FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Alan Glass gesels oor Oliver, sy storieboek-karakter.

Sy eie angstigheid as kind het gemaak dat Alan Glass ’n storieboek-karakter geskep het wat sy vrese te bowe moet kom.

Oliver se storie begin waar hy besluit daar skort iets met hom, al is hy eintlik ’n doodgewone seuntjie. Hy kyk in die spieël en sien hy het geen omlyning nie. Dan gaan hy op ’n reis om sy omlyning te vind. Oliver se Omlyning (Macmillan, R120) het ’n treffende boodskap. Al is dit ’n eenvoudige verhaal leer dit jou dat jy jou vrese moet trotseer sodat jy selfvertroue kan kry. Oliver kruip sommer gou in mens se hart en ek hoop om nog boeke oor die oulike karakter te sien. Die verhaal is pragtig geïllustreer deur Sandy Lightley. Ek het per e-pos met Alan Glass gesels.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Hoe het jy vir kinders begin skryf?
Ek het my eerste kinderliedjie geskryf toe ek ongeveer twintig was. Dit is geskryf vir my driejarige niggie, en die liedjie is ‘Down comes the rain’. Dis ook op die eerste Beautiful Creatures musiek-CD wat ek en Ed Jordan in 2004 vrygestel het en dis ook op ‘Dierbare Diere’, die Afrikaanse ekwivalent, gesing deur Gys de Villiers. Ek het eers weer liedjies en boeke begin skryf baie jare later toe ek my eie kinders gehad het.

Wat is vir jou lekker daarvan om vir kinders te skryf?
Om vir kinders te skryf is so ’n dankbare taak. Hulle is soos klein sponsies; hulle absorbeer kennis, en jy kan die waardering op hul gesigte sien. Hulle is uiters eerlik en as hulle nie van iets hou nie, laat hulle jou beslis weet. Wat my die meeste aantrek is dat deur liedjies en stories is ek deel van hul reis om te leer, en hopelik laat ek hulle met ’n positiewe ervaring wat hulle inspireer.

Wat is die moeilikste daarvan om vir kinders te skryf?
Die uitdaging is om stories te skryf waarvan kinders sowel as grootmense hou. Storietyd moet ’n gedeelde ervaring tussen kinders en hul ouers, grootouers of ouer sibbe wees. Later kan hulle op hul eie lees, maar hardop lees of om stories te deel is ’n noodsaaklike deel van kinders se ontwikkeling en verbintenisse skep. Dis belangrik om seker te maak volwassenes stel net soveel belang soos die kinders.

Waar kom die inspirasie vir Oliver vandaan?
In 2008 het ek aan ons eerste Beautiful Creatures-boek gewerk saam met ons illustreerder, Sandy Lightly. Sy het ’n opmerking gemaak wat my geïnspireer het. Sy het gesê dat sy nog altyd ’n klein seuntjie wou teken sonder ’n omlyning, of met ’n kolle buitelyn. Dit was al wat sy gesê het. Ek het die eerste draft van dit wat nou Oliver se Omlyning is later daardie dag geskryf.

Was dit maklik om in Oliver se kop te kom?
Ek dink die verhaal is deels outobiografies, alhoewel ek dit nie aan die begin besef het nie. Ek was ’n baie angstige kind en by tye irrassioneel bang vir dinge. Ek dink nie ek het regtig in Oliver se kop gekom nie, omdat die verhaal nie in die eerste persoon geskryf is nie. Ek dink dit was meer ’n geval van om op te let hoe dit is om ’n angstige kind te wees of die ouer van ’n angstige kind. As ’n pa het ek al dopgehou hoe my eie kinders kwessies rondom angs en selfrespek hanteer.

Hoeveel insette het jy gehad met hoe Sandy vir Oliver geskets het?
Sandy en ek het die oorspronklike konsep bespreek en toe het ek haar uitgelos vir ’n ruk. Sy het vir my die sketse gestuur, of ons sou bymekaar kom en die sketse bespreek en ook die algemene gevoel van die boek en hoe dit moet lyk. Sy is baie talentvol en ervare, maar tog ook ontvanklik vir voorstelle.

Gaan daar nog Oliver boeke kom?
Ek hoop so. Die plan is om ’n reeks boeke oor Oliver se avonture te doen en die dinge wat hy op sy reis ervaar. Ek hoop hy kan ’n rolmodel wees vir kinders en hulle inspireer om hul drome uit te leef, sonder enige angs of vrees.

Lees jy kinderboeke en het jy ’n gunsteling?
Ek het drie ouer susters, wat vir my gelees het, eerder as wat ek self gelees het. Ek het daarteen geskop om te lees en dit het my lank gevat om oor die idee te kom van ‘net meisies’ lees, want dis al wat ek gesien het. As volwassene het ek baie kinderboeke vir my dogters gelees toe hulle jonger was. Dr. Seuss is beslis my gunsteling en is ’n groot invloed op my skryfstyl vir liedjies, sowel as boeke.