FOTO: Hannelie Coetzee

FOTO: Hannelie Coetzee

Boeke

Boeiende debuut deur Suid-Afrikaanse skrywer Miranda Sherry

Miranda Sherry se debuut slaan jou so hard in jou maag, dat jy nie anders kan as om na jou asem te snak nie.

In haar boek, Black Dog Summer (Head of Zeus, R250), bring Sherry ’n klomp elemente bymekaar vir ’n baie geloofwaardige, eg Suid-Afrikaanse verhaal. Sommer met die intrapslag word jy gekonfronteer met geweld – ’n grusame plaasmoord word gepleeg en so word jy bekendgestel aan die belangrikste rolspelers. Eerstens is daar Sally, wat vermoor word en deur wie jy ’n groot deel van die verhaal hoor. Ja, sy vertel na haar dood die verhaal, want sy is in ’n tussen-wêreld waar sy nog nie tot ruste kon kom nie en sy wil gerusstelling hê oor wat met haar dogter Gigi gebeur. Gigi is die enigste oorlewende van die plaasmoord. Sy moet by haar ma se suster (wat sy nie ken nie) gaan woon. Die twee susters was vervreemd van mekaar en het nadat Sally weggetrek het na die plaas geen kontak meer gehad nie. Maar Gigi ken haar oom, en dis ’n klein verhaaltjie op sy eie! Sy moet ’n kamer deel met haar niggie, maar dit kom nie sonder enige uitdagings nie. Gigi praat nie en sonder haar af van die huismense. Die gekompliseerde verhoudings in die verhaal hou jou vasgevang. Gooi nou nog ’n sangoma in die storie en jy kry ’n baie interessante ontknoping. Dit is ’n donker verhaal waarin makabere tonele afspeel. Tog eindig dit hoopvol en is die lees die moeite werd. Hierdie debuut laat jou dink oor vele aspekte van ons Suid-Afrikaanse samelewing en die uiteenlopende mense en agtergronde waaruit dit bestaan. Ek het per e-pos met Miranda oor haar verhaal gesels.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Is hierdie jou eerste roman?
Dis my eerste gepubliseerde roman, maar die vierde een wat ek al geskryf het. Die vroeëres is almal weggesteek in ’n laai, maar dit het my baie geleer oor hoe om te skryf, om foute te maak, en om dissipline te ontwikkel. Die dissipline om te kan sit en dag na dag woorde uit te dink. Soos met enigiets in die lewe, kan jy skryf-fiks word – hoe meer jy dit doen, hoe meer stamina ontwikkel jy.

Waar kom jou inspirasie vir die verhaal vandaan?
Ek is geïnspireer deur die uniekheid van die stories self en die wonderlike vermoë wat stories het om ons met mekaar te verbind. Ek wou die gedagte ontgin dat al die stories wat al ooit vertel is, en al die lewens wat al gelei is, word steeds vandag vertel op die een of ander manier. Ek wou speel met die idee dat stories ons saambind, selfs na die dood.

Het jy die verhaal op ware gebeure gegrond?
Die storie in Black Dog Summer is heeltemal uitgedink, maar is beïnvloed deur vrae wat my geteister het sedert iemand wat ek as ’n kind geken het, betrokke was in ’n grusame plaasmoord. Ek het altyd gewonder hoe die oorlewendes van so ’n aaklige voorval daardeur geaffekteer sal word.

Dis nogal ’n makabere verhaal met baie geweld. Waarom oor die onderwerp skryf?
Geweld is dikwels die onderwerp van rolprente en boeke, wat eintlik eienaardig is as jy daaroor dink, want ons kies om dit te konfronteer in ons ‘af-tyd’ wanneer ons voor die televisie probeer ontspan. Ek dink dis deels omdat die skeppers en die gehoor probeer om hierdie donker en onafwendbare aspek van ons menslikheid klein te kry. In hierdie boek, eerder as om te skryf oor die oorsake van geweld, of om te probeer uitvind ‘wie dit gedoen het’, wou ek eerder kyk na hoe dit die lewens van die mense wat agter gebly het, verander het en ek wou die idee ondersoek dat daar hoop na tragedie is.

Het jy van meet af geweet hoe jou karakters gaan ontwikkel of het hulle jou soms verras?
Ek het baie tyd aan die beplanning van die karakters bestee, en ek het geweet waar ek hulle in die verhaal wou plaas, maar soms het hulle beslis oorgeneem, en skielik dink ek: “O, dis wat jy nou doen? Goed.” En by tye moes ek hulle terugforseer in lyn!

Wat was die moeilikste met die skryf van hierdie boek?
Om dag na dag aan te gaan, ten spyte daarvan dat daar geen waarborg was dat enigiemand ooit die boek sal lees nie. Ek het Black Dog Summer in die vroeë oggendure geskryf, voordat ek werk toe gegaan het. Dit het soveel energie en commitment geneem om aan te hou, al het ek nie ’n idee gehad of dit ’n goeie verhaal sou wees nie.

Het jy ’n skryfroetine of is jy een van daardie skrywers wat enige tyd, enige plek kan skryf?
Ek skryf elke dag, eerste ding in die oggend wanneer ek wakker word, en voordat ek moet opstaan en die wêreld moet aandurf. So is ek seker dat ek ten minste iets geskryf kry, ten spyte van wat die lewe na my kant toe gooi. Daarna probeer ek soveel moontlik deur die dag skryf, tussen werkafsprake en al my ander goed.

Werk jy aan ’n nuwe boek?
Ek doen. Dis nog maar ’n eerste draft, so ek het nog vir niemand vertel waaroor dit gaan nie. Ek hou daarvan om die verhaal vir myself te hou totdat ek dit heeltemal neergepen het.

Vertel my meer oor jouself. Wat lees jy?
Ek is lief vir lees, en is ’n book-a-holic vandat ek ’n klein dogtertjie was en dit het nog glad nie verander nie. Ek bewonder Donna Tartt, en Hilary Mantel, veral ‘Wolf Hall’ en ‘Bring up the Bodies’. Om te ontspan, maak ek graag tuin en ek hou daarvan om buite te wees. Ek is ook gek oor pottebakkery, oor om ‘met modder te speel.’ Om iets met my hande te doen in drie dimensies veskaf ’n goeie balans vir die ure se gesit voor die rekenaar, wat nogal vervelig kan raak.

.