Boeke

Boekdinge

STERBOEK

The Great Karoo, Leon Nell (Struik, R253)
Vir baie is die Karoo net MMBA – miles and miles of bloody Africa, sê die skrywer. Dít het hom juis gemotiveer om sy boek oor dié diverse en uitgebreide landstreek te skryf. Drie jaar en meer as 120 000 km is vasgevat in dié omvattende gids oor die Karoo. Sy bedoeling was om bedags te reis en foto’s te neem en saans te skryf. Maar hy het nie rekening gehou met die mense se gasvryheid nie en het vele laat aande omgesels. Natuurlik tot sy voordeel! Só het hy die interessantste inligting gekry, wat hy hier boeiend verweef met feite.
Phyllis Green

RESENSIES

Ander lewens, André P. Brink (Human & Rousseau, R165)                                                                                                                                                                                    Met die keuses wat jy elke dag maak, sluit jy ander moontlikhede uit, het die skrywer al self gesê. Maar wat as die moontlikhede gelyktydig saam met die werklikheid bly voortbestaan? Soos in dié roman. Dit bestaan uit drie novelles. In “Die blou deur” vind kunstenaar David ’n gesin in sy ateljee. Hulle eien hom as man en pa. Wie is húlle? In “Spieël” ontdek die argitek Steve skielik hy’s swart. (Sy donker kant?) En in “Appassionata” raak die pianis Derek byna obsessief verlief op ’n pianis wat nie kan kies tussen liefde en kuns nie. Plekke en karakters kom oor en weer voor. En gou besef jy: In dié roman spoel drome en werklikheid, herinnering en verbeelding, die bekende en onbekende oormekaar. Tipies Brink, word geweld, politiek, seksuele kwessies en identiteit ondersoek. En maak jou reg vir ’n onheilspellende einde! Hef eers alle grense van geloofwaardigheid op. Dan word dié roman ’n interessante ervaring.
Riette Rust

’n Vreemdeling op deurtog, Hennie Aucamp (Protea Boekhuis, R120)
Die beiteltjie-fyn skrywerspen van Hennie Aucamp is geslyp in dié bundel verhale en essays wat jy proe-proe wil lees. Sy verhale, getrou aan sy aard, is nie oppervlakkig nie – daar is altyd soveel méér wat daarin gelees kan word. In veral die essays is dit ook sy verwikkelde lewensbeskouing wat opval en stimuleer. Die eerste verhaal, “Die Wunderkind en Madame Clara”, gaan oor ’n ontmoeting tussen ’n jong pianis en Clara Schumann, weduwee van die komponis, net so ’n vlugtige ontmoeting soos tussen die ouer bergklimmer en die jong seun in “Die barmhartige Samaritaan”. Dieselfde vlietende oomblikke kom voor in van die essays, soos “Het daghet in den oosten” oor Aucamp se belewenis van 27 April 1994. Dis heerlik om behóórlike Afrikaans te lees, sonder fieterjasies, en op ’n binnereis te gaan.
Annemarie Marais

Duino-elegieë, Rainer Maria Rilke, vertaal deur H.J. Pieterse (Protea Boekhuis, R140)
Rilke word beskou as een van die groot digters in die Duitse letterkunde. Duino-elegieë is met lang tussenposes tussen 1910 en 1922 geskryf, waarvan die omstandighede in ’n bondige agtergrondskets deur Pieterse gegee word. Uitgebreide aantekeninge oor elk van die tien elegieë word aan die einde van die bundel gegee, wat baie help om onder meer sekere beelde en metafore beter te verstaan. Die grootste lekkerte is dat die Duitse teks op die oorkantste bladsye verskyn, en selfs vir ’n leke-oog is dit duidelik dat Pieterse uitstekend daarin slaag om die ritme en toon van die Duits in Afrikaans weer te gee. Ontdek Rilke opnuut, dis die moeite werd: “Hier is die tyd van die segbare hier is sy tuiste./ Praat en bely. Meer as ooit / verval die beleefbare dinge, want, / wat hul verdringend vervang, is doen sonder beeld.”
A.M.

Bodies Politic, Michiel Heyns (Jonathan Ball, R160)
Die verhaal speel af teen die agtergrond van vroue se stryd om stemreg te kry (die suffrajet-beweging) in die 1900’s. Die drie hoofkarakters – elkeen ’n formidabele vrou uit eie reg – vertel haar lewensverhaal. Met tye lees die eerstepersoon-styl moeilik en voel die dialoog geforseerd. Die skrywer het egter sy navorsing behoorlik gedoen en feite en fiksie is kundig vervleg. ’n Ontroerende verhaal wat wys ’n vrou kan terselfdertyd broos én sterk wees.
Lee-Ann du Plessis

There are ants in my sugar, Annica Foxcroft (Thomas Stein Publishing, R143)
Foxcroft se boek is gegrond op haar lewe. Sy moet aanpas in ’n pondokkie op die platteland nadat sy en haar man al hul geld verloor en hul rykmanslewe in die stad moes agterlaat. Sy vertel met humor van die ontberinge van ’n huis sonder plumbing, met ’n long drop, sonde met die bure en hoe sy kakiebosvelde tot ’n tuin getem het. ’n Vermaaklike lewenskets van die lewe in Suid-Afrika in die 1960’s.
Cheryl du Plessis

Marriage Vows, Gail Schimmel (Kwela, R165)
Haar verlede maak dat Jordi Gordan nie ontrouheid in die huwelik kan verduur nie. En toe kry juis sý ’n ander man, Nico, lief, al is sy getroud met Hal. Die oggend van haar 55ste verjaardag kry sy soos altyd ’n boodskap van Nico . . . Jy beleef haar verjaardag en die herinneringe wat dit wakker maak. Jy vermoed waarop die einde afstuur, maar die ontknoping tref jou tog soos ’n vuishou. Boeiende, slim chick lit uit eie bodem teen ’n SA agtergrond.
Henriëtte Loubser

Dinner with Mugabe, Heidi Holland (Penguin Books SA, R214)
Holland se insiggewende boek skilder Robert Mugabe se karakter uit onderhoude met sy familie, vriende, politici, kerklui, akademici en ander wêreldleiers. Hy word in perspektief gestel deur sy openbare en persoonlike lewe. Ná dié boek verstaan ek waarom dié enigmatiese man, wat in die begin van sy politieke loopbaan die potensiaal gehad het om ’n groot Afrika-leier te word, vervaag het tot ’n bespotlike karikatuur. ’n Moet-lees vir belangstellendes in die politiek.
Phyllis Green

Nefertiti, Michelle Moran (Quercus, R119,95)
Nefertiti is een van die wêreld se groot legendariese skoonhede. Gesien deur die oë van haar suster ontvou die hartverskeurende verhaal van ambisie, liefde en verlies. Dis ’n helder beskrywing van Nefertiti, wie se drome van roem en voorspoed bewaarheid word wanneer sy as 15-jarige die hoofvrou van Akhenaten, die berugte ketter-Farao van Egipte, word. ’n Genotvolle boek wat jy net nie kan neersit nie.
Chris Botha

Vir ewig, Karen Kingsbury (CUM, R109,95)
Hollywood-ster Dayne Matthews en Katy Hart staan op trou, maar hul liefde en geloof kom te staan voor ’n tragedie. Die paparazzi vind uit Dayne is die nuutgevonde seun van die wewenaar, dr. John Baxter. Hoe sien Luke sy nuwe broer? Dié vyfde boek in die Eersgeborene-reeks het ’n aangrypende boodskap vir elke leser. Die intriges van die Baxterfamilie duur voort in die opvolg-Dagbreek-reeks.
Mercy Morkel

BEKENDSTELLINGS

The girl with the dragon tattoo, Stieg Larsson (Quercus, R174,95)
Joernalis Mikael Blomkvist verloor ’n omstrede lastersaak. Hendrik Vanger, besturende direkteur van Vanger Corporation, wil die raaisel rondom sy verlore niggie oplos. Hy huur Blomkvist om die familiegeskiedenis na te vors. Dan kruis die twee se lewenspaaie met Lisbeth Salander, ’n kuberkraker, en dit lei tot ’n boeiende speurverhaal.

The Appeal, John Grisham (Century, R250)
’n Chemiese maatskappy stort toksiese afval in ’n klein dorp se watertoevoer. Die hof bevind hulle skuldig en bepaal dat Jeanette Baker, wie se man en seun dood is weens die afval, skadevergoeding van $38 miljoen betaal moet word. Die eienaar van die maatskappy teken appèl aan en manipuleer die regsproses. ’n Boeiende verhaal van korrupsie en regsverydeling.

Twenty chickens for a saddle, Robyn Scott (Jonathan Ball, R170)
Haar optimistiese outobiografie as kind in Botswana begin wanneer sy as sesjarige saam met haar ouers, sussie en boetie uit Nieu-Seeland in die warm en droë Afrika-land aankom. Sy beskryf hul eksentrieke leefstyl en al die opwindende avonture wat hulle beleef het.

The sum of our days, Isabel Allende (Fourth Estate, R278,95)
Allende en haar familie se boeiende verhaal ná die tragiese dood van haar dogter. Dit vertel van eksentrieke gebeure, haar bygelowe rondom haar skryfproses en haar binnewêreld.