Boeke

Boekdinge

STERBOEK

Mandela – ’n lewe, Adrian Hadland en Sean Fraser (Sunbird Publishers, R99)
Ou foto’s hou vir my ’n magiese bekoring in. My verbeelding word aangewakker deur te sien van waar die mense kom, wat hulle gedoen het, waar hulle oral was en saam met wie. Dan wonder ek altyd waaroor gepraat is: Het die gesprekke lewens beïnvloed, het dit geskiedenis gemaak? Hierdie – dis eintlik ’n kykboek – gee ’n vinnige geskrewe oorsig oor Nelson Rolihlahla Mandela en hoe sy lewe van kleins af verloop het. Blaai deur die magdom foto’s – van sy jeug, sy huweliksmaats, sy jong dae as aktivis, sy tronkverblyf, sy vrylating en sy loopbaan as president. Hy pryk saam met politici, musieksterre, atlete, gewone mense en kinders. Só besef ek hier is iemand wie se gesprekke inderdaad mense se lewens verander het. Die boek is ’n huldeblyk aan een van die mees geliefde mense ter wêreld, met ’n merkwaardige bydrae tot die mensdom.
Phyllis Green

VIR ALMAL

Drop dead beautiful, Jackie Collins

Drop Dead Beautiful, Jackie Collins (Simon and Schuster UK, R179)
Collins se geliefde karakter, die sexy Lucky Santangelo, is terug in die skrywer se 25ste roman. Dié verleidelike heldin verlaat haar Hollywood-lewe en droom daarvan om ’n duur hotel in Las Vegas te bou. Haar tienerdogter, Max, is rebels met ’n wilde leefstyl – maar die appel val nie ver van die boom nie. Die moeilikheid begin wanneer iemand uit haar verlede onverwags opdaag en wil wraak neem . . .

Fast forward from Schoonwater

Fast Forward from Schoonwater, Willem Fritz (Double Storey, R165,95)
Adrian de Villiers ry terug Kaap toe ná ’n ramp op sy ouers se plaas in die Vrystaat. Só begin sy reis op soek na sy identiteit, na begrip vir sy liefdesverhouding en sy familiegeskiedenis, asook die onsekerheid van sy toekoms. Hy onthou al die mense en gebeure uit sy verlede, soms histeries snaaks, ander kere tragies en hartverskeurend ironies. Hy het in ’n uitsonderlike tyd onder ongewone omstandighede grootgeword. Fritz, oud-akteur, is ’n vars nuwe skrywerstem.

A Perfect Life, R. Barker

A Perfect Life, Raffaella Barker (Headline Review, R130)
Angel is onvergenoeg – met haar huwelik, met haar kinders, met haar man en sommer met haar hele lewe. Wat vir haar na ’n perfekte lewe gelyk het, was toe nie – haar man besluit om die gesin te verlaat, en alles val uitmekaar. Angel moet die stukke weer optel en van vooraf begin om haar perfekte lewe op te bou.

This book will save your life, A.M. Homes

This Book Will Save Your Life, A.M. Homes (Granta, R164,95)
Richard Novak beleef ’n hele paar traumatiese gebeure: mediese probleme, stres oor sy verhouding met sy tienerseun en eks-vrou – selfs sy huis val in ’n sinkgat! Sy veilige kokonbestaan is daarmee heen en hy moet met ’n klomp nuwe en onverwagte mense oor die weg kom. Maar skielik ontpop hy in ’n heel ander mens as wat hy gedink het hy is.

Bekendstellings: Theft e.a.

Theft: A Love Story, Peter Carey (Faber and Faber, R119,95)
Butcher Bones, ’n kunstenaar, word sy jonger broer, Hugh, se oppasser in ’n afgesonderde huis op die platteland. Albei broers is die vertellers van die verhaal hoe hulle ’n fyn balans skep om saam te kan woon, en hoe dit versteur word toe ’n jong, geheimsinnige jong vrou by hulle aankom. Dis ’n verhaal oor bedrog en morele verval in die kunswêreld, maar veral oor verhoudinge.

The Amnesiac, Sam Taylor (Faber and Faber, R164)
James Purdew breek sy been – en beëindig sy verhouding. Hy besluit om te gaan soek na die geheime in sy verlede – die drie jaar waarvan hy niks kan onthou nie. Hy restoureer ’n vervalle huis waarin hy daardie tyd deurgebring het en vind ’n speurverhaal wat vervloë dae se tragedie kan ontsluit.

Once, Two Islands
, Dawn Garisch (Kwela Books, R140)

Gulai se ma sterf kort ná haar geboorte. Haar pa, dr. Orion Prosper, blameer homself en sluit hom dae lank toe in sy kamer en praat met niemand. Die baba se tante is raadop met die kleine Gulai wat aanmekaar huil en gaan vra raad by die natuurgeneser op die eiland (die dokter se aartsvyand). ’n Storie van verraad en jaloesie in die geïsoleerde gemeenskap van ’n eiland.

RESENSIES

Passies en passasies, Marlise Joubert

Passies en passasies, Marlise Joubert (Protea Boekhuis, R100)
Die titel van hierdie digbundel is so ryk aan betekenis, byna ’n gedig op sigself. Is dit dansende gedigte oor die liefde? Is dit aanhalings en reise en musiek? Dit alles en meer. Joubert sê “daar is die vrou” en alles wat sy is, was en kan wees, op reis deur erhoudings, plekke, gesange. Die verse is sonder pretensie. Daar is ou liedere en spreuke uit o.m. die Peruaanse en Indonesiese kulture, omgedig in singende, veelstemmige Afrikaans en “passasies” uit ander gedigte, skilderye en musiek word ook vervleg in die gedigte. Bêre dit op jou bedkassie, want “as die nagreis kom/dans jy die passasies van liefde//dans jy teen die droefnis in”.
Ilse van Staden

Morestêr, Pamela Jooste

Môrester, Pamela Jooste (Umuzi, R145)
Dié is ’n tydige Afrikaanse vertaling van Jooste se Star of the Morning oor twee sussies, Ruby en Rose Jacobs, wat wees gelaat word en hul eie potjie moet leer krap in Kaapstad van die jare sewentig. Ondanks persoonlikheidsverskille tussen die ouer, ernstiger Ruby en die jonger, onverskilliger Rose, staan hulle saam teen streng reëls van die Sacred Heart-tehuis waar hulle grootword, teen hul “antie Olive“ en haar familie en teen die beperkings van die politieke bestel van daardie tyd. Jaco Fouché se vertaling laat in geheel reg geskied aan die teks, hoewel dit hier en daar effe geforseerd voorkom.
Annemarie Marais

Kaplyn, Gilbert Gibson

Kaplyn, Gilbert Gibson (Tafelberg, R110)
’n Tweede boek is dikwels ’n groter toets as die debuut. Dit wys of ’n skrywer die lang pad van die letterkunde kan stap. Kaplyn kom ná Gibson se debuut, Boomplaats (2005), en ’n geslaagde bundel is dit beslis. Die gedigte word gebou om die kaplyn, ’n stuk grond tussen gevegsfronte, en ook die paradoks word ondersoek. Teenoor ’n opeenstapeling van beelde en woordvloede kan die digter soms baie gestroop en klinies skryf oor die liefde, die oorlog, die medisyne, die Bybel en letterkunde – tog bly die verse klinkhelder en toeganklik vir enige leser. “die geheim van woorde is so/geheim soos vars spore oor ’n/kaal stuk grond tussen/vegtende faksies . . .”
Christine Nel

Becoming Jane Austen, Jon Spence

Becoming Jane Austen, Jon Spence (A & C Black, R153,73)
Die leser leer haar ken as mens, skrywer en vrou, en die invloed wat haar familie, vriende en kennisse op haar werk gehad het. As uitstekende waarnemer het sy mense se “emosionele en logiese inkonsekwenthede” meesterlik in boeke soos Pride and Prejudice aangewend. Sy het haar skryfwerk ook gesien as haar paspoort tot finansiële onafhanklikheid. In daardie era was die lewe van ’n ongetroude vrou sonder geld onseker. Maar haar groot liefde het haar teleurgestel, en sy het twee ander huweliksaansoeke van die hand gewys. Wat ’n interessante boek!  Liesel Pienaar