june08boekding6a
Boeke

Boekdinge

STERBOEK

The Frampton Flora, Richard Mabey (Quercus, R334,95)
’n Uitsonderlike boek vir plantliefhebbers. Vervloë dae was waterverfskilderye soos vandag se foto’s – ’n manier om jou lewe in prentjies te boekstaaf. Die Clifford-vroue van Frampton Court het in 1837 begin om hul doen en late, uitstappies, pieknieks, die mense wat saam was, die omgewing en ook al die plante rondom hulle te skilder. Tussen dié agt vroue het hulle ’n uitgebreide geskiedenis opgebou van die tyd waarin hulle geleef het. Die handgestikte boekies het egter op ’n solder beland en is eers weer in 1982 ontdek. Die resultaat is hierdie koffietafelboek. Die botaniese skilderytjies is ’n interessante weergawe van hoe die flora van die Engelse laaglande in die 1900’s gelyk het.
Phyllis Green

RESENSIES

Polaroid, Tom Dreyer

Polaroid, Tom Dreyer (Tafelberg, R130)
Die wêreld is ons woning nie. Dis altans die gevoel wat jy kry wanneer jy hierdie kortverhale lees – dat daar iets anders onder die oppervlak van die alledaagse lê. Die karakters is gewone mense wat wil glo ongewone dinge is moontlik. Dat motors op water kan loop, ’n mens met ’n scrambler oor ’n myngat kan spring, die volgende Saterdag die jackpot gaan wen. En stories maak dié dinge waar, want: “So straight is die wêreld te taai op die oë. Jy het ’n filter nodig”. Deur Dreyer se Polaroid-filter kry die wêreld ’n vreemde vryheid en word verlangens gestil.  Ilse van Staden

Dieper Water, Helene de Kock

Dieper water, Helene de Kock (Human & Rousseau, R150)
’n Goed geankerde familiesage oor die liefde, geheime, wantroue, vervreemding en hereniging wat oor drie geslagte strek. Rachel Froneman vertel haar verhaal, dié van haar voorsate en van haar vervreemde kleindogter in die boek wat sy skryf. Want dis moeilik om dié dinge in woorde te sê, veral vir die mense wat sy innig liefhet. Met wie sy opnuut brûe moet bou. Só gaan die hele klomp op die plaas Diepwater inderdaad deur hul eie diep waters. ’n Boeiende verhaal.
P.G.

Konings & Gode, Lynn  Austin

Konings & gode, Lynn Austin (Cum, R99,95)
’n Bybelverhaal oor twee konings van Juda – Agas en sy seun Hiskia – ontvou in dié roman vol emosie. Agas offer sy oudste seun op die brandstapel aan afgode, terwyl die jong Hiskia met afgryse toekyk. Sy ma, Abi, word tereggestel omdat sy God aanbid. Ná Agas se dood neem Hiskia ’n bankrot koninkryk oor, maar hernuwe sy volk se verbond met die Here. En in die harem wag sy wettige vrou, Gefsiba, vergeefs op sy liefde . . .
Mercy Morkel

Dodelike vroue, Verlore onskuld, C. Karsten

Dodelike vroue en Verlore onskuld, Chris Karsten (Human & Rousseau, R110 elk)
Twee boeke oor moord: Tien moordenaresse en tien jong mense se skokkende verhale word vertel. In elke geval word die agtergrond van die hoofkarakter gegee, die gebeure en motiewe wat gelei het tot die moord. Die hofsaak en uitspraak word ook beskryf. Wat het hierdie vroue en jong mense gedryf om te moor en waarom was dit vir hulle die enigste uitweg? Dis ’n goeie samevatting van moorde wat in Suid-Afrika gepleeg is.
Karien Labuschagne

Ware liefde, Corlia Fourie

Ware liefde – bekende Suid-Afrikaanse paartjies, saamgestel deur Corlia Fourie (Human & Rousseau, R150)
Wat is ware liefde? Is dit wat die Tutu’s, die Mandelas, Jan-en-Jorie (Rabie) en die opspraakwekkende Jackie en Vera Nagtegaal dalk gemeen het? ’n Boek met ’n buiteblik op bekendes en hul liefdesverhoudings soos geskryf deur bekende skrywers en joernaliste. Dis meer ’n gids vir verdere lees as boeiende leesstof. * Ook beskikbaar in Engels met die titel Romances to Remember: South Africans in Love.
Cecile Nel

Woorde sonder wysies, K.  Hougaard

Woorde sonder wysies, Karin Hougaard (Karin Hougaard, R230)
Dié sangeres en liedjieskrywer se reise loop dikwels uit op woorde. Party kry wysies en word liedjies. Hierdie woorde het nie. Dit vertel van kop skoonmaak, wonder en verwonder oor die lewe en sy dinge. En word gekombineer met haar sketse, etse, monodrukke en ander kunswerke. Vat nou maar die skrywe “Om nie te onthou nie”. Hoe dikwels was haar woorde “Ek’s bang dat my onthou sal afslyt . . . om onaantasbaar onvasvatbaar te word” nie ook al jóú vrees nie? ’n Bundel wat langs jou bedkassie moet lê vir lees en weer lees. *Bestel by www.griffel.co.za. P.G.

The blood of flowers, A. Amirrezvani

The Blood of Flowers, Anita Amirrezvani (Headline Review, R189)
Die kuns van matte knoop en die ryk kultuur in Iran is slim verweef met die lewe van ’n jong meisie. In ’n land waar ’n vrou se lewe gering geskat word, neem haar lewe ’n drastiese wending wanneer haar pa sterf. Die verhaal speel hom af in die sewentiende eeu en ’n mens word meegesleur deur die kleure en geure van besige basaars, huishoudings van daardie tyd en paleise met die allermooiste tapyte.
Lounette Fourie

Imposture, Benjamin Markovits

Imposture, Benjamin Markovits (Faber & Faber, R134,95)
’n Manuskrip wat deel is van ’n boedel vertel die storie van dr. John Polidori, lord Byron se jong private geneesheer. Polidori keer terug na Engeland wanneer dié digter – in wie se skadu hy gelewe het – hom ontslaan. Sy boek, The Vampyre, word gepubliseer en aan Byron toegedig. Hy swig voor die bewondering van ’n jong meisie wat hom vir Byron aansien en probeer dié fantasie uitleef. Haar teleurstelling wanneer sy uitvind wie hy is, is so oorweldigend soos dié van ’n kind. ’n Lekker leesbare boek.
Liesel Pienaar

Theo die biblioteekkat e.a.

Theo die biblioteekkat, Theo en die kattedief, Theo en die sirkus, Wendy Hartmann, geïllustreer deur Joan Rankin (Lapa, R50 elk)
Hierdie drie boekies, vertaal uit Engels, is vir elke katliefhebber en ook vir almal se innerlike kind. Jy gaan onmiddellik verlief raak op Theo, ’n slim katjie, bietjie boekerig en baie lief om vrae te vra, en wat altyd help om sy kattematers se penaries op te los. Verwonder jou aan Joan Rankin se illustrasies wat die verbeelding aangryp. Dis pittige stories vir hardop lees.
P.G.

BEKENDSTELLINGS

Harry Potter en die skatte van die dood

Harry Potter en die skatte van die dood, J.K. Rowling (Human & Rousseau, R185)
Die laaste boek in die reeks. Die verhaal gaan oor die finale konfrontasie tussen Harry en lord Voldemort. In Afrikaans vertaal deur Kobus Geldenhuys.

Die groot aanhalingsboek, G. Claassen e.a.

Die groot aanhalingsboek, George Claassen, Piet Muller en Morkel van Tonder (Human & Rousseau, R199)
Die derde hersiene en uitgebreide uitgawe bevat meer as 4 000 aanhalings oor ’n wye verskeidenheid van onderwerpe. Armoede en rykdom, demokrasie, drome, humor, die lewe, seks, skoonheid en sport is maar ’n paar van die afdelings.

Alles goed en wel - lagstories na willekeur

Alles goed en wel – lagstories na willekeur, samesteller Abraham H. de Vries (Lapa, R150)
Die stories is gekies om verskillende soorte lag te ontlok. Verleë lag oor Harry Kalmer se “Boerepiekniek” en skater uit jou maag vir André P. Brink se “Oom Sjeffie se tweede dood”. Met nog stories deur onder andere P.G. du Plessis, Eitemal, Jeanne Goosen en Jan Spies.