FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Anneli Groenewald oor haar debuutroman, Die Skaalmodel.

Haar debuutroman was die wenner van NB se Groot Romanwedstryd 2015. En vir Anneli is dit die groot beloning vir jare se alleenwerk om die verhaal te skryf.

Die Skaalmodel (Tafelberg, R240) word vertel uit die oogpunt van Juffrou Berdina Visagie, die argivaris van die Bredasdorpse Skeepswrakmuseum. Sy moet haarself verdedig teen klagtes van pligsversuim, beskadiging van museumeiendom en wanbesteding. Maar Juffrou Visagie staan reg om haarself te verdedig teen die klagtes. Die hele verhaal bestaan dan uit haar argumente ter verdediging. In die proses onthul sy veel meer oor die dorp, die museum en haar edele aspirasies wat gelei het tot die amptelike klagtes. Al wat sy wou doen, was om die geskiedenis lewendig te probeer hou, en iets vir die nageslag bewaar.

Die verhaal het my verras, want buiten vir die eerste hoofstuk bestaan dit hoofsaaklik uit Juffrou Visagie se stem en haar oogpunt. Tog is die verhaal glad nie eensydig nie, en verskaf haar argumente juis ’n oorsig oor al die gebeure en die mense betrokke. En die boodskap waarmee Juffrou Visagie ons laat, is een waaroor ons self kan wonder: “Dink u dat die nageslag nog vir die geskiedenis sal omgee? As ons nie eens die huidige geslag geïnteresseerd kry nie!” Groenewald het ’n boeiende verhaal geskryf oor ’n argivaris se ambisie om vir haar museum net die beste te doen. Die kleindorpse gemeenskap is met fyn oplettendheid uitgestippel. In so gemeenskap is daar altyd buitestaanders, individue wat nie mooi inpas in die hokkies wat die kleindorp vir hulle geskep het nie. Die boek is beslis ’n lees werd.

Anneli het per e-pos ’n paar vrae beantwoord.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Vertel so klein bietjie oor jouself? Waar kom jou belangstelling in skryf vandaan?
Ek het op hoërskool agtergekom dat ek dit geniet om te dink oor hoe om woorde en sinne aan te wend om stories op ’n bepaalde manier te vertel – dat dit nie net gaan oor die feite van die storie of die storielyn nie. Maar ook oor hóé ’n mens kies om dit te vertel. So dit is waarmee ek myself bemoei: hoe om stories te vertel.

Jou boek, Die Skaalmodel, het die debuutprys in NB se Grootromanwedstryd 2016 gewen. Hoe voel dit?
Dit was ’n groot beloning vir jare se alleenwerk. Die blootstelling wat ek daardeur gekry het, en die geleentheid om te publiseer, is werklik baie werd vir my as debuutskrywer.

Wat was jou inspirasie vir die verhaal?
Die aanvanklike inspirasie was die mistroostigheid van ’n reënerige dag op Skipskop drie dekades nadat die dorp onteien is. ’n Dorpie waar mense leer lees en leef en droom het, en wat nou ’n spookdorpie is met ’n begraafplaas op ’n koppie tussen twee duine.

Dis ’n interessante manier van skryf, om net twee stemme te gebruik om die storie te vertel. En boonop is die een net vir die eerste hoofstuk daar. Waarom die vertellersoogpunt die van mej. Berdina Visagie maak?
Juffrou Visagie se stem het vir my genoeg karakter gehad om die storie te vertel. Aanvanklik het ek groot stukke van die teks in ’n meer konvensionele formaat gehad, maar dit het vir my vals en geforseerd gevoel.

Het jy haar op iemand gegrond?
Nee. Sy is heeltemal fiktief.

Waarvan hou jy die meeste aan haar?
Ek is nie seker of ek van haar hou nie. Ek het eerder deernis met haar.

Hoe het jy die navorsing aangepak vir die verhaal, en was daar iets waarop jy afgekom het wat jou verras het?
Daar was bepaalde bronne waarvan ek bewus was en opgesoek het. Maar dalk selfs belangriker was ’n ingesteldheid. Om altyd die oë en ore oop te hou vir ’n verhaal of brokkie nuus wat vastrapplek kan vind binne die wêreld wat ’n mens aan die verbeel is.

Museum speel ’n belangrike rol in die verhaal. Hoe voel jy persoonlik oor museums? Besoek jy museums?
Ek besoek museums, ja. Ek dink party museums is meer relevant as ander. Maar alle help tot ’n mindere of meerdere mate konteks gee aan waar die mensdom vandag staan.

Wat wil jy hê moet lesers uit die verhaal neem?
Goeiste. Ek dink hier moet die leser maar self werk en besluit wat dit is wat die boek van hom of haar verwag.

Is jy besig met ’n nuwe verhaal?
Nee. Ek wil nie skryf omdat skryf skryf is nie. Ek wil voel híér is ’n storie wat vertel moet word. Maar selfs meer belangrik: hier is ’n manier om dit vertel wat my (en hopelik die leser) sal uitdaag, en hier is ’n karakter wat dit vir my die moeite werd sal maak om weer ’n klompie jare opsy te sit vir ’n projek wat my lewe gaan oorneem.