Boeke

Boekdinge

STERBOEK

Hunger for Freedom: The Story of Food in the Life of Nelson Mandela, Anna Trapido (Jacana, R229)
Nelson Mandela: The Authorised Comic Book (Jonathan Ball, R152)

Vanjaar, met oud-president Mandela se 90ste verjaardag, word hy vereer met twee uitsonderlike boeke. Trapido vertel die verhaal van Madiba se lewe en vryheidstryd aan die hand van die kos wat hy deur sy lewe geëet het. Sy sê Hunger for Freedom is ’n gastro-politieke geskiedenisboek met resepte eerder as ’n kookboek. Madiba se praatjies om die etenstafel gee ’n persoonlike blik op sy interaksie met mense van verskillende agtergronde: sy familie, vriende, politieke kollegas en selfs tronkbewaarders. Dié persoonlike indrukke sorg vir boeiende leesstof. Die strokiesprentboek bestaan uit agt hoofstukke wat tydperke in Madiba se lewe skilder – onder meer sy kinderdae, studentedae, vryheidstryd, gevangenskap en uiteindelike vrylating en presidentskap. Dis ’n baie toeganklike manier om geskiedenis interessant aan te bied en maak dit ook maklik om te onthou. Die hele gesin gaan in die ry staan om dié comic in die hande te kry! Die opbrengs van verkope sal gebruik word om die boek gratis in skole te versprei.

VIR DIE KINDERS

God’s Dream

God’s Dream, Desmond Tutu en Douglas Carlton Abrams (Walker Books, R140)
Dié boek het ’n warm en eenvoudige boodskap oor liefde en vergifnis vir kinders van alle nasies. Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu is die voorsitter van The Elders, ’n internasionale groep wêreldleiers wat vrede bevorder en probleme wêreldwyd probeer oplos. Hy is ook ’n aktiewe vegter vir versoening oor kleurgrense heen.

Droomoog Diepgrawer

Droomoog Diepgrawer, Leon de Villiers (Lapa, R90)
Die Diepgrawers is ’n erdmannetjie-familie wie se doen en late onder ’n vergrootglas geplaas word deur die ander erdmannetjies omdat die Diepgrawers dinge op hul eie manier doen. Droomoog steek sy familie in die skande en hy moet alles uithaal om hul naam in ere te herstel. Die boek is bekroon met die Alba Bouwer- en die C.P. Hoogenhout-prys vir kinderliteratuur.

LEWENSVERHALE MET DURF

Die Agterhuis, Anne Frank, vertaal deur Lina Spies (Protea, R140)
Dit is reeds vanaf die vertaler se universiteitsdae haar ideaal om die dagboek van Anne Frank te vertaal. Sy het ook in 1971 ’n gedig geskryf wat aan Anne Frank opgedra is. Dié dagboek is een van die mees gelese boeke ter wêreld en Anne se oorlogsverhaal bly inspirerend.

Elita en haar lewe met FW de Klerk, Martie Retief-Meiring (Tafelberg, R175)
Sy kom oorspronklik van Kolonaki, woon in Athene en trou met ’n ryk Brit, verhuis na Londen en rits die wêreld vol. Sy ontmoet F.W. de Klerk en vind uiteindelik liefde en geluk saam met hom in Suid-Afrika. Elita vertel haar volle verhaal en wys ook talle foto’s uit haar versameling.

Anton Rupert – ’n lewensverhaal, Ebbe Dommisse en Willie Esterhuyse (Tafelberg, R275)
Van kind op ’n klein dorpie tot een van die 500 rykste mense ter wêreld: Rupert het ’n magtige sakeryk gevestig en dit word hier volledig beskryf. Familiebande en sakekennisse word ook breedvoerig bespreek. Sy afsterwe is in die sagtebanduitgawe bygewerk.

Sonkyker: Afrikaner in die verkeerde eeu, J.C. Steyn (Tafelberg, R250)
Steyn se lewensverhaal strek oor die laaste 70 jaar. Hy bekyk die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog, die Rebellie, Republiekwording, die noodtoestand, Grondwet-onderhandelinge en ook waar die politieke lewe vandag staan. Sy persoonlike vertellings handel ook oor die alledaagse lewe – huis, skool, werkplek, kerk en gesinslewe.

Daar’s ’n gay pastoor in my kop, Philip Liebenberg (Penguin, R190)
Liebenberg het meer as 20 jaar lank teen sy homoseksualiteit gestry. Hy was getroud, het ’n dogtertjie en was ’n suksesvolle pastoor in die AGS-kerk. Hy het egter onvervuld gevoel en uiteindelik vrede gemaak met sy seksualiteit. Hy is geskei, het die kerk verlaat en het toe liefde gevind by ’n man. Hier gee hy ’n “pynlike uitbeelding van die wroeging wat ’n gay man ervaar”.

IDEAAL VIR VROUE

Perfumes: The Guide, Luca Turin en Tania Sanchez (Profile, R294,95)
Meer as 1 500 parfuums word volgens ’n ster-gradering van 1 tot 5 geklassifiseer. Dis ’n nuttige gids vir vinnig naslaan en jy kan loer hoe jou gunsteling-geure vaar.

The Fashion Book (Phaidon, R259,95)
’n Koffietafelboek met glansfoto’s van ontwerpers, mode-items, modelle, hoedemakers, grimeerkunstenaars en haarstiliste. Kort, kragtige beskrywings verduidelik die impak wat die persoon of item op die modebedryf gehad het.

Kinderkamers, Samantha Scarborough (Struik, R153)
Propvol dekor-idees met pragtige kleurfoto’s van kinderkamers. Hope praktiese wenke en nuttige inligting oor meubels, beligting en muur- en vloerbedekkings wat kan help met die ontwerp van so ’n kamer.


LIEFDE IS VIR EWIG


Die wet van die liefde, Anita du Preez (Jasmyn, R79,95)
Beroepsvrou Danielle Malan stel nie in ’n man belang nie . . . totdat die onweerstaanbare Naude Boshoff in die regspraktyk kom werk. Haar roetine word omvergegooi en sy moet bontstaan om haar emosies in toom te hou.

Sabina’s, Nadia de Wet (Jasmyn, R79,95)
Lexi Hugo se sakevennoot en vriend loop haar in en sy moet uit die stad padgee. Haar tante bied haar ’n geleentheid om platteland toe te verhuis en ’n gastehuis te begin. Daar ontmoet sy die enigmatiese liedjieskrywer, Liam, wat haar knieë lam maak.

Eksklusief uit Eden, Marida Fitzpatrick (Jasmyn, R79,95)
Mia Bindeman kry ’n kans om haar joernalistieke loopbaan te bevorder: Sy moet ’n scoop in Bahrein vind wat beter is as die opposisie-publikasie s’n. Sy kom te staan teen Malan Retief, ’n gesoute nuusjagter met talle joernalistieke pryse op sy kerfstok. Teen alle verwagting slaag Mia tog daarin om haar storie te kry, maar sy vind ook meer as dit: hartseer en die liefde van haar lewe.

* Dié 3 verhale was die wenners in NB-Uitgewers se “Liefde is vir ewig”-wedstryd

 

VIR REISIGERS & NATUURLIEFHEBBERS

Cool Hotels Ecological, teNeues (teNeues, R369,95)
Die hotelle in die boek is almal uitsluitlik ontwerp om ’n geheel te vorm met die natuurlike landskap en bewaar ook natuurlike hulpbronne. Dít begin by die keuse van boumateriale, die gebruik van son- en windkrag en die minimalisering van afval. ’n Gids vir eko-reisigers.

Ontdek die Kruger, Brett Hilton-Barber en prof. Lee R. Berger (Prime Origins, R100)
’n Reisgids met relevante inligting oor die Krugerwildtuin: ’n seisoenale kalender, streekkaarte, ’n bespreking van die klimaat, diere en plante, en laastens ’n geskiedenis van die park.

Die Voëlgids van Suider-Afrika, Ulrich Oberprieler en Burger Cillié (LaPa, R225)
’n Gebruikersvriendelike gids met meer as 1 200 kleurfoto’s van 809 voëls. Die boek het ’n kleurkodestelsel en kruisverwysings om vinnig by die regte voël uit te kom, met inligting oor identifikasie en voëlgedrag. Daar is ook ’n indeks met Engelse voëlname.

The South African Bushveld: A Field Guide from the Waterberg, Lee Gutteridge (Southbound, R495)
Gutteridge is ’n professionele veldgids met 16 jaar se ondervinding. Die boek is ’n volledige foto-gids oor die Bosveld met beskrywings van die geologiese geskiedenis, mense, verskillende habitats en fauna en flora, asook ’n volledige spoorgids. Dis ’n ideale handleiding vir studente, maar bevat ook uitstekende inligting vir besoekers.

BOEKE WAT INSPIREER

Champions for Christ, Nico Bougas en Fanie Heyns (CUM, R119,95)
Natalie du Toit en Oscar Pistorius is wêreldwyd bekend vir hul sportprestasies. Hulle en ander sportlegendes, soos Peter en Shaun Pollock, Michael Chang en Bernhard Langer, is rolmodelle na wie baie jongmense opsien. Hul inspirerende lewensgetuienisse word bondig saamgevat.

101 World Heroes, Simon Sebag Montefiore (Quercus, R229,95)
Elvis Presley was eens ’n trokbestuurder. Einstein se bynaam was “Der Depperte” (Dopey), omdat hy as kind so stadig ontwikkel het. Montefiore gebruik sulke ongewone feite om 101 uiteenlopende helde se lewens inspirerend te beskryf.

Speeches That Changed the World, Simon Sebag Montefiore (Quercus, R283)
Wêreldleiers het die mag om mense te inspireer of te walg deur hul woorde. ’n Verskeidenheid toesprake deur onder andere Churchill, Mandela, Hitler en Stalin sorg vir boeiende leesstof. Bonus: ’n CD met van die toesprake daarop.

  • David

    Good day,

    Looking for a business loan, personal loan, home loan, autoloan,

    student loans, debt consolidation loans, unsecured loans, venture

    capital, etc … or you refused a loan by a bank or financial

    institution for one or more reasons? You are in the right place for

    your loan solutions! We are a private lender, lending to businesses

    and individuals at a low interest rate and affordable 3%. So if you

    are interested in a fast and easy loan. Contact us at the following

    email address: creditsolutionloanfirm@webmail.co.za Note you are to reply to

    this emails only: creditsolutionloanfirm@webmail.co.za

    1: Names:…

    2: Country….

    3: Loan Amount:….

    4: Loan Duration….

    5: Phone Number:….

    6: Monthly Income:……

    7: State:…….

    8: Address……

    Note: All reply should be forwarded only to

    ( creditsolutionloanfirm@webmail.co.za )for immediate attention. Contact

    us now and get an urgent loan within two (2) days!!!

    Regards,

    Mr. David Ruiz