Boeke

Boekdinge

STERBOEK

Huise wat jou sak pas, Frieda le Roux (Tafelberg, R175)
As jy al ooit daaraan gedink het om eiendom te koop, te bou, te laat bou of te restoureer moet jy eers hierdie praktiese gids aanskaf. Dit neem jou met kundige raad deur elke stap van die proses: Van huur, koop, finansiering en hoe om jou ruimtes te beplan tot hoe om ’n argitek te kies. Dit wys op algemene slaggate waarvoor jy versigtig moet wees, soos bouregulasies en kontrakte. Die skrywer bespreek ook nuwe tendense in boustyle en materiale en wys ook huisplanne, sodat jy vergelykings kan tref. Sy sluit die boek af met ’n nuttige lys argitekte, verenigings en institute wat jou huis-kopsere kan verlig.
Phyllis Green

RESENSIES

Ons en die maan, M.C. Botha (Protea Boekhuis, R150)
Afrika is nie so donker soos jy dalk glo nie. Dis ’n pragtige vasteland en die inwoners is vriendelik. Teen die agtergrond van SA se politieke oorgangstyd reis ’n pa en seun deur Afrika. Cornelius, die pa, werk in die staatspresident se kantoor, terwyl Blackie by die poskantoor op Beaufort-Wes werk. Juis omdat hul verwysingsraamwerke so verskil, toon Blackie ruimte vir ontwikkeling. Saam met hulle leer jy fassinerende karakters ken, soos kundige voëlkenners en ’n flambojante kunstenaar. Ook interessante natuurfeite soos dat die “wit” in witrenoster van die Hollandse woord “weidt” kom en “breë bek” beteken. Die beelde en humor maak dié roman die moeite werd.
Riette Rust

Tong in die kies, Delene de Wet (Publiself Uitgewers, R95 plus posgeld)
Dié bundel is ’n versameling blogs met gedigte, gedagtes, lewensketse en dies meer. Sy druk haarself behendig uit en daar is heelparty alledaagse situasies waarmee lesers sal identifiseer. Die vraag ontstaan egter of die inherente aard van ’n blog (vlietend, gebonde aan die daaglikse) hom leen tot die permanensie van ’n boek. Ek dink nie so nie. Die skryfsels is té persoonlik. As tydsdokument, soos ’n joernaal, en vir iemand wat die skrywer ken, is dit wel waardevol. Dis gaaf dat die self-uitgee-nis gebruik word, maar daar moet steeds goed geproeflees word om slordige spelfoute reg te stel. Dis hinderlik in hierdie boek. (Bestel by delenedewet@polka.co.za)
Annemarie Marais

Die wit Boesman, Peter Stark (Protea Boekhuis, R140)
In dié outobiografiese vertelling gee Stark ’n boeiende en insiggewende kykie in die avontuurlike geskiedenis van boerdery, wildjag en natuurbewaring in Namibië. Dit begin by sy geboorte in 1929 en strek tot sy uittrede as hoofnatuurbewaarder in die noorde van Namibië. Hy deel sy liefde vir die natuur en kennis met geesdrif, sonder om leermeesteragtig te wees. Foto’s versterk die besef dat hierdie ongelooflike avonture die waarheid is. Stark se gemaklike geselstrant en droë humor maak die boek ’n heerlike leeservaring.
Gert Venter

Belonging, Sameem Ali (John Murray, R184,95)
Dis die aangrypende verhaal van Sam Ali. Hoewel sy in Brittanje gebore is, het haar Pakistanse ouers nog sterk bande met hul geboorteland. Die huwelik word gesien as ’n manier vir manlike familielede om verblyfreg in Brittanje te kry en as blote kind word Ali in ’n huwelik gedwing. Op 13 is sy swanger. Ali vertel hoe sy uiteindelik uitstyg bo haar omstandighede. Dié boek laat val die kollig op ’n misbruik wat nog gereeld voorkom.
Lydia van der Merwe

Alles mooi weer, Karin Cronjé (Genugtig! Uitgewers, R142)
Dié storie is ’n aangrypende sielkundige speurtog wat diep in die karakters se emosies delf. Hilette Barend, ’n professor in antropologie, is naarstig op soek na haar gevallestudie, Pearl Poplin, ’n hawelose. Eintlik is Hilette op ’n selfontdekkingsreis – met skokkende onthullings. Die skrywer se galgehumor sal nie in almal se smaak val nie. Maar as jy ’n waaghalsige, eerlike, op-die-man-af-verhaal soek, dan is dié boek vir jou.
Lee-Ann du Plessis

The Peter Temple Omnibus, Peter Temple (Quercus, R249,95)
Temple skryf speurverhale wat in die meeste gevalle om moord draai. In dié drie uiteenlopende verhale is dit weer so. The Broken Shore, In The Evil Day en An Iron Rose is ’n goeie verteenwoordiging van sy boeke oor ’n dekade. Sy karakters word goed beskryf en is geloofwaardig. Die dialoog is sterk, vloeiend en lees maklik. ’n Skrywer wat enige tyd aanbeveel kan word vir liefhebbers van dié genre.
Karien Labuschagne

Lessons in Heartbreak, Cathy Kelly (HarperCollins, R194,95)
’n Verhaal van liefde en gebroke harte. Izzy van New York is saam met haar tante Anneliese en haar ouma Lily in die dorpie Tamarin in Ierland. Izzie het ’n verhouding met ’n getroude man. Anneliese se man los haar vir haar beste vriendin, en Lily (Anneliese se vertroueling) is sterwend. Terwyl sy in die hospitaal is, word geheime ontdek en lesse geleer. Dis heerlike emosionele leesstof oor hoe om jou hart te volg, moeilike tye te oorkom en wonde te genees.
Cherice Smith

Greater Love, Lucy Wadham, (Faber & Faber, R169,95)
Die band tussen tweelinge fassineer die mens al eeue lank. Aisha probeer haar tweelingbroer teen die wreedheid van hul ma en die inwoners van ’n Portugese dorpie beskerm. Wanneer sy ’n nuwe lewe in Parys wil skep, voel sy in twee geskeur deur haar lojaliteit teenoor haar broer en haar selfbehoud. Sy leer hy kán sy eie keuses sonder haar maak. Sy selfmoord lei haar tot diepe selfondersoek: Liefde en vergifnis is te vinde vanuit beide die Christen en Moslem-perspektief. Daar is meer bande wat die mens bind as verskille wat ons uitmekaar jaag. Aisha vind liefde in die eenvoud van die Marokkaanse landskap.
Christiana Groenewoud

The Rowing Lesson, Anne Landsman (Kwela Books, R145)
’n Dogter kom uit New York na die sterfbed van haar pa, ’n plattelandse huisarts, in Groote Schuur-hospitaal. Uit dié gegewe maak Landsman ’n heel unieke en uiters roerende bydrae tot die sterwenslektuur. In fantasieë oor haar pa se lewe verwoord die verteller die rouproses oor ’n groter-as-lewensgrootte ouer sonder enige sentimentaliteit of clichés. Die boek lewer ’n pakkende, vernuwende blik op die Wes-Kaapse milieu, ’n erotiese binnelewe en die verwrongenheid van familie-dinamiek.
Hester Carstens


Street Kid Fights On,
Judy Westwater (Harper Element, R194,95)
Vandat Westwater as driejarige deur haar pa ontvoer is, is haar lewe vol trauma en onsekerheid. Op 11 bevind sy haar in Johannesburg se strate waar sy jare van mishandeling en wreedheid verduur. Uiteindelik vind sy geluk in ’n sirkus. Sy raak verlief op ’n man wat ook by die sirkus werk, maar hy het ’n donker en bose kant. Sy is weer eens ’n slagoffer van mishandeling, maar dié keer is sy vasberade om uit die bose kringloop te ontsnap. ’n Inspirerende lewensverhaal wat wys hoe vasberadenheid en positiewe denke alles moontlik maak.
T. de Klerk