Irna van Zyl en haar hond Jake. FOTO: verskaf

Irna van Zyl en haar hond Jake. FOTO: verskaf

Boeke

Avontuurlike skrywer het gaan haaiduik om debuutroman te skryf.

Die navorsing van haar debuutroman was vir Irna van Zyl ’n ernstige saak waar sy die bul by die horings gaan pak het. Of mens moet eerder sê die haai in die see gaan trotseer het.

Om Moordvis (Penguin, R220) te skryf, was Irna braaf genoeg om in haar duikpak te klim en te gaan haaiduik. Sy wou geloofwaardig skryf oor hierdie aspek wat ’n belangrike deel van die verhaal vorm. Dié deel van die verhaal speel af in die fiktiewe dorpie Grootbaai. Die storielyn gaan juis oor haaie, haaiduik en onwettige smokkelary.

Die hoofkarakter in hierdie verhaal, speur-adjudant Storm van der Merwe, moes gaan haaiduik om agter die kap van die byl te kom van ’n paar raaiselagtige insidente wat op Grootbaai plaasgevind het. Een daarvan was om een oggend toe sy met die honde op die strand ggan stap het, af te kom op ’n lyk sonder ’n arm. Al is sy eintlik veronderstel om net kantoorwerk te doen, besluit sy hierdie moord en die raaisels moet sy self ondersoek. Sy kry te make met ’n paar vreemde inwoners van Grootbaai wie se aand en more praatjies nie altyd ooreen stem nie. Uit wat hulle vertel, moet sy probeer sin maak van wie almal betrokke is by die gebeure, en ook hoe die gebeure afgespeel het. Hou die dood van ’n inwoner verband met die vermoorde joernalis. Boonop moet sy ook haar kollega met ’n drankprobleem, Andreas Moerdyk, hanteer. Hoe pas sy saak oor ’n motorongeluk waarby ’n insleepvoertuig betrokke was by haar moordondersoek? En wat het Spyker, ’n inwoner van Grootbaai wat ’n insleepvoertuig het, met alles te make?

Haar besoek aan Grootbaai om stoute honde maniere te gaan leer, het veel meer opgelewer as wat sy ooit kon dink.

Irna het per e-pos ’n paar vrae geantwoord.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Jy is ’n joernalis en het ook vir jare in die tydskrifbedryf gewerk as uitgewer. Vertel kortliks hoe dit jou by die skryf van fiksie uitgebring het?
Ek wou nog altyd ’n boek skryf – vandat ek ’n tjokkertjie was en stories opgemaak het om met my speelgoed-soldaatjies en ’n enkele pop in die tuin te speel. Maar ironies genoeg het die beroep (joernalistiek) wat ek gekies het om my nader aan skryfwerk te bring juis al my kreatiewe energie opgeslurp. Totdat iemand eendag, kort ná my vyftigste verjaardag, vir my gevra het wat wil jy nog doen en ek geantwoord het “ek wil ’n boek skryf”. Sy het gesê waarom wag jy, doen dit! Dit was meer as sewe jaar gelede en het my baie baie ure se skryf en herskryf gekos om op hierdie punt uit te kom.

Wat het jou getrek om ’n spanningsverhaal te skryf eerder as ’n liefdesverhaal?
Ek is ’n groot leser van spanningsverhale, enigiets van Patricia Cornwell jare gelede tot onlangser veral Val McDermid, Robert Galbraith en Jo Nesbo. En toe ek ’n skryfkursus by Riana Scheepers gedoen het voordat ek ’n roman aangepak het, het dit al hoe duideliker geword dat spanningstories natuurlik kom vir my.

Wat was die inspirasie vir jou verhaal? Waar het dit begin, met ’n karakter, ’n gebeurtenis of wat?
Ja, interessant genoeg ’n insident op die N1-snelweg waarin ’n wegsleepvoertuig afgejaag het op ’n ongeluk. Dit het ’n gedagte by my laat ontstaan: wat daarvan as daar ’n sindikaat doenig is wat aspris ongelukke veroorsaak?

Hoe het jy die navorsing gedoen vir die verhaal?
Genade, ek het met so baie mense gepraat oor soveel aspekte van die boek en natuurlik was die internet my beste vriend, maar een van die eerste dinge wat ek gedoen het, toe die storie begin vorm aanneem het, was om te gaan haaiduik. Ek het onder meer ook ’n perlemoenplaas besoek en ek het baie tyd met ’n forensiese patoloog deurgebring. En ek het elke liewe polisie-kontak waaaraan ek kon dink, gemelk vir inligting. En dan het ek natuurlik bitter baie tyd in die omgewing waar die storie afspeel, deurgebring en foto’s geneem en aantekeninge gehou.

Het jy Storm op iemand gegrond of was sy suiwer uitgedink?
Storm van der Merwe is suiwer gegrond op my verbeelding, maar natuurlik is daar elemente en gewoontetjies van vriende, myself en kennisse wat ek gaan leen het.

Die dorpie Grootbaai het ’n spul vreemde inwoners. Hoe hou jy die fokus op jou hoofkarakter, sonder dat jou ander karakters haar oorskadu, want daar is ’n paar wat maklik die hoofrol kon oorneem?
Dis goeie nuus as jy so dink. In ’n stadium met die herskryfwerk het ek ’n paar karakters “verloor” juis om die fokus te hou. Storm is uiteindelik ’n samesmelting van twee karakters in ’n vorige weergawe van die boek en selfs die Grootbaai-karakters is minder gemaak juis om verwarring te voorkom.

Watter karakter is jou gunsteling?
Natuurlik hou ek baie van Storm, maar ek het die heel lekkerste aan Moerdyk geskryf.

Was daar een waaraan jy nie veel ooghare het nie?
Die man wat nie mooi na sy honde kyk nie, Erwin Jooste, is nie eintlik ’n gunsteling nie, maar ek het ook vir hom ’n ander kant (al is dit hoe effens) probeer gee.

En die honde-ding met Storm, waar kom dit vandaan?
Ek dink omdat ons honde het (’n Golden Retriever en ’n skaaphond) wat so ’n groot deel van ons lewe is, veral wanneer ons by die see is, het hulle outomaties hulself aangemeld. Maar dit het ook vir my ’n rede gegee waarom Storm op Grootbaai is en gehelp met die ontdekking van haar grusame vonds.

Het jy baie tyd saam met polisiemanne deurgebring om hulle en die polisie-situasie so getrou te kon skets?
Ek het met baie, baie oud- en aktiewe polisiemanne en –vroue gesels en het ook lang ure met ’n privaatspeurder deurgebring wat eens ’n speursersant was. Hulle het in detail aan my verduidelik van prosedures, dossiere, moordtonele, ensovoorts.

Het die verhaal geloop waar jy wou hê hy moes van die begin af, of het daar tydens die skryf iets opgepop wat jy nie heeltemal beplan het nie?
Die verhaal het so baie kere sy eie loop geneem! Dis bietjie soos ’n puzzle. Stukkie vir stukkie kom die hele ding bymekaar en elke keer dat jy daaraan werk, verander jy iets – soms ingrypend, soms net terloops. So byvoorbeeld was die eerste hoofstuk iets soos die vierde hoofstuk vir ’n lang ruk en die slothoofstukke is tot heel op die einde rondgeskommel om meer spanning te skep.

Het jy selwers al gaan haaiduik?
Ja, soos vroeër gesê was dit een van die eerste dinge wat ek gaan doen het, toe ek besef het dit gaan ’n rol speel in die storie. En ek is maar ’n ou bangbroek, so ek kan nou nie eintlik sê ek het dit geniet nie! En ek lyk terrible in ’n duikpak!

Gaan daar in die toekoms nog boeke oor Storm van der Merwe verskyn?
Hopelik bly dit nie net by een roman nie. Ek is al taamlik ver gevorder met Storm en Moerdyk se volgende storie en as alles goed verloop, gaan hy volgende jaar verskyn.

Daar word dikwels gesê dat ’n debuutwerk baie persoonlik is. Het jy uit persoonlike ervaring geput vir hierdie verhaal?
Ja en nee. Ek dink mens het altyd ’n persoonlike raamwerk nodig, deur jou navorsing, leeswerk en ervaringswêreld, maar hierdie storie is totaal en al uit my verbeelding gebore en aangehelp met idees van my wonderlike uitgewer, Fourie Botha.