FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Barbara Kingsolver skryf oor ’n onderwerp na aan haar hart

Klimaatsverandering is die tema van Kingsolver se jongste boek en volgens haar moet ons almal ag slaan op hierdie kwessie.

Flight-Behaviour-by-Barbara-Kingsolver1

 

Dis nie iets waroor gewone mense sommer praat nie en daar word ook nie genoeg gedoen deur wêreldleiers om oplossing te probeer skep vir die kwessie nie. In Flight Behaviour (Faber and Faber, R215) beeld sy hierdie dilemma baie visueel uit. Jy kan nie anders as om betrokke te voel nie en saam met die karakters te probeer om ’n verskil te maak aan die dilemma waarmee hulle gekonfronteer word.

Dellarobia Turnbow is vasgevang in ’n huwelik wat haar versmoor. Boonop sit sy op ’n plaas in die boendoes. Sy en haar skoonma, Hester, sit ook nie om dieselfde vuur nie, want Hester dink nie Dellarobia het fut om ’n sukses van haar huwelik of die lewe op die plaas te maak nie. Dellarobia se verhouding met haar man, Cub, is glad nie goed nie en sy is jeukerig om ’n flirtasie met ’n ander jong man te begin. Op pad na ’n ontmoeting met hom word sy gekonfronteer met ’n toneel wat so onverwags is, dat sy skoon vergeet sy wou hom gaan ontmoet. Sy sien derduisende oranje monargvlinders wat van koers af gemigreer het en in die bos agter haar en haar man se plaashuis bymekaar kom. Die vlinders word tien teen een deur uitwissing in die oë gestaar. Ná haar ontdekking kom daar ’n eksentrieke entomoloog, Ovid Byron aan om dié wetenskaplike fenomeen te bestudeer. Soos wat nuus oor die vlinders (en Dellarobia se betrokkenheid by die kwessie) die wye wêreld ingestuur word, word die eens rustige landelike gemeenskap oorval deur aktiviste en toeriste wat self wil deel wees van die spektakel. Ovid huur vir Dellarobia om hom en sy span te help en haar skoonma is glad nie gedwee hiermee nie.

Flight Behaviour is Kingsolver op haar beste, waar sy oor ’n onderwerp skryf wat vir haar tekenend is van die tye waarin ons leef – klimaatsverandering. Maar sy skryf oor die onderwerp op so manier dat daar allerhande ander vrae by jou ontstaan: die verganklikheid van die mens en versoekings wat op jou lewenspad kom en hoe mense met hul gewete moet saamleef.

Jy is ’n skrywer, maar het oorspronklik as wetenskaplike gekwalifiseer. Hoekom?
Ek het in my jeug nooit aan skryf gedink as ’n beroep nie. Ek het niemand geken wat ’n skrywer was nie. Ek het altyd ’n dagboek gehou, het stories geskryf en het obsessief gelees. Lees was my oorlewingsmeganisme. Ek het in boeke verdwyn as ek nêrens anders wou wees nie. Dis ook hoekom ek my eie lewe altyd in narratiewe terme gesien het. Ek kan as klein dogterjie onthou hoe die stemmetjie in my kop sê: “Nou het Barbara uit die boom geval. Sy het haar knie beseer.” Die stem was altyd met my en dit het geen verband gehou met my beroepsplanne nie. Ek het geseënd gevoel om universiteit toe te kon gaan, want omtrent niemand wat ek geken het, het daardie geleentheid gehad nie. In die plek waar ek gewoon het, was dit uitsonderlik om universiteit toe te gaan. Ek het gevoel ek moet eerder iets prakties en bruikbaar studeer wat my kanse sou verbeter om werk te kry. Ek was altyd mal oor biologie. Ek dink ek het ook altyd soos ’n wetenskaplike gedink.

Is jy eerder ’n rasionele as emosionele mens? En hoe beïnvloed dit jou skryfwerk?
Ja, ek dink ek skryf my romans ook wetenskaplik. Ek weet elke skrywer se proses is verskillend, maar ek dink myne is nog meer verskillend. Ek het nog geen ander skrywer ontmoet wat opgelei is as ’n wetenskaplike nie. Dis raar. Wanneer ek ’n roman skryf, begin ek met ’n vraag. Dan skep ek ’n soort hipotese en dink die situasie wat die vraag sal beantwoord uit. So kry ek my plot. Daarna skep ek karakters wat die plot sal uitvoer. Dan gaan ek terug en ek dink baie oor hul lewens, gegewe die dinge wat hulle moet doen. Ek begin met wat hulle in die verhaal moet doen en werk dan terugwaarts om vir hulle die gesin en ervarings te gee en die skade wat hulle het. Ek is eintlik ’n terapeut in trurat. Ek moet vir hulle die regte tipe skade gee, sodat hulle kan doen wat ek wil hê hulle moet doen volgens die storielyn. Eers as dit alles reg is, begin ek werk aan taal, woordkeuses en hoe ek dinge wil sê. As al hierdie dinge in plek is, begin ek in alle erns skryf tot die eerste draft voltooi is. Daarna begin die herskryf; ek skryf sinne maklik agt keer oor. Ek hou daarvan om met taal te speel, maar die begin van ’n boek is meer van ’n wetenskaplike aanslag.

Doen karakters soms iets wat jou verras of hou jy streng by jou plot?
Af en toe sal ek die plot buig, as ek wil hê dit moet my tema beter pas. Maar as ek by ’n punt kom en my karakter weier om te doen wat ek beplan het, gaan ek terug in die verhaal en werk aan die karakter. Dis om te verseker die karakter doen wat hy moet doen in die verloop van die verhaal. Dis net ’n kwessie van die regte motivering skep. Al begin ek aan die einde, gaan ek terug en skep volronde karakters wat gemaklik in die verhaal staan.

Waar het ’n verhaal soos Flight Behaviour begin?
Ek dink al ’n geruime tyd oor klimaatsverandering. Dis een van die belangrikste probleme van die wêreld, maar ons skenk min aandag daaraan. Ek wou in hierdie verhaal uitlig hoe verskillende mense na dié kwessie kyk en hoe hulle optree rakende klimaatsverandering. Dit was my beginpunt. Kyk maar hoe ons almal optree. Ons hardloop weg vir die waarheid. Die flight in die titel verwys na baie dinge, maar hoofsaaklik na die manier wat ons almal gedraad is om te veg of vlug as ons in aanraking kom met iets wat ons bangmaak. Hierdie boek gaan daaroor, hoe karakters op verskillende maniere weghardloop van die waarheid, die verskillende wyses van hoe karakters besluit om te glo, die kulture wat in kontras staan met mekaar wanneer ons oor klimaatsverandering praat. Dit gaan oor landelik teenoor stedelik, geleerd teenoor agterdog oor geleerdheid, geloof teenoor feite, wetenskap teenoor godsdiens. Ek het gedink dit sou fassinerend wees om ’n gemeenskap in ’n klein dorpie te skep wat klimaatsverandering moet trotseer. Boere word alreeds ernstig geraak hierdeur en dit sou die perfekte agtergrond skep. Toe moes ek ’n visuele manier vind om klimaatsverandering in hierdie gemeenskap in te bring, omdat mense geneig is om net te glo wat hulle sien. Ek het een oggend wakker geword met ’n visioen van miljoene monargskoenlappers, wat van die bome afhang soos in Meksiko, maar hierdie keer was hulle nie daar nie, hulle was in die bome agter my huis. Toe het ek geweet dit is waaroor ek moet skryf.

Hoe kies jy jou karakters se name, want dit lyk asof dit ’n rol in die verhaal speel?
Name is deel van die landskap van ’n verhaal. Name is dikwels streekgebonde en wanneer ek besluit waar my verhaal afspeel, begin ek ’n naambank. Ek gaan na die begraafplaas, veral as my karakters ouer mense is. Ek lees telefoongidse en maak ’n lys van name en vanne wat ek aan my kennisgewingbord vassteek. Elke keer as ek ’n nuwe karakter skep, kyk ek eers op my lys. Ek maak seker die name is reg vir die omgewing, maar ook vir die karakter. Ek neem ook die betekenis van name in ag. Dit moet nooit ooglopend wees nie, maar moet tog bydra tot die waarde van die karakter.

Dellarobia en Hester is teenpole van mekaar, tog deel hulle ’n kwessie wat hulle met mekaar verbind.
Mens vind dit eers aan die einde van die verhaal uit en dan het mens meer empatie met Hester. Sy is my gunsteling-karakter, want sy was fassinerend om te skep. Ek sien dikwels in families oor generasies heen dat die mense wat mekaar haat eintlik die meeste met mekaar in gemeen het. Spesifiek vroue, veral as hulle sien ’n dogter of kleindogter maak dieselfde fout as wat hulle gemaak het en daar is niks wat hulle kan doen om dit te voorkom nie. Dis amper asof hulle hulself wil red deur hul liefde te weerhou. Hester is baie so. Ek is gek oor verrassings en daar is drie aan die einde van die verhaal wat mens nogal onkant kan vang. Die beste ding van hierdie soort einde is dat mense dit nie sien kom het nie, alhoewel hulle dit tog vermoed het weens die subtiele leidrade wat ek regdeur die verhaal plant.

Geloof speel ’n groot rol in die verhaal, was dit opsetlik?
Mense wat van die platteland na stede trek, raak ontworteld; hulle sweer hulle tradisie af, want hulle is op soek na iets nuut. Maar in klein landelike dorpies, beslis die een waar ek woon, is geloofgemeenskappe die hart van hierdie plekke en dis baie maklik om hierdie outydse, behoudende gemeenskappe sleg te praat. Ek wou die karakters so skets dat hulle oor grense heen kan kommunikeer en ek wou hê lesers moet mense in afgeleë gebiede beter verstaan en die waarde van hul godsdiens in daardie gemeenskap sien. Sonder die geloofsgemeenskap is daar vir hierdie mense geen sekuriteit nie. Dit bind die gemeenskap, want hulle is afhanklik van mekaar. Dellarobia is egter skepties, omdat sy so bietjie van ’n verstoteling is. Sy voel asof sy nie daar hoort nie, omdat sy nie glosoos hulle nie. Sy hunker egter na daardie soort aanvaarding en wens sy was deel van die geloofgemeenskap.

As jy klaar is met ’n boek, is dit vir jou maklik om aan te beweeg na ’n volgende projek?
Die volgende boek is altyd die belangrikste een en teen die tyd dat ek op ’n skrywerstoer is, is ek alreeds besig daarmee. Maar dis moeilik vir my om te weet wanneer ek klaar is met ’n boek, omdat ek ’n naarstigtelike hersiener is. Ek sit lang ure in om die eerste draft te skryf. Daarna neem dit my ’n jaar om die boek te hersien. Dis wanneer ek aan taal, metafore en styl werk. Dan is dit die kuns om seker te maak al die karakters se backstories is reg en dat dit op verskillende maniere onthul word. Dis soos om ’n tapisserie te maak. Ek is mal daaroor en ek kan vir ewig hersien en herskryf. Daar kom egter ’n punt waar ek moet sê, genoeg!