jan08boekding1a
Boeke

Boekdinge

PROPVOL AKSIE

Die blou van ons hemel, Quintus van der Merwe (Tafelberg, R130)
’n Klompie diplomate word ná ’n sameswering in Wes-Afrika by ’n hotel in Lomé aangehou en dié tameletjie beland in die skoot van die direkteur-generaal van buitelandse sake. Voeg hierby ’n paar karakters wat sukkel om by dinamiese politieke omstandighede aan te pas, verhoudings wat skeefloop, die onwettige verkoop van ammunisie en diamante, en jy het ’n konvensionele aksieverhaal vol blonde, blou-oog helde en beeldskone verleidsters wat in Togo, Suid-Afrika, België en Amerika afspeel. As die diplomatieke wêreld en sy intriges jou interesseer, sal jy waarskynlik hierdie debuutroman geniet.
Emsie Viljoen

LIEFDE MET ‘n ANGEL

Die Mannheimsage-trilogie, Lerina Erasmus

Die Mannheimsage-trilogie, Lerina Erasmus (Leguan Trading, R149 per boek)
Die Fortuinsoekers het 25 jaar gelede die sage van die Mannheims en Kit Malloy en hul najaging van rykdom en liefde ingelei. Toe volg Die Goudkewers en fokus op die Jameson-inval en die politieke woelinge. Die Mannheims beleef ’n onstuimige tyd en Deborah Mannheim moet die mynbestuur oorneem, omdat die mans by die oorlog betrokke is. In die derde boek, Die Goudbaronne, word die voortslepende liefdesdriehoek op die spits gedryf – met interessante kinkels. Die agtergrond waarteen die verhale afspeel, is goed nagevors en verbeeld die stormagtige ontstaan van Johannesburg en die goudmynbedryf waarom die intriges draai. Die karakters bly interessant en geloofwaardig. Bestel by www.mannheimsage.co.za of lerina@ gunric.com

STERBOEK

The essential Africa, Michael Poliza

The Essential Africa, Michael Poliza (TeNeues, R364,95)
Die digitale fotograaf Poliza is verslaaf aan Suider-Afrika se uiteenlopende landskappe. In sy werk vang hy die misterie en soms ongenaakbare skoonheid van die natuur vas. Sy lugfoto van ’n ry olifante wat oor die geelgrys sand van Damaraland stap terwyl hul skaduwees reusagtig groot bo hulle uittroon, is ’n abstrakte kunswerk waarna ek telkemale weer wil kyk. Op ’n volgende blad lê ’n seekoei met watergras gekamoefleer, sodat net sy oë, ore en neusgate uitsteek. Dit is sy anderster manier van kyk wat Poliza se boek buitengewoon maak. Hy gebruik ongewone hoeke vir sy foto’s: Sommige so naby dat jy amper die tekstuur van die vel kan voel, ander so ver dat die patroon van die grond ’n skildery-agtige prentjie skep. Die Afrika-landskap en sy diere kom tot hul reg in dié prag-publikasie.
Phyllis Green

TOEGANKLIKE POESIË

Nagjakkals, Hendrik Januarie

Nagjakkals, Hendrik Januarie (Kwela, R80)
’n Dun digbundel wat soos ’n jakkals “snuffend na / die vonds” gaan. Klein woordsketse, van die aardse alledaagse (blomme, beeste, skoolkinders) tot ’n persoonlike en universele verlede (familie-reünie, die Laingsburg-vloed, grotbewoners), val vaagweg treurig op die oor. Daar is ’n paar mooi woordvondste: die dal “so volgeprop / van wind”, “die stolling / in die pols kon proe”, maar meestal voel die gedigte yl en onbewoon soos die Karoo waaroor dit gaan. Metafories skiet daar effens te kort – slim beelde of potensiële taalspel wat nie oortuigend ontgin word nie. Dit maak die bundel wel baie toeganklik, maar dalk net te toeganklik en eenlagig vir poësie.
Ilse van Staden

IETS NUUTS IN ENGELS

The Uncommon Reader, Alan Bennett (Faber & Faber, R169,95)
Die koningin van Engeland beland toevallig in die rondreisende biblioteek op die paleisterrein. Sy voel genoop om ’n boek uit te neem – wat sy met moeite enduit  lees, want sy glo sy moet klaarmaak wat sy aanpak. Wanneer sy die boek terugneem, ontmoet sy weer vir Norman (’n kombuiskneg), wat ’n ander verhaal voorstel en sommer vir haar ’n leeslys saamstel. So ontwikkel sy met sy hulp in ’n leser. In so ’n mate dat dit haar roetine omverwerp en haar wêreldbeskouing beïnvloed. ’n Pittige boek met tipies onderbeklemtoonde Britse humor.
P.G.

Madonna: Like an Icon, Lucy O’Brien (Bantam Press, R212)
Of jy van haar hou of nie, jy moet haar bewonder. Dis ’n verhaal van middelmatige talent wat deur slim strategie tot ’n ikoniese wêreldfenomeen ontwikkel is. Madonna het van die begin af dinge gedoen wat byna haar loopbaan gekelder het. Maar soos ’n kulkunstenaar draai sy haar gehore ’n rat voor die oë, sodat hulle met afwagting uitsien na die volgende eskapade. Sy beskou haarself eerder as ’n installasiekunstenaar wat alle aspekte van dans, toneel en musiek gebruik om elke keer ’n nuwe aspek van haar werk uit te lig. Ná dié biografie kon ek nie besluit of sy hard en ongenaakbaar of eintlik weerloos en soekend is nie.
P.G.

Soulmates, Miranda Glover

Soulmates, Miranda Glover (Random House, R192)
Polly en Emi Leto, identiese susters, deel van kleins af hul lewe. Emi besluit sy wil ’n  lewe en identiteit van haar eie hê en verdwyn. Polly se lewe en persoonlikheid verander radikaal terwyl sy na haar verlore suster soek. In die soeke moet sy haar herinneringe van hul gesinslewe oproep en konfronteer wat regtig waar is en wat verdraaide onthou is. ’n Moet-lees as jy belang stel in die kompleksiteit van gesinsbande en gedragspatrone tussen tweelinge.
P.G.

BEER-BETOWERING

Winnie-die-Pooh, A.A. Milne

Winnie-die-Pooh, A.A. Milne, vertaal deur Alba Bouwer (Tafelberg, R79,95)
Die Pooh-stories betower jonk én oud al sedert die kinderboek in 1926 verskyn het. Verskeie boeke oor onder meer filosofie en sielkunde gebruik Pooh-stories om teorieë te verduidelik. Maar dit bly eerstens ’n kinderboek met eenvoudige stories, soos die een waar Pooh met ’n ballon tot by ’n bynes in ’n boom opstyg om heuning te kry. ’n Blóú ballon, want dan sal die bye dink hy’s ’n onskuldige wolk met geen voornemens om hul heuning te steel nie. Dié vertaling behou die eenvoudige styl van die oorspronklike boek. Nou kan jy jou kinders in Afrikaans aan die wêreld van Pooh bekend stel en self ’n lewensles of twee leer.
Charis Labuschagne

IZAK LAAT DIE WOORD SING
Vir jare al het hy die ‘Laaste sê’ in SARIE – en lesers vra altyd na meer. Nou het ’n keur van 50 uit Izak de Villiers se SARIE-rubrieke by CUM verskyn (R79,95), Liedjies uit ’n towerfluit. Want Izak is nie net ’n bekende dominee en gesangberymer nie; hy’s ook ’n bekroonde digter en skrywer met ’n lang lys publikasies agter sy naam, ’n man wat weet hoe om die woord te laat sing – spitsvondig, ernstig, lewendig en altyd met ’n dieper waarheid en pitkos vir die siel. Die boek is inspirerend geïllustreer deur Piet Grobler. Oor sy rubriekskrywery sê Izak: “Dis vir my ’n absolute voorreg om vir SARIE te skryf – en dan nog boonop ’n boek daarvan te kan maak!”