FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Bederf-boeke vir mense in jou lewe

Kersfees is om die draai. Hierdie week is die boeke op my lysie nogal uiteenlopend.

Daar is ’n prenteboek, ’n joernaal, strokiesprente en ’n bundel vol vreemde en fassinerende vrae en antwoorde.

Prente by ’n uitstalling, Philip de Vos en Piet Grobler (Protea Boekhuis, R160)
De Vos is geïnspireer deur die musiek van Moessorgski vir die versies in hierdie boek. Moessorgski is ’n Russiese komponis wat in 1874 ’n klavierwerk geskryf het, nadat hy by ’n utistalling skilderye was van sy gestorwe vriend Viktor Hartmann. Dié klavierwerk is in 1922 deur Ravel georkestreer en weens die orkesweergawe het dit beroemd geword. Nou het Philip de Vos sy inspirasie weer gaan put uit die werk om die verse te skryf wat meesterlik deur Piet Grobler geïllustreer word. Wanneer jy deur die boek blaai, is dit amper asof jy deur ’n uitstalling van skilderye stap met ’n begeleiding van teks. ’n Lieflike boek wat ook in Engels beskikbaar is as Pictures at an Exhibition.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Joernaal vir ’n Bedonnerde Diva, Sophia Kapp (Lapa Uitgewers, R180)
As jy aanklank gevind het by Kapp se roman, Oorlewingsgids vir ’n Bedonnerde Diva (Lapa Uitgewers) waarin sy geskryf het oor ’n vrou wat bedonnerd was en wat haar eie lewe teruggeëis het, is hierdie joernaal die perfekte geskenk vir jou. Hierin sal jy elke dag herinner kan word van hoe jy jou lewe kan terugeis, want afwisselend met ruimte vir jou om self te skryf, gee Kapp wenke van hoe jy jou lewe kan omswaai om jou mag weer terug te kry. Dit gaan hier oor eie waarde, en om jou eie geluk te skep. Party van haar wenke is lighartig, maar ander is dieper en dra ’n lewenswysheid oor wat waarde aan enige vrou se lewe kan voeg.Op die koop toe is daar ’n paar lekker resepte ook!

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die Groot Drie: ’n Eeu van Spotprente in die Burger, François Verster (Penguin, R230)
In ’n skrywersnota sê Verster: “Die spotprente in hierdie boek vat die tydsgees van die periode 1915 tot 2015 op ’n unieke wyse vas, en bepaald deur ’n spesifieke ideologiese bril.” Hy wys daarop dat ’n soortgelyke bundel spotprente uit ’n Engelstalige koerant heeltemal vanuit ’n ander perspektief sal wees, en dat verskillende perspektiewe nodig is om ’n vollediger beeld van ons geskiedenis te vertel. Hierdie boek is saamgestel ter viering van die koerant, Die Burger, se honderdste bestaansjaar en bevat van die spotprente deur drie van die koerant se spotprenttekenaars: D.C.Boonzaier, T.O.Honiball en Fred Mouton. Buiten dat die boek ’n goeie perspektief oor die politieke geskiedenis van die land gee deur die verskeidenheid spotprente, verskaf Verster uitstekende agtergrond oor Die Burger. Hy wys lesers ook daarop dat talle kriteria ’n rol behoort te speel wanneer spotprenttenenaars na waarde geskat word. Maar die belangrikste hiervan is die era waarin hulle geleef en gewerk het. Dit plaas die werk in konteks.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Dead President Walking, Zapiro (Jacana, R165)
Kan jy glo dis Zapiro se 21ste jaarboek hierdie! Dis hoeveel jaar hy ons al vermaak en aan die dink sit met sy spitsvondige spotprente. As jy ’n bewonderaar is, sal jy weet dat hy in die verlede dikwels al in die spervuur was oor sy Zuma spotprente. Nou ja, in hierdie bundel speel president Zuma weer ’n hoofrol en alhoewel die spotprente waarin hy figureer skreeusnaaks is, is dit terselfdertyd hartverskeurend. Dis ons land se president en sy hoofrol speel hy teenoor karakters met die name Gupta en Malema. 2016 kan tereg beskryf word as die jaar van die hutsmerk; dink maar aan #RhodesMustFall, #ZumaMustFall, #FeesMustFall, asook #Racism/#Sexism. Geen gebeurtenis of persoon is ontsien deur Zapiro nie, nie Nenegate, die Olimpiese Spele, Thuli Madonsela of Pravin Gordhan nie. Skerp, spitsvondig en sosiale kommentaar op sy beste is my mening oor sy spotprente!

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Hoe verklaar jy dit?, saamgestel deur Danny Fourie (Penguin, R220)
Een van my gunsteling-radioprogramme op RSG is Hoe verklaar jy dit? waarin antwoorde gegee word op vrae oor die natuur, fisiese wetenskap en die ruimte. Die vrae word ingestuur deur luisteraars en word dan deur kundiges beantwoord. Hoe lekker is dit om nou in ’n boek ’n keur uit vrae en antwoorde van die afgelope 37 jaar van die program se bestaan te hê! Hier is een uit die boek wat jou beslis aan die dink gaan kry, en boonop ’n heerlike gesprek rondom jou eettafel kan wees: “Hoekom weeg ’n mens swaarder wanneer jou skaal op ’n dik mat staan?” Nee mense, dis nie ’n urban legend nie. Daar is werklike navorsing hieroor gedoen en daar is bevind dat as jy die badkamerskaal op ’n mat sit, jy tot 10% meer kan weeg as jou werklike gewig! Die antwoord vir die tendens is dat dit alles met die soort skaal waarop jy jou weeg te make het. Die konstruksie van skale verskil en as jy ’n skaal het wat met ’n veeraksie werk, is jou kans goed dat jy meer gaan weeg. ’n Digitale skaal is ’n beter opsie, of anders moet jy net nie jou skaal op ’n mat sit nie. In hierdie uitmuntende bundel is daar nog sulke juwele wat jou kennis gaan verruim. Ek sit dié boek dadelik op my Kersfeeslysie!

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Goodnight Zuma, Anonymous (Jacana, R145)
Hierdie hardeband boekie is ’n parodie van die 1947 klassieke kinderboek, Goodnight Moon deur Margaret Wise Brown en Clement Hurd. Dis egter nie die eerste keer dat ’n parodie gegrond is op die kinderboek nie. In 2008 het die uitgewer, Little Brown US, Goodnight Bush uitgegee en dié boekie het die lys van die New York Times se top-verkopers gehaal. Al het ons plaaslike uitgawe reeds in 2015 verskyn, voel ek dis vanjaar weer ’n gepaste geskenk vir enigeen wat belangstel in die politiek, of wat droom van ’n toekoms waar die politieke waters in die land nie so stormagtig is soos die afgelope jaar nie! Op die openingsbladsy sit Zuma in sy bed, omring met van sy besittings soos uitgebeeld in die daaropvolgende bladsye. Dan begin hy om vir al die besittings nag te sê. Die een wat vir my uitstaan is: “Goodnight Thuli and your damned report. It’s unlikely that you’ll see me in court.” Wat kan mens hierop antwoord?!

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Madam & Eve Take us toYour Leader, Stephen Francis & Rico (Jacana, R160)
Suid-Afrikaners het deur die jare nog altyd die vermoë gehad om te lag oor slegte goed wat gebeur. Dink maar aan groot rampe, eintlik wil ek sê politieke rampe; die nuus het skaars gebreek, of die grappies begin instroom. 23 jaar lank word ons vermaak deur Francis en Rico se karakters in hul Madam & Eve strokiesprente. Kan jy glo dis hoe lank hierdie strokiesprent ons al amuseer. In hierdie bundel speel daar karakters soos die Guptas, Julius Malema, Jacob Zuma en kie rolle om die gekheid wat soms in die land gebeur, uit te beeld. Jy kan nie anders as om te lag nie, al wil jy eintlik jou hare uit jou kop trek oor die hartseer agter die gebeure … Maar lag het ’n vermoë om korrupsie, staatskaping, entitlement, #FeesMustFall, Hlaudi en nog ander onderwerpe effe meer verteerbaar te maak. Die probleme bly, maar jy kyk deur ’n ander bril daarna – die van hierdie nimlike Anderson-gesin en die sardoniese sidekick, Eve. Lank lewe hulle, Viva! Amper vergeet ek hierdie kreet: lank lewe Stephen Francis en Rico, Viva!