FOTO: verskaf

Boeke

Binne ’n oogwink het hierdie jong vrou se lewe verander

Kim McCusker se lewe het letterlik en figuurlik binne vyf minute ingrypend verander.

Die een oomblik was sy ’n gesonde jong vrou op pad na die gimnasium om te gaan oefen. Binne enkele minute ná ’n ongeluk was sy ’n invalide wat vir maande vasgekluister was aan ’n hospitaalbed en kon sy nie eens self haar hare borsel of room aan haar gesig of lyf smeer nie. Mens kan jou kwalik voorstel hoe dit voel, veral omdat mens alles wat jy kan doen as vanselfsprekend aanvaar. Mens dink dikwels nie daaraan dat ander mense moontlik kan sukkel om die mees basiese ding te doen nie, weens omstandighede buite hul beheer.

Wanneer jy Kim McCusker se verhaal, Scarred – But Not For Life, Kim McCusker (Tracey McDonald Publishers, R260)  lees, besef jy dat mens se lewe onherroeplik kan verander binne ’n oogwink. Dikwels het jy ook geen beheer daaroor nie, en is dit ook nie deur jou eie toedoen nie. Hierdie is haar weergawe van die insident in 2011 wat haar lewe vir ewig verander het. Dis emosioneel om te lees hoe ingrypend die veranderinge was. Op 13 September 2011 was sy en haar verloofde op pad na die gimnasium toe ’n minibus-taxi teen hul bakkie gebots het. Sy skets die prentjie van presies hoe die gebeure daarna uitgespeel het en hoe dit gekom het dat sy 780 meter gesleep is deur die minibus. Wat wonderbaarlik is, is dat sy die voorval hoegenaamd oorleef het.
’n Maklike lees is dit beslis nie, want Kim beskryf in grafiese detail wat haar beserings was en wat haar pad na herstel behels het. Jy lees van elke prosedure en behandeling en as jy gou naar word, dan sal haar vertelling jou beslis ontstel. Die boek gaan egter oor meer as net haar beserings. Dis ook haar, en die mense naaste aan haar, se emosionele reis – hoe so insident hul almal se lewens geraak het en wat dit van hul geverg het om te oorleef. Wat met haar gebeur het, het ook ’n impak op hul lewens gehad. Die stryd waardeur haar verloofde, Lourens, in die hof was om sy onskuld te bewys, asook die emosionele tol wat dié ongeluk op hom gehad het, is roerend. Die boek is brutaal eerlik geskryf en gestroop van enige sensasie en daarom raak dit mens soveel meer. Mens kan nie anders as om haar te bewonder vir haar deursettingsvermoë en vasberadenheid om hierdie terugslag te oorkom nie. Ja, sê Kim, dit wat vir jou onmoontlik, hopeloos of oorweldigend lyk, is nooit groter as jy nie. Voorwaar indrukwekkende en wyse woorde van iemand wat so hard deur die lewe gemaal is! – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Lily and the Octopus, Steven Rowley (Simon & Schuster, R330)
As jy ’n hond het en baie lief is vir daardie hond, dan sal hierdie boek beslis aan jou hartsnare trek. Dit gaan oor ’n eensame skrywer, Ted, en sy 12 jaar oue worshond Lily, en die verhouding tussen hulle. Amper vergeet ek van die seekat, wat ’n titelrol speel! Die seekat het hom tuisgemaak op Lily se kop. Meer gaan ek nie oor die seekat sê nie. Behalwe dat die seekat die heel belangrikste karakter in die rolverdeling het. En boonop begin Ted se hele lewe draai om die seekat, want die seekat gooi Lily se lewe heeltemal deurmekaar.

Die boek is roerend geskryf en mens kan jou inleef in Ted se emosie, wanneer hy besef sy geliefde hond gaan nie vir ewig aan sy sy wees nie. Hierdie ode aan ’n worshond is emosioneel en alhoewel ek aanvanklik nie vat kon kry aan Ted nie, het Lily van die eerste oomblik af in my hart gekruip. Soos wat ek gelees het, het ek al hoe meer van Ted begin hou, want sy dilemma is ook my dilemma; as hondeliefhebber en eienaar van ’n ou worshond kon ek empatie hê met Ted. Rowley ondersoek op ’n baie menslike manier die verlies wat gepaardgaan met die dood van ’n geliefde hond. Ek eis om te dink dat hierdie reis nog vir my voorlê. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Schooldays of Jesus, J.M.Coetzee (Penguin Random House, R305)
Die eenvoudige verhaal, wat eintlik nie so eenvoudig is nie, draai om die jong seun, David,  en die man en vrou wat sy ‘ouers’ is. Simón en Inés het gevlug om weg te kom van die skoolbeheerliggaam in Novilla, sowel as die komende sensus. Hulle kom aan in die dorp Estrella om ’n nuwe lewe vir hulself te skep. David, nie sy regte naam nie, vertel vir almal wat hy teenkom dat die twee nie sy regte ouers is nie. Boonop bevraagteken hy alles, en vra hy eindelose vrae waarop hy om antwoorde aandring. Genoeg om enigeen van sy kop af te dryf! En as leser bevraagteken jy ook alles, want niks is eenvoudig in hierdie verhaal nie. Tog probeer hulle om vir David ’n skool te kies waar hy nie te veel onder die aandag van die gesaghebbendes kom nie. Hy land by ’n onafhanklike akademie vir dans, wat mens met nog meer vrae bombardeer. Veral Simón het eindelose geduld met David en probeer om sy vrae eerlik te beantwoord. Wat jy dan kry, is ’n boek met diep filosofiese ondertone, wat jou tenspyte van die absurde gebeure, aan die lees hou. Daar is ’n buite-egtelike verhouding, ’n moord, ’n hofsaak, skuldigbevinding en ontsnapping – alles op die een of ander manier verbind aan Simón. Niks wat jy lees is bedoel om letterlik gelees te word nie. Daar is teks en subteks, en nog meer obskure subteks. Dis nie asof jou vrae enigsins beantwoord word in die verhaal nie. Tog kon ek die boek nie neersit nie. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

My name is Leon, Kit de Waal (Penguin Books, R250)
Dis ’n ligte boek met ’n gelukkige einde, maar die onderwerp bly maar swaar. Leon is nege  jaar oud wanneer die staat hom en sy bababoetie in pleegsorg plaas omdat hul ma onbevoeg is om na hulle te kyk. Die boek lewer sosiale kommentaar op die Britste maatskaplike stelsel en is sekerlik bedoel om kritiek uit te spreek oor van die besluite wat namens Leon en sy boetie geneem word. Vir ’n Suid-Afrikaner wat lees, klink hul stelsel egter soos ’n wonder, en selfs die minste bekwame maatskaplike werkers soos engele.

Leon beland by ’n ervare pleegma, maar sy boetie word aangeneem. Leon is van gemengde ras en is al ’n groot kind, terwyl sy boetie wit is en nog ’n baba. Daar word besluit dat die band tussen die boeties minder belangrik is as die feit dat die baba ’n kans het om aangeneem te word, maar Leon ongelukkig nie.

De Waal skryf hartroerend oor hoe magteloos Leon voel, en hoe die volwassenes se verduidelikings eenvoudig nie vir hom sin maak nie en min doen om sy pyn te salwe.

Ek is bly die boek het ’n gelukkige einde, want in werklikheid draai sulke gevalle seker selde vir almal gelukkig uit en dan sou ek beslis aan die huil gegaan het. Dit bly maar hartseer dat sommige kinders so gou moet grootword.  – Helen Schöer

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Net ’n mens, Alta Cloete (Lapa Uitgewers, R215)
Sanet Smit hou van eet, baie. Die soetigheid vul ’n leemte in haar; ’n leemte oor haar kinders wat klaar uit die huis is en min kom kuier, Willem, haar man wat heeltemal in sy eie wêreld onttrek het. Op haar vyftigste verjaardag praat ’n vriendin haar mond verby. Sanet se man het ’n verhouding gehad met iemand anders … En dis nie ’n vrou nie! Almal het dit geweet behalwe sy. Almal praat daaroor, maar agter haar rug. Een vir een gaan die ligte vir Sanet aan … En net wanneer sy dink dinge kan nie erger gaan nie, word dit sommer baie erger.

 

Net ’n mens laat jou wonder oor vrae soos hoe verwerk ’n vrou die ontdekking dat haar man gay is?  Is dit die beste ding dat hy uit die kas moet kom en moet jy hom dwing as hy nie daarvoor kans sien nie?  Voorwaar ’n besonderse verhaal wat mens diep laat nadink. – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Lugkasteel, Annelie Botes (Penguin, R220)
In 2004 het Annelie Botes op ’n vliegtuig geklim Engeland toe. Daar het sy ’n ouma gaan soek om op te pas. Met die ponde wat sy verdien het, het sy haar uitstaande, agtergelate skuld betaal. In Sabbatsreis het sy ons alles van daardie jaar vertel. Min mense het egter geweet dat skaars 6 maande ná haar terugkoms, sou sy weer op ’n vliegtuig klim Engeland toe – die keer om oppasser te wees vir vier seuntjies uit die adelstand wat in ’n kasteel bly … Wat kan dan nou beter wees?

Tot haar skok bevind sy haar in ’n regte Aspoestertjie-posisie. Sy is nie net oppasser vir die vier onhebbelike, ongemanierde en bedorwe seuntjies nie, sy is ook skoonmaker en bediende.  Om van die grillerige kasteel nie eers te praat nie. Daarby ly sy honger, kry koud en moet haar kamer deel  met ’n teenwoordigheid van ’n ander aard.

Annelie se lugkasteel oor ’n rustige goedbetaalde lewe as ’n oppasser het binne dae verander in ’n nagmerrie, maar tipies van Annelie, is opgee nie ’n opsie nie.  Haar ervarings sorg vir ’n uitstekende en soms skreeusnaakse lees! – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Purity, Jonathan Franzen (HarperCollins UK, R345)
Jonathan Franzen se nis is disfunksionele gesinne en verhoudings, en in Purity is dit ook nie anders nie. Inderwaarheid is byna al die karakters in dié boek erg versteurd en hul verhoudings vrot. Maar wie wil in elk geval oor normale mense en verhoudings lees? As jy normaal (lees: vervelig) soek, gaan kuier by die bure. Veel lekkerder is om jou te verdiep in hierdie lekker dik, digte, gekonsentreerde, intense, brutale, meesterlike boek.

Dis ’n uitdaging om so ’n komplekse storie op te som sonder om alles weg te gee. Laat ek probeer: Purity Tyler is ’n arm jong vrou wat wil uitvind wie haar pa is, want haar fobiese, hiperkondriese ma weier om te sê. In die proses word Purity gebruik deur ’n paranoïese Duitser wat ’n internetbesigheid uit Bolivië bedryf, ietwat soortgelyk aan Wikileaks. Die Duitser weet wie haar pa is, maar wil wraak neem.

Kritiek wat dikwels Franzen se kant toe kom, is dat hy nie outentieke vrouekarakters kan skep nie, en soms dat hy seksisties is. Ek is ’n feminis en ek stem nie saam met dié twee menings nie. Franzen is immers ’n man en hy skryf uit ’n man se oogpunt en dis reg so met my. Dis op die ou einde tog fiksie en nie alles wat sy karakters dink of doen is noodwendig wat Franzen self dink of doen nie.

Ek is dankbaar vir Franzen se selfvertroue in homself as skrywer, wat sekerlik gemaak het dat hy nie teruggaan oor sy werk en redigeer en stroop tot elke stelling, beskrywing en emosie polities korrek is nie. Soos ’n regte man, is hy nie in die minste bang om sy sensitiewe kant te toon nie. Van sy waarnemings en beskrywings van ’n ouer vrou se benerige hande, en ’n maer vrou se kurwes is van die mooiste paragrawe wat ek al ooit gelees het. – Helen Schöer

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Magistrate of Gower, Claire Robertson (Umuzi, R230)
Die verhaal van die magistraat begin in 1902 waar Henry Vos as 17-jarige na Ceylon uitgeplaas is. Hier raak hy verlief op ’n monnik en word gestuur na ’n kamp vir uitgeworpenes. Wanneer die Nasionale Party aan bewind kom, beland Henry, nou ’n regsgeleerde, in Gower waar hy as magistraat begin skryf aan wat later die berugte Ontugwet geword het. Hy en sy jonger suster, Anna, deel aanvanklik ’n huis en ’n sober, asketiese lewe tot sy verlief raak. Adaira van Brugge kom woon ook in Gower om te ontsnap van ’n lewe in haar pa se sendingstasie. Sy wil graag inskakel by die dorpsmense, maar die werk van die welsynskomitee grief haar. Adaira help Henry om sy versameling oorlogsmemorabilia te klassifiseer. Sy raak bewus van sy verhouding met ’n gekleurde en is aanvanklik ontsteld. Sy knoop self ’n passievolle verhouding aan met Ira, die Jood wat ’n winkel op die dorp bedryf. Hierdie diep-menslike historiese roman bied ’n kritiese terugkyk op ons verlede en dra by tot ’n nuwe siening van onsself. Robertson se skryfstyl is boeiend, maar lees nie maklik nie. Hoewel party woorde vreemd voorkom, pas dit tog by die historiese konteks in. – Mariette Postma

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Who killed Piet Barol?,  Richard Mason (Orion UK, R340)
Die burggraaf Pierre de Barol het in Amsterdam grootgeword en hy bly in die Kaap saam met sy vrou Stacey. Eintlik is hy glad nie ’n burggraaf nie en sy naam is net Piet. Hy is ’n avonturier, opportunis, kunstenaar en meubelhandelaar. Die een talent wat hy nie het nie, is besigheid. Sy meubelbesigheid is bankrot en hy kan nie veel langer die skuldeisers van hom af weghou nie. Sy finansiële penarie forseer hom om ’n meubelkontrak van Percy Shabrill te aanvaar. Luvo en Ntsina werk altwee vir Percy en nadat Piet van die Gwadana-woud by Ntsina hoor, sien hy ’n geleentheid om meer wins te maak. Hy sal die Xhosa mense aan wie die woud behoort vir die hout betaal, maar is dit ’n regverdige prys? Want in 1914 in Suid-Afrika het net die wit man ’n reg tot grondbesit. En is die stamhoof se toestemming vir hom regtig so belangrik?

Ntsina en Luvo help Piet om die heilige voorvaderbome te vind. Maar die voorvaders van die Xhosa mense, bly in hierdie bome en die stamhoof weier dat Piet die bome uit die woud haal. Piet weet dat hy nie weer sal kan meubels maak as hy nie een van die konings van die woud mag vat nie. Hoe verhoed hy dat iemand hom volg? Piet worstel ook met die wete dat hy eendag tog die Gwadana-woud finaal sal moet agterlaat.

Richard Mason skep ’n kleurryke beeld van Suid-Afrika in 1914. En sy briljante onpartydigheid laat jou aan die einde voel asof jy sopas self in die voetstappe van Piet Barol in die Gwadana-woud gestap het.   – Antoinique van Staden

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Quarry, Iain Banks (Little Brown, R311)
The Quarry is die verhaal van die agtienjarige Kit wat moet toekyk terwyl sy pa Guy besig is om aan kanker te sterf. Die verhaal speel af teen die agtergrond van  ʼn lang naweek by Guy se huis. Die huis wat grens aan ʼn steengroef is in die proses om verkoop te word. Tydens die naweek kom  ʼn groep van Guy se oud-universiteitsvriende by sy huis byeen. Terwyl Guy sy aggressie teenoor sy siekte op sy vriende en seun uithaal, probeer Kit sy biologiese ma vind. Kit worstel boonop met outisme. Guy se vriende het ook  ʼn agenda. As studente het hulle ʼn video vervaardig en dit blyk pornografies te wees. Die video hou  ʼn bedreiging in vir hul loopbaansukses en die huis word omgekeer in  ʼn poging om die video te vind. Hoewel humoristies is die boek plek-plek vervelig. Hierdie is Banks se laaste boek. Hy is self aan kanker oorlede … Die boek raak teen die einde interessanter, maar sal nie in almal se smaak val nie.  – Anne Marais