke is hulle Frieda Klein-reeks die teëhanger van Jonathan Kellerman se Alex Delaware-romans; Frieda is ’n psigoterapeut, selfgesentreerd en perfeksionisties, wat saam ’n speurder werk om kriminele agter tralies te sit. In hierdie boek (die vierde van agt) ontvang Frieda besoek van ’n skoolvriendin wat haar hulp dringend nodig het; haar dogter toon asosiale gedrag, ly aan ’n eetversteuring en weier om met haar te praat. Frieda stem in, maar stadigaan word dit duidelik dat pasiënt en terapeut op ’n ramp afstuur. Dit kos kopkrap om by te hou met die karakters en onwaarskynlike intriges, veral as lesers nie die vorige boeke in die reeks gelees het nie. Voorts is die storielyn gedwonge en skuifel die aksie (tipies van Britse spanningsverhale) voetjie vir voetjie vooruit; skynbaar is dié omslagtige relaas slegs vir Frieda Klein-aanhangers bedoel. – Emsie Viljoen

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Trek, Winnie Rust (Human & Rousseau, R185)
Hierdie verhaal neem jou na die Wellington-distrik in ʼn tyd toe bruin mense min regte gehad het. Dit speel af teen die agtergrond van die gedwonge verskuiwings toe die Groepsgebiedewet nog gegeld het. Die eerste gedeelte handel oor die bruin mense. Miss Girlie se lewe is ineengevleg met die van Lambert en ook sy broer Boeta. Lambert is ooglopend verlief op Miss Girlie, maar weens politieke redes is dit ʼn vergeefse liefde. Ander karakters is Hanna en haar dogter Lien wat op Boeta se plaas, Bovlei, werk. Die wit mense en bruin mense se lewens is nou vervleg. Karakters soos Boeta, sy vrou Lettie en sy broer Lambert gee ʼn mens ʼn kykie in die psige van wit mense. Aan die een kant is daar ʼn diepe empatie met die lot van minderbevoorregtes, aan die ander kant ʼn onomwonde arrogansie en meerderwaardigheid.
Die verhaal bereik ʼn hoogtepunt met briewe van Magriet aan haar ma Lettie. Teen die einde word die leser gekonfronteer met die realiteit van ʼn land waarvan die reënboog nie meer so duidelik sigbaar is nie. Die karakters is outentiek en die verhaal is getrou aan die werklikheid. ʼn Verrykende leeservaring uit die pen van ʼn meesterverteller.     - Anne Marais