Boeke

Boekdinge – Julie 2010

Soccer in Africa – A Game of Passion
Tine Harden
(Struik Travel & Heritage, R210)

Of hulle nou op ’n veld sonder ’n enkele groen grassie speel of in die mooiste en modernste stadion, mense van Afrika is passievol oor dié spel. Die eerste georganiseerde klubs het reeds in die laat 1800’s bestaan. Plaaslike spelers in die destydse Belgiese en Franse Kongo is verbied om stewels te dra, want hulle het hul koloniale heersers onder die stof gespeel. Sokker is, nes rugby in Suid-Afrika, al deur menige politikus gebruik om landsburgers te verenig. En as ’n mens aan die Wêreldbeker dink, dan is dit voorwaar ’n pluimpie dat hierdie vasteland ook ’n kans kry om so ’n groot toernooi aan te bied. Die foto’s in die boek vertel van gewone mense se passie vir die spel en hoe belangrik dit in die alledaagse lewe in Afrika is. Of hulle stewels aanhet of net kouse, speel sal hulle speel en daarna bly streef om in die beste spanne ter wêreld te speel.

soccer chic Soccer Chic – Soccer Life the South African Way
deur Mark Gleeson, fotografie deur Craig Fraser (Quivertree Publications, R475)

Wat ’n juweel van ’n boek! Jy kan die gees van sokker in SA deur jou are voel bruis as jy deur Fraser se foto’s blaai. Die vermenging van sportfoto’s en portrette van die fêns vertel die ware verhaal van sokker soos dit op die grond beleef en geleef word. Só kry ek ’n unieke kykie in hoe fanaties gewone mense oor dié rondebalspel is – en dan voel ek nog simpelder dat ek nie die reëls verstaan nie! Maar gelukkig kan ek saam met almal vuvuzelas blaas en jil en gil en in die opgewondenheid deel. As jy sukkel om die boek in die hande te kry, kontak 021 461 6808 of besoek  www.quivertreepublications.com.

cape town stadium Cape Town Stadium – Between the Lines
(Bettina Andrag, Griffel, R228)

Die drama, die passie, die bloed en sweet – en die trots agter die splinternuwe Kaapstad Stadion is meer as net nog ’n 2010-projek. Elke werker wat saans sy stowwerige hardehoed opgehang het, elke ingenieur wat moes kopkrap oor strukture, en elke argitek wat moes sorg dat dit ’n meesterstuk is . . . hulle het almal ’n storie om te vertel. Die boek is allermins een vir kenners. Dit praat uit die harte en die  hande wat aan Kaapstad se nuwe diva help bou het. Hul frustrasies, hul passie en waagmoed. Dis fassinerende foto’s en feite maak dié boek beslis nie Kaap-eksklusief nie. Dis ’n storie vir die hele land.

unthinkable

UnThinkable
Scott Rigsby saam met Jenna Glatzer (Tyndale House Publishers Inc, R158)

Die verhaallyn van dié biografie is aanvanklik omslagtig, maar begin later vloei tot jy nie die boek kan neersit nie. Rigsby se regterbeen word ná ’n fratsongeluk geamputeer, met ’n kans dat hy sy linkerbeen ook kan verloor. Wat wel 12 jaar later gebeur. Met die ongeluk het hy ook ’n breinbesering opgedoen, wat sy oordeelsvermoë aantas. Dis regtig ’n inspirerende verhaal van moedeloosheid en moed, oortuiging, deursettingsvermoë en baie pyn, liggaamlik en emosioneel. Jy beleef sy stryd om gesond te word, sy stryd teen verslawing en depressie en sy rigtinglose rondvallery totdat hy begin fokus om aan die Hawaiise Ystermankompetisie deel te neem. Danksy goeie vriende voltooi hy die kompetisie op 13 Oktober 2007 – 21 jaar ná die ongeluk.

brodeck&aposs report Brodeck’s Report
Philippe Claudel (Quercus, R129,95)

Claudel, wat verantwoordelik was vir die draaiboek van die Baftabekroonde I’ve Loved You So Long, haal Victor Hugo aan, wat geskryf het ons weet ons is almal niks. Hy verpersoonlik dit deur die boek aan sy vrou en dogter op te dra, sonder wie hyself “nie veel sou wees nie”. Vertalings gee soms ’n gevoel van afsydigheid, maar in die geval van Brodeck’s Report is afstand deel van die storie, met die enigmatiese inkommer-karakter, eers net bekend as die Ander, wat later die Duiwel genoem word. Die storie word vertel vanuit ’n klein dorpie in Alsace-Lorraine, en speel af ná die Tweede Wêreldoorlog. Brodeck wil nie die verslag skryf nie, maar word verplig om die vervolging van en moord op die Ander, ’n eksentrieke reisiger en kunstenaar, te boekstaaf. ’n Sensitiewe verhaal oor geweld net onder die oppervlak, wat menslike swakheid stel teenoor innerlike krag.

where are you now Where Are You Now?
Mary Higgins Clark (Simon & Schuster, R109,95)

Dis Mary Higgins Clark op haar beste, van bladsy een tot die groot verrassing in die
laaste hoofstuk. Mac het tydens sy universiteitsjare spoorloos verdwyn.  Hy laat weet slegs elke jaar op Moedersdag vir sy ma dat alles nog goed gaan, maar dat sy hom nie moet probeer opspoor nie. Tien jaar later is sy suster, Carolyn, wat 16 was toe Mac verdwyn het, keelvol vir hierdie kat-en-muisspeletjie. Sy besluit om hom op spoor, maar intussen word ’n moord gepleeg. Het Mac iets daarmee te doen? Met nuwe karakters uit Mac se verlede raak alles baie interessant en verander jou gevolgtrekkings hoofstuk vir hoofstuk soos wat jy vasgevang word in hierdie spanningsverhaal.

the wrong sort of wife The Wrong Sort of Wife?
Elise Chidley (Orion, R229,95)

Hierdie is klassieke chic-lit – die desperate vrou met ’n baie spesifieke talent om haarself in benarde posisies te laat beland, die vervreemde man, die ondersteunende beste vriend en die baie aantreklike nuwe buurman. So, daar is regtig nie verrassings te wagte nie. Ten spyte daarvan is die storie vermaaklik en baie leesbaar. ’n Mens kan nie help om jou volle steun agter Lizzie Buckley, die heldin, en haar my-lewe-valuitmekaar-bestaan te gooi nie. Jy wil haar die hele tyd aanpor en hoop dat dinge
op die ou einde vir haar sal uitwerk. Dis ’n baie genotvolle leeservaring – springmielies vir die brein.

the lacuna The Lacuna
Barbara Kingsolver (Faber and Faber, R219,95)

Kingsolver neem ons op ’n reis deur Amerika en Mexiko, wat begin in die 1930’s en duur tot die 1950’s. Die fiktiewe  hoofkarakter, Harrison Shepherd, se verhaal word behendig vervleg met dié van geskiedkundige figure. Die passies, werken politiek van die Mexikaanse skilder Frida Kahlo en haar man, Diego Rivera, asook die Rooi Rus Lev Trotsky. Shephard word in die middel van belangrike oomblikke in die geskiedenis geplaas met behulp van werklike en fiktiewe koerantberigte. By sy terugkeer na Amerika word hy as   anti-Amerikaans gebrandmerk – ’n kommunis word nou agter elke bos gesoek. Die boek is vol kleur, lewe en beweging en werk as lekkerleesstorie sowel as sosiale kommentaar.