FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Anchien Troskie oor Vermis op Allesverloren

Erta van Tonder word vermis. Die kombuis is in ’n warboel en van haar is daar geen teken nie.

Haar susterskind, Melinda, vermoed vuilspel, want Erta sal nooit die kombuis in so toestand laat nie. Melinda kontak eerste die plaaslike polisie om die verdwyning aan te meld. Erta is ’n eksentrieke ou tannie wat in die konserwatiewe dorpie, Allesverloren woon. Op die klein dorpie weet almal wat in almal se sake aangaan. En boonop is Erta deur die inwoners van die dorp gebrandmerk as ’n heks, want sy hou haar op met kruiedoepas en die lees van teeblare.
Melinda besluit nog hulp is nodig om Erta op te spoor en sy huur ’n privaatspeurder, Barrie Barnard. Hy het ’n pakket gevat by die polisie en na sy een groot, suksesvolle saak probeer hy om ’n bestaan te maak as private speurder.
Die verhaal word vertel deur Barrie en Erta en deur hulle leer jy al die inwoners van die dorp ken en hoe bevooroordeeld hulle teen Erta en haar familie is, omdat hulle uit die onder dorp kom. Troskie skilder ’n kleurvolle prentjie van vele “verlore” mense in ’n geslote gemeenskap waar baie maklik teenoor mekaar gediskrimineer word oor waar jy gebore is, wie jou familie is en wat jou bankbalans is. Ten spyte daarvan dat Erta met een van die ryk Van Tonders getrou het, word sy nooit ingesluit in die gemeenskap nie. In teendeel dit word teen haar gehou, want hoe durf sy haar plek nie ken nie. Mens kan nie help om meegevoer te word met Erta se lot in die lewe nie, haar teleurstelling in mense op haar eerste skooldag – die ontnugtering oor die wreedheid van kinders. En hierdie kinders het dit nooit ontgroei nie. . .

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Vermis op Allesverloren (Kwela, R220) is ’n mengsel van drama en speurverhaal en die verrassende einde is onvoorspelbaar. Ek het dié einde nie sien kom nie! Die verhaal bly jou lank by na die lees daarvan.

Hoe het jy aan die idee vir hierdie verhaal gekom?
Ek is gewoonlik maar redelik versigtig om hierdie vraag te beantwoord omdat ek darem nie wil klink asof ek die kluts effens kwyt is nie. Tannie Erta het haar verhaal vir my kom vertel – een sonskyndag terwyl ek in my eie blomtuin besig was. Ek moes bloot haar storie skryf.

Was dit ’n maklike verhaal om te skryf?
Maklik is maar ’n redelike relatiewe begrip. Skryf was nog nooit vir my maklik nie, maar die karakters het die skryf daarvan maklik gemaak in die sin dat hulle presies geweet het wie hulle is en waarheen hulle op pad is. Ek moet dalk ook net noem dat ek aanvanklik hierdie storie as ’n kortverhaal beplan het – dit sou dus bloot uit tannie Erta se perspektief vertel word. Maar, soos ek aan die skryf was, het my ingebore nuuskierigheid die oorhand gekry. Die bure, die gemeenskap, die dominees, haar sibbe en ouers – ek wou meer oor hulle te wete kom.

Waarom skryf jy nog met die hand? En hoe lyk die notaboek waarin jy die verhaal geskryf het, en was dit in pen of potlood? En kry die uitgewer die handgeskrewe manuskrip?
’n Rekenaar voel soms vir my net te vinnig! Daar gebeur iets – ’n konneksie – tussen my hand en my kop wanneer ek met ’n pen of potlood in die hand sit. Omdat die letterlike skryf so ’n stadige proses is, dwing die hele proses my om te dink, om te beplan. Of ek met pen of potlood skryf, hang af van die notaboek wat ek aangeskaf het. Ek dra dit dan oor op my rekenaar, dus is dit ook dan deel van my redigeringsproses. My uitgewer kry darem nie die geskrewe manuskrip nie!

Notaboek Allesverloren

Notaboek Allesverloren

Jy gebruik ’n paar aanhalings voor in die boek. Waarom juis hierdie drie?
Die gemene deler in al drie hierdie aanhalings is dat liefde, deernis, empatie, goedheid en aanvaarding teenoor ons medemens en teenoor onsself al is waarvoor ons in hierdie lewe moet strewe.

Wat het eerste na jou toe gekom, die verhaal of die karakters?
Dit is ’n “wat was eerste – die eier of die hoender” vraag! Tannie Erta het haar storie vir my vertel. Dus is dit seker sy wat eerste was? Die res van die karakters het gevolg nadat ek reeds haar storie aangehoor het. Besluit dus self!

Hoe skep jy jou karakters, spesifiek Erta, haar familielede en privaatspeurder Barrie Barnard?
Karakters het ’n manier om hulle sommer net aan te meld – met al hulle maniertjies in plek. Behalwe Barrie. Ek moes hom skep omdat ek een stem nodig gehad het om die inwoners se kant te vertel.

Hoeveel navorsing moes jy vir die verhaal doen en hoe het jy dit aangepak?
Navorsing is ’n baie groot aspek van enige verhaal. En lekker. Ek was baie gelukkig om ’n vrou te ontmoet wie so gaaf was om haar ma se selfgepubliseerde boeke oor kruie vir my te leen. En dankie tog vir Google. Die biblioteek op Humansdorp was ook ’n goeie bron van inligting.

Het jy die verrassende kinkel aan die einde van die verhaal van die begin af gehad, of het die verhaal tydens die skryf sy loop geneem en dit het bloot so ontwikkel?
Ek sien gewoonlik die einde van ’n storie lank voor die begin daarvan. Ek moet dus van die einde terugwerk na die begin. Die begin verras my dus eintlik meer as die einde.

Het iets in die verhaal jou verras, wat jy nie beplan het nie?
Sussie se besluit om haar kind agter te los en die dorp te verlaat, het my baie verras. Soveel so dat ek wonder: is dit nie ook ’n verhaal werd nie?

Het jy al van die resepte gemaak wat jy in die verhaal gee?
Tot my skaamte moet ek erken dat ek nog nie het nie. Die idee was om dit te beproef soos ek dit in die boek gebruik, maar nou ja. Ek gaan nog, rerig!

Waaraan werk jy nou?
Ek het sowat dertig boeke op my bedkassie wat wag om gelees te word. En ek het myself belowe dat ek eers die helfte moet lees voordat ek weer sal begin skryf.