Boeke

Top-5 besighou-boeke vir kinders

Al die boeke is spesiaal gekies om hulle besig te hou, maar terselfdertyd iets te leer. Leer is beslis meer pret as dit nie soos skool voel nie. En as dit in volkleur met plakkers, magnete en skoonvee-penne gebeur, des te beter. So, terwyl jy jou kind besig hou met die hopie boeke kan jy ‘n welverdiende tydjie vir jouself afknyp!

Onthou om ons boekwinkel te besoek om van die boeke aanlyn te bestel.

Skoonvee Pretboek: By die See, Brenda Apsley ( Human & Rousseau, R120 )
Ideaal om ‘n kind te leer van allerhande dinge by die see en ook in die see. Dis ‘n pretboek waarin die kind kan leer hoe om seker diere te teken. Die prentjies kan afgevee word en weer geteken word. Dan is daar ook magnete waarmee tonele voltooi kan word. ‘n Heerlike kreatiewe manier vir kinders tussen die ouderdomme van drie en tien jaar om te leer. Die boek is kleurryk en die illustrasies deur Craig Cameron maak dit ‘n mooi boek om deur te blaai. Die nateken-instruksies is ook eenvoudig en enige kind sal dit stap vir stap kan volg. In hierdie reeks is daar nog boeke: Skoonvee Pretboek: Dinosourusse en Skoonvee Pretboek: Plaasdiere. Hierdie hele reeks is ideaal vir kleuterskole en is ‘n nuttige stukkie gereedskap waarmee juffrouens woelwaters kan besig hou en sommer terselfdertyd nuwe dinge leer.

Dinosourusse Plaasdiere
My first book of SA insects My First Book of Southern African Insects, Charmaine Uys (Struik Nature, R76,95)
Goggas wat vlieg, goggas wat spring en goggas wat kruip – ‘n hele boek vol! Kinders is gewoonlik gefassineer deur insekte, want dit is die dierelewe waarmee hulle in hulle gewone bestaan in aanraking kom. Vlieë, skoenlappers, miere en naaldekokers vertolk ook gewoonlik rolle in baie van hul storieboeke. Hierdie boek is ‘n pragtige gids met kleurryke sketse en eenvoudige teks oor 58 van die mees algemene insekte. Alhoewel die boek se titel in Engels is, is al die teks ook in Afrikaans, Xhosa en Zoeloe. Nie alleen leer hulle oor insekte nie, maar kan selfs taalvaardighede aanleer. Daar is ‘n nog ander titels in die reeks beskikbaar en hierdie leser kan almal aanbeveel. Kyk uit vir My First Book of Southern African Wildlife, konsep deur Erroll Cuthbert (Struik Nature, R175) en My First Book of Southern African Birds Volume 2, Erroll Cuthbert (Struik Nature, R76,95).
My first book of SA wildlife My first book of SA birds vol2
Die Goorgomgaai Aktiwiteitsboek Die Goorgomgaai Aktiwiteitsboek, Julia Donaldson en Axel Scheffler (Human & Rousseau, R69,95)
Die Goorgomgaai is ‘n ou bekende by ouers, en kinders is mal oor die karakter. As jy siek en sat is om te hoor: Ma, wat kan ek doen? dan is hierdie boek jou antwoord. ‘n Hele spul goed waarmee jou kind hom of haar kan besig hou van speletjies, kopkrappers, prentjies om te teken, soek die verskille tot inkleur. Al die oplossings word agterin die boek gegee. Daar is ook 40 herbruikbare plakkers waarmee die woudtoneel oor en oor geskep kan word. Skrywer Julia Donaldson het al oor die veertig boeke en toneelstukke vir kinders geskryf.
Blokraaisels vir Aapsterte2 Blokraaisels vir Aapsterte 2, Talana Schoeman (Tafelberg, R89,95)
Dis Schoeman se tweede boek met blokraaisels spesiaal vir kinders. Sy is ‘n oud-laerskoolonderwyseres wat in haar loopbaan gevind het dat kinders al hoe meer sukkel om woorde reg te spel. Kinders wat sukkel om te spel, sukkel om te lees en dit beïnvloed hul skoolwerk en prestasie. Dit was haar dryfkrag om ‘n manier te vind om kinders op ‘n prettige manier te leer spel en so is hierdie boeke gebore. In die boek is 50 blokraaisels wat noukeurig saamgestel is uit woorde en begrippe uit die ervaringsveld en kurrikulum vir laerskoolkinders. Al is dit gemik op laerskoolkinders sal die boek nuttig wees vir ouer kinders wat Afrikaans as ‘n tweede taal aanleer. Dit sal beslis spelvaardigheid verbeter.
Blokraaisels vir Aapsterte Blokraaisels vir Aapsterte, Talana Schoeman (Tafelberg, R89,95)
Waar&aposs Willie? Waar’s Willie?, Martin Handford (Human & Rousseau, R110)
Die Willie-boeke kan jou vir ure besig hou, want Willie is nie ‘n maklike mannetjie om te vind op sy reise nie. Hy hou daarvan om weg te kruip tussen al die ander mense op die blaaie! Martin Handford se Where’s Wally?-boeke het meer as 43 miljoen eksemplare wêreldwyd verkoop en word in 33 lande en in 22 tale verkoop (waaronder Afrikaans). As jy nog nie die boeke onder oë gehad het nie, gaan loer gerus tussen die blaaie. Jy sal verstom wees oor die hoeveelheid detail en mense op elke prentjie waar Willie wegkruip. Dit neem Handford ongeveer agt weke om een prentjie te teken en hy self vind eers dan uit waar hy vir Willie wil wegsteek. ‘n Prettige manier om lank besig te bly.
Waar&aposs Willie nou? Waar’s Willie nou?, Martin Handford (Human & Rousseau, R110)