FOTO: Brenda Veldtman

FOTO: Brenda Veldtman

Boeke

André Krüger onthul meer oor die Komplot

André Krüger se tweede boek is ook sterk gesetel in die geskiedenis nes sy eerste boek, Die Twee Lewens van Dieter Ondracek. Sy nuwe verhaal, Komplot, speel af teen die agtergrond van die Spaanse Burgeroorlog.

Die politiek van die dag in Suid-Afrika staan die anargis en mynwerker, Thomas Jacobs, nie aan nie en sy ideale oor die politiek lei hom om in Spanje te gaan veg teen die Fasciste. Op pad na Spanje word Thomas se lewe gered deur ene Ortiz, wat manne help om by die Internasionale Brigade aan te sluit. Thomas word Josep wat as ’n lid van die Anargiste aan die Republikeine se kant veg in Spanje. Daar word hy nie net gekonfronteer deur die oorlog nie, maar ook deur die verdeeldheid onder en die stryd tussen die verskillende faksies wat teen die Fasciste veg. Sy pad kruis weer met Ortiz en hy raak betrokke by dié Russiese spioen se insameling van inligting. Maar dan verwag Ortiz van hom om mense te vermoor, alles natuurlik ter wille van die saak . . . Josep is ontnugter deur die bloedvergieting en wreedheid van die oorlog, want “die werklikheid kan enige ideaal versmoor, selfs die edelste.” Hy keer terug na Suid-Afrika en voer ’n kluisenaarsbestaan op ’n plaas naby Colesberg. Maar sy verlede volg hom in die vorm van Ortiz wat na Suid-Afrika kom om Verwoerd te vermoor – en Thomas word bygesleep as sy handlanger.

Vir my het die geloofwaardige karakters (daar is heelwat) en die uitstekende navorsing van die skrywer my ’n boek laat lees oor ’n onderwerp (die Spaanse Burgeroorlog) wat ek nie normaalweg sou optel nie. Al het ek van die begin af geweet die komplot teen Verwoerd gaan nie slaag nie, wou ek steeds weet hoe die gebeure uitgespeel het en wat die uiteinde van Thomas Jacobs se lewe was. Ek het per e-pos met André Krüger gesels oor waar sy wil om te skryf ontstaan het en oor Komplot (Human & Rousseau, R240)

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

 

Hoe het dit gekom dat jy begin skryf het? Wou jy as kind reeds skryf?
Ek dink ek wou skryf toe ek die alfabet geleer het. Woorde was nog altyd vir my belangrik. Ons is net twee kinders en my broer is sewe jaar ouer as ek. Skaars vyf jaar oud was ek jaloers omdat hy kon lees, en het met nyd toegekyk hoe hy die simbole op papier ontsyfer en verslind, veral spotprente. Toe knip ek spotprente uit en plak dit in ’n boek, want ek redeneer ek gaan binnekort skool toe en sal leer lees, en sal dan ook verstaan wat dit beteken. Opstelle skryf was een van die min dinge wat skool draaglik gemaak het, omdat ek dan my verbeelding kon loslaat. Selfs op universiteit het ek eenkeer, in plaas van ’n werkstuk, ’n toneelstuk geskryf en ingehandig vir ’n filosofie module.

Jou verhale speel teen sterk geskiedkundige agtergronde af. Waar kom jou belangstelling in geskiedenis vandaan?
Ek sou graag wou antwoord dit is omdat ek ’n kind van die Sestigerjare is, die era van kritiese denke oor die stand en herkoms van die Weste, en miskien steek daar ’n bietjie waarheid daarin. Dit kom van kleintyd af. Later, toe ek leer dat geskiedenis nie onveranderlik is nie, het dit my selfs meer geboei. Soos hulle destyds gegrap het in Oosbloklande: Dit word al hoe moeiliker om die verlede te voorspel. Ek het bedag geword daarop dat magsbelange ’n beduidende rol speel in ons interpretasie van gebeure, ook die wat reeds afgeloop is.

Waarom ’n Suid-Afrikaanse verhaal skryf met sy wortels in die Spaanse Burgeroorlog?
Die Spaanse Burgeroorlog was ’n botsing tussen die betreklik nuwe ideologië van Fascisme en Kommunisme, en toetsgrond vir moderne totalitarisme. Daardie denkrigtings was goed verteenwoordig in hierdie land ook, en daar was baie Afrikaners wat die linkse spektrum aangehang het, tog het hulle geskiedenis stom geword onder die ideologie van die Nasionale Party van Verwoerd en Malan. Daar was ook Suid-Afrikaners wat daar was, tydens die burgeroorlog, soos Uys Krige en Roy Campbell. Niks gebeur in isolasie nie, en die effek van gebeure kring altyd ver uit.

Hoe doen jy navorsing vir ’n verhaal soos hierdie?
Wanneer ek ’n idee kry vir ’n verhaal begin ek boeke daaroor versamel. Soms dien ’n boek selfs as sneller vir ’n verhaal. In Die Twee Lewens van Dieter Ondracek was dit Hannah Arendt se Eichmann in Jerusalem, en in Komplot se geval was dit George Orwell se Homage to Catalonia. Ek is ook op die uitkyk vir dokumentêre programme wat film uit die tydperk insluit, en foto’s.

Plot jy jou verhaallyn uit, sodat jy weet wie is waar in die gebeure?
Ja, en nee. Die verhaallyn is in my kop, maar om dit op skrif te kry is ’n ander storie. Ek is skaam om te bieg dat ek ’n ongeorganiseerde skrywer is. Ek sou graag alles voor die tyd netjies wou neerskryf in chronologiese volgorde, maar helaas. My werkstyl kan as benaderd chaoties beskryf word. Die hele huis lê vol notaboeke en los stukkies papier waarop ek idees, flardes dialoog, karakterbeskrywings en waarnemings neergeskryf het. Soms kry ek ’n ongemaklike krieweling dat die karakters meer in beheer van die verhaal wil wees as ek, en dat ek net daar is om hulle woelinge in toom te hou.

Hoe skep jy jou karakters, grond jy op iemand wat jy ken, iemand in die geskiedenis, of totaal fiktief?
My karakters is so fiktief soos ek. Ek grap, miskien. Skrywers steel natuurlik oral by mense. Bohumil Hrabal is ’n skrywer wat ek baie bewonder. Die storie loop dat hy mense se gesprekke afgeluister het in sy gunsteling kroeg in Praag, en dit dan in sy boeke gebruik het. Dit het soms ongelukkige gevolge gehad, selfs vuisgevegte. Daarom het almal later stilgebly wanneer hy inloop. Skrywers is geslepe luistervinke en goedige afloerders; hulle neem van alles kennis en hou julle fyn dop.

Het jy ’n gunsteling-karakter in die verhaal?
Koos, die skaaphond. Ek grap, miskien. Ek hou van Thomas Jacobs omdat hy die moed van sy oortuigings het, en ek het dit geniet om die veiligheidspolisieman Robert Ferreira te skryf, omdat dit nie maklik kon gewees het om ’n idealistiese, Afrikaans-sprekende Portugees en boonop Katolieke lid van die Suid-Afrikaanse Polisie in die laat Vyftigerjare te wees nie.

Wat was die moeilikste van hierdie verhaal?
Uit die staanspoor weet die leser die komplot gaan misluk, omdat Verwoerd eers in 1966 vermoor is. Om die spanning vol te hou moes ek meerdere spanningslyne inbou. Wanneer ek gewyfel het, het ek myself getroos dat Frederick Forsyth dit darem in die Sewentigerjare al reggekry het in The Day of the Jackal. Dit was ook ’n uitdaging om ontgogeling geloofwaardig oor te dra. Hoe neem jy die leser saam om te verstaan hoe ’n vasbeslote, beginselvaste en eerbare mens sy ideale verloor?

Jou eerste roman is bekroon met die UJ-debuutprys. Wanneer so iets gebeur, beïnvloed dit die manier waarop jy jou tweede roman aanpak?
Ja, en dit vererger die sogenaamde tweede boek probleem. Dit stel ook ’n implisiete standaard waarvan jy dan heeltyd bewus bly. In hierdie geval het dit ook ’n invloed gehad in die besluit oor watter manuskrip ek volgende klaargemaak het vir publikasie. Ek was op daardie tydstip besig om aan drie te werk. Die prys was ’n skerp elmboog in die ribbes wat my oortuig het om Komplot eerste klaar te skryf, omdat dit ook ’n historiese spanningsverhaal is.

Wat lees jy tans?
Ek lees verskeie boeke gelyktydig, en het orals stapeltjies boeke waarvan ek ten minste een aan die lees is. Een van die wat ek nou lees is Engleby van Sebastian Faulks. Hy is nie net ’n goeie, boeiende skrywer nie, maar ’n kundige vakman. Toe ek sy Birdsong gelees het, moes ek die boek nou en dan eenkant sit omdat gedeeltes daarvan gewoon asembenemend was. En dan klim die man nog in ander skrywers se vel in en skryf in hul styl. So het hy reeds gemaak met Ian Fleming en P.G. Wodehouse. Dit is nie iets wat enige skrywer suksesvol kan nadoen nie, maar hy laat dit maklik lyk.

Gunsteling-skrywer of boek en waarom?
Dit verander soos ek verander. Tans is George Orwell my gunsteling-skrywer. (Daarom ook deels waarom hy vlugtig as karakter in Komplot verskyn!) Ek het onlangs drie boeke oor hom gelees en hy voel vir my naby soos ’n familielid. Boonop het hy Animal Farm en 1984 geskryf, en vorendag gekom met die wonderlike prosa van beide Down and Out in Paris and London, en Homage to Catalonia. Sy skryfstyl is merkwaardig suiwer.