sr1004boekdinge_10_
Boeke

Boekdinge – April 2010

Op die toneel, Dana Snyman (Human& Rousseau, R160)
Dié bundel met 40 stories is Snyman se vierde sedert 2005. Nes in sy vorige bundels is die tema die wel en wee van gewone mense. Hulle wissel van sy eie familie en kennisse tot die talle karakters wat hy op sy reise deur die land ontmoet het, uit alle vlakke van die samelewing.
Die stories wissel van hartseer tot komies. Sommige is onthutsend, selfs ontstellend. Al die vertellings dui op die groot eerbied en simpatie wat Snyman vir sy karakters het.
Die boek laat jou met nuwe oë na alledaagse gebeure en mense om jou kyk. Van die karakters sal jy slegs in Suid-Afrika vind en dié verhale maak jou weer lief vir die land en sy mense. Party sketse het reeds as tydskrifrubrieke verskyn, maar dis ‘n voorreg om hulle in een bundel bymekaar te hê. – Gert Venter

 

STERBOEK
 
Beast or Blessing Beast or Blessing binne
Beast or Blessing, Jenni Trethowan (Baboon Matters Trust, R165)
Jenni Trethowan is reeds die afgelope twintig jaar betrokke by die bobbejane op haar tuisdorp, Kommetjie, in die Kaap. Dié boek bekyk waar bobbejane vandaan kom, hoe hul omgewing verander het en die agtergrond van hul gedrag. Verder word interessante staaltjies deur verskillende mense vertel oor hul ontmoetings met kees se kind. Trethowan verduidelik ook hoe bobbejane bestuur moet word vir vreedsame samesyn tussen mens en dier. Dít bly ‘n netelige kwessie, want groter voorstedelike ontwikkeling beteken minder ruimte vir bobbejane om vrylik rond te beweeg. Dit lei tot sosiale probleme in hul troppe en die antagonisme van mense wat met hulle gekonfronteer word. Nadat ek die boek gelees het, kyk ek ‘n bietjie anders na dié harige gediertes. Die foto’s is pragtig en is deur die betrokke fotograwe geskenk. Die volle opbrengs van die boek se verkope gaan aan die Baboon Matters Trust. – Phyllis Green
Beskikbaar by die Baboon Matters-kantoor,
op www.espresso.com en by RedRock
Tribal. Vir navrae, skakel 021 785 7493.
LEESBOEKE 
Die ander vrou Die ander vrou, saamgestel deur Marlena Bruwer (Marlena Bruwer, R99, posgeld ingesluit, ook beskikbaar byExclusive Books en Wordsworth-winkels)
Ses anonieme verhale word vertel uit die oogpunt van “die ander vrou”. Nie een van die “skelm” verhoudingswas vir die betrokkenes voordelig nie. Vir elkeen was dit ‘n droom, ‘n feeverhaal – maar soos “Rooi” tereg opmerk: “Elke feeverhaal het ook ‘n heks. Wanneer ek wakker word, besef ek dat ék al die tyd die heks was.”
Nie een van die vroue het ‘n permanente verhouding of huwelik beleef met die betrokke man nie. Die boek gee insigte en raad uit elk van die vroue se oogpunt, asook antwoorde van ‘n maatskaplike werker en ‘n predikant op kwelvrae.
Die slotsom van die boek is dat daar geen wenner in so ‘n verhouding is nie – “uiteindelik stap almal weg as verloorders”. – Phyllis Green
Santa Gamka Santa Gamka, Eben Venter (Tafelberg, R195)
Hoofkarakter Lucky Marais se lewensverhaal bied ‘n genotvolle en vermaaklike leesondervinding, deels omdat sy wroegings minder ontstellend is as dié van Marlouw in Venter se Horrelpoot, wat deur sommige kritici beskryf is as ‘n apokaliptiese blik op SA se toekoms. Venter sê self hy het Santa Gamka doelbewus anders geskryf as Horrelpoot.
Lucky se Karoostories is boeiend en vermaaklik – kleindorpstories oor karakters wat Suid-Afrikaners sal herken. Die liefde tussen Lucky en sy “anties” is aangrypend. Venter se storielyn is onnabootsbaar oorspronklik, en sy skryfstyl hou lesers gevange tot die laaste paragraaf, ten spyte van die swaarkry, rassisme
en gewelddadigheid wat die hardheid van die natuur in die droë Karoo eggo. – Mariette Postma
Jesus van Nasaret  Jesus van Nasaret, Sakkie Spangenberg (Griffel Media, R253)
Jesus van Nasaret help die mondige gelowige om met toeganklike literatuur saam te dink oor geloofskwessies. Jou voorafopgestelde idees word dadelik betrek in hierdie lesersvriendelike,
interessante boek. Spangenberg gee sy eie belewenis as kind van Sondagskool, Bybellees, huisgodsdiens en eredienste eerlik weer. Hierdie waardevolle belewenisse is nie in teenstelling met vrae wat hy daaroor begin stel het nie. Hy neem ons terug na die Bybel en bevind dat die vertellings rondom Jesus baie meer kompleks is as waarmee ons grootgeword het.
Hierdie boek is noodsaaklik vir die gelowige van ons tyd. Soos Gerrie Snyman se Om die Bybel anders te lees is hierdie boek deel van ‘n groeiende Afrikaanse godsdienstige literatuur vir die denkende gelowige. – Mariette Postma
Something on my mind  Something on my Mind: Kate Jowell – A Battle with Alzheimer’s, Sharon Sorour-Morris (Oshun Books, R189)
Kate Jowell was een van die eerste redakteurs van Fairlady en later ‘n gerekende arbeidskenner.
Op 59 het Alzheimer se siekte haar lewe omvergewerp. Vir dié boek het die bekroonde joernalis Sharon Sorour- Morris nóú saam met Kate gewerk om haar herinnerings vas te vang voordat “Mr Alzheimer’s” dit laat
wegsyfer het. Mettertyd was Sharon getuie van Kate se agteruitgang en die effek wat dit op haar en haar naastes het.
Soos regter Albie Sachs dit in die voorwoord stel: “Lucky is the person whose life story is told with grace, empathy and engaged intelligence. Unlucky is the person whose vitality is dimmed by Alzheimer’s disease. This is a story of luck and un-luck. I read it with fascination.” – Henriëtte Loubser
Beasts of prey  Beasts of Prey, Rob Marsh (Human & Rousseau, R175)
Dis 1988 en ‘n liggaam word in die Krugerwildtuin gevind. Kaptein Russell Kemp word ontbied om die saak, wat aanvanklik na selfmoord lyk, te ondersoek. Kemp raak romanties verbind met ‘n joernalis wat daarop aandring dat die oorledene vermoor is. Kemp kan dit nie daar laat nie. Boonop is hy pas geskei van sy vrou en verslaaf aan petidien, én sy dwelmverslaafde dogter word ook nog as vermis aangemeld!
Wanneer die ondersoek dreig om ‘n geheim van die apartheidsregering te onthul, probeer die Weermag sy ondersoek stopsit . . .
Beasts of Prey is fiksie, maar die eindnota sal jou laat nadink oor die massaslagting van grootwild in noord-oos- Namibië en Angola in die 70’s en 80’s. Marsh het dié onderwerp goed nagevors. – Nerisa Coetzee
&aposn Beter hemel n Beter hemel, Danie Schreuder (Tafelberg, R155)
Schreuder se grootwordstories oor die Swartlandse dorp Koringberg is egte kontreikuns, deurweek met heerlike plattelandhumor. Hy vertel van sy kinderjare op die plase Middeldrift en Broodkraal en sy moeilike aanpasjare as student op Stellenbosch in die 60’s. Die leser leer ken eksentrieke karakters met nóg meer eksentrieke name, soos oom Tolletjie Bester met die twee koeie en oom Koos Boksak, die dorp se selfaangestelde politieke kommentator.
Hoewel hierdie verhale op ‘n klein dorpie afspeel, is die karakters tydloos en sal sowel plaasjapie as stadsknaap dit geniet. Elke hoofstuk is ‘n aparte verhaal en ‘n mens kan die boek dus neersit en enige plek hervat. Hoewel die terugblikke soms wrang is, is die verhale ‘n huldiging van ‘n bestaan na aan die aarde, en van mense wat deel was van die grond. -Lee-Ann Steenkamp
Noah&aposs Compass  Noah’s Compass, Anne Tyler (Chatto & Windus, R215)
‘n Nostalgiese verhaal oor die 61-jarige Liam wie se kompas lankal stilstaan. Hy dobber rond sonder rigting en sonder plan. Dit laat jou onwillekeurig jou eie lewe in oënskou neem. Liam in ‘n neutedop: wewenaar, weer getroud, geskei, drie dogters en ‘n kleinseun. In sy lewe het hy geleer om verantwoordelikheid te ontduik, maar ook om avontuur te omseil. Sonder teëstribbeling aanvaar hy sy afdanking en besluit hy om af te skaal. Sy geheueverlies, opgedoen as gevolg van ‘n aanval op hom, laat beland hom in ‘n onbeplande avontuur -
‘n kans om weer life te hê en geluk te vind. Dié kans laat hy, helaas, deur sy vingers glip. Hy troos himself met Sokrates se woorde: Hoe minder jy nodig het, hoe nader is jy aan die gode . . .   – Nikki Strassburg