FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Bier is vir vroue ook! Vroue bierbeoordelaar sê so.

As jy gedink het bier is net vir manne moet jy maar weer dink! Maar jy hoef nie my woord daarvoor te neem nie.

Dis deesdae ’n gesogte drankie onder vroue ook, veral die vele craft biere wat nou in die land beskikbaar is. Lucy Corne is passievol oor bier en skryf reeds jare daaroor en volgens haar is bier vinnig besig om vatplek te kry onder vroue.  Sy is ’n gekwalifiseerde bierbeoordelaar. Haar vorige boek oor bier, African Brew, het ’n prys gewen! In haar onlangse boek, Beer Safari, (Struik Lifestyle, R282) verduidelik sy hoe boetiekbier in Suid-Afrika ontwikkel het, waar dit begin het en waar die bedryf nou staan. Daar is ook ’n baie interessante grafiese uiteensetting van wat bier nou eintlik is en sy vertel ook hoe jy bier moet proe en wat die eienskappe is waarna jy in verskillende soorte bier moet soek. Sy beskryf ook elkeen van die 100-plus brouerye wat sy besoek het, verduidelik wie die bier maak en hoe die bier proe. Natuurlik is die boek ook ryklik geïllustreer met foto’s. Die boek is geografies ingedeel sodat dit maklik is om te sien presies waar elke brouery is. As jy op jou eie safari wil gaan om jou lekkerste bier te vind, moet jy die boek aanskaf. Dit sal help met jou beplanning van waarheen om te gaan en gee jou ook handige inligting om ’n gesprek af te skop oor ’n bier, of twee. . . Ek het per e-pos met Lucy oor bier gesels.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Jy is van Engeland af. Waarom jou in Suid-Afrika vestig?
Ek het wyd gereis in Suid-Afrika en het bloot verlief geraak op die land. Ek en Shaun (nou my man) het in 2010 hierheen verhuis. Hy het toe sy meestersgraad by die Universiteit van Kaapstad gedoen. Ons het aanvanklik net vir ’n jaar gekom en ons is steeds hier!

Vertel kortliks wie jy is en wat jy doen.
Vandat ek elf jaar oud is, wou ek ’n skrywer word. Ek het joernalistiek studeer aan Sheffield  Universiteit in die Verenigde Koninkryk. Ek het aan en af gereis vir ’n dekade en my uiteindelik in Suid-Afrika gevestig. My passies is reis, bier en my tweejaaroue seun, alhoewel die eerste twee nie altyd gemaklike pasmaats is met die laaste een nie . . . Ek skryf oor bier en reis en soms oor kos. Ek is mal oor my werk, regtig mal daaroor.

Jy reise neem jou dikwels weg van die huis af. Hoe maak jy tyd vir jou gesin?
Ek is baie gelukkig dat Shaun ’n baie inskiklike werk het en dikwels saam met my kan reis, natuurlik met ons seun. As ek alleen is, het ons gereeld gesprekke via Skype en wanneer ek terug tuis is, probeer ek hard om naweke vry te hou vir gesinsuitstappies in Kaapstad en die Wynlande. Ons seun is aangeneem deur die mense in die bierbedryf en hy is heel gelukkig op brouerytoere!

Hoe het dit gekom dat jy bier drink en waarom juis bier?
Ek het op universiteit begin bier drink. Ek dink daar is baie meer vroue bierdrinkers in Brittanje as in Suid-Afrika. Eintlik het Shaun my blootgestel aan verskillende biere. Ons het ontmoet toe ons altwee gereis het en ons het nogal mikrobrouery besoek oral waar ons gereis het. Toe ek hierheen verhuis het in 2010, het die boetiek bier-toneel net mooi begin goed doen en dit was die ideale tyd om ’n blog oor bier te begin.

Jy is ’n gekwalifiseerde bierbeoordelaar. Hoe word mens ’n bierbeoordelaar?
Mens kwalifiseer deur ’n Amerikaanse organisasie, die BJCP (Beer Judge Certification Programme). Jy doen ’n aanlyn eksamen waarin jou kennis oor bier getoets word en dan is daar ’n proe eksamen, waar jy ses verskillende biere moet beoordeel volgens ’n spesifieke styl. Bierbeoordeling is nogal anders as wynbeoordeling. Daar is ’n ingewikkelde vorm om in te vul . . . En by ’n bierbeoordeling spoeg jy nooit!

Is bierproe so kompleks soos wynproe?
Beslis. In teendeel, ek sou sê meer so, omdat bier meer bestanddele bevat – ’n minimum van vier (water, moutgars, hops en gis). Die variasie in daardie bestanddele is geweldig en dus is geurkombinasies eindeloos. Byvoorbeeld, van mout af kry jy geure en aromas van koekies, toffie, roosterbrood, koffie en sjokolade; van hops kry jy enigiets van peper tot dennewoud tot grenadella, terwyl gis note van piesang, naeltjies, brood of kougom kan gee – en baie, baie meer!

Hoe vergelyk boetiekbier in Suid-Afrika met boetiekbier in die res van die wêreld?
Dis nog jonk, maar groei ongelooflik vinnig. Ons het gevorder van 20-30 brouery in 2011 tot ver oor die 150 tans. Brouers is besig om internasionale style te herskep, maar brou ook bier wat uniek is aan Suid-Afrika met bestanddele soos rooibos en boegoe.

Watter tipe bier is jou gunsteling en is daar ’n plaaslike bier waarvan jy baie hou?
Ek is ’n groot bewonderaar van sterk en bitter Amerikaanse styl biere met ’n oordrewe hopprofiel. Devil’s Peak Brewing Company se King’s Blockhouse IPA is een van my gunsteling-biere. Ek geniet ook moutagtige Engelse biere, maar daar is nog nie baie mense in SA wat dit brou nie.

Hoe het jy die skryf van jou boek, Beer Safari, aangepak?
Ek is heeltyd in kontak met brouers om my lys aan te vul van wie brou wat en dit was ’n goeie plek om te begin. Een van my absolute gunsteling-dinge is om na kaarte te kyk en reise te beplan, so daardie deel was ook pret! Eintlik was die hele projek net ’n fees. Toe die roete uitgestippel is, het ek van brouer na brouer gery, ’n uurlange gesprek gehad om eers hul storie te kry voordat ek die biere geproe het. Dan het ek foto’s geneem van die brouer, die brouery, die biere en die omgewing. Die boek het my twee liefdes by mekaar gebring – reis en bier. Dit was ’n wonderlike projek.

Brou jy jou eie bier?
Ek het nog net een keer self gebrou. Dis nogal ’n uitgerekte proses en ek kan nie so lank konsentreer nie! Nietemin, ek is nogal betrokke by die plaaslike tuisbrou-klub in Kaapstad, die South Yeasters, so ek het planne om vanjaar ’n paar te brou.