stern_portfolio
Boeke

Lekker boek-keuses vir die 2010

Wat is nou lekkerder as om ‘n pragtige koffietafelboek te kry. Die foto’s bly immer ‘n inspirasie. Kies uit die volgende paar een wat jy vir iemand na aan jou kan gee.

Stern Portfolio 55: Inez van Lamsweerde & Vindood, (teNeues, R539,95)
Dié twee Nederlandse fotograwe was die pioniers van digitale fotografie en het visuele grense geskuif in die laat tagtigs met hul werk.

Hulle is nou hoogs gesogte mode- en portretfotograwe vir die internasionale modehuise, ontwerpers en filmsterre. ‘n Prag versameling van hul fotos.

A Beastly Menagerie, Sir Pilkington-Smythe (Struik Nature, R190)
As jy ‘n gesprek wil begin, noem net ‘n paar van die vreemde diere wat in die boek hulle verskyning maak: tenrec, solenodon, bonobo en glaucus.

Sir Pilkington-Smythe se skryfstyl is vermaaklik en boeiend.

‘n Honderd kleurvolle, uitsonderlike diere word beskryf en geïllustreer.

Gate Gate, Ian Wolstenholme en Steven Kotze (Struik Travel & Heritage, R210)
‘n Nostalgiese foto-reisdeur die land, na die lande-like gebiede waar daar nog plase is.
Mooigesig, Ratzegaai, Beginsel, Droogvoetsfontein, Welvaart, Noodhulp – almal naamborde by plaashekke.
Hierdie een is vir die onthou van kleintyd op die plaas . . .
Love Letters of Great Men & Women

Love Letters of Great Men and Women, saamgestel deur Ursula Doyle (Pan Books, R115)
Watter vrou droom nie om ‘n innige liefdesbrief te ontvang nie.

Vind inspirasie in van die mooiste, opregste en hartseerste liefdesbriewe deur mans en vroue wat deur die eeue geskryf is.

Kry insig deur hul woorde in van die briefskrywers se mees intieme verhoudings, soos Napoleon en Josephine, Pierre en Marie Curie.

Tabernakel

 Tabernakel, Annelie Botes, (Tafelberg, R180)
Botes sê in een van dié vertellings :”Tuintyd is heelwordtyd. Ek snoei, en hark; haal klawer en uintjies uit, spit kompos in. Dit salf my siel. . .”

Die bundel is die opvolg van Sabbatsreis en sy vertel meer oor haar lewe en gewaarwordinge.

Haar vertellings is soos tuinmaak, salf vir die siel.

Vier Seisoene Kind

 Vier seisoene kind, Wilna Adriaanse (Tafelberg, R190)
Cato is ‘n jong weduwee wat opnuut die drade van haar lewe moet optel. Sy verhuis uit Londen terug na SA waar sy ‘n teaterrestaurant op Stellenbosch gekoop het. En darem so effe van ‘n ondersteuningsnetwerk van ou studentevriende het.

‘n Toevallige ontmoeting op die vliegtuig lei haar lewe in rigtings wat sy nie oorweeg het nie.

‘n Boeiende menslike roman.

Vier begrafnisse en &aposn troue

 Vier begrafnisse en ‘n troue, Pat Stamatélos (Kwela Boeke, R180)
Dulcie-Anne Douglas se lewe gaan jou boei “warts and all”. Sy kry ‘n klomp geld na haar man se dood en spandeer dit so vinnig sy kan om ‘n huis te koop. Nou daag daar ‘n rekening op wat eenvoudig weier om te verdwyn en wat haar hele lewe omver kan werp.

Wat gaan Dulcie-Anne doen?

Stamatélos is een van daai skrywers wat jy nie maklik neersit as jy begin lees nie. ‘n Heerlike satire vol wonderlike humor.

Boots en brannewyn

 Boots en Brannewyn, Frik du Preez en Chris Schoeman (Zebra, R150)
Rugby is nie net ‘n sport nie, maar ” ‘n kultuur van ‘n wonderlike broederskap van manne oor die wêreld heen wat hom leen tot snaakse insidente”, volgens Du Preez en Schoeman.

Dié snaakse vertellings sal lei tot heerlike geselsies om die braaivleisvuur. Staaltjies is versamel by die spelers, afrigters, skeidsregters, keurders en selfs die media in Suid-Afrika, maar ook internasionaal.

Nie net vir rugby geesdriftiges nie, maar enigeen wat hou van trivia.

Achieving the impossible

 Achieving the Impossible, Lewis Gordon Pugh (Jonathan Ball, R195)
Pugh, die menslike ysbeer, se lewensverhaal is fassinerend en verstommend. Hoe hy kan swem op die plekke waar hy swem en dit oorleef, kan mens kwalik verstaan.

Wat die boek nog meer besonder maak, is hoe hy vertel van sy pa en die ander mense wat sy lewe beïnvloed het.

Sy wilskrag om iets so radikaal te doen om mense bewus te maak van die veranderinge in die natuur kan net bewonder word.

Born Wild

 Born Wild, Tony Fitzjohn (Viking, R230)
Fitzjohn vertel van sy veertig jaar in Afrika, van hoe hy leeus, luiperds, renosters en wildehonde help hervestig het in die natuur.

Sy lewenstaak het begin toe hy by George Adamson in Kenia werk gesoek het, sonder enige noemenswaardige ondervinding en die geleentheid gegun is om sy passie uit te leef.

‘n Meesleurende vertelling.

At Home

 At Home, Bill Bryson (Doubleday, R330)
Na Bryson in ‘n ou pastorie ingetrek het, het hy gefassineerd geraak oor die plek en al sy vertrekke en die doel van elkeen.

Hy het geskiedkundig gaan kyk na elke aspek wat verband hou met die kamers in sy huis, van waarom daar so vertrek is tot alles wat daarin is.

Die boek is gepak met interessante feite en Bryson skryf onderhoudend oor sy onderwerp.

Lallie se memwhaars

 Lallie se memwhaars – Die seekoei, Lee-Ann Steenkamp (Lee-Ann Steenkamp, R49 + posgeld)
Die eerste in ‘n reeks “memwhaars” van Lallie. Die bekkige, brawe hondjie woon by haar basie, Loekie. Sy gaan daagliks op ‘n avontuur op die plaas, waar sy nuwe vriende ontmoet. In hierdie avontuur ontdek sy ‘n seekoei!

Ideaal vir voorlees, maar ouer kinders kan ook self lees.

Bestel by www.lallie.co.za waar kinders ook kan aansluit by die Lallie-klub vir speletjies en ander projekte.

Prinses Rosie

 Prinses Rosie en die Skitterprinsesse, illustreerder Sarah Lawrence (Human & Rousseau, R55)
Een van ‘n reeks boekies oor skitterprinsesse. Die ander prinsesse is Madelief, Magrietjie en Lelie.

Oulike aktiwiteitsboeke vir dogtertjies. Daar is raaisels, inkleurprente, plakkers en woordspeletjies. Voor in is ook tatoes met blinkertjies!

Wielie wielie walie

 Wielie Wielie Walie, Louise Smit en illustreerder Séan Verster (Human & Rousseau, R115)
Sarel Seemonster, Karel Kraai en Bennie Boekwurm, Bytjie en die Blommetjies het geen bekendstelling nodig nie.

Louise Smit het die stories vir die hedendaagse kind geskryf “om kinders vrolik te laat voel.”

En dit is inderdaad wat die boek doen!

Samoe(r)sareis

 Samoe(r)sa Reis, C. Johan Bakkes (Human & Rousseau, R160)
“Die wêreld is te groot vir een leeftyd. Tyd en die lewe het my geleer dat hoe jy ook al probeer . . .jy kan nie regtig alles inpas wat jy wil nie.”

Gelukkig kry Bakkes baie ingepas en skryf hy daaroor. So kry ons die geleentheid om saam te reis na interessante bestemmings en terselfdertyd sy filosofiese indrukke oor die lewe te deel.

Otto se verjaardagballon  Otto se verjaardagballon, Eric Hill (Human & Rousseau, R130)
Kinders is mal oor die immer gewilde Otto. Kleurvol met duidelike en eenvoudige teks vir maklik lees. Die bonus is die flappies wat gelig kan word om dié boek visueel nog ouliker te maak.
Die storie van uitvindings  Die storie van uitvindings, Anna Claybourne en Adam Larkum (Protea, R120)
Leer hoef nie vervelig te wees nie. Die boek is grafies geïllustreer, eenvoudig geskryf en bevat inligting oor ‘n magdom uitvindings van die fiets tot die balpunt pen. Die laaste bladsye bestaan uit ‘n tydlyn, woordelys en register en internetskakels met nog bronne vir nog meer inligting!
Onthouboek  Onthouboek – Mamma, vertel my van jou lewe, Linda Opperman en Annemarie van der Walt (Malan Media, R180)
Onthou jou ma se geskiedenis vir jou nageslag in hierdie boek. Hierin kan sy alles oor haar lewe aanteken en weer die boek terug gee aan die gewer. So is jy nie later spyt jy het nie eerder uitgevra oor jou ma se lewe nie. Marina Louw se tien oorspronklike kunswerke maak dit ook ‘n mooi bêreboek