FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Bederf jou pa met ’n boek vir Vadersdag

As jy nog nie vir die man in jou lewe ’n geskenk vir Vadersdag gekoop het nie, oorweeg gerus ’n goeie boek. Hier bespreek ons boeke oor rugby, krieket, rolprente, geskiedenis, kos en die natuur. En iets net om te lees vir die lekker!

Stories van die kantlyn, Theuns Stofberg (Zebra Press, R220)
Jy leer ken die oud-Springbok rugbykaptein Theuns Stofberg so ’n bietjie beter met hierdie boek wat hy geskryf het. Dis ’n lekker boek, en ’n mens voel sommer jy sal wil glimlag die dag as jy dié rugbyreus in lewende lywe ontmoet.

Dis beslis nie ’n basiese biografie nie. Ook nie ’n rugbyboek nie. Dis ’n inspirerende boek met eg menslike stories wat maklik lees. Stofberg se jarelange stryd met sy gehakkel het verlede jaar party koerante en tydskrifte gehaal ná hy daaroor op Facebook geskryf het. Daardie storie is ook in die boek. Hy skryf ook oor sy ervaring met ’n padvark, oor sy oupa se Maltese poedel, Donsie, en sy ou Volkswagen Kewertjie (Vaalvark, nie te verwar met die padvark nie). Hy deel ook sy vrese toe hy “deur die dal van die doodskaduwee” gegaan het.

Daar is ’n paar lekker korsies rugby om aan te peusel wanneer Stofberg bietjie meer vertel van 1981 se betogertoer deur Nieu-Seeland en van die dag toe hy die eerste keer vir die Springbokspan gekies is, en so aan. Jy lees van sy rugbyvriende soos groot Louis Moolman, wat gemeen het hy het genoeg opgewarm vir ’n wedstryd as hy sy tone een keer geraak het. En jy lees van Div Visser wie se hande so groot soos borde was en van minder bekendes wat nie Springbok geword het nie.

Morné du Plessis, nog ’n oud-Bokkaptein, som die boek mooi op in die voorwoord: “In hierdie boek vertel Theuns sy lewensverhaal op ’n hartlike, soms hartseer, maar meestal vermaaklike manier … Theuns is nooit bang om vir homself te lag wanneer hy bestek opneem van sy talle avonture en ondervindings nie.” – Michael Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Defining moments at the crease, Gallo Images (Jonathan Ball, R300)
Hierdie een is vir krieketliefhebbers. In die boek word van die grootste krieketoomblikke van ons nasionale span oor die afgelope 25 jaar gewys. Die uitstekende foto’s is geneem deur die fotograwe  wat vir Gallo Images werk en die boek is ook opgedra aan Duif du Toit, een van die geliefde en bekendste sportfotograwe wat verlede jaar ná ’n kort siekbed beswyk het.
Wanneer jy deur die boek blaai, onthou jy weer baie goue oomblikke wat jy dalk al vergeet het, soos die eerste keer wat Allan Donald 5 paaltjies in ’n eendag-wedstryd tussen SA en Indië behaal het in 1991. Die vreugde op sy gesig vertel die hele verhaal. Wie kan Fanie de Villiers se kragtoer van paaltjies wat geval het teen die Aussies in 1994 vergeet! Die onderskrifte by elke foto vertel in ’n neutedop waaroor dit gaan. Wat wou, ek voel sommer lus en koop hierdie een vir myself! Al is ek nie ’n pa nie … – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Daar doer in die fliek, Leon van Nierop (Protea Boekhuis, R350)
Van Nierop is ’n bekende Afrikaanse rolprentresensent en al stem jy nie altyd saam met wat hy oor ’n rolprent sê nie, kan jy maar aandag gee aan sy resensies. Hy gee altyd ’n interessante siening en laat mens met ander oë na rolprente kyk. Sy liefde vir hierdie medium kom ’n lang pad, van sy eerste kennismaking met ’n veldfliek toe hy vier jaar oud was! Nogal so ewe die rolprent, Daar doer in die Bosveld, van Jamie Uys. Toe die projektor begin draai en die beelde op die skerm wys, het klein Leon gedink hy is in die paradys.  In hierdie boek sien jy Leon se liefde in hoe hy die geskiedenis van Afrikaanse rolprente van die vroegste stilprente tot en met die nuutse rolprente van ons tyd beskryf. Dis ’n omvangryke werk wat ’n oorsig bied oor die Afrikaanse rolprent. In die voorwoord skryf Van Nierop: “Baie van die feite in hierdie boek het in terloopse, persoonlike gesprekke in voorportale of by premières opgeduik.” Dis juis hierdie inligting wat die boek lekker lyf gee en kleur gee aan karakters wat in die bedryf is. Hierdie boek is ’n aanwins vir almal wat fliekvlooie is, maar dis so toeganklik en onderhoudend dat ander mense dit ook boeiend sal vind. – PG

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Openbaring, C. Johan Bakkes (Queillerie, R240)
Die lekkerte van Bakkes se nuutste reisverhaal, oftewel reisjoernaal, is dat dit in der waarheid twee avonture in een is. Bakkes vertel afwisselend van sy en sy span se besoeke aan onderskeidelik die warmste en koudste plekke op aarde waar mense nog daagliks ’n bestaan maak. Die reise is na die koue en donker Siberië in Rusland en na die soutmyne in die verswelgende hitte van die Danakil-depressie in Ethiopië. Ter afsluiting maak hy ’n ekstra draai deur Rusland. Bakkes en sy span is gewone mense, almal al aan die verkeerde kant van vyftig, en beslis nie professionele avonturiers nie. Gewone mense wat op eie koste buitengewone reise aanpak.

Die stories word eerlik, humoristies en met ’n kenmerkende goeie dosis selfspot vertel. Bakkes neem homself nooit te ernstig op nie en dit dra by tot ’n heerlike leeservaring. Die boek word aanbeveel vir almal wat van reis en humor hou. Talle “familie-album” foto’s dra by tot die leesgenot. Bakkes is bekend vir sy reise na buitengewone plekke. Dis sy sewende ervaring wat hy met ons deel. – Gert Venter

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Judaskus, Rudie van Rensburg (Queillerie, R220)
In Van Rensburg se eerste boek, Kopskoot, het hy vir kaptein Kassie Kasselman aan ons voorgestel, die aweregse en onbeholpe speurder wat eerder lyk of hy deur twaalf terpentynbosse gesleep is. Nou nie iemand wat jy as modieus sal beskryf nie. Maar Kassie moet nie op sy baadjie getakseer word nie, want hy is ’n uitmuntende speurder en selfs die ongewoonste saak kry hy opgelos. ’n Aanwins vir die polisie! In hierdie verhaal word beendere op ’n stortingsterrein gevind. Dit word verbind met ’n ou saak, die Broeksma-reeksmoordenaar, maar iets is nie pluis nie. Kassie kry snuf in die neus oor hoe die saak verloop het en bowendien is daar ander lyke wat nou opduik. Wat is die verband tussen al hierdie slagoffers? Is dit ’n bende-oorlog soos sy kollegas glo, of het Kassie iets beet? Van Rensburg weef ’n boeiende verhaal met verskeie kinkels wat jou as leser elke keer opnuut verbyster. Moet nie bekommerd wees as jy nie die eerste boek gelees het nie. Die boeke staan onafhanklik van mekaar, maar ek sal aanbeveel dat jy vir plesier beide lees. O ja, sy nuutste boek, Pirana, is ook nou op die rak. Kan nie wag om my tande daarin te slaan nie. Hierdie reeks kan ek regtig aanbeveel: goed geskryf, interessante karakters met pittige kwinkslae, spannende verhaallyne en verrassende wendings! – PG

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Hartskombuis: Boerekos van die Anglo-Boereoorlog tot vandag, saamgestel deur die Oorlogsmuseum (Tafelberg, R300)
Hierdie boek is ’n juweel. Dit bevat wonderlike resepte uit ons geskiedenis. Boonop word daar vertel waar en hoe van die resepte ontstaan het en hoe die burgers dit op kommando in die veld voorberei het. Dit gee heerlike agtergrond oor die kos wat daar geëet is en hoe die verloop van die oorlog bepaal het wat op die spyskaart beland het. Hier het ek vir die eerste keer gelees waar “kommandorys” vandaan kom. My plaasouma het dikwels so na rys verwys, maar as kind het ek nooit gevra waarom nie. Die storie in die boek verduidelik hoe generaal Chris Muller “op ’n keer ’n groep burgers beveel het om hul  saalsakke te deursoek vir enigiets eetbaars. Toe hulle alles bymekaarsit, het hulle ’n koppie rys, ’n blik salm¸een ui en ’n bietjie kerriepoeier gehad. [ ] Al die bestanddele is toe in ’n pot gebraai met ’n bietjie vet en sout.” Nou daar het jy dit – die ontstaan van Kommandorys! Vir pa’s wat hou van geskiedenis en ook om te kook, is hierdie boek regtig een wat ’n gunsteling gaan word. Die geskiedenis rondom die kos uit die Anglo-Boereoorlog word hier op ’n boeiende  en baie bruikbare manier verpak in ’n boek vol interessante foto’s en illustrasies. – PG

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Jan Smuts, Unafraid of Greatness, Richard Steyn (Jonathan Ball, R250)
Jan Smuts was ’n omstrede leier in Suid-Afrika. Vir party was hy ’n groot leier en ander het weer gevoel dat hy nie deel was van sy eie mense se struggle nie. Met sy dood het Die Transvaler in ’n berig gesê: “The outstanding tragedy was that he stood entirely apart from the struggle and emergence of his own people.” Tog het die koerant toegegee “that even if their fellow-Afrikaner had not served his own people, he had served the world with distinction.” In hierdie biografie put Steyn uit die vele geskrifte wat al oor Smuts die lig gesien het om ’n boek te skryf waarin hy die essens van die uitsonderlike individu wat Smuts was, probeer weergee. Vir mense wat niks weet van die staatsman nie, sal dit ’n goeie beeld gee van wie en wat Smuts nou eintlik was. Vir mense wat Smuts se agtergrond ken, sal dit herbevestig watter impak hy op die geskiedenis in Suid-Afrika, maar ook in die wêreld, gehad het. Die boek is toeganklik geskryf en skram nie weg daarvan om die teenstrydighede in Smuts se leierskap te ondersoek nie. Die boek sluit af dat dit ironies is dat Smuts in sy eie land gesien is as ’n Engelsman in murg en been en dat hy in Brittanje en die res van die wêreld gerespekteer is as ’n ware en patriotiese Afrikaner, die beste voorbeeld van sy volk. Die boek is ’n waardevolle toevoeging tot die geskiedskrywing van Suid-Afrika. – PG

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

101 Kruger Tales, saamgestel deur Jeff Gordon (Struik Nature, R250)
As jy mal is oor diere en die natuur, is hierdie boek beslis vir jou. Die 101 uitsonderlike ervarings wat hier beskryf word, het regtig gebeur. En dis Wildtuin-besoekers wat self vertel wat hulle in die park beleef het. Dis ongewone stories, ’n rooibok wat in iemand se oop motorvenster spring, ’n woedende leeuwyfie wat ’n kardeur oopbreek … So kan ek aangaan en vreemde, maar waar, insidente opnoem. Lees eerder die boek, dis baie beter! Die stories is kort. Sommige is snaaks, ander is hartseer en ander is verstommend. Die soort waaroor jy sê ‘ek kan dit nie glo nie’ of ‘het jy gehoor …’ Die boek bevat ook 192 kleurfoto’s wat geneem is tydens die gebeure waaroor geskryf word. Die een behoort op jou bedkassie te lê sodat jy elke aand ’n paar storietjies kan lees. – PG

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Game Drive Birds of Southern Africa, Philip van den Berg (HPH Publishing, R499)
Van den Berg se doel met hierdie boek is om dit vir mense wat op wildritte gaan in die gewilde Suid-Afrikaanse parke maklik te maak om voëls op die ritte uit te ken. Die boek is ingedeel in hoofstukke volgens die voëls se habitat: birds of prey, birds at the water, groundliving birds en birds dependent on trees. Dan is daar agter in ook ’n vinnige naslaan-gids. Hy gee ook handige wenke vir mense wat nie gesoute voëlkykers is nie, sodat hulle weet wat die etiket rondom dié stokperdjie behels. In elke hoofstuk word verduidelik wat die basiese kenmerke van die voëls in dié kategorie is. Daarna wys hy kleurfoto’s van die voëls en bespreek ook die onderskeie voëls se beste kenmerke en gedrag bondig , sodat jy maklik tussen hulle kan onderskei. Die foto’s help jou om die voëls te leer ken, want dis baie duidelik.  Met die handige boek sal jy baie meer plesier uit jou wildritte put. Gelukkig hoef jy nie nou daardie klein vaal en bruin voëltjies (LBJ’s) te leer ken nie! Hulle is nie ingesluit in die boek nie en as jy eers hierdie geveerdes onder die knie het, lê daardie taak vir jou voor.  – PG

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

King of sorrow, James Fouché (James Fouché, R220)
David Harlem is op die punt om sy maatskappy, Harlem Eiendomme, te verkoop. Hy het die maatskappy van die grond af opgebou, maar wil dinge rustiger vat ná die dood van sy familie. Die transaksie kan bedrog van miljoene openbaar en die skuldiges sal tot die uiterstes gaan om dit te verhoed, al beteken dit David se dood. Kerin, aan die anderkant van die ekonomiese spektrum, is ʼn enkelouer met twee kinders, die agtjarige Megan en sesjarige Dillon. Kerin, ʼn kelnerin, word afgedank en die toekoms lyk nie rooskleurig nie. Kerin ontmoet Dawid tydens ’n moeilike tyd in haar lewe, maar besluit om die verhouding ʼn kans te gee, onbewus daarvan dat dit haar lewe in gevaar stel. Hulle kuier vir ʼn naweek op David se plaas. In Suid-Afrika, bied plaasmoorde die uitstekende dekmantel om ʼn beplande moord na ʼn tipiese plaasaanval te laat lyk. Fouché slaag daarin om die koöperatiewe wêreld met die van ’n sukkelende kelnerin te laat saamsmelt teen die agtergrond van ʼn gewelddadige Suid-Afrika en maak die lees van die boek die moeite werd.  – Gert Venter