FOTO: verskaf

Boeke

Adriaan Oosthuizen beskou homself as ‘n fotograaf wat reis om te ontdek.

Briewe uit die Tankwa, ‘n besondere boek het juis begin met Adriaan se ontdekkingsreise in hierdie ongerepte deel van Suid-Afrika.

Sy liefde vir die landstreek kom van sy ouers wat uit die Karoo kom en is eintlik aangebore. Dié landskap is een waarheen hy weer en weer kan terugkeer, want hy ‘het die stilte wat jou kop kan laat draai, begin verwelkom.’ Dis juis hierdie gevoel van stilte wat deel is van elkeen van Adriaan se foto’s. Jy voel die ewige stilte en die grootsheid van die landskap. Elke portret vertel ‘n storie,  of soos Adriaan daaroor sê: “Omdat briewe my nostalgies maak, het dit my gemotiveer om die plekke en mense wat ek in die Tankwa ontdek het as ‘n visuele brief voor te stel. ‘n Brief wat wys wie die mense is en waar hulle woon.”
Leti Kleyn het die teks geskryf en ook dele van Dawid Slinger se Karoo-onthou geboekstaaf in Briewe uit die Tankwa (Lapa Uitgewers, R399). Dis ‘n boeiende boek, een waarna mense weer en weer wil terugkeer – om Adriaan se briewe weer en weer te lees. So baie van ons onthou-goed van mense en landstreke gaan verlore deesdae, omdat ons nie meer tyd het vir saam kuier en stories vertel nie. Dit maak hierdie boek vir my ekstra spesiaal, want nou is daar ‘n tasbare herinnering van mense en plekke wat andersins so maklik verlore kon raak. Adriaan se foto’s, Leti en Dawid se woorde maak dat hierdie boek erfgoed word. Ek het per e-pos met Adriaan oor die projek gesels.
Adriaan en Josef OosthuizenAdriaan Oosthuizen met sy seun, Josef.

Vertel my hoe jy aan die konsep van Briewe uit die Tankwa gekom het?
Om mense en plekke wat meestal ongesiens vir meeste mense verbygaan, bloot te stel as `n visuele brief om te sê, “ Hier is `n visuele brief om te wys wie ek is en waar ek woon.”

Wat maak dié gebied vir jou so spesiaal dat jy ‘n boek daaroor wou doen?
Beide my ouers kom uit die Karoo en dus het ek die Karoo instinktief by hulle geërf. Ek het egter die Tankwa Karoo op my eie ontdek, terwyl ek motorfiets gery het. Ek het verlief geraak op die landskap en op die mense wat ek daar ontdek het.

Hoe lank het jy aan hierdie boek gewerk?
Ek het vir `n periode van 6 jaar tydjies afgeknyp en soontoe gereis om daar te werk.

Wat was die moeilikste van die proses?
Om te besluit om te stop, want dit kon aanhou vir ewig.

Jy het twee medewerkers in Leti Kleyn en Dawid Slinger. Hoe het dit gekom? Het julle saam gereis of hoe?
Lapa Uitgewers het Leti aan my voorgestel as skrywer van die boek. Ons het toe begin om saam te reis en later het Leti alleen rondgereis. Sy het vir Dawid Slinger ontmoet en hom weer aan my voorgestel.

Waar het jy vir Dawid Slinger die eerste keer ontmoet?
By die Tankwa Padstal gedurende `n donkiekar saamtrek.

Daar is soveel mooi foto’s in die boek. Hoe het jy gekies wat op die voorblad moes kom?
Die portret van Jan Dini was vir my so ongelooflik mooi dat dit maklik was om dit te kies vir die voorblad. Hy het soveel dinge op daardie oomblik vir my verpersoonlik. Jan Dini was `n arbeider op die plaas Brakfontein en was die alleen ruiter van daardie pragtige perd. Hy het intussen verhuis na Calvinia.

Het jy ‘n spesiale plek in die Tankwa Karoo waarheen jy weer en weer teruggaan?
Nee, nie rêrig nie. Daar is te veel plekke wat spesiaal is. Ek is wel mal oor Bizantegat, Elandsberge, Varschfontein, Ouberg, en Stonehenge.

FOTO: Adriaan Oosthuizen

FOTO: Adriaan Oosthuizen

Die portret van Henk van Niekerk is fassinerend. Waarom in ‘n aandpak poseer vir die foto? Wat is die storie?
Henk is een van die eienaars van die plaas waar die “ AfrikaBurn” fees gehou word. Ek het hom een keer in die aandpak gesien gedurende die fees en het hom gevra om dit weer aan te trek. Ek het gehou van die kontras van die pak in die woestyn.

Het die mense jou vinnig vertrou om hulle af te neem, want partykeer is mense nie so geneë om afgeneem te word nie?
Die wonderlikste ding was vir my dat meeste mense gretig was om gefotografeer te word. Dit het weer vir my baie genoegdoening gegee om te besef dat dit mense laat goed voel oor hulself.

Wat is jou gunsteling foto in die boek?
Jan Dini op die perd.

Watter mens wat jy afgeneem het, het die grootste indruk op jou gelaat?
Tannie Elizabeth Klaaste. Haar gesindheid het my blymoedig gemaak.

Wat is die ding wat vir jou al hierdie mense in die boek bind, buiten dat hulle in die Tankwa Karoo woon?
Hulle is almal uniek omdat hulle nog die polsslag van die aarde kan voel.

Is daar ‘n volgende boek op pad?
Ek dink aan `n boek oor Afrikaanse Ikone.

FOTO: Adriaan Oosthuizen

FOTO: Adriaan Oosthuizen

Petrus Kalmeyer met Brander en Swartland.

FOTO: Adriaan Oosthuizen

FOTO: Adriaan Oosthuizen

Jakob van Wyk.