apr08boekding4a
Boeke

Boekdinge

STERBOEK

In Search of Remarkable Trees, On Safari in Southern Africa, Thomas Pakenham (Jonathan Ball, R350)
’n Boom is nie sommer net ’n boom nie. Kyk hier hoe uiteenlopend, uitsonderlik en manjifiek dié veldreuse kan wees. En dis dalk ál wat van hulle gaan oorbly: ’n foto. Want mense kap hulle af, ontwikkeling wis die bos uit en aardverwarming doen sy deel om die natuurlike bates te vernietig. Pakenham het spesiaal na majestieuse pronkers gaan soek. Hy maak ook sy stem dik oor die uitwissing van eksotiese bome in Suid-Afrika. Baie van die bome is ouer as 50 jaar en die verlies sal nooit in ons leeftyd vervang kan word nie. Hierdie is Pakenham se edele poging om die bomeryk se voortbestaan te help verseker. Ek wil soos A. Whitney Brown sê: “Plant bome. Dit gee ons twee van die mees lewensnoodsaaklike elemente vir ons oorlewing: suurstof en boeke.” 
Phyllis Green

BEKENDSTELLINGS

Bekendstellings: Heart of fire e.a.

Heart of Fire, Senait Mehari (Profile Books, R153)
In 1978 gee Mehari (6) en haar twee stiefsussies se pa hulle oor aan die rebelle van die Eritrese Vryheidsfront. Sy vertel van haar lewe as kindersoldaat, haar ontsnapping in 1983 en haar lewe as straatkind – en tans as suksesvolle musikant in Duitsland.

Wilhelmina: Kampkind op Java, Mariël le Roux (Protea, R140)
Die ware verhaal van Will van Halewijn, haar ma en twee sussies in die konsentrasiekamp op Java tydens die Tweede Wêreld- en die Indonesiese burgeroorlog. Hulle het later na SA geïmmigreer.

Believe in Miracles: Malan to Mbeki, Gerald Shaw (Ampersand Press, R135)
Shaw begin in 1954 werk as joernalis. Deur middel van die stories wat hy gedek het, vertel hy hoe die politieke en sosiale samestelling van SA van toe tot 2004 verander het.

White Power & the Rise and Fall of the National Party, Christi van der Westhuizen (Zebra, R220)
Die geskiedenis van die NP oor die agt dekades van sy bestaan tot sy val in 2006 word volledig bespreek. Van der Westhuizen sê sy wil met die boek ’n wyer gehoor bereik as akademici.

One Soldier’s War in Chechnya, Arkady Babachenko (Portobello, R366)
Dis die skrywer se eie verhaal van sy oorlogervarings en hoe hy die wreedheid oorleef het. Met die uitbreek van die eerste oorlog in Tsjetsjnië is hy as ’n naïewe agtienjarige soldaat na die front in die noorde gestuur. Ná die oorlog verwerf hy ’n regsgraad, en in 1999 sluit hy hom as vrywilliger aan by die weermag met die uitbreek van die tweede Tsjetsjniese oorlog. Met dié boek probeer hy sy eie duiwels verdryf.

Bekendstellings: Frats e.a.

Frats, Chris Karsten (Human & Rousseau, R148)
Een van die hoofkarakters, Khoena van die Kaap, is geskoei op die lewe van Saartjie Baartman. Fortuinsoekers stel Khoena in Londen ten toon as ’n “frats”. Dan ontmoet sy Dolly, wat haar teen dié tipe uitbuiting beywer.

Stormwrack, C. Louis Leipoldt (Cederberg Publishers, R171)
Leipoldt se roman oor die Anglo-Boereoorlog gee ’n kykie in die spanning wat die oorlog voorafgegaan het en hoe dit die karakters se lewens beïnvloed het. Die held woon op ’n klein dorpie en vertel die verhaal uit die verskillende oogpunte van die karakters aan weerskante van die oorlog.

Unconfessed, Yvette Christiansë (Kwela, R165)
Die tragiese verhaal van die slawevrou Sila van den Kaap. Sy word van moord aangekla, veroordeel en beland op Robbeneiland as klipkapper. Die roman beskryf slawehandel in Afrika en is geïnspireer deur hofstukke uit die 18de eeu.

Primary Coloured, Brent Meersman (Human & Rousseau, R150)
Dié kontemporêre politieke roman speel af in Suid-Afrika en handel oor ’n komende algemene verkiesing, ’n skandaal, korrupsie, hebsug en ’n opvolgstryd om die presidentskap. Daar is ook ’n bisarre komplot om die president te vermoor.

Mills & Boon-liefdesverhale en Little Black Dress

*Mills & Boon-liefdesverhale het ’n nuwe baadjie aangetrek. Dis nou in ’n effe groter druk vir makliker lees en is in vyf reekse: moderne, mediese, strelende, intrige- en inspirerende romans. Die sagtebanduitgawes is ontwerp om perfek in jou handsak te pas. Dit kos vanaf R59,95.
*Elke vrou moet ’n klein swart rokkie hê, nie net vir spesiale geleenthede nie, maar ook vir elke dag! Kies ’n lekkerlees roman uit die Little Black Dress-reeks. Die verhale is humoristies, en geskryf vir die moderne vrou oor situasies waarmee sy haar kan identifiseer. Dit kos vanaf R49,95.

RESENSIES

Die son kom aan die seekant op

Die son kom aan die seekant op, Jeanette Ferreira (Human & Rousseau, R135)
Gegrond op die dagboek van Louis Tregardt oor die trek uit die kolonie na Delagoabaai, veral soos uit die oogpunt van sy vrou, Martha. Dis ’n mengsel van feite en fiksie, geloofwaardig en maklik leesbaar. Die versoeking bestaan om ooreenkomste te tref met die hedendaagse Suid-Afrikaanse situasie en wat ’n gewone man soos Tregardt daartoe gedryf het om sy grond agter te laat.
Ilse van Staden

En die lekkerste deel van dood wees

En die lekkerste deel van dood wees, Harry Kalmer (Tafelberg, R143)
Sy nuutste, wat verlede jaar die kortlys gehaal het in Sanlam se Groot Romanwedstryd, lees vlot. Maar moenie dat die eenvoud van die verhaal jou mislei nie . . . Hy takel die tema van misdaad hier te lande, en in vyf verskillende stemme en invalshoeke word elke keer ’n ánder blik daarop gegee. En al lyk dit of die onderskeie afdelings van die boek min gemeen het, word die samehang geleidelik duidelik.
Annemarie Marais

Elders aan diens, Jeanne Goosen

Elders aan diens, Jeanne Goosen (Genugtig! Uitgewers, R122)
Die meeste digters het die een of ander tyd iets te sê oor taal, woorde, die skryfproses. Goosen skep hier ’n surrealistiese landskap waarvan die woorde self probeer sin maak, terwyl dit ’n web spin wat “letter vir letter verslind”. Skryf is skeppend en terselfdertyd vernietigend – “skryf is soos toor”, maar ook “’n persoonlike gevaar”. ’n Bundel om stadig te verken “om die raaisel uit te lig”, vol satire en heimwee en aweregse verbeelding.
Ilse van Staden

Sloper, Louis Esterhuizen (Protea Boekhuis, R100)
Esterhuizen ondersoek grotendeels die liefde en haar prosesse – die aftakeling en herstel, die sloop en herbou van die gees. ’n Liggaam as huis en veral die metaforiese voorstelling van die deur het sterk psigo-analitiese onderstrominge. Deursigtige verse word so vir die leser op dieper vlakke oopgemaak. Die komplekse verhouding met die pa en jeugherinneringe is roerend. ’n Toeganklike, móét-lees bundel.
Christine Nel

In black and white, the Jake White story

In Black and White, The Jake White Story, Craig Ray (Struik, R194)
Rugbygeesdriftiges en alle werkoliste móét dit lees. Jake sal nooit die prys wen vir takt nie, maar wel vir harde werk onder uiters moeilike omstandighede, lojaliteit en deursettingsvermoë. Dis maklik om hom te oordeel volgens alles wat in die media oor hom kwytgeraak is, maar as jy lees hoe hy baklei het vir rugby, die spelers en laastens vir homself, kry jy ’n meer gebalanseerde prentjie.
Phyllis Green

Diary of a bad year, J.M. Coetzee

Diary of a Bad Year, J.M. Coetzee (Harvill Secker, R246,95)
Alle ernstige lesers moet ’n boek van dié bekroonde skrywer lees. Maak dit dié verhaal – wat op drie vlakke afspeel. Eerstens is daar die filosofiese dagboek van ’n 72-jarige  skrywer, dan die ontwikkeling van die skryf van die dagboek soos gesien deur sy oë, en laastens die vertellings uit die oogpunt van sy “sekretaresse”. Hou kop en jy verlustig jou in een van Coetzee se heel beste boeke.
PG